Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Hoe moet ons Paulus se woorde verstaan dat ’n weduwee “die vrou van een man” moet wees om te kwalifiseer vir hulp van die Christengemeente?—1 Timoteus 5:9.

Aangesien die apostel Paulus van ’n weduwee gepraat het, is dit duidelik dat die uitdrukking “die vrou van een man” moet verwys na haar situasie voordat sy ’n weduwee geword het. Kan dit beteken dat die weduwee net een keer getroud moes gewees het? Of kan Paulus se woorde dalk iets anders beteken? a

Party het aan die hand gedoen dat Paulus gepraat het van weduwees wat net een keer getroud was. In baie kulture en gemeenskappe is ’n weduwee wat nie weer getrou het nie, weliswaar as besonder deugsaam beskou. Maar so ’n beskouing is in stryd met Paulus se woorde op ander plekke. Aan die Christene in Korinte het hy dit byvoorbeeld duidelik gestel dat ’n weduwee, hoewel hy van mening was dat sy gelukkiger sou wees as sy ongetroud bly, “vry [is] om te trou met wie sy wil, net in die Here” (1 Korintiërs 7:39, 40; Romeine 7:2, 3). Daarbenewens het Paulus in sy brief aan Timoteus gesê: “Ek [wil] hê dat die jonger weduwees moet trou” (1 Timoteus 5:14). Daar het dus geen stigma aan ’n weduwee gekleef as sy besluit het om weer te trou nie.

Hoe moet ons dan Paulus se woorde aan Timoteus verstaan? Die uitdrukking “die vrou van een man” verskyn net in hierdie vers. Interessant genoeg, hierdie uitdrukking is soortgelyk aan een wat Paulus ’n paar keer in sy geskrifte gebruik het, naamlik “die man van een vrou” (1 Timoteus 3:2, 12; Titus 1:6). Paulus het laasgenoemde uitdrukking gebruik toe hy die vereistes vir Christenopsieners en bedieningsknegte uiteengesit het. In dié konteks beteken die verklaring basies dat ’n man wat getroud is, getrou en lojaal aan sy vrou asook sedelik onberispelik moet wees, om vir verantwoordelikheid in die Christengemeente te kwalifiseer. b Aangesien dit die geval is, vestig die uitdrukking in 1 Timoteus 5:9 blykbaar die aandag op dieselfde punt: ’n Weduwee kan slegs vir hulp van die gemeente kwalifiseer as sy ’n toegewyde en lojale vrou was wat getrou gebly het aan haar man terwyl hy gelewe het en as sy vry van enige sedelike oortredings is. Die bykomende vereistes wat Paulus gemeld het, dui op juis so ’n persoon.—1 Timoteus 5:10.

[Voetnote]

a Veelmannery, dit is wanneer een vrou tegelykertyd meer as een man het, is nie in die Grieks-Romeinse wêreld van die apostel se tyd aanvaar nie. Dit is gevolglik onwaarskynlik dat Paulus daaroor aan Timoteus geskryf het of oor iemand wat afgekeur moes word omdat sy dit beoefen het.

b Vir ’n bespreking van hierdie punt, sien Die Wagtoring van 15 Oktober 1996, bladsy 17, en “Vrae van lesers” in die nommer van 1 Januarie 1981, bladsy 30.