Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Onthou jy?

Onthou jy?

Onthou jy?

Het jy dit geniet om onlangse nommers van Die Wagtoring te lees? Wel, kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:

• Wat kan ons leer uit Jesus se illustrasie van die volhardende gasheer? (Lukas 11:5-10).

Hierdie illustrasie toon met watter gesindheid ons moet bid. Ons moet met volharding vra, of aanhou vra, veral vir God se heilige gees (Lukas 11:11-13).—12/15, bladsye 20-2.

• Watter les vind ons in Jesus se illustrasie van ’n weduwee en ’n regter? (Lukas 18:1-8).

Dit beklemtoon hoe noodsaaklik dit is om te bid. In teenstelling met die regter is Jehovah regverdig en wil hy ons help. Verder moet ons geloof hê soos dié van die weduwee in die illustrasie.—12/15, bladsye 26-8.

• Waarom het die apostel Paulus vir die Christene in Korinte gesê om “verruim [te] word”? (2 Korintiërs 6:11-13).

Blykbaar het sommige in Korinte ’n gebrek aan waardering vir medegelowiges geopenbaar en was hulle bekrompe en selfsugtig van hart. Ons moet ons inspan om opregte waardering vir medegelowiges aan te kweek en selfs die inisiatief neem om nuwe vriende te maak.—1/1, bladsye 9-11.

• Na watter verseëling verwys Openbaring 7:3?

Die aanvanklike verseëling van Christene vind plaas wanneer God hulle met heilige gees salf. Maar Openbaring 7:3 verwys na ’n finale verseëling, wat plaasvind wanneer daar bevestig is dat hierdie gesalfdes hulle lojaliteit ten volle bewys het.—1/1, bladsye 30-1.

• Wat kan ouers uit die Bybelverslag oor Samuel leer?

In die eerste plek moet hulle hulle kinders God se woord leer, soos Samuel se ouers hom sekerlik geleer het. Ook moet hulle hulle kinders aanmoedig om ’n loopbaan in Jehovah se diens na te streef.—1/15, bladsy 16.

• Hoe kan ons toon dat ons gelukkig is om op Jehovah te wag?

Ons ‘verwag die dag van Jehovah’ en sien uit na verligting wanneer hy alle goddelose mense vernietig (2 Petrus 3:7, 12). Jehovah is baie gretig om ’n einde aan alle boosheid te maak, maar hy lê selfbeheersing aan die dag sodat hy die redding van Christene kan teweegbring op ’n manier wat sy naam sal verheerlik. Ons moet die vertroue hê dat Jehovah weet wat die regte tyd is om op te tree, en intussen moet ons hom voortdurend loof (Psalm 71:14, 15).—3/1, bladsye 17-18.

• Het Noag sewe van elke rein dier of sewe paar van elk in die ark ingeneem?

Noag is beveel om van elke rein dier “groepe van sewe [te] neem” (Genesis 7:1, 2). In Hebreeus is die uitdrukking “groepe van sewe” letterlik “sewe sewe”. Hierdie uitdrukking beteken nie sewe paar nie, soos ander Bybeltekste toon. Noag het blykbaar sewe van elk geneem, drie paar en ’n sewende dier wat hy later as ’n offerande kon bring (Genesis 8:20).—3/15, bladsy 31.

• Waarom moet Christene die uiteinde van die geloof van ouer manne, diegene wat die leiding neem, “aanskou”?

Die apostel Paulus nooi ons om die uiteinde van die getroue gedrag van die ouer manne te “aanskou”, of noukeurig waar te neem, en om hierdie voorbeelde van geloof na te volg (Hebreërs 13:7). Ons doen dit omdat God se Woord ons beveel om dit te doen. Ons is ook oortuig daarvan dat die ouer manne Koninkryksbelange sowel as ons belange op die hart dra.—4/1, bladsy 28.