Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal wreedheid ooit tot ’n einde kom?

Sal wreedheid ooit tot ’n einde kom?

Sal wreedheid ooit tot ’n einde kom?

BAIE mense sal geredelik saamstem dat selfsug ’n sleutelfaktor is in die wreedheid in vandag se wêreld. Die saadjies wat dekades gelede deur die sogenaamde “ek eerste”-geslag gesaai is, het ’n gemeenskap voortgebring waarin die meeste mense hoofsaaklik net aan hulleself dink. Baie sal enigiets doen om hulle sin te kry, en dit lei dikwels tot wrede dade. Dit geld nie net vir individue nie, maar ook vir hele nasies.

Dit lyk of ander mense se lewens nie meer saak maak nie. Party mense geniet dit selfs om wreed te wees. Hulle vind dit vermaaklik, baie soos misdadigers wat erken dat hulle ander net vir opwinding seermaak. En wat van die miljoene wat hou van rolprente wat geweld en wreedheid bevat en só die rolprentbedryf aanspoor om geld te maak uit sulke temas? Voortdurende blootstelling aan wrede dade deur middel van vermaak en die nuusmedia laat baie mense ongevoelig word.

Wreedheid rig dikwels sielkundige skade aan en sit ’n bose kringloop aan die gang. Met verwysing na die geweld wat deur wreedheid veroorsaak word, sê Noemí Díaz Marroquín, wat aan die Nasionale Outonome Universiteit van Mexiko klas gee: “Geweld word aangeleer, dit is deel van die kultuur . . . Ons leer hoe om gewelddadig op te tree wanneer ons milieu dit toelaat en bevorder.” Gevolglik sal diegene wat slagoffers van mishandeling was, heel waarskynlik op die ou end ander mishandel, miskien selfs op dieselfde maniere waarop hulle mishandel is.

In ander gevalle sal mense wat middels soos alkohol en dwelms misbruik, moontlik op die ou end wreed optree. En dan is daar ook die persone wat ontevrede is met hulle regering omdat dit nie in die behoeftes van die mense voorsien nie. Omdat hulle vasbeslote is om hulle beskouings bekend te maak, pleeg party van hulle wrede dade en bevorder hulle terrorisme, dikwels ten koste van onskuldige mense.

Maar jy wonder dalk: ‘Het mense uit hulle eie geleer om wreed te wees? Wat is die oorsaak van die huidige situasie?’

Wie is die werklike bron van wreedheid?

Die Bybel sê vir ons dat Satan die Duiwel ’n sterk invloed op hierdie wêreld uitoefen en noem hom “die god van hierdie stelsel van dinge” (2 Korintiërs 4:4). Hy is die selfsugtigste en wreedste persoon in die heelal. Jesus het hom tereg “’n mensemoordenaar” en “die vader van die leuen” genoem.—Johannes 8:44.

Van die tyd af dat Adam en Eva ongehoorsaam was, is die mensdom onder die kragtige invloed van Satan (Genesis 3:1-7, 16-19). Ongeveer 15 eeue nadat die eerste mensepaar Jehovah die rug toegekeer het, het opstandige engele menseliggame aangeneem, geslagsomgang met vroue gehad en ’n bastergeslag voortgebring wat die Nefilim genoem is. Wat was hulle onderskeidende kenmerk? Hulle naam verskaf die antwoord. Dit beteken “die Neervellers”, of “dié wat ander laat val”. Hulle was blykbaar gewelddadige persone wat verantwoordelik was vir wreedheid en onsedelikheid waaraan slegs ’n vloed wat deur God gebring is, ’n einde kon maak (Genesis 6:4, 5, 17, voetnoot in NW). Hoewel die Nefilim in die Vloed vernietig is, het hulle vaders na die geesteryk teruggekeer as onsigbare demone.—1 Petrus 3:19, 20.

Die wrede geaardheid van die opstandige engele kan duidelik gesien word in die geval van ’n demoonbesete seun in Jesus se dag. Die demoon het die kind herhaaldelik stuiptrekkings laat kry en hom in die vuur en in die water gegooi in ’n poging om hom dood te maak (Markus 9:17-22). Hierdie “bose geesmagte” weerspieël onteenseglik die hardvogtige persoonlikheid van hulle wrede opperbevelvoerder, Satan die Duiwel.—Efesiërs 6:12.

Vandag nog bevorder demoniese invloed wreedheid onder mense, soos in die Bybel voorspel is: “In die laaste dae [sal daar] kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, . . . aanmatigend, hoogmoedig, . . . ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God, wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën.”—2 Timoteus 3:1-5.

Bybelprofesieë toon dat ons tye besonder kritiek is omdat Satan en sy demoonhordes uit die hemel gewerp is nadat God se Koninkryk in die hande van Christus Jesus in 1914 opgerig is. Die Bybel sê: “Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het.”—Openbaring 12:5-9, 12.

Beteken dit dat die situasie nie kan verbeter nie? Díaz Marroquín, wat vroeër aangehaal is, sê dat “mense [ongewenste gedrag] kan afleer”. Maar met Satan se invloed wat vandag die aarde vul, is dit onwaarskynlik dat iemand geweld sal afleer tensy hy toelaat dat ’n ander, verhewe krag sy denke en handelswyse beïnvloed. Wat is hierdie krag?

Veranderinge is moontlik—Hoe?

Gelukkig is God se heilige gees die sterkste krag wat bestaan, en dit kan enige demoniese invloed teëwerk. Dit bevorder liefde en die welstand van mense. Om met God se gees vervul te word, moet almal wat Jehovah wil behaag, gedrag vermy wat selfs net grens aan wreedheid. Dit vereis dat ’n mens jou persoonlikheid verander sodat dit in ooreenstemming met God se wil is. En wat is hierdie wil? Dit is dat ons God so ver moontlik moet navolg. Dit sluit in dat ons ander moet beskou soos God hulle beskou.—Efesiërs 5:1, 2; Kolossense 3:7-10.

As jy ’n studie van God se handelinge maak, sal dit jou oortuig dat Jehovah nog nooit ’n gebrek aan belangstelling in ander getoon het nie. Hy het nog nooit enige mens of selfs enige dier onregverdig behandel nie (Deuteronomium 22:10; Psalm 36:7; Spreuke 12:10). a Hy veroordeel wreedheid en almal wat dit beoefen (Spreuke 3:31, 32). Die nuwe persoonlikheid wat Jehovah verwag dat Christene moet aankweek, help hulle om ander hoër as hulleself te ag en hulle te respekteer (Filippense 2:2-4). Hierdie nuwe Christelike persoonlikheid sluit in “die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid”. En liefde moenie oor die hoof gesien word nie, “want dit is ’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:12-14). Stem jy nie saam dat die wêreld baie anders sou gewees het as hierdie eienskappe algemeen was nie?

Maar jy wonder dalk of blywende persoonlikheidsveranderinge regtig moontlik is. Wel, beskou ’n werklike voorbeeld. Martín b het altyd op sy vrou geskreeu voor hulle kinders en haar verskriklik geslaan. Eenkeer het die situasie so erg geword dat die kinders na die bure toe moes hardloop vir hulp. ’n Paar jaar later het die gesin die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Martín het geleer watter soort persoon hy moet wees en hoe hy ander moet behandel. Kon hy verander? Sy vrou antwoord: “In die verlede het my man in ’n heeltemal ander persoon verander wanneer hy sy humeur verloor het. Gevolglik was ons lewe ’n geruime tyd lank chaoties. Ek kan nie genoeg woorde vind om Jehovah te bedank omdat hy Martín gehelp het om te verander nie. Nou is hy ’n goeie vader en ’n wonderlike man vir my.”

Dit is maar net een geval. Regoor die aarde het miljoene wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het, wreedheid afgelê. Ja, dit is moontlik om te verander.

Die einde van alle wreedheid is op hande

In die nabye toekoms sal God se Koninkryk—’n regering wat reeds in die hemel opgerig is met ’n medelydende Heerser, Christus Jesus—volle gesag oor die aarde uitoefen. Dit het reeds die hemel gereinig van Satan, die bron van alle wreedheid, en sy demone. Binnekort sal God se Koninkryk die behoeftes bevredig van sy vredeliewende onderdane op die aarde (Psalm 37:10, 11; Jesaja 11:2-5). Dit is die enigste ware oplossing vir die wêreld se probleme. Maar sê nou jy word ’n slagoffer van wreedheid terwyl jy vir hierdie Koninkryk wag?

Om wreedheid met wreedheid te vergeld, sal nie help nie. Dit sal net meer wreedheid tot gevolg hê. Die Bybel nooi ons om op Jehovah te vertrou, wat op sy bestemde tyd “aan elkeen [sal] gee volgens sy weë, volgens die vrug van sy handelinge” (Jeremia 17:10). (Sien die bygaande venster “Hoe om op wreedheid te reageer”.) Jy ly dalk wel omdat jy die slagoffer van ’n wrede misdaad was (Prediker 9:11). Maar God kan die gevolge van enige wreedheid, selfs die dood, ongedaan maak. Volgens sy belofte sal diegene wat hulle lewe weens ’n wrede daad verloor het en wat in sy geheue is, opgewek word.—Johannes 5:28, 29.

Hoewel die moontlikheid steeds bestaan dat ons ’n slagoffer van wreedheid kan word, kan ’n hegte verhouding met God en vaste geloof in sy beloftes ons vertroosting bied. Neem Sara as voorbeeld. Sy het haar twee seuns sonder die hulp van ’n man grootgemaak en seker gemaak dat hulle ’n goeie geleerdheid kry. Op haar oudag het haar seuns haar verstoot en nie in haar materiële of mediese behoeftes voorsien nie. Maar Sara, wat nou ’n Christen is, sê: “Ek voel natuurlik hartseer daaroor, maar Jehovah het my nie verstoot nie. Ek geniet sy ondersteuning deur middel van my geestelike broers en susters, wat altyd na my omsien. Ek glo vas dat hy binnekort nie net mý probleme uit die weg sal ruim nie, maar ook dié van almal wat op sy krag staatmaak en wat doen wat hy beveel.”

Wie is die geestelike broers en susters na wie Sara verwys het? Dit is haar Christenmetgeselle, wat Jehovah se Getuies is. Hulle vorm ’n wêreldwye broederskap van medelydende mense wat oortuig is dat wreedheid binnekort tot ’n einde sal kom (1 Petrus 2:17). Nie Satan die Duiwel, die een wat hoofsaaklik vir die wreedheid verantwoordelik is, of enigiemand wat soos hy optree, sal oorbly nie. Hierdie “era van wreedaardigheid”, soos een skrywer dit genoem het, sal tot die verlede behoort. Leer gerus meer van hierdie hoop deur met een van Jehovah se Getuies in aanraking te kom.

[Voetnote]

a Vir ’n breedvoerige bespreking van God se eienskappe en persoonlikheid, sien die boek Kom nader aan Jehovah, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Van die name is verander.

[Venster op bladsy 6]

Hoe om op wreedheid te reageer

God se Woord bevat praktiese raad oor hoe om op wreedheid te reageer. Dink hoe jy die volgende woorde van wysheid kan toepas:

“Moenie sê: ‘Ek sal die kwaad vergeld!’ nie. Hoop op Jehovah, en hy sal jou red.”—Spreuke 20:22.

“As jy enige onderdrukking van die arme en die gewelddadige ontneming van reg en van regverdigheid . . . sien, moet jy nie verbaas wees oor die aangeleentheid nie, want iemand wat hoër is as die hoë, gee ag.”—Prediker 5:8.

“Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf.”—Matteus 5:5.

“Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen.”—Matteus 7:12.

“Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. Verskaf goeie dinge voor die oë van alle mense. Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense. Moet julle nie wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die gramskap; want daar staan geskrywe: ‘Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah.’”—Romeine 12:17-19.

“Ook Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg. . . . Toe hy uitgeskel is, het hy nie terug uitgeskel nie. Toe hy gely het, het hy nie gedreig nie, maar hom bly toevertrou aan die een wat regverdig oordeel.”—1 Petrus 2:21-23.

[Prente op bladsy 7]

Jehovah het baie mense geleer om wreedheid af te lê