Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vandag se wrede wêreld

Vandag se wrede wêreld

Vandag se wrede wêreld

MARÍA was 64 jaar oud en het alleen gewoon. Sy is dood aangetref in haar huis; sy is geslaan en met ’n draadkabel verwurg.

’n Woedende skare het drie polisiemanne aangerand en hulle daarvan beskuldig dat hulle twee minderjariges ontvoer het. Die skare het petrol oor twee van die polisiemanne gegooi en hulle aan die brand gesteek, sodat hulle ’n vlammedood gesterf het. Die derde het daarin geslaag om weg te kom.

’n Anonieme oproep het tot ’n skokkende ontdekking gelei. Die oorskot van vier mans wat met vakansie was, is in ’n tuin opgegrawe. Hulle was geblinddoek, en hulle hande was vasgemaak. ’n Lykskouing het aan die lig gebring dat hulle lewend begrawe is.

Hierdie gruweldade is nie tonele uit wrede en gewelddadige gruwelrolprente nie. Al hierdie verslae is ware verhale wat onlangs voorbladnuus was in ’n Latyns-Amerikaanse land. Maar hierdie land is geensins ’n uitsondering in vandag se wêreld nie.

Wrede dade het iets alledaags geword. Bomaanvalle, terreuraanvalle, moorde, aanrandings, skietvoorvalle en verkragtings maak net ’n klein deel van hierdie dade uit. Daar is dikwels eksplisiete verslae van gruweldade in die nuusmedia, en baie mense is nie meer geskok om sulke wreedheid te sien of daarvan te hoor nie.

Jy wonder dalk tereg: ‘Wat gaan vandag aan met die wêreld? Neem niemand meer ander se gevoelens in ag nie, en het alle respek vir lewe verdwyn?’ Waarom moet ons in so ’n wêreld lewe?

Beskou nou die geval van Harry, ’n 69-jarige man wat vroeër kanker gehad het. Sy vrou ly aan veelvuldige sklerose, maar sy bure en vriende help hulle. “Ek weet nie wat ons sonder al hierdie mense se hulp sou gedoen het nie”, sê Harry. ’n Studie in Kanada, waar hy woon, toon dat meer as 50 persent van die mense wat bejaardes versorg, iemand help wat nie aan hulle verwant is nie. Jy weet ongetwyfeld van doodgewone mense wat van dag tot dag goedhartigheid en hulpvaardigheid betoon. Ja, mense het die vermoë om medelydend en goedhartig eerder as wreed te wees.

Waarom dan die gruweldade? Wat laat mense wreed optree? Kan diegene wat ander wreed behandel, verander? Sal wreedheid ooit tot ’n einde kom? En indien wel, hoe en wanneer?

[Prent op bladsy 3]

Trein: CORDON PRESS