Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg Paulus se voetspore na Berea

Volg Paulus se voetspore na Berea

Volg Paulus se voetspore na Berea

Die werk van die twee sendelinge het goeie vrugte afgewerp, en ’n groot menigte het gelowiges geword. Toe het ’n oproerige skare teen hulle opgestaan. Daarom is ’n besluit geneem. Ter wille van die nuutgestigte gemeente en die sendelinge se veiligheid moes die twee onmiddellik vertrek, in die middel van die nag. Omstreeks 50 G.J. het Paulus en Silas dus uit die Masedoniese hawestad Tessalonika gevlug. Hulle het gereis na die volgende plek waar hulle die predikingswerk sou doen—Berea.

DIE hedendaagse besoeker kan, soos die eertydse reisiger, Berea (Véroia) van ver af aan die oostelike voet van die dig begroeide berg Bermios sien lê. Berea is omtrent 65 kilometer suidwes van Tessalonika en sowat 40 kilometer van die Egeïese See in die binneland geleë. Die berg Olimpus, die mitiese woonplek van die vernaamste gode van die eertydse Helleense panteon, lê suid daarvan.

Berea is vir Bybelstudente van belang as ’n plek waar Paulus gepreek en baie mense tot die Christelike godsdiens bekeer het (Handelinge 17:10-15). Kom ons gaan terug op Paulus se voetspore en delf ’n bietjie in die stad se verlede.

Vroeë geskiedenis

Niemand is seker wanneer Berea gestig is nie. Die stad se eerste inwoners, vermoedelik Frigiese stamme, is omstreeks die sewende eeu v.G.J. deur die Masedoniërs uitgedryf. Drie eeue later, ná die verowerings van Aleksander die Grote, was Masedonië welvarend. Indrukwekkende geboue en mure is opgerig, asook heiligdomme vir Zeus, Artemis, Apollo, Atena en ander Griekse gode.

Een geskiedenisboek meld dat Berea deur die eeue heen “’n belangrike rol gespeel het in sy onmiddellike omgewing sowel as in die res van Noord-Griekeland”. Die stad het veral bekend geword gedurende die heerskappy van die laaste Masedoniese dinastie, die Antigonide (306-168 v.G.J.), wat uiteindelik deur Rome omvergewerp is.

Toe koning Filippus V in 197 v.G.J. deur die Romeine verslaan is, “is die ou magsbalans versteur en het Rome die oorheersende mag in die oostelike Mediterreense gebied geword”, sê die Encyclopædia Britannica. In 168 v.G.J. het ’n Romeinse generaal by Pidna, ’n aantal kilometer suid van Berea, ’n beslissende oorwinning behaal oor die laaste eertydse Masedoniese heerser, Perseus. Soos Bybelprofesie voorspel het, is die Griekse wêreldmoondheid deur Rome vervang (Daniël 7:6, 7, 23). Ná daardie veldslag was Berea een van die eerste Masedoniese stede wat hom aan Rome oorgegee het.

In die eerste eeu v.G.J. het Masedonië ’n slagveld geword gedurende die konflik tussen Pompejus en Julius Caesar. Trouens, Pompejus het sy hoofkwartier in die omgewing van Berea gehad en sy leër daar gestasioneer.

Voorspoed onder die Romeine

Gedurende die Pax Romana, of Romeinse Vrede, het besoekers aan Berea geplaveide strate met suilegange aan weerskante gevind. Die stad het openbare baddens, teaters, biblioteke en fasiliteite vir gladiatorgevegte gehad. Drinkwater het deur pype gevloei, en die stad was toegerus met ’n ondergrondse dreineerstelsel. Berea het welbekend geword as ’n handelsentrum wat deur handelaars, kunstenaars en atlete besoek is, terwyl toeskouers gekom het om atletiekbyeenkomste en ander geleenthede by te woon. Vir buitelanders was daar plekke van aanbidding waar hulle die rituele van hulle eie godsdienste kon uitvoer. Ja, kultusse van die hele Romeinse wêreld het in hierdie stad ontmoet en met mekaar gemeng.

Romeinse keisers wat ná hulle dood vergoddelik is, was onder die gode wat in Berea aanbid is. Dit was moontlik nie vir die Bereane iets vreemds nie, want ’n voorloper van keiseraanbidding was die aanbidding van Aleksander die Grote, wat as ’n god vereer is. ’n Griekse bron sê: “Hulle was so gewoond daaraan om gedurende ’n koning se lewe goddelike eer aan hom te bewys dat die Hellene [Grieke] van die oostelike Ryk met genoeë ook aan die Romeinse keisers kultiese eer bewys het . . . Op hulle muntstukke is die keiser as ’n god uitgebeeld, met die stralekroon op sy kop. Hulle het hom geloof soos hulle ’n god sou loof, met lofsange en liedere.” Altare en tempels is opgerig, en offerandes is aan hom gebring. Selfs keisers het gekom om die keiserlike kultusvieringe by te woon, wat atletiek-, kuns- en literêre wedstryde ingesluit het.

Waarom was Berea ’n sentrum van heidense aanbidding? Omdat dit die setel van die Koinon van Masedonië was. Dit was ’n vergadering van afgevaardigdes uit Masedoniese stede. Hierdie afgevaardigdes het gereeld in Berea vergader om stads- en provinsiale aangeleenthede te bespreek en om dit onder Romeinse toesig te behartig. Een van die vernaamste funksies van die Koinon was om toesig te hou oor die keiserlike kultusvieringe.

Dit was dus die situasie in die stad waarheen Paulus en Silas gereis het nadat hulle uit Tessalonika gevlug het. Teen dié tyd was Berea al twee eeue lank onder Romeinse besetting.

Die goeie nuus bereik Berea

Paulus het sy predikingswerk in Berea in die stad se sinagoge begin. Hoe is hy ontvang? Die geïnspireerde verslag sê dat die Jode daar “edelmoediger [was] as dié in Tessalonika, want hulle het die woord met die grootste gretigheid van verstand ontvang en die Skrif elke dag sorgvuldig ondersoek of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:10, 11). Omdat hulle ‘edelmoedig’ was, het hulle nie hardkoppig vasgeklou aan hulle tradisies nie. Hoewel hulle iets nuuts gehoor het, was hulle nie agterdogtig of geïrriteerd nie. Hulle het nie Paulus se boodskap verwerp nie, maar eerder daaraan aandag geskenk en onbevooroordeeld daarna geluister.

Wat het daardie Jode laat besef dat wat Paulus hulle geleer het, waar is? Hulle het die betroubaarste toetssteen gebruik om die dinge wat hulle gehoor het, te toets. Hulle het die Skrif sorgvuldig en ywerig ondersoek. Die Bybelgeleerde Matthew Henry het dié gevolgtrekking gemaak: “Aangesien Paulus uit die Skrif geredeneer het en hulle na die Ou Testament verwys het om te staaf wat hy gesê het, kon hulle hulle Bybels gebruik en het hulle die plekke opgesoek waarna hy hulle verwys het, die konteks gelees, die omvang en strekking daarvan in ag geneem, dit met ander teksverwysings vergelyk, ondersoek of die gevolgtrekkings wat Paulus daaruit gemaak het, logies en korrek was en of die argumente wat hy daarop gegrond het, oortuigend was en dan op grond hiervan ’n besluit geneem.”

Dit was nie ’n eenmalige, oppervlakkige ondersoek nie. Die Bereane het hulle toegelê op ’n ywerige, voortgesette studie en het elke dag tyd hiervoor ingeruim, nie net op die Sabbat nie.

En dink aan die resultaat. Baie Jode in Berea het die boodskap aangeneem en gelowiges geword. ’n Aantal Grieke, waarvan party miskien Joodse proseliete was, het ook geglo. Maar dit het nie onopgemerk gebly nie. Toe die Jode van Tessalonika hiervan hoor, het hulle hulle na Berea gehaas “om die volksmassa aan te hits en in beroering te bring”.—Handelinge 17:4, 12, 13.

Paulus het geen ander keuse gehad as om Berea te verlaat nie, maar hy het sy predikingswerk elders voortgesit. Dié keer het hy per skip na Atene vertrek (Handelinge 17:14, 15). Hy kon hom nietemin verheug oor die feit dat die Christelike godsdiens in Berea gevestig is weens die werk wat hy daar gedoen het. En dit lewer vandag nog vrug op.

Ja, daar is nog steeds mense in Berea (Véroia) wat die Skrif sorgvuldig ondersoek om ‘seker te maak van alles’ en ‘vas te hou’ aan dit wat ’n goeie grondslag het en waar is (1 Tessalonisense 5:21). In die stad is daar twee florerende gemeentes van Jehovah se Getuies wat, soos Paulus, aan die predikingswerk deelneem en ander van die Bybel se boodskap vertel. Hulle soek na opregtes van hart en redeneer met hulle uit die Skrif, sodat die motiverende krag van die Bybel almal kan help wat Jehovah, die ware God, wil leer ken.—Hebreërs 4:12.

[Kaart op bladsy 13]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

’n Deel van Paulus se tweede sendingreis

MISIË

Troas

Neapolis

Filippi

MASEDONIË

Amfipolis

Tessalonika

Berea

GRIEKELAND

Atene

Korinte

AGAJE

ASIË

Efese

RODOS

[Prent op bladsy 13]

Silwermuntstuk waarop Aleksander die Grote as ’n Griekse god uitgebeeld word

[Erkenning]

Muntstuk: Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Prent op bladsy 14]

’n Poort na die Joodse buurt in Berea (Véroia)

[Prent op bladsy 15]

’n Ou sinagoge in hedendaagse Berea (Véroia)