Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Moet ’n Christen voedsel en drank vermy wat kafeïen bevat?

Die Bybel sê nie dat ’n Christen nie koffie, tee, sjokolade, maté en koeldrank wat kafeïen bevat, mag drink nie. Maar die Skrif voorsien wel beginsels wat ons kan help om wyse besluite te neem. Kom ons kyk eers waarom party mense voedsel en drank vermy wat kafeïen bevat.

’n Belangrike rede is dat kafeïen as ’n luimwysigende middel beskou kan word, aangesien dit ’n stimulerende uitwerking op die verstand het. Dit kan ook verslawend wees. ’n Standaardnaslaanwerk vir aptekers sê: “’n Langdurige, hoë inname van kafeïen kan ’n groter weerstand teen die uitwerking daarvan veroorsaak, gewoontevormend wees en tot sielkundige afhanklikheid lei. Fisiese onttrekkingsimptome soos hoofpyn, geïrriteerdheid, senuweeagtigheid, angstigheid en lighoofdigheid kan voorkom as die gebruik van die stimulant skielik gestaak word.” Daar word oorweeg om die kafeïenonttrekking-sindroom op te neem in die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders, tesame met ander middels wat onttrekkingsimptome veroorsaak. Dit is gevolglik te verstane dat party Christene moontlik hulle bedenkinge hieroor het omdat hulle enige afhanklikheid wil vermy en selfbeheersing aan die dag wil lê.—Galasiërs 5:23.

Party meen dat kafeïen ’n mens se gesondheid of dié van ’n ongebore kind kan aantas. Christene moet God liefhê ‘met hulle hele siel’, en daarom doen hulle niks wat hulle lewe sal verkort nie. En aangesien hulle ook beveel word om hulle naaste lief te hê, vermy hulle dinge wat ’n ongebore kind kan benadeel.—Lukas 10:25-27.

Is daar rede om te dink dat dit gesondheidsrisiko’s inhou? Daar is teenstrydige menings oor ’n moontlike verband tussen verskeie siektes en kafeïeninname. Party navorsers meen selfs dat koffie gesond is. In 2006 het die tydskrif Time berig: “Aanvanklike studies het te kenne gegee [dat kafeïen] tot blaaskanker, hoë bloeddruk en ander kwale kan lei. Meer onlangse navorsing het nie net die meeste van hierdie bewerings verkeerd bewys nie, maar het ook op party noemenswaardige voordele gewys. Dit wil voorkom of kafeïen ’n beskermende uitwerking het teen lewerskade, Parkinson se siekte, suikersiekte, Alzheimer se siekte, galstene, depressie en dalk selfs party vorme van kanker.” Oor die gebruik van kafeïen het ’n nuustydskrif berig: “Die sleutel—en dit is nie verbasend nie—is matigheid.”

Elke Christen moet ’n persoonlike besluit neem op grond van sy begrip van die inligting wat tans oor kafeïen beskikbaar is en die Bybelbeginsels wat moontlik ter sprake is. Byvoorbeeld, ’n Christen wat swanger is, sal dalk besluit om gedurende haar swangerskap nie kafeïen in te neem nie as sy dink dat dit haar ongebore kind kan benadeel. As ’n Christen vind dat hy geïrriteerd raak of ietwat siek voel wanneer hy nie gereeld kafeïen inneem nie, sal dit moontlik raadsaam wees om kafeïen te vermy, ten minste ’n tyd lank (2 Petrus 1:5, 6). Ander Christene moet so ’n besluit respekteer en nie hulle beskouing probeer afdwing nie.

Ongeag watter besluit jy neem oor voedsel en drank wat kafeïen bevat, hou Paulus se vermaning in gedagte: “Hetsy julle eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot heerlikheid van God.”—1 Korintiërs 10:31.