Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer verwagtinge nie vervul word nie

Wanneer verwagtinge nie vervul word nie

Wanneer verwagtinge nie vervul word nie

ONTNUGTERING kan in enige huwelik ontstaan, al het dit gedurende hulle hofmakery gelyk of ’n man en ’n vrou goed by mekaar pas. Maar hoe kan twee mense wat blykbaar uitstekend by mekaar gepas het voordat hulle hulle huweliksgeloftes afgelê het, agterna so verskillend wees?

Die Bybel sê dat diegene wat trou, “pyn en droefheid” sal ondervind (1 Korintiërs 7:28, The New English Bible). ’n Mate van hierdie verdrukking is dikwels die gevolg van menslike onvolmaaktheid (Romeine 3:23). Boonop versuim een of albei huweliksmaats dalk om Bybelbeginsels toe te pas (Jesaja 48:17, 18). Maar soms begin ’n man of ’n vrou hulle huwelik met onrealistiese verwagtinge. Wanneer dit gebeur, kan misverstande tot ernstige probleme lei.

Onrealistiese verwagtinge

As jy ’n getroude man of vrou is, het jy waarskynlik ’n aantal verwagtinge gehad toe jy getrou het; die meeste mense het. Dink ’n oomblik na oor die soort lewe waarop jy gehoop het. Is jou huwelik miskien nie heeltemal soos jy jou voorgestel het dit sou wees nie? Indien wel, moet jy nie tot die slotsom kom dat probleme nie uitgestryk kan word nie. Die toepassing van Bybelbeginsels kan jou help om dinge reg te stel (2 Timoteus 3:16). a Intussen kan jy gerus van die verwagtinge ondersoek wat jy moontlik oor die huwelik gehad het.

Party het byvoorbeeld gedink dat die huwelikslewe altyd romanties sal wees, soos dit in stories uitgebeeld word. Of miskien het jy gedink dat jy en jou maat die meeste van julle tyd saam sal deurbring of dat julle elke meningsverskil maklik en op ’n volwasse wyse sal oplos. Baie het gemeen dat die huwelik die nodigheid vir selfbeheersing in geslagsake sal uitskakel. Omdat al hierdie algemene verwagtinge ietwat onrealisties is, sal dit ongetwyfeld vir sommige tot teleurstelling lei.—Genesis 3:16.

Nog ’n onrealistiese verwagting is dat die huwelik op sigself ’n mens gelukkig sal maak. Om ’n lewensmaat te hê, kan natuurlik ’n bron van groot vreugde wees (Spreuke 18:22; 31:10; Prediker 4:9). Maar kan ’n mens verwag dat die huwelik ’n wonderdadige oplossing vir alle meningsverskille sal wees? Diegene wat so dink, word gewoonlik wreed ontnugter!

Onuitgesproke verwagtinge

Nie alle verwagtinge is onrealisties nie. Inteendeel, party behels redelike begeertes. Probleme kan egter weens sekere verwagtinge ontstaan. “Ek sien hoe huweliksmaats vir mekaar kwaad word omdat een van hulle wag dat ’n sekere begeerte vervul word, terwyl die ander een in die eerste plek nooit werklik bewus was van daardie begeerte nie”, sê ’n huweliksberader. Kom ons kyk na die volgende scenario om te verstaan hoe dit kan gebeur.

Marie trou met Dawid, wat honderde kilometers van haar tuisdorp af woon. Voor die huwelik het Marie besef dat daar sekere uitdagings sou wees wanneer sy na ’n nuwe gebied verhuis—veral aangesien sy van nature skugter is. Maar sy was vol vertroue dat Dawid haar sou help om aan te pas. Marie het byvoorbeeld verwag dat Dawid aan haar sy sou bly en haar sou help om sy vriende te leer ken. Maar dit gebeur nie. Dawid raak verdiep in sy gesprekke met sy baie vriende—wat beteken dat Marie, die nuweling, op haar eie is. Marie voel afgeskeep, selfs ietwat verstote. ‘Hoe kan Dawid so ongevoelig wees?’ wonder sy.

Is Marie se verwagting onrealisties? Nie regtig nie. Sy wil maar net hê dat haar man haar moet help om by haar nuwe omgewing aan te pas. Marie is skugter, en sy voel oorweldig wanneer sy soveel nuwe mense ontmoet. Die feit is egter dat Marie nog nooit vir Dawid gesê het hoe sy voel nie. Dawid het dus geen idee van wat Marie deurmaak nie. Wat sal gebeur as die situasie voortduur? Marie se gegriefdheid kan toeneem, en met verloop van tyd sal sy dalk dink dat haar man glad nie omgee hoe sy voel nie.

Dalk het jy ook al teleurgesteld en gefrustreerd gevoel wanneer dit gelyk het of jou maat ongevoelig is vir jou behoeftes. Wat kan jy doen as dit die geval is?

Praat daaroor

Onvervulde verwagtinge kan beslis ontstellend wees (Spreuke 13:12). Daar is nietemin iets wat jy omtrent die situasie kan doen. “Jy kan ander oorhaal as jy wys is en verstandig praat”, sê ’n Bybelspreuk (Spreuke 16:23, Contemporary English Version). As jy dus voel dat jy ’n redelike verwagting het wat nie vervul word nie, moet jy die saak met jou maat bespreek.

Probeer om die regte tyd, die regte omstandighede en die regte woorde te kies om te sê wat jou kwel (Spreuke 25:11). Praat kalm en respekvol. Hou jou doelwit in gedagte—nie om jou maat te beskuldig nie, maar om hom of haar te vertel wat jou verwagtinge is en hoe jy voel.—Spreuke 15:1.

Waarom is dit enigsins nodig om dit te doen? Sal ’n bedagsame huweliksmaat nie jou behoeftes kan raaksien nie? Wel, jou maat kyk miskien bloot uit ’n ander oogpunt na sake, maar sal heel gewillig wees om jou behoeftes in ag te neem as jy verduidelik wat dit is. Dit is nie ’n teken van ’n swak huwelik as jy moet sê wat jy graag wil hê of wat jou behoeftes is nie, en dit toon ook nie dat jou maat ongevoelig is nie.

Moet dus nie huiwer om sake met jou maat te bespreek nie. In die situasie wat vroeër beskryf is, kan Marie byvoorbeeld vir Dawid sê: “Ek moet erken dat dit vir my nogal ’n uitdaging is om soveel nuwe mense te ontmoet. Kan jy my help om almal te leer ken totdat ek meer op my gemak voel?”

‘Gou om te hoor’

Beskou die saak nou uit ’n ander hoek. Gestel jou maat kom na jou toe en hy of sy is ontsteld omdat jy nie ’n redelike verwagting vervul nie. As dit gebeur, luister na jou maat! Probeer om nie ’n verdedigende houding aan te neem nie. Wees eerder ‘gou om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word’ (Jakobus 1:19; Spreuke 18:13). Die apostel Paulus het Christene aangespoor: “Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek.”—1 Korintiërs 10:24.

Jy kan dit doen deur jou te probeer indink hoe jou maat voel. Die Bybel sê: “Net so moet julle, mans, voortgaan om ooreenkomstig kennis met [julle vrouens] saam te woon”, of soos J. B. Phillips se vertaling dit weergee: “Mans, julle moet julle vrouens met wie julle saamlewe, probeer verstaan” (1 Petrus 3:7). Dit sal natuurlik verstandig van vrouens wees om dieselfde in verband met hulle mans te probeer doen.

Onthou, ongeag hoe goed jy en jou maat by mekaar pas, julle het nie dieselfde uitkyk op alles nie. (Sien die venster “Dieselfde landskap uit verskillende hoeke gesien”.) Dit is in werklikheid ’n seën, want dit is goed om sake uit ’n ander se perspektief te beskou. Toe julle getrou het, het jy en jou maat albei unieke verwagtinge gehad weens dinge soos familieagtergrond en kultuur. Gevolglik kan julle baie verlief wees en tog nie dieselfde verwagtinge hê nie.

Byvoorbeeld, Christenhuweliksmaats is dalk goed vertroud met die Bybelbeginsel van hoofskap (Efesiërs 5:22, 23). Maar presies hoe sal hoofskap in julle gesin uitgeoefen word, en hoe sal onderdanigheid getoon word? Word julle twee deur hierdie Bybelbeginsel gerig, en wend julle opregte pogings aan om dit te volg?

Julle het dalk ook verskillende idees omtrent ander alledaagse kwessies. Wie sal na sekere huishoudelike take omsien? Wanneer sal julle familielede besoek word, en hoe lank sal die besoeke duur? Hoe sal Christenhuweliksmaats wys dat hulle Koninkryksbelange eerste in hulle lewe stel? (Matteus 6:33). Wanneer dit by geldsake kom, is dit maklik om skuld te maak; dit is dus verstandig om spaarsaam en vindingryk te wees. Maar presies wat beteken dit om spaarsaam en vindingryk te wees? Sulke sake moet openlik en respekvol bespreek word, iets wat baie voordelig sal wees.

Hierdie besprekings kan julle help om groter vrede in julle huwelik te geniet, al is party verwagtinge tot dusver nog nie vervul nie. Ja, julle sal die apostel Paulus se vermaning beter kan toepas: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het.”—Kolossense 3:13.

[Voetnote]

a Daar is volop goeie raad vir egpare in die boek Die geheim van gesinsgeluk, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster/Prent op bladsy 10]

DIESELFDE LANDSKAP UIT VERSKILLENDE HOEKE GESIEN

“Stel jou ’n groep toeriste voor wat na ’n skilderagtige landskap kyk. Hoewel die hele groep dieselfde toneel aanskou, sien elkeen dit op ’n ander manier. Waarom? Omdat elke persoon dit uit ’n ander hoek sien. Twee mense kan nie op presies dieselfde plek staan nie. Boonop kyk nie almal na dieselfde deel van die toneel nie. Elkeen vind ’n ander aspek wat hom . . . boei. Dieselfde geld in ’n huwelik. Al pas huweliksmaats baie goed bymekaar, is daar nie twee wat presies dieselfde beskouing van sake het nie. . . . Kommunikasie sluit die inspanning in wat nodig is om [die] verskille in ’n eenvlees-verhouding te laat saamsmelt. Dit vereis dat tyd opsygesit word om te gesels.”—Die Wagtoring, 1 Augustus 1993, bladsy 4.

[Venster op bladsy 11]

WAT JY NOU KAN DOEN

• Ondersoek weer jou verwagtinge. Is hulle realisties? Verwag jy meer van jou maat as wat redelik is?—Filippense 2:4; 4:5.

• Probeer om enige onrealistiese verwagtinge aan te pas. Moet byvoorbeeld nie sê: “Ons sal nooit meningsverskille hê nie”; neem jou eerder voor om jou bes te doen om meningsverskille vreedsaam op te los.—Efesiërs 4:32.

• Bespreek jou verwagtinge met jou maat. Om oor sake te praat, is ’n belangrike stap om te leer hoe om liefde en respek vir mekaar te toon.—Efesiërs 5:33.

[Prent op bladsy 9]

Wees ‘gou om te hoor’ wat jou huweliksmaat kwel