Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Veld wat “wit is vir die oes”

’n Veld wat “wit is vir die oes”

’n Veld wat “wit is vir die oes”

Aan die noordelike punt van Suid-Amerika lê die Guajira- skiereiland. Dit is in die noorde van Colombia en die noord- weste van Venezuela geleë. ’n Skroeiende son en min reën is die lot van hierdie halfwoestyn, waar die temperatuur 43 grade Celsius kan bereik. Ten spyte van die klimaat is die mense hier bedrywige en produktiewe boere. Bestendige seebriese en noordoostelike passaatwinde maak die lewe draaglik en stel besoekers in staat om fassinerende landskappe en pragtige strande te geniet.

WELKOM in die land van die Wayuu-Indiane. Daar is sowat 305 000 Wayuu’s, waarvan 135 000 in Colombia woon. Hierdie stam het lank voor die Spaanse kolonisasie al hier gewoon.

Die Wayuu maak hoofsaaklik ’n bestaan deur vee- en graanboerdery. Hulle vang ook vis en dryf handel met mense in naburige lande. Die vroue doen meesterlike weefwerk in helder kleure, en hulle produkte is gewild by toeriste.

Die Wayuu is bekend vir hulle opregtheid en gasvryheid. Maar hulle lewe ook in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Armoede is een van hulle vernaamste probleme, en dit lei weer tot ander probleme, soos ongeletterdheid, die ondervoeding van kinders, ’n gebrek aan mediese sorg en, in sommige gebiede, misdaad.

Die kerke van die Christendom stuur al dekades lank sendelinge om onder die Wayuu te woon. Gevolglik word die meeste onderwyskolleges en kosskole deur die kerke bestuur. Baie van die Wayuu’s het sogenaamde Christelike gebruike aanvaar, soos beeldeaanbidding en kinderdoop, maar hulle het nie die opvattings en ritusse wat in tradisionele mites en bygelowe gewortel is, die rug toegekeer nie.

Die Wayuu is oor die algemeen godvresend, en hulle reageer gunstig op die Bybelwaarhede wat Jehovah se Getuies verkondig. In die vroeë 1980’s was daar net sewe Wayuu-Getuies in Guajira, waarvan drie in Ríohacha, die hoofstad, gewoon het. Benewens die Wayuu-Getuies was daar 20 ander verkondigers wat die goeie nuus van die Koninkryk in Spaans verkondig het.

’n Boodskap in hulle eie taal

Die meeste van die Wayuu’s wat in Ríohacha woon, praat net ’n bietjie Spaans benewens hulle moedertaal Wayuunaiki. Aanvanklik is min resultate in die verkondiging van die Koninkryksboodskap behaal. Dit het gelyk of die Indiane wegskram van die arijunas, soos hulle diegene noem wat nie Wayuu is nie. Wanneer die Getuies hulle tuis besoek het, het die meeste Wayuu’s in hulle eie taal geantwoord, nie in Spaans nie. Die Getuies het eenvoudig na die volgende huis gegaan.

Teen die einde van 1994 het die takkantoor van Jehovah se Getuies egter ’n groep spesiale pioniers, of voltydse Bybelonderrigters, gestuur om in die Ríohacha-gemeente te dien. Die pioniers het ’n Wayuu-Getuie gevra om hulle Wayuunaiki te leer. Nadat hulle ’n paar eenvoudige aanbiedings gememoriseer het, het hierdie bedienaars na die gebied gegaan en onmiddellik ’n merkbare verandering in die mense se reaksie gesien. Hoewel die Bybelonderrigters gebroke Wayuunaiki gepraat het, was die huisbewoners aangenaam verras en gewillig om te luister, en hulle het soms ’n lewendige gesprek in hulle gebroke Spaans gevoer!

‘Wit vir die oes’

Die apostel Paulus het die Christelike dissipelmaakwerk vergelyk met ’n land wat bewerk word, ’n vergelyking wat die Wayuu, ’n landbouvolk, goed verstaan (1 Korintiërs 3:5-9). In figuurlike sin is die Wayuu-veld ‘wit vir die oes’.—Johannes 4:35.

Neil, ’n Wayuu-Indiaan wat in Manaure gewoon het, is met ’n liggaamsgebrek gebore. Neil het God hiervoor blameer en was so terneergedruk dat hy selfmoord wou pleeg. ’n Getuie wat van die geleentheid gebruik gemaak het om van huis tot huis te getuig toe hy verskillende dorpe in verband met sy sekulêre werk besoek het, het met Neil oor Jehovah se Koninkryk gepraat. Neil was net 14 jaar oud. Die Getuie het Neil se belangstelling opgemerk en het die Bybel met hom begin studeer. Neil was bly om te leer van Jehovah se liefdevolle persoonlikheid, wat hom tot die slotsom laat kom het dat God nie sy lyding veroorsaak nie. Hoe diep het dit hom tog geraak toe hy lees van God se belofte van ’n aardse paradys, waar daar nie meer siekte sal wees nie!—Jesaja 33:24; Matteus 6:9, 10.

Gedurende dié tyd was Neil se familie in ’n vete met ’n ander familie gewikkel. Neil se familielede het hulleself probeer beskerm deur sekere stamrituele uit te voer. Neil vertel: “Ek was aanvanklik bang om met my familie oor my nuutgevonde geloof te praat, veral met die oudstes van die familie, wat baie hooggeag word.” Neil se ouers was kwaad toe hulle hoor dat hy weier om onskriftuurlike leringe te volg of spiritistiese gebruike te beoefen. Neil het toe na Ríohacha getrek en met die gemeente daar begin assosieer. Hy is later gedoop. In 1993 is hy as ’n bedieningskneg aangestel, en drie jaar later het hy ’n gewone pionier geword. In 1997 is hy as ’n gemeentelike ouer man aangestel. In 2000 het hy sy bediening uitgebrei en ’n spesiale pionier geword.

Neem ook die geval van Teresa, ’n Wayuu-vrou wat die Bybel saam met die Getuies begin studeer het. Daniel, wat met haar saamgelewe het, het haar gespot en het haar en hulle drie kinders fisies mishandel. Hoewel hy later ingestem het om soos Teresa ook die Bybel te studeer, het hy dikwels saam met sy vriende gaan drink, soms vier of vyf dae lank. Sy gesin is in armoede gedompel. Teresa het getrou aangehou om te studeer en Christelike vergaderinge by te woon. Dit het Daniel gehelp om die belangrikheid van Bybelstudie in te sien. Toe het een van hulle kinders per ongeluk in ’n kokende ketel geval en weens ernstige brandwonde gesterf. Benewens die groot droefheid wat Teresa verduur het omdat sy ’n seun verloor het, het sy ook te kampe gehad met druk van vriende en bure om onskriftuurlike begrafnisgebruike te volg.

Gedurende dié moeilike tyd het hierdie twee aanmoedigende hulp en vertroosting van lede van nabygeleë gemeentes ontvang. Ná die begrafnis het hulle steeds vertroostende besoeke van die plaaslike Wayuu-gemeente ontvang. Toe Daniel Christelike liefde in aksie sien, het dit hom beweeg om geestelike vordering te maak. Hy het opgehou om te drink en Teresa te mishandel. Daniel en Teresa het getrou, en hy het hard begin werk om sy gesin te onderhou. Hulle het geestelike vordering gemaak en is in 2003 gedoop. Hulle albei hou ’n hele paar Bybelstudies. Danksy die uitstekende getuienis wat Teresa vir haar familie gegee het, is haar familielede nou gewillig om na die Getuies te luister wanneer hulle hulle besoek. Van Daniel se broers- en susterskinders is een ’n ongedoopte verkondiger, en twee ander studeer die Bybel en woon gemeentelike vergaderinge by. Teresa se skoonsuster het ook ’n seun in ’n ongeluk verloor, en sy en haar gesin stel daarin belang om die Bybel te studeer.

Geestelike voedsel in Wayuunaiki

In 1998 is die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! a in Wayuunaiki vrygestel. Dit het ’n nuttige hulpmiddel geword om belangstelling in die Wayuu-veld te kweek en tuisbybelstudies te hou. Reëlings is in 2003 getref om verskeie broers op te lei om publikasies van Jehovah se Getuies in Wayuunaiki te vertaal. Danksy die harde werk van ’n groep vertalers in Ríohacha is meer brosjures beskikbaar gestel, wat bydra tot die geestelike groei van dissipels wat Wayuunaiki praat.

Sedert 2001 is party programdele tydens die streekbyeenkoms in Wayuunaiki getolk. Dit is vir Bybelstudente geestelik aanmoedigend wanneer hulle die program in hulle eie taal hoor. Hulle sien uit na die dag wanneer Bybeldramas ook in Wayuunaiki aangebied sal word.

’n Florerende veld

Uribia is ’n dorp sowat 100 kilometer noordoos van Ríohacha. Die Wayuu-gemeente in Uribia het 16 Koninkryksverkondigers, waarvan baie nou groter pogings aanwend om vir die Indiane in die landelike gebiede te getuig. Een van die gemeentelike ouer manne sê van een so ’n poging: “Ons het by ’n plaas gekom waar daar ’n groep van sowat twaalf huise met lae dakke en klein venstertjies was. Voor elke huis is ’n plat dak wat gemaak word van yotojolo, die houtagtige binnestam van ’n kaktus. Dit bied die gesin en besoekers beskerming teen die skroeiende son. Ons was bly om te sien dat baie van die mense groot belangstelling getoon het, en daarom het ons gereël om terug te gaan en Bybelstudies te begin. Met ons tweede besoek het ons agtergekom dat baie van hulle ongeletterd is. Hulle het ons vertel van ’n skool wat weens ’n gebrek aan fondse nie meer gebruik word nie. Die persoon wat toesig daaroor het, was so gaaf om ons toestemming te gee om een van die klaskamers te gebruik om lees-en-skryf-klasse en Bybelstudies te hou. Ses Wayuu’s het leer lees en skryf en vorder met hulle Bybelstudie. Ons is diep getref deur die waardering wat getoon word, en daarom beplan ons om vergaderinge op die plaas te hou.”

’n Aantal Getuies wat nie Wayuu is nie, het Wayuunaiki geleer, en hulle hulp word hoog op prys gestel. Op die Guajira-skiereiland gebruik agt gemeentes en twee groepe nou hierdie taal.

Jehovah se seën op hierdie pogings is duidelik. Baie meer kan ongetwyfeld nog bereik word in die verkondiging van die goeie nuus onder die Wayuu. Die vooruitsigte lyk belowend namate dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, Christendissipels word. Mag Jehovah meer bedienaars stuur om hierdie veld, wat “wit is vir die oes”, te bewerk.—Matteus 9:37, 38.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Kaarte op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

VENEZUELA

COLOMBIA

LA GUAJIRA

Manaure

Ríohacha

Uribia

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Wayuu-huise hieronder: Victor Englebert