Baie belangriker as die weer
Baie belangriker as die weer
BYNA alle nasies het gesegdes oor die weer: Rooi lug saans, seeman kan dans; rooi lug soggens, seeman wees op jou pasoppens. Weerkundiges verstrek vandag tegniese redes waarom weerstoestande in ooreenstemming met die gesegde kan ontwikkel.
In Jesus se tyd was mense ook daaraan gewoond om die lug te bestudeer en die voorkoms daarvan te vertolk. Jesus het vir ’n groep Jode gesê: “Wanneer dit aand word, sê julle gewoonlik: ‘Dit gaan mooi weer wees, want die lug is vuurrooi’; en in die oggend: ‘Dit gaan vandag winteragtige, reënerige weer wees, want die lug is vuurrooi, maar somber.’ Julle weet hoe om die voorkoms van die lug te vertolk, maar . . . ” Maar wat? Jesus het toe ’n betekenisvolle stelling gemaak: “Die tekens van die tye kan julle nie vertolk nie.”—Matteus 16:2, 3.
Wat was hierdie “tekens van die tye”? Dit was die talle duidelike aanduidings dat Jesus die ware Messias was wat deur God gestuur is. Sy dade was so duidelik herkenbaar soos die rooi kleur van die lug. Maar die meeste Jode het die tekens geïgnoreer wat getoon het dat die Messias gekom het—’n verwikkeling wat beslis belangriker was as die weer.
Vandag is daar ook ’n teken wat baie belangriker is om te verstaan as die kleur van die letterlike lug. Jesus het voorspel dat hierdie goddelose wêreld tot ’n einde gebring sal word sodat ’n beter wêreld kan begin. Hy het ’n aantal verwikkelinge genoem wat saam sou toon dat hierdie verandering op hande is. Dit het wêreldwye oorloë en hongersnode ingesluit. Jesus het gesê dat wanneer hierdie dinge gesien word, die tyd naby is vir God om in te gryp.—Matteus 24:3-21.
Sien jy “die tekens van die tye”?