Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulp van “die God wat volharding en vertroosting verskaf”

Hulp van “die God wat volharding en vertroosting verskaf”

Hulp van “die God wat volharding en vertroosting verskaf”

SOWAT 2 000 jaar gelede het die Bybelskrywer Paulus Jehovah beskryf as “die God wat volharding en vertroosting verskaf” (Romeine 15:5). Aangesien die Bybel ons verseker dat Jehovah nie met die tyd verander nie, kan ons die vertroue hê dat God nog steeds vertroosting gee aan diegene wat hom dien (Jakobus 1:17). Trouens, die Bybel toon dat Jehovah op verskeie maniere vertroosting verskaf aan diegene wat dit nodig het. Wat is party van hierdie maniere? God gee krag aan dié wat hulle in gebed tot hom wend en sy hulp vra. Hy beweeg ook ware Christene om vertroosting aan medegelowiges te bied. En Jehovah voorsien aangrypende verslae in sy Woord, die Bybel, wat besonder aanmoedigend is vir diegene wat treur oor ’n kind wat hulle aan die dood afgestaan het. Kom ons bespreek hierdie drie vorme van vertroosting een op ’n slag.

“Jehovah het gehoor”

Koning Dawid het oor ons Skepper, Jehovah, geskryf: “Vertrou te alle tye op hom, o volk. Stort julle hart voor hom uit. God is vir ons ’n toevlug” (Psalm 62:8). Waarom het Dawid sulke vertroue in Jehovah gehad? Dawid het van homself gepraat en geskryf: “Hierdie geteisterde het geroep, en Jehovah het gehoor. En uit al sy benoudhede het Hy hom gered” (Psalm 34:6). Tydens al die angswekkende situasies wat Dawid beleef het, het hy altyd tot God gebid vir hulp, en Jehovah het hom altyd te hulp gekom. Dawid het uit ondervinding geweet dat God hom sal onderskraag en hom sal help om te volhard.

Dit is belangrik dat bedroefde ouers weet dat Jehovah hulle gedurende hulle intense verdriet sal onderskraag, net soos hy in Dawid se geval gedoen het. Hulle kan die groot “Hoorder van die gebed” nader met die vertroue dat hy hulle sal help (Psalm 65:2). William, wat in die vorige artikel aangehaal is, het gesê: “Ek het dikwels gevoel dat ek nie ’n oomblik langer sonder my seun kan leef nie, en ek het Jehovah gevra om my verligting te gee. Hy het my nog altyd die krag en moed gegee om met my lewe voort te gaan.” As jy ook in geloof tot Jehovah bid, sal die groot God van die hemel jou onderskraag. Jehovah God beloof immers aan dié wat hom probeer dien: “Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.’”—Jesaja 41:13.

Ondersteuning van ware vriende

Diegene wat ’n kind verloor het, het dikwels tyd nodig om alleen te treur en hulle gevoelens te verwerk. Maar dit sal onwys wees om vir ’n lang ruk die geselskap van ander te vermy. “Wie hom afsonder”, kan homself volgens Spreuke 18:1 benadeel. Daarom moet persone wat treur, versigtig wees om nie in die strik te trap om hulle af te sonder nie.

Godvresende vriende kan waardevolle hulp verleen aan dié wat in benoudheid verkeer. Spreuke 17:17 sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.” Lucy, wat ook in die vorige artikel genoem is, het ná die dood van haar seun die vertroosting ondervind wat deur ware metgeselle gebied word. Sy het aangaande haar vriende in die gemeente gesê: “Hulle besoeke het baie gehelp, hoewel hulle soms maar min gesê het. Een vriendin het my besoek op dae wanneer ek alleen was. Sy het geweet dat ek by die huis sou sit en huil, en sy het dikwels by my kom inloer en saam met my gehuil. ’n Ander vriendin het my elke dag gebel om my aan te moedig. Ander het ons oorgenooi vir ’n maaltyd, en hulle doen dit nog steeds.”

Hoewel die intense pyn wat ouers ervaar wanneer hulle ’n kind verloor, nie maklik verdwyn nie, sal gebed tot God en assosiasie met ware Christenvriende werklik vertroosting bied vir dié wat treur. Baie Christenouers wat ’n kind verloor het, vind dat Jehovah met hulle is. Ja, Jehovah “genees die gebrokenes van hart en verbind hulle pynlike plekke”.—Psalm 147:3.

Bybelverslae wat vertroosting bied

Benewens gebed en opbouende assosiasie is God se geskrewe Woord ’n bron van vertroosting vir dié wat treur. Bybelverslae toon dat Jesus die innige begeerte en die vermoë het om die pyn van bedroefde ouers weg te neem deur afgestorwenes weer lewend te maak. Hierdie verslae verskaf ware vertroosting vir dié wat treur. Kom ons kyk na twee van hierdie verslae.

Lukas hoofstuk 7 beskryf wat gebeur het toe Jesus ’n begrafnisstoet in die stad Nain teëgekom het. Die mense was op pad om ’n weduwee se enigste seun te begrawe. Vers 13 sê: “Toe die Here haar sien, is hy ontroer deur innige jammerte vir haar, en hy het vir haar gesê: ‘Hou op huil.’”

Min mense sou dit waag om vir ’n moeder by haar seun se begrafnis te sê om op te hou huil. Waarom het Jesus dit gesê? Omdat hy geweet het dat die moeder se droefheid weldra sou verdwyn. Die verslag sê verder: “[Jesus het] nader gegaan en die baar aangeraak, en die draers het gaan staan, en hy het gesê: ‘Jong man, ek sê vir jou: Staan op!’ En die dooie man het regop gaan sit en begin praat, en hy het hom aan sy moeder gegee” (Lukas 7:14, 15). Op daardie oomblik het die moeder sekerlik weer gehuil, maar dié keer van vreugde.

By ’n ander geleentheid is Jesus genader deur ’n man met die naam Jaïrus, wat hulp gevra het omdat sy 12-jarige dogtertjie ernstig siek was. Kort daarna het hy die tyding ontvang dat die meisie gesterf het. Hierdie nuus het Jaïrus se hart gebreek, maar Jesus het vir hom gesê: “Moenie vrees nie, beoefen net geloof.” By die gesin se huis het Jesus ingegaan na die lewelose meisie toe. Hy het haar hand geneem en gesê: “Meisie, ek sê vir jou: Staan op!” Wat het gebeur? “Onmiddellik het die meisie opgestaan en begin loop.” Wat was haar ouers se reaksie? “Hulle [was] buite hulleself van groot ekstase.” Toe Jaïrus en sy vrou hulle dogtertjie omhels het, was hulle oorstelp van vreugde. Dit was vir hulle soos ’n droom.—Markus 5:22-24, 35-43.

Sulke uitvoerige Bybelverslae oor die opstanding van kinders toon vandag vir bedroefde ouers waarna hulle kan uitsien. Jesus het gesê dat “die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Dit is Jehovah se voorneme dat sy Seun lewe sal gee aan diegene wat gesterf het. Miljoene der miljoene kinders wat gesterf het, sal ‘sy stem hoor’ wanneer hy vir hulle sê: “Ek sê vir [julle]: Staan op!” Daardie kinders sal weer eens praat en loop. En soos Jaïrus en sy vrou sal die ouers van daardie kinders ‘buite hulleself wees van groot ekstase’.

As jy ’n seun of ’n dogter aan die dood afgestaan het, kan jy gerus in gedagte hou dat Jehovah jou droefheid in vreugde kan verander deur middel van die opstanding. Om by hierdie wonderlike vooruitsig baat te vind, moet jy gehoor gee aan die psalmis se vermaning: “Soek Jehovah en sy sterkte. Soek voortdurend sy aangesig. Dink aan sy wonderlike werke wat hy verrig het, sy wonderwerke” (Psalm 105:4, 5). Ja, dien die ware God, Jehovah, en aanbid hom op aanneemlike wyse.

Wat sal die onmiddellike gevolg wees as jy ‘Jehovah soek’? Jy sal krag ontvang deur middel van gebed tot God, jy sal vertroos word deur die liefdevolle besorgdheid van ware Christenmetgeselle en jy sal bemoedig word deur ’n studie van God se Woord. Verder sal jy in die nabye toekoms die ‘wonderlike werke en wonderwerke’ ondervind wat Jehovah sal verrig tot jou ewige voordeel sowel as dié van die kind wat jy aan die dood afgestaan het.

[Venster op bladsy 5]

‘Bring die vrou wat twee kinders verloor het’

Kehinde en Bintu, ’n Nigeriese egpaar wat Jehovah se Getuies is, het twee van hulle kinders in ’n motorongeluk verloor. Hierdie verskriklike verlies veroorsaak nog steeds vir hulle groot pyn. Maar hulle vertroue op Jehovah onderskraag hulle, en hulle hou aan om hulle bure te vertel van die Bybel se boodskap van hoop.

Ander het die kalmte en innerlike krag wat Kehinde en Bintu openbaar, opgemerk. Eendag het ’n sekere mev. Ukoli vir een van Bintu se vriendinne gesê: “Bring die vrou hiernatoe wat twee kinders tegelykertyd verloor het en nog steeds die Bybel se boodskap verkondig. Ek wil weet wat haar die krag gee om te volhard.” Toe Bintu by die vrou se huis kom, het mev. Ukoli vir haar gesê: “Ek wil weet waarom jy nog steeds praat oor die God wat jou kinders doodgemaak het. God het my enigste dogter weggeneem. Van toe af het ek niks met God te doen nie.” Bintu het die Bybel gebruik om te verduidelik waarom mense sterf en waarom ons die vaste hoop kan hê dat afgestorwe dierbares opgewek sal word.—Handelinge 24:15; Romeine 5:12.

Agterna het mev. Ukoli gesê: “Ek het altyd gedink dat God mense deur die dood wegneem. Nou weet ek wat die waarheid is.” Sy het besluit om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer sodat sy meer van God se beloftes kan leer.

[Venster op bladsy 6]

‘Ek wil help, maar ek weet nie hoe nie’

Terwyl die ouers en die broers en susters van ’n kind wat oorlede is, groot droefheid ervaar, voel hulle vriende dalk onseker oor wat om te doen. Hulle wil die gesin ondersteun, maar is bang dat hulle die verkeerde ding sal sê of doen en sodoende die pynlike situasie sal vererger. Hier is ’n paar wenke vir dié wat dalk dink: ‘Ek wil help, maar ek weet nie hoe nie.’

❖ Moenie die bedroefdes vermy omdat jy nie seker is wat om te sê of te doen nie. Net jou teenwoordigheid is al vir hulle bemoedigend. Weet jy nie wat om te sê nie? ’n Drukkie en ’n opregte: “Ek is werklik jammer”, laat hulle besef dat jy vir hulle omgee. Is jy bang dat jy hulle hartseer sal vererger as jy begin huil? Die Bybel sê: “Huil saam met mense wat huil” (Romeine 12:15). Jou trane wys dat jy in hulle droefheid deel, en dit is vertroostend.

❖ Neem die inisiatief. Kan jy ’n ligte maaltyd vir die gesin voorberei? Kan jy die skottelgoed was wat opgehoop het? Kan jy vir hulle takies verrig? Moenie sê: “Laat my weet as julle iets nodig het” nie. Selfs as dit in alle opregtheid gesê word, sê daardie woorde vir talle bedroefde ouers dat jy te besig is om hulle te help. Vra liewer: “Wat kan ek doen om julle nou te help?” en doen dan wat hulle vra. Maar moenie inbreuk maak op hulle privaatheid wat hulle huis of hulle lewe betref nie.

❖ Vermy woorde soos: “Ek weet hoe jy voel.” Elke mens reageer anders op die dood van ’n geliefde. Selfs as jy ook ’n kind verloor het, weet jy nie presies hoe hulle voel nie.

❖ Baie tyd sal verloop voordat hulle huislike lewe enigsins weer normaal voel. Hou aan om soveel te help as wat jy kan. Dikwels ontvang ’n bedroefde gesin in die begin baie aandag, maar hulle het meer nodig. Wees bewus van hulle behoeftes in die weke en maande wat voorlê. a

[Voetnoot]

a Vir meer inligting oor hoe om dié te help wat oor die verlies van ’n kind treur, sien die hoofstuk “Hoe kan ander help?” bladsye 20-4 van die brosjure Wanneer ’n geliefde sterf, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prente op bladsy 7]

Bybelverslae toon dat Jesus die mag en die begeerte het om kinders weer lewend te maak