Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense—Streef doelwitte na wat God eer

Jongmense—Streef doelwitte na wat God eer

Jongmense—Streef doelwitte na wat God eer

“Oefen jou . . . met godvrugtige toegewydheid as jou doel.”—1 TIMOTEUS 4:7.

1, 2. (a) Waarom het Paulus Timoteus geprys? (b) Hoe “oefen” jongmense hulle vandag ‘met godvrugtige toegewydheid as hulle doel’?

 “EK HET niemand anders met ’n gesindheid soos syne wat opreg na die dinge in verband met julle sal omsien nie. . . . Soos ’n kind saam met ’n vader, [het hy] saam met my soos ’n slaaf gedien . . . ter bevordering van die goeie nuus” (Filippense 2:20, 22). Die apostel Paulus het hierdie hartlike lof ingesluit in sy brief aan die eerste-eeuse Christene in Filippi. Na wie het hy verwys? Na Timoteus, sy jonger reisgenoot. Stel jou voor hoe hierdie bevestiging van Paulus se geneentheid en vertroue Timoteus se hart moes verbly het!

2 Geestelikgesinde jongmense soos Timoteus was nog altyd waardevolle lede van Jehovah se volk (Psalm 110:3). Vandag is God se organisasie geseën met talle jongmense wat dien as pioniers, sendelinge, vrywilligers op bouspanne en Betheliete. Ook dié wat ywerig aan gemeentelike bedrywighede deelneem terwyl hulle na ander verantwoordelikhede omsien, moet geprys word. Hierdie jongmense geniet die ware bevrediging wat daaruit voortspruit om doelwitte na te streef wat ons hemelse Vader, Jehovah, eer. Hulle is waarlik besig om hulle te ‘oefen met godvrugtige toegewydheid as hulle doel’.—1 Timoteus 4:7, 8.

3. Watter vrae sal in hierdie artikel bespreek word?

3 Streef jy as ’n jongmens spesifieke geestelike doelwitte na? Waar kan jy hulp en aanmoediging vind om dit te doen? Hoe kan jy die druk van hierdie materialistiese wêreld weerstaan? Watter seëninge kan jy te wagte wees as jy doelwitte nastreef wat God eer? Kom ons kry antwoorde op hierdie vrae deur Timoteus se lewe en loopbaan te ondersoek.

Timoteus se agtergrond

4. Gee ’n kort oorsig van Timoteus se Christelike loopbaan.

4 Timoteus het in Listra, ’n klein dorpie in die Romeinse provinsie Galasië, grootgeword. Hy het waarskynlik as ’n tiener met die Christelike godsdiens in aanraking gekom, toe Paulus omstreeks 47 G.J. in Listra gepreek het. Timoteus het gou ’n uitstekende reputasie onder die plaaslike Christenbroers verwerf. Toe Paulus twee jaar later na Listra teruggekeer en van sy vordering gehoor het, het hy Timoteus gekies om as sy sendelingmetgesel te dien (Handelinge 14:5-20; 16:1-3). Namate Timoteus meer volwasse geword het, is selfs groter verantwoordelikhede aan hom toevertrou, waaronder belangrike sendings om die broers te versterk. Toe Paulus omstreeks 65 G.J. uit die gevangenis in Rome aan Timoteus geskryf het, het Timoteus as ’n Christen- ouer man in Efese gedien.

5. Watter twee faktore het volgens 2 Timoteus 3:14, 15 bygedra tot Timoteus se besluit om geestelike doelwitte na te streef?

5 Timoteus het klaarblyklik gekies om geestelike doelwitte na te streef. Maar wat het hom beweeg om dit te doen? In sy tweede brief aan Timoteus het Paulus twee bepalende faktore genoem. “Bly . . . in die dinge wat jy geleer het en oortuig is om te glo”, het hy geskryf, “aangesien jy weet by watter persone jy dit geleer het en dat jy van kleintyd af die heilige geskrifte geken het” (2 Timoteus 3:14, 15). Kom ons ondersoek eers die rol wat ander Christene in Timoteus se keuses gespeel het.

Vind baat by positiewe invloede

6. Watter opleiding het Timoteus ontvang, en hoe het hy daarop gereageer?

6 Timoteus is in ’n godsdienstig verdeelde huis grootgemaak. Sy vader was ’n Griek en sy moeder, Eunice, en sy grootmoeder, Loïs, was van Joodse afkoms (Handelinge 16:1). Eunice en Loïs het Timoteus van kleintyd af waarhede uit die Hebreeuse Geskrifte geleer. Nadat hulle die Christelike godsdiens aangeneem het, het hulle ongetwyfeld gehelp om hom te oortuig om Christelike leringe te glo. Dit is duidelik dat Timoteus hierdie uitstekende opleiding ten volle benut het. Paulus het gesê: “Ek herinner my die geloof wat sonder enige huigelary in jou is, en wat eers in jou grootmoeder Loïs en jou moeder Eunice gewoon het, maar waarvan ek die vaste vertroue het dat dit ook in jou is.”—2 Timoteus 1:5.

7. Watter seën geniet talle jongmense, en hoe kan dit hulle tot voordeel strek?

7 Vandag is talle jongmense geseën met godvresende ouers en grootouers wat, soos Loïs en Eunice, besef hoe belangrik geestelike doelwitte is. Samira onthou byvoorbeeld nog die lang gesprekke wat sy as ’n tiener met haar ouers gehad het. “My ma en pa het my geleer om Jehovah se beskouing van sake te hê en om die predikingswerk die voorkeur in my lewe te gee”, vertel sy. “Hulle het my altyd aangespoor om die voltydse diens my doelwit te maak.” Samira het gunstig gereageer op haar ouers se aanmoediging en geniet nou die voorreg om as ’n lid van die Bethelgesin in haar land te dien. As jou ouers jou aanmoedig om geestelike doelwitte voor oë te hou, moet jy noukeurig ag gee op hulle raad. Hulle dra jou belange op die hart.—Spreuke 1:5.

8. Hoe het Timoteus by opbouende Christelike geselskap baat gevind?

8 Dit is ook belangrik dat jy opbouende geselskap in die Christenbroederskap soek. Die Christen- ouer manne in Timoteus se eie gemeente en dié in Ikonium, omtrent 30 kilometer daarvandaan, het hom goed leer ken (Handelinge 16:1, 2). Hy het ’n intieme vriendskap opgebou met Paulus, ’n dinamiese persoon (Filippense 3:14). Paulus se briewe toon dat Timoteus raad verwelkom het en dat hy gou voorbeelde van geloof nagevolg het (1 Korintiërs 4:17; 1 Timoteus 4:6, 12-16). Paulus het geskryf: “Jy het my leer nougeset gevolg, my lewenswandel, my voorneme, my geloof, my lankmoedigheid, my liefde, my volharding” (2 Timoteus 3:10). Ja, Timoteus het Paulus se voorbeeld nougeset gevolg. As jy nader kom aan mense in die gemeente wat geestelik sterk is, sal dit jou ook help om goeie geestelike doelwitte te stel.—2 Timoteus 2:20-22.

Bestudeer “die heilige geskrifte”

9. Wat moet jy doen om ‘jou te oefen met godvrugtige toegewydheid as jou doel’, benewens om die regte assosiasie te kies?

9 Is dit genoeg om bloot die regte assosiasie te kies as jy geestelike doelwitte wil bereik? Nee. Soos Timoteus moet jy “die heilige geskrifte” noukeurig ondersoek. Dit is dalk nie vir jou lekker om te studeer nie, maar onthou dat Timoteus hom moes ‘oefen met godvrugtige toegewydheid as sy doel’. Atlete sal dikwels maande lank hard oefen om hulle doelwit te bereik. Net so verg dit opofferings en groot inspanning om geestelike doelwitte te bereik (1 Timoteus 4:7, 8, 10, voetnoot in NW). ‘Maar hoe’, vra jy miskien, ‘kan ’n studie van die Bybel my help om my doelwitte te bereik?’ Kom ons kyk na drie maniere.

10, 11. Waarom sal die Skrif jou beweeg om geestelike doelwitte te bereik? Lig dit toe.

10 Eerstens sal die Skrif jou die regte motivering gee. Dit openbaar die wonderlike persoonlikheid van ons hemelse Vader, die allergrootste daad van liefde wat hy aan ons betoon het en die ewige seëninge wat op sy getroue knegte wag (Amos 3:7; Johannes 3:16; Romeine 15:4). Namate jou kennis van Jehovah toeneem, sal jou liefde vir hom en jou begeerte om jou lewe aan hom toe te wy, ook groter word.

11 Talle jong Christene sê dat hulle sonder gereelde persoonlike Bybelstudie nooit die waarheid hulle eie sou kon gemaak het nie. Adele het byvoorbeeld in ’n Christenhuis grootgeword, maar het nooit enige geestelike doelwitte gestel nie. “My ouers het my na die Koninkryksaal geneem”, vertel sy, “maar ek het nie persoonlike studie gedoen of by die vergaderinge geluister nie.” Nadat haar suster gedoop is, het Adele die waarheid ernstiger begin opneem. “Ek het besluit om die Bybel deur te lees. Nadat ek ’n stukkie gelees het, het ek ’n kommentaar neergeskryf oor wat ek so pas gelees het. Ek het nog al my aantekeninge. Ek het die Bybel binne ’n jaar deurgelees.” Dit het Adele beweeg om haar lewe aan Jehovah toe te wy. Ten spyte van ’n ernstige fisiese gebrek is sy nou ’n pionier, of voltydse evangeliedienaar.

12, 13. (a) Watter veranderinge sal Bybelstudie ’n jongmens help om te maak, en hoe? (b) Gee voorbeelde van die praktiese wysheid wat God se Woord bevat.

12 Tweedens sal die Bybel jou help om die nodige veranderinge in jou persoonlikheid te maak. Paulus het vir Timoteus gesê “die heilige geskrifte” is “nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Timoteus 3:16, 17). Deur gereeld te peins oor sake wat met God se Woord verband hou en deur Bybelbeginsels toe te pas, sal jy toelaat dat God se gees jou persoonlikheid verbeter. Dit sal noodsaaklike eienskappe in jou kweek, soos nederigheid, volharding, vlytigheid en opregte liefde vir mede-Christene (1 Timoteus 4:15). Timoteus het hierdie eienskappe gehad, en dit het hom ’n aanwins gemaak vir Paulus sowel as vir die gemeentes waar Timoteus gedien het.—Filippense 2:20-22.

13 Derdens is God se Woord ’n skatkamer van praktiese wysheid (Psalm 1:1-3; 19:7; 2 Timoteus 2:7; 3:15). Dit sal jou help om jou vriende wyslik te kies, heilsame vermaak te kies en tallose ander uitdagings die hoof te bied (Genesis 34:1, 2; Psalm 119:37; 1 Korintiërs 7:36). Dit is noodsaaklik om nou wyse besluite te neem as jy geestelike doelwitte wil bereik.

“Stry die goeie stryd”

14. Waarom is dit nie die maklikste weg om geestelike doelwitte na te streef nie?

14 Om voorkeur te gee aan doelwitte wat Jehovah eer, is die verstandigste maar beslis nie die maklikste weg nie. Wanneer jy byvoorbeeld ’n loopbaan moet kies, kan jou familielede, portuurs en welmenende onderwysers wat oortuig is dat hoër onderwys en ’n winsgewende loopbaan die sleutels tot ware sukses en geluk is, groot druk op jou uitoefen (Romeine 12:2). Soos Timoteus sal jy “die goeie stryd van die geloof” moet stry om “’n stewige houvas op die ewige lewe” te kry wat Jehovah vir jou in die vooruitsig stel.—1 Timoteus 6:12; 2 Timoteus 3:12.

15. Voor watter teenstand het Timoteus moontlik te staan gekom?

15 Wanneer ongelowige gesinslede jou keuses afkeur, kan die toets veral moeilik wees. Timoteus moes moontlik sulke teenstand die hoof bied. Volgens een naslaanwerk het Timoteus se familie vermoedelik “tot die geleerde en hoër inkomstegroep behoort”. Sy vader het heel moontlik verwag dat hy hoër onderwys moet nastreef en ’n familiebesigheid aan die gang moet hou. a Stel jou voor hoe Timoteus se vader dalk gereageer het toe hy uitvind dat Timoteus die gevare en finansiële onsekerheid van sendingwerk saam met Paulus verkies het!

16. Hoe het een jongmens teenstand van ’n ouer die hoof gebied?

16 Jong Christene kom vandag voor soortgelyke uitdagings te staan. Matthew, wat by ’n takkantoor van Jehovah se Getuies dien, vertel: “Toe ek as ’n pionier begin dien het, was my pa verskriklik teleurgesteld. Hy het gevoel dat ek my opvoeding ‘vermors’ deur as ’n skoonmaker te werk om my in my bediening te onderhou. Hy het die spot met my gedryf en my herinner aan hoeveel ek kan verdien as ek ’n voltydse werk kry.” Hoe het Matthew hierdie teenstand die hoof gebied? “Ek het by ’n vaste Bybelleesrooster gebly en voortdurend gebid, veral op tye wanneer ek maklik my humeur kon verloor het.” Matthew se vasbeslotenheid is beloon. Mettertyd het sy verhouding met sy pa verbeter. Matthew het ook nader aan Jehovah gekom. “Ek het gesien hoe Jehovah in my behoeftes voorsien, my aanmoedig en my teen slegte besluite beskerm”, sê Matthew. “Ek sou nie een van hierdie dinge ondervind het as ek nie geestelike doelwitte nagestreef het nie.”

Hou geestelike doelwitte voor oë

17. Met watter verkeerde redenasie kan party mense diegene wat die voltydse diens wil betree, ontmoedig? (Matteus 16:22).

17 Wanneer jy geestelike doelwitte nastreef, kan ’n subtiele uitdaging selfs van medegelowiges kom. ‘Waarom wil jy ’n pionier wees?’ vra party miskien. ‘Jy kan ’n normale lewe lei en nog steeds die predikingswerk doen. Kry ’n goeie werk en maak seker dat jy finansieel genoeg sal hê.’ Dit klink dalk na goeie raad, maar sal jy jou werklik oefen met godvrugtige toegewydheid as jou doel as jy dit volg?

18, 19. (a) Hoe kan jy geestelike doelwitte voor oë hou? (b) Vertel watter opofferings jy, as ’n jongmens, ter wille van die Koninkryk maak.

18 Party Christene in Timoteus se tyd het blykbaar soortgelyke idees gehad (1 Timoteus 6:17). Om Timoteus te help om sy oë op geestelike doelwitte gevestig te hou, het Paulus hom aangemoedig deur te sê: “Geen mens wat as ’n soldaat dien, raak verwikkel in die handelsbedrywighede van die lewe nie, sodat hy die goedkeuring kan verkry van die een wat hom as ’n soldaat gewerf het” (2 Timoteus 2:4). ’n Soldaat wat in aktiewe diens is, kan nie bekostig dat sy aandag deur burgerlike strewes afgelei word nie. Sy lewe en die lewe van ander hang daarvan af dat hy altyd gereed is om die bevele van sy bevelvoerder te gehoorsaam. As ’n soldaat onder Christus moet jy net so doelgerig wees en nie verwikkel raak in onnodige materiële strewes wat jou kan verhinder om jou lewensreddende bediening ten volle uit te voer nie.—Matteus 6:24; 1 Timoteus 4:16; 2 Timoteus 4:2, 5.

19 In plaas van ’n gerieflike lewe jou doelwit te maak, moet jy ’n selfopofferende gees aankweek. “Wees bereid om sonder die geriewe van die lewe klaar te kom, as iemand wat in die leër van Christus Jesus dien” (2 Timoteus 2:3, The English Bible in Basic English). Deur sy assosiasie met Paulus het Timoteus die geheim geleer om vergenoegd te wees, selfs onder die moeilikste omstandighede (Filippense 4:11, 12; 1 Timoteus 6:6-8). Jy kan dit ook doen. Is jy bereid om opofferings ter wille van die Koninkryk te maak?

Seëninge nou en in die toekoms

20, 21. (a) Beskryf van die seëninge wat ’n mens geniet wanneer jy geestelike doelwitte nastreef. (b) Wat is jy vasbeslote om te doen?

20 Timoteus het sowat 15 jaar saam met Paulus gedien. Timoteus het persoonlik gesien hoe nuwe gemeentes gestig word terwyl die goeie nuus na byna die hele noordelike Mediterreense gebied versprei het. Sy lewe was opwindender en bevredigender as wat dit sou gewees het as hy ’n “normale” lewe gekies het. Deur geestelike doelwitte na te streef, sal jy ook kosbare geestelike seëninge maai. Jy sal nader aan Jehovah kom en die liefde en respek van mede-Christene wen. Pleks van die pyn en frustrasie te ondervind wat met die najaging van materiële rykdom gepaardgaan, sal jy die ware geluk smaak wat dit verskaf om op onselfsugtige wyse te gee. Bowenal sal jy “’n stewige houvas [kry] op die werklike lewe”—ewige lewe op ’n paradysaarde.—1 Timoteus 6:9, 10, 17-19; Handelinge 20:35.

21 As jy dit nog nie gedoen het nie, spoor ons jou dus van harte aan om dadelik te begin om jou te oefen met godvrugtige toegewydheid as jou doel. Kom nader aan dié in die gemeente wat jou kan help om geestelike doelwitte na te streef, en vra hulle om leiding. Maak gereelde persoonlike studie van God se Woord ’n prioriteit. Wees vasbeslote om die materialistiese gees van hierdie wêreld te weerstaan. En onthou altyd dat die God “wat aan ons alles ryklik vir ons genot verskaf”, belowe dat jy nou sowel as in die toekoms ryk seëninge kan geniet as jy doelwitte kies wat hom eer.—1 Timoteus 6:17.

[Voetnoot]

a Die Griekse gemeenskap het groot waarde aan geleerdheid geheg. Plutargus, ’n tydgenoot van Timoteus, het geskryf: “Om ’n behoorlike opvoeding te ontvang, is die bron en grondslag van alles wat goed is. . . . Dít, sê ek, lei tot en dra by tot die verkryging van sedelike voortreflikheid en geluk. . . . Alle ander voorregte is menslik en onbeduidend en nie ons ernstige oorweging werd nie.”—Moralia, I, “Die opvoeding van kinders”.

Onthou jy?

• Waar kan jongmense hulp vind om geestelike doelwitte na te streef?

• Waarom is noukeurige Bybelstudie so belangrik?

• Hoe kan jongmense die materialistiese invloed van hierdie wêreld weerstaan?

• Watter seëninge geniet ’n mens wanneer jy geestelike doelwitte nastreef?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 24]

Timoteus het goeie doelwitte nagestreef

[Prente op bladsy 25]

Watter positiewe invloede het Timoteus gehelp?

[Prente op bladsy 26]

Streef jy geestelike doelwitte na?