Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die opstanding—Is dit vir jou ’n werklikheid?

Die opstanding—Is dit vir jou ’n werklikheid?

Die opstanding—Is dit vir jou ’n werklikheid?

“Daar [sal] ’n opstanding . . . wees.”—HANDELINGE 24:15.

1. Waarom lyk dit of die dood onvermydelik is?

 “IN HIERDIE wêreld is niks behalwe die dood en belasting seker nie.” Dié kommentaar, wat in 1789 deur die Amerikaanse staatsman Benjamin Franklin neergeskryf is, word deur party as skerpsinnig beskou. Maar talle oneerlike mense slaag daarin om belasting te ontduik. Dit lyk dus of die dood veel sekerder is. Op ons eie kan nie een van ons dit op die lange duur vryspring nie. Dit agtervolg ons almal. Met ’n onversadigbare honger verslind Sjeool—die gemeenskaplike graf van die mensdom—mense wat vir ons dierbaar is (Spreuke 27:20). Maar kom ons beskou ’n vertroostende gedagte.

2, 3. (a) Waarom is die dood nie so onvermydelik as wat baie dink nie? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Jehovah se Woord bied die vaste hoop van die opstanding, dit wil sê om weer lewend gemaak te word. Dit is nie maar net ’n droom nie, en geen mag in die heelal kan Jehovah verhinder om hierdie hoop te verwesenlik nie. Vir party is die dood egter nie so onvermydelik as wat baie mense vandag dink nie. Waarom nie? Omdat ’n ongetelde “groot menigte” “die groot verdrukking”, wat op hande is, sal oorleef (Openbaring 7:9, 10, 14). Daarna sal hulle voortleef, met die ewigheid in die vooruitsig. Vir hulle is die dood dus nie onvermydelik nie. Wat meer is, “die dood [gaan] tot niet gemaak word”.—1 Korintiërs 15:26.

3 Ons moet net so seker wees van die opstanding soos die apostel Paulus, wat gesê het dat “daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees” (Handelinge 24:15). Kom ons bespreek drie vrae oor die opstanding. Eerstens, wat maak hierdie hoop so seker? Tweedens, hoe kan jy persoonlik vertroosting put uit die opstandingshoop? Derdens, hoe kan hierdie hoop ’n invloed hê op hoe jy nóú lewe?

Die opstanding—’n sekerheid

4. Hoe speel die opstanding ’n fundamentele rol in Jehovah se voorneme?

4 Daar is ’n aantal faktore wat die opstanding ’n sekerheid maak. In die eerste plek speel dit ’n fundamentele rol in Jehovah se voorneme. Onthou, Satan het die mensdom in sonde laat verval, waarop die dood onvermydelik gevolg het. Daarom het Jesus van Satan gesê: “Hy was ’n mensemoordenaar toe hy begin het” (Johannes 8:44). Maar Jehovah het belowe dat sy “vrou”, of gemalinorganisasie in die hemel, ’n “saad” sou voortbring wat daardie “oorspronklike slang” se kop sal vermorsel, wat Satan se algehele uitwissing sal beteken (Genesis 3:1-6, 15; Openbaring 12:9, 10; 20:10). Namate Jehovah sy voorneme aangaande hierdie Messiaanse Saad geleidelik geopenbaar het, het dit duidelik geword dat die Saad meer sou doen as om net Satan te vernietig. God se Woord sê: “Met dié doel is die Seun van God openbaar gemaak, naamlik om die werke van die Duiwel te verbreek” (1 Johannes 3:8). Die dood, wat die gevolg is van die sonde wat ons van Adam geërf het, is een van Satan se vernaamste werke wat Jehovah van voorneme is om deur Jesus Christus ongedaan te maak, of te verbreek. In dié verband is Jesus se losprysoffer en die opstanding van die allergrootste belang.—Handelinge 2:22-24; Romeine 6:23.

5. Waarom sal die opstanding Jehovah se naam verheerlik?

5 Jehovah is vasbeslote om sy heilige naam te verheerlik. Satan het God se naam belaster en het leuens bevorder. Hy het valslik gesê dat Adam en Eva ‘sekerlik nie sou sterf nie’ as hulle van die vrugte eet wat God hulle verbied het om te eet (Genesis 2:16, 17; 3:4). Sedertdien het Satan soortgelyke leuens bevorder, soos die valse lering dat ’n siel ná die dood van die liggaam voortleef. Maar deur middel van die opstanding sal Jehovah al hierdie leuens blootlê. Hy sal eens en vir altyd bewys dat hy alleen die Bewaarder en Hersteller van die lewe is.

6, 7. Hoe voel Jehovah daaroor om mense op te wek, en hoe weet ons wat sy gevoelens is?

6 Jehovah het ’n vurige begeerte om die opstanding te laat plaasvind. Die Bybel toon duidelik wat Jehovah se gevoelens in hierdie verband is. Kyk byvoorbeeld na hierdie geïnspireerde woorde van die getroue man Job: “As ’n man sterf, kan hy weer lewe? Al die dae van my dwangarbeid sal ek wag, totdat my verligting kom. U sal roep, en ek sal u antwoord. Na die werk van u hande sal u vurig verlang” (Job 14:14, 15). Wat beteken hierdie woorde?

7 Job het geweet dat daar vir hom ná sy dood ’n wagtyd in die slaap van die dood voorlê. Hy het hierdie tyd as “dwangarbeid” beskou, ’n gedwonge tydperk waartydens hy op bevryding sou moes wag. Vir hom was hierdie bevryding ’n sekerheid. Job het besef dat sy verligting sou kom. Waarom? Omdat hy geweet het wat Jehovah se gevoelens is. Jehovah sou “vurig verlang” om sy getroue kneg weer te sien. Ja, God sien daarna uit om alle regverdiges op te wek. Jehovah sal ook aan ander die geleentheid gee om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe (Lukas 23:43; Johannes 5:28, 29). Dit is God se wil om hierdie voorneme te verwesenlik—wie sal hom dus kan keer?

8. Hoe het Jehovah “’n waarborg verskaf” vir ons toekomshoop?

8 Ons toekomshoop word deur die opstanding van Jesus gewaarborg. Toe Paulus mense in Atene toegespreek het, het hy gesê: “[God] het ’n dag vasgestel waarop hy van voorneme is om die bewoonde aarde in regverdigheid te oordeel deur ’n man wat hy aangestel het, en hy het aan alle mense ’n waarborg verskaf deurdat hy hom uit die dode opgewek het” (Handelinge 17:31). Party in Paulus se gehoor het gespot toe hulle van ’n opstanding hoor. ’n Paar het egter gelowiges geword. Dalk het die gedagte dat dit ’n gewaarborgde hoop is, ’n indruk op hulle gemaak. Toe Jehovah Jesus opgewek het, het Hy die allergrootste wonderwerk verrig. Hy het sy Seun uit die dood opgewek as ’n magtige gees (1 Petrus 3:18). Die verrese Jesus was selfs magtiger as wat hy gedurende sy voormenslike bestaan was. Aangesien Jesus onsterflik is en in krag slegs aan Jehovah ondergeskik is, is hy nou in staat om wonderlike toewysings van sy Vader te aanvaar. Jehovah gebruik Jesus om alle ander opstandings te verrig—tot lewe in die hemel of tot lewe op die aarde. Jesus het self gesê: “Ek is die opstanding en die lewe” (Johannes 5:25; 11:25). Deur sy Seun op te wek, het Jehovah hierdie verwagtinge vir alle getroues gewaarborg.

9. Hoe bevestig die Bybelverslag dat die opstanding ’n werklikheid is?

9 Opstandings is al voor ooggetuies verrig en is in God se Woord opgeteken. Die Bybelverslag bevat uitvoerige beskrywings van agt opstandings van persone wat opgewek is om weer as mense op die aarde te lewe. Hierdie wonderwerke is nie in die geheim verrig nie, maar openlik, dikwels voor ooggetuies. Jesus het Lasarus, wat vier dae lank dood was, voor ’n bedroefde skare opgewek—wat ongetwyfeld die man se familie, vriende en bure ingesluit het. Dit was so ’n kragtige bewys dat Jesus deur God gestuur is dat Jesus se godsdiensvyande nooit ontken het dat dit gebeur het nie. Hulle het eerder saamgesweer om nie net Jesus nie, maar ook Lasarus dood te maak! (Johannes 11:17-44, 53; 12:9-11). Ja, ons kan vol vertroue wees dat die opstanding ’n sekerheid is. God het ons ’n verslag gegee van opstandings wat in die verlede plaasgevind het om ons te vertroos en om ons geloof op te bou.

Vind vertroosting in die opstandingshoop

10. Wat sal ons help om vertroosting te put uit die opstandingsverslae in die Bybel?

10 Laat die dood jou na vertroosting smag? Iets wat waarlik vertroosting verskaf, is die opstandingsverslae in die Bybel. Wanneer ’n mens hierdie verslae lees, daaroor peins en die gebeure voor jou geestesoog sien afspeel, kan dit die opstandingshoop vir jou werkliker maak (Romeine 15:4). Dit is nie net stories nie. Dit het waarlik gebeur met werklike mense soos ons, wat in ’n werklike tydperk gelewe en op ’n werklike plek gewoon het. Kom ons bespreek kortliks een voorbeeld—die eerste opstanding in die Bybelverslag.

11, 12. (a) Watter tragedie het die weduwee van Sarfat getref, en hoe het sy aanvanklik gereageer? (b) Vertel wat Jehovah sy profeet Elia in staat gestel het om vir die weduwee te doen.

11 Stel jou die toneel voor. Die profeet Elia is al ’n paar weke lank ’n gas van die weduwee van Sarfat en woon daar in ’n dakvertrek. Dit is ’n donker tydperk. Die gebied word geteister deur droogte en hongersnood. Baie mense sterf. Om hierdie nederige weduwee vir haar geloof te beloon, het Jehovah Elia reeds gebruik om ’n wonderwerk te verrig wat oor ’n tydperk sou voortduur. Sy en haar jong seun was op die randjie van verhongering, met net hulle laaste maaltyd oor, toe God Elia in staat gestel het om ’n wonderwerk te verrig om haar voorraad meel en olie wonderdadig aan te vul. Nou tref ’n tragedie haar egter. Die kind word skielik siek en hou weldra op om asem te haal. Wat ’n verpletterende slag vir die weduwee! Dit is erg genoeg om nie die krag en ondersteuning van ’n man te hê nie, maar nou het sy haar enigste kind verloor. In haar droefheid blameer sy selfs vir Elia en sy God, Jehovah, hiervoor! Wat sal die profeet doen?

12 Elia wys nie die weduwee tereg oor haar onjuiste aantyging nie. Hy sê eerder: “Gee jou seun vir my.” Nadat Elia die dooie kind na die dakvertrek gedra het, bid hy herhaaldelik dat die kind se lewe in hom moet terugkeer. Uiteindelik tree Jehovah op! Stel jou voor hoe Elia se gesig ophelder van vreugde wanneer hy die seun se bors sien beweeg omdat hy begin asemhaal. Die kind se oë gaan oop en is vol lewe. Elia bring die seun af na sy moeder toe en sê: “Kyk, jou seun lewe.” Haar vreugde is onbeskryflik. Sy sê: “Nou weet ek inderdaad dat u ’n man van God is en dat Jehovah se woord in u mond waar is” (1 Konings 17:8-24). Haar geloof in Jehovah en in sy verteenwoordiger is sterker as ooit tevore.

13. Waarom vind ons die verslag van Elia wat ’n weduwee se seun opgewek het, vandag vertroostend?

13 Dit is beslis baie vertroostend om oor so ’n verslag na te dink. Hoe duidelik is dit tog dat Jehovah ons vyand, die dood, kan oorwin! Stel jou die dag voor wanneer hierdie weduwee se vreugde duisende kere herhaal sal word in die algemene opstanding van die dooies! Die vreugde in die hemel sal ook groot wees terwyl Jehovah hom daarin verheug om sy Seun te rig om opstandings aardwyd te verrig (Johannes 5:28, 29). Het die dood een van jou geliefdes weggeneem? Hoe wonderlik is dit tog om te weet dat Jehovah die vermoë en die begeerte het om die dooies weer lewend te maak!

Jou hoop en hoe jy nóú lewe

14. Watter invloed kan die opstandingshoop op jou lewe hê?

14 Hoe kan die opstandingshoop ’n invloed hê op hoe jy nóú lewe? Jy kan krag uit hierdie hoop put wanneer jy voor ontberinge, uitdagings, vervolging of gevaar te staan kom. Satan wil hê dat jy so bang moet wees vir die dood dat jy bereid sal wees om jou onkreukbaarheid prys te gee vir ’n leë belofte van veiligheid. Onthou wat Satan vir Jehovah gesê het: “Alles wat ’n mens het, sal hy gee vir sy siel” (Job 2:4). Toe Satan hierdie stelling gemaak het, het hy ons almal, jou inkluis, beswadder. Is dit waar dat jy God sal ophou dien as jy gevaar in die gesig staar? Deur oor die opstandingshoop te peins, kan jy jou vasbeslotenheid versterk om aan te hou om die wil van jou hemelse Vader te doen.

15. Hoe kan Jesus se woorde in Matteus 10:28 ons vertroos wanneer ons gevaar in die gesig staar?

15 Jesus het gesê: “Moenie bevrees word vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees hom eerder wat siel sowel as liggaam in Gehenna kan vernietig” (Matteus 10:28). Ons hoef nie Satan of sy menslike agente te vrees nie. Party van hulle het weliswaar die mag om mense leed aan te doen, selfs dood te maak. Maar selfs die ergste dinge wat hulle kan doen, is net tydelik. Jehovah kan en sal enige leed wat sy getroue knegte aangedoen word, ongedaan maak, en hulle selfs opwek. Jehovah alleen verdien ons vrees, ons diepe ontsag en eerbied. Hy alleen het die mag om die lewe en alle vooruitsigte op toekomstige lewe weg te neem, deur liggaam sowel as siel in Gehenna te vernietig. Gelukkig wil Jehovah nie hê dat dít met jou moet gebeur nie (2 Petrus 3:9). Danksy die opstandingshoop kan ons as God se knegte altyd seker wees dat ons veilig is. Die ewige lewe lê vir ons voor so lank as wat ons getrou bly, en Satan en sy trawante kan niks daaromtrent doen nie.—Psalm 118:6; Hebreërs 13:6.

16. Watter uitwerking het ons beskouing op die prioriteite wat ons vasstel?

16 As die opstandingshoop vir ons ’n werklikheid is, kan dit ons gesindheid teenoor die lewe vorm. Ons besef dat ons, ‘of ons lewe en of ons sterf, aan Jehovah behoort’ (Romeine 14:7, 8). Daarom pas ons Paulus se raad toe wanneer ons prioriteite vasstel: “Moenie langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie, maar word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle kan seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). Vir baie mense is die lewe ’n dolle gejaag omdat hulle elke begeerte, elke ambisie, elke drang wil bevredig. Omdat hulle meen dat die lewe kort is, is dit asof hulle plesier byna desperaat najaag, en as hulle ’n vorm van aanbidding het, kom dit beslis nie ooreen met die “volmaakte wil van God” nie.

17, 18. (a) Hoe erken Jehovah se Woord dat die mens se lewe kort is, maar wat wil God vir ons hê? (b) Waarom wil ons Jehovah graag elke dag loof?

17 Ja, die lewe is kort. “Gou sal dit verbygaan, en ons vlieg daarheen”, dalk binne sowat 70 of 80 jaar (Psalm 90:10). Mense kom en gaan soos groen gras, soos ’n verbygaande skaduwee, soos ’n asemstoot (Psalm 103:15; 144:3, 4). Maar dit was nie God se voorneme dat dit ons ’n paar dekades neem om groot te word en wysheid en ondervinding op te doen en dat ons dan maar net weer gedurende die volgende paar dekades agteruitgaan en in siekte en die dood wegsink nie. Jehovah het mense geskep met die begeerte om vir ewig te lewe. “Onbepaalde tyd het hy in hulle hart gesit”, sê die Bybel vir ons (Prediker 3:11). Is God wreed, deurdat hy vir ons hierdie begeerte gegee het en dit toe onmoontlik gemaak het om te vervul? Nee, beslis nie, want “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Hy sal die opstanding gebruik om die ewige lewe moontlik te maak vir mense wat gesterf het.

18 Danksy die opstandingshoop kan ons toekoms veilig wees. Ons lewe hoef nie ’n dolle gejaag te wees omdat ons ons volle potensiaal nóú wil bereik nie. Ons hoef nie “ten volle” van hierdie sterwende wêreld gebruik te maak nie (1 Korintiërs 7:29-31; 1 Johannes 2:17). In teenstelling met diegene wat geen ware hoop het nie, het ons die wonderlike gawe om te weet dat, as ons aan Jehovah God getrou bly, die ewigheid voorlê waarin ons hom sal kan loof en die lewe sal kan geniet. Laat ons dan ons bes doen om Jehovah, wat die opstandingshoop ’n sekerheid maak, elke dag te loof!

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe moet ons oor die opstanding voel?

• Watter faktore maak die opstandingshoop ’n sekerheid?

• Hoe kan jy vertroosting put uit die opstandingshoop?

• Watter invloed kan die opstandingshoop op jou lewenswyse hê?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 28]

Job het geweet dat Jehovah vurig verlang om die regverdiges op te wek

[Prent op bladsy 29]

“Kyk, jou seun lewe”