Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Jou planne sal stewig bevestig word”

“Jou planne sal stewig bevestig word”

“Jou planne sal stewig bevestig word”

IN ’N lied wat die psalmis Dawid geskryf het, het hy gebid: “Skep in my ook ’n suiwer hart, o God, en plaas in my ’n nuwe, standvastige gees. Gee my tog weer die vreugde van redding deur u, en mag u my ook met ’n gewillige gees ondersteun” (Psalm 51:10, 12). Ná sy sonde met Batseba het ’n berouvolle Dawid Jehovah God hier gesmeek om sy hart te reinig en in hom die gees, of geestesneiging, te plaas om te doen wat reg is.

Skep Jehovah werklik ’n nuwe hart in ons, en plaas hy ’n nuwe en gewillige gees in ons? Of is ’n suiwer hart iets wat ons moet probeer verkry en bewaar? “Jehovah is die ondersoeker van harte”, maar in watter mate raak hy betrokke by wat in ons innerlike aangaan? (Spreuke 17:3; Jeremia 17:10). In watter mate beïnvloed hy ons lewe, beweegredes en dade?

Die eerste nege verse van Spreuke hoofstuk 16 gebruik God se naam agt keer en toon vir ons hoe ons ons lewe onder God se beheer kan bring sodat ‘ons planne stewig bevestig sal word’ (Spreuke 16:3). Verse 10 tot 15 vestig die aandag op die verantwoordelikheid van ’n koning of ’n heerser.

“Die planne van die hart”—Wie se verantwoordelikheid?

“Aan die mens behoort die planne van die hart”,Spreuke 16:1a. Dit is duidelik dat “die planne van die hart” ons verantwoordelikheid is. Jehovah berei nie ons hart wonderdadig voor of gee ons ’n gewillige gees nie. Ons moet ons inspan om juiste kennis van sy Woord, die Bybel, te verkry, te peins oor wat ons leer en ons gedagtes in ooreenstemming met syne te bring.—Spreuke 2:10, 11.

Dawid se versoek om “’n suiwer hart” en ‘’n nuwe gees’ toon egter dat hy sy sondige neiging erken het en besef het dat hy God se hulp nodig het om sy hart te reinig. Weens ons onvolmaaktheid kom ons dalk in die versoeking om “die werke van die vlees” te beoefen (Galasiërs 5:19-21). Ons het Jehovah se hulp nodig om ons ‘liggaamsdele wat op die aarde is, dood te maak ten opsigte van hoerery, onreinheid, geslagsdrif, skadelike begeertes en hebsug’ (Kolossense 3:5). Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons bid vir sy hulp om nie voor versoekings te swig nie en om sondige neigings uit ons hart te verwyder!

Kan ons ander help met “die planne” van hulle hart? “Daar is een wat onnadenkend praat soos met swaardsteke”, sê die Bybel, “maar die tong van die wyses is genesing” (Spreuke 12:18). Wanneer het ons tong ’n genesende uitwerking? Slegs wanneer ‘die antwoord van die tong van Jehovah kom’, dit wil sê wanneer ons geestelik korrekte woorde van waarheid spreek.—Spreuke 16:1b.

“Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat”, sê die Bybel (Jeremia 17:9). Ons figuurlike hart is geneig tot selfregverdiging en selfbedrog. Koning Salomo van eertydse Israel waarsku teen hierdie gevaar en sê: “Al die weë van ’n man is suiwer in sy eie oë, maar Jehovah toets die geeste.”Spreuke 16:2.

Eieliefde kan daartoe lei dat ons ons foute regverdig, ongewenste eienskappe verberg en blind is vir ons eie slegtheid. Maar Jehovah kan nie bedrieg word nie. Hy toets die geeste. ’n Persoon se gees is sy of haar oorheersende geestesneiging en hou verband met die hart. Die ontwikkeling van hierdie gees hang grootliks af van die werking van die figuurlike hart, wat dinge behels soos ons gedagtes, emosies en beweegredes. Die gees word deur “die ondersoeker van harte” getoets, en sy oordele is vry van voortrekkery of partydigheid. Dit is verstandig van ons om ons gees te bewaak.

“Laat jou werke aan Jehovah oor”

Om planne te maak, behels die denkproses—iets waarby ons hart betrokke is. Dade volg gewoonlik op planne. Sal ons handelinge suksesvol wees? Salomo sê: “Laat jou werke aan Jehovah oor en jou planne sal stewig bevestig word” (Spreuke 16:3). Om ons werke aan Jehovah oor te laat, beteken dat ons ons vertroue in hom stel, ons op hom verlaat, ons aan hom verbind—dat ons die las as ’t ware van ons afwerp en aan hom oorlaat. Die psalmis het gesing: “Laat jou weg aan Jehovah oor en verlaat jou op hom, en hy sal optree.”—Psalm 37:5.

Maar as ons wil hê dat ons planne stewig bevestig moet word, moet dit in ooreenstemming met God se Woord wees en uit goeie beweegredes voortspruit. Verder moet ons tot Jehovah bid vir hulp en ondersteuning en nougeset ons bes doen om die Bybel se raad te volg. Dit is veral belangrik om ‘ons las op Jehovah te werp’ wanneer ons voor beproewinge of probleme te staan kom, want ‘hy sal ons onderskraag’. Ja, “nooit sal hy die regverdige laat wankel nie”.—Psalm 55:22.

“Alles het Jehovah vir sy voorneme gemaak”

Wat anders sal gebeur as ons ons werke aan Jehovah oorlaat? “Alles het Jehovah vir sy voorneme gemaak”, sê die wyse koning (Spreuke 16:4a). Die Skepper van die heelal is ’n God met ’n voorneme. Wanneer ons ons werke aan hom oorlaat, word ons lewe gevul met sinvolle werk, nie met nietigheid of tevergeefsheid nie. En Jehovah se voorneme vir die aarde en die mens daarop is ’n ewige voorneme (Efesiërs 3:11). Hy het die aarde gevorm en dit geskep “om bewoon te word” (Jesaja 45:18). Daarbenewens sal sy oorspronklike voorneme vir die mens op aarde beslis verwesenlik word (Genesis 1:28). ’n Lewe wat aan die ware God toegewy is, sal eindeloos wees en vir ewig sin hê.

Jehovah het “selfs die goddelose vir die kwade dag” gemaak (Spreuke 16:4b). Hy het die goddeloses nie geskep nie, want “volmaak is sy werk” (Deuteronomium 32:4). Maar hy het toegelaat dat hulle in aansyn kom en voortbestaan totdat hy dit goeddink om sy ongunstige oordeel aan hulle te voltrek. Jehovah het byvoorbeeld vir Farao van Egipte gesê: “Om dié rede het ek jou nog laat bestaan, om jou my krag te toon en om my naam oor die hele aarde bekend te laat maak” (Eksodus 9:16). Die Tien Plae en die vernietiging van Farao en sy krygsmag in die Rooi See was inderdaad onvergeetlike vertonings van God se ongeëwenaarde krag.

Jehovah kan omstandighede ook so laat verloop dat die goddeloses onwetend sy voorneme bevorder. Die psalmis het gesê: “Die woede van die mens sal u prys; met die res van die woede sal u [Jehovah] u omgord” (Psalm 76:10). Jehovah laat moontlik toe dat sy vyande uiting gee aan hulle woede teenoor sy knegte—maar net in die mate wat nodig is om sy volk te dissiplineer en hulle dus op te lei. Enigiets meer as dit neem God op homself.

Jehovah ondersteun sy nederige knegte, maar wat van die trotse en verwaande mense? “Elkeen wat trots van hart is, is vir Jehovah verfoeilik”, sê die koning van Israel. “Al word die handslag gegee, sal ’n mens tog nie ongestraf bly nie” (Spreuke 16:5). Diegene “wat trots van hart is”, sal moontlik saamspan en mekaar ondersteun, maar hulle sal nie ongestraf bly nie. Dit is dan verstandig van ons om ’n nederige gees aan te kweek ongeag hoeveel kennis ons het of hoe bekwaam ons is of watter diensvoorregte ons het.

“In die vrees van Jehovah”

Omdat ons in sonde gebore word, is ons geneig om te oortree (Romeine 3:23; 5:12). Wat sal ons help sodat ons nie planne maak wat tot ’n slegte handelswyse sal lei nie? Spreuke 16:6 sê: “Deur liefderyke goedhartigheid en waaragtigheid word oortreding versoen, en in die vrees van Jehovah wyk ’n mens af van die kwaad.” Hoewel Jehovah deur sy liefderyke goedhartigheid en waaragtigheid vir ons sondes versoening doen, is dit die vrees van Jehovah wat keer dat ons sondes pleeg. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons, benewens liefde vir God en waardering vir sy liefderyke goedhartigheid, ook ’n vrees aankweek om hom te mishaag!

Die vrees van God ontstaan in ons hart wanneer ons eerbied en respek vir God se ontsagwekkende krag aankweek. Dink net aan sy krag wat in die skepping weerspieël word! Toe die aartsvader Job herinner is aan die krag wat in God se skeppingswerke gesien kan word, het dit hom gehelp om sy denke reg te stel (Job 42:1-6). Raak dit ons nie op soortgelyke wyse wanneer ons die verslae van Jehovah se handelinge met sy volk, soos opgeteken in die Bybel, lees en daaroor nadink nie? Die psalmis het gesing: “Kom en aanskou die dade van God. Die wyse waarop hy met die mensekinders handel, is vreesinboesemend” (Psalm 66:5). Jehovah se liefderyke goedhartigheid moenie as vanselfsprekend aangeneem word nie. Toe die Israeliete ‘in opstand gekom en God se heilige gees gekrenk het, het Jehovah in hulle vyand verander; hy het teen hulle oorlog gevoer’ (Jesaja 63:10). Maar “wanneer Jehovah behae skep in die weë van ’n man, laat hy selfs sy vyande in vrede met hom verkeer” (Spreuke 16:7). Wat ’n beskerming is die vrees van Jehovah tog!

“’n Bietjie met regverdigheid is beter as ’n oorvloed van produkte sonder geregtigheid”, sê die wyse koning (Spreuke 16:8). Spreuke 15:16 sê: “’n Bietjie in die vrees van Jehovah is beter as ’n oorvloedige voorraad en verwarring daarby.” Eerbiedige ontsag vir God is beslis noodsaaklik as ons op ’n regverdige weg wil bly.

“Die hart van die mens dink dalk sy weg uit”

Die mens is met wilsvryheid geskep, in staat om tussen reg en verkeerd te kies (Deuteronomium 30:19, 20). Ons figuurlike hart het die vermoë om verskillende keuses te oorweeg en hom op een of meer daarvan toe te spits. Salomo dui aan dat dit ons verantwoordelikheid is om keuses te maak deur te sê: “Die hart van die mens dink dalk sy weg uit.” Nadat dit gedoen is, ‘rig Jehovah sy voetstappe’ (Spreuke 16:9). Aangesien Jehovah ons voetstappe kan rig, tree ons verstandig op as ons sy hulp soek om ‘ons planne stewig te bevestig’.

Soos ons reeds gesien het, is die hart verraderlik en in staat tot valse redenering. Byvoorbeeld, iemand pleeg dalk ’n sonde, en sy hart begin moontlik verskonings maak vir wat hy gedoen het. In plaas van sy sondige weg te verlaat, redeneer die persoon dalk dat God liefdevol, goedhartig, barmhartig en vergewensgesind is. So iemand het in sy hart gesê: “God het vergeet. Hy het sy aangesig verberg. Hy sal dit beslis nooit sien nie” (Psalm 10:11). Maar dit is verkeerd en gevaarlik om van God se barmhartigheid misbruik te maak.

“Die regte wyser en weegskaal behoort aan Jehovah”

Salomo skakel oor van die onderwerp van die hart en die dade van die mens na dié van ’n koning en sê: “Geïnspireerde beslissings moet op die lippe van ’n koning wees; in die regspraak mag sy mond nie ontrou wees nie” (Spreuke 16:10). Dít sal beslis waar wees van die gekroonde Koning Jesus Christus. Sy heerskappy oor die aarde sal in harmonie met God se wil wees.

Die wyse koning identifiseer die bron van geregtigheid en regverdigheid en sê: “Die regte wyser en weegskaal behoort aan Jehovah; al die weegstene van die sak is sy werk” (Spreuke 16:11). Regte wysers en weegskale word deur Jehovah voorsien. Dit kom ’n koning nie toe om hierdie standaarde volgens sý voorkeur te stel nie. Toe Jesus op die aarde was, het hy gesê: “Ek kan hoegenaamd niks op eie inisiatief doen nie; net soos ek hoor, oordeel ek; en die oordeel wat ek vel, is regverdig, omdat ek nie my eie wil soek nie, maar die wil van hom wat my gestuur het.” Ons kan volmaakte geregtigheid verwag van die Seun, aan wie die Vader ‘die oordeel geheel en al toevertrou het’.—Johannes 5:22, 30.

Wat anders kan verwag word van ’n koning wat Jehovah verteenwoordig? “Dit is vir konings iets verfoeiliks om goddeloosheid te doen”, sê die koning van Israel, “want deur regverdigheid word die troon stewig gevestig” (Spreuke 16:12). Die Messiaanse Koninkryk word deur God se regverdige beginsels gerig. Dit het geen bondgenootskap met “die troon wat teëspoed veroorsaak” nie.—Psalm 94:20; Johannes 18:36; 1 Johannes 5:19.

Verkry die welwillendheid van ’n koning

Hoe moet die onderdane van ’n glorieryke koning reageer? Salomo sê: “’n Groot koning skep behae in die lippe van regverdigheid; en die spreker van regte dinge het hy lief. Die woede van ’n koning beteken boodskappers van die dood, maar die wyse man wend dit af” (Spreuke 16:13, 14). Jehovah se hedendaagse aanbidders neem hierdie woorde ter harte en bly besig met die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk (Matteus 24:14; 28:19, 20). Hulle weet dat die Messiaanse Koning, Jesus Christus, behae daarin skep dat hulle hulle lippe op hierdie manier gebruik. Om die misnoeë van ’n magtige mensekoning af te wend en sy guns te soek, was beslis verstandig. Hoeveel wyser is dit dan om die goedkeuring van die Messiaanse Koning te soek!

“In die lig van die koning se aangesig is lewe”, sê Salomo verder, “en sy welwillendheid is soos die wolk van lentereën” (Spreuke 16:15). “Die lig van die koning se aangesig” beteken sy guns; so ook dui ‘die lig van Jehovah se aangesig’ op goddelike guns (Psalm 44:3; 89:15). Net soos reënwolke ’n versekering is van water wat gewasse sal help om ryp te word, is die welwillendheid van ’n koning ’n bewys van goeie dinge wat voorlê. Die lewe onder die heerskappy van die Messiaanse Koning sal vol seëninge asook voorspoedig wees, net soos die heerskappy van koning Salomo op ’n klein skaal was.—Psalm 72:1-17.

Laat ons, terwyl ons wag vir God se Koninkryk om beheer oor elke aangeleentheid onder die son oor te neem, sy hulp soek om ons hart te reinig. Laat ons ook ons vertroue in Jehovah stel en godvrugtige vrees aankweek. Dan kan ons die volle vertroue hê dat ‘ons planne stewig bevestig sal word’.—Spreuke 16:3.

[Prent op bladsy 18]

In watter sin het Jehovah “die goddelose vir die kwade dag” gemaak?