Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vind hoop in ’n wêreld vol benoudheid

Vind hoop in ’n wêreld vol benoudheid

Vind hoop in ’n wêreld vol benoudheid

“GEWONE burgers het meer mag as ooit tevore in die mensegeskiedenis om die openbare welsyn te bevorder en algemene probleme op te los.” Die voormalige Amerikaanse president Bill Clinton het hierdie stelling in Maart 2006 gedurende ’n konferensie in Ottawa, Kanada, gemaak. Hy het tot die slotsom gekom dat daar sedert die tsoenami van 2004 ’n neiging tot internasionale welwillendheid ontwikkel het en het toe, met ’n tikkie optimisme, gesê dat die wêreld nou “’n tyd van ongekende onderlinge afhanklikheid” bereik het.

Kan ons verwag dat natuurrampe mense oral in die wêreld sal verenig om hulle vir ’n beter toekoms te beywer? Is “ongekende onderlinge afhanklikheid” ’n betroubare grondslag vir hoop op ’n toekoms van ware vrede en blywende veiligheid?

Die Bron van ware hoop

Die lang geskiedenis van die mensdom se pogings oor meer as ses millenniums heen toon dat mense mekaar gedurig in die steek laat. Dit is dus met goeie rede dat die geïnspireerde Skrif ons vermaan: “Moenie julle vertroue in edeles stel nie, ook nie in die mensekind, aan wie geen redding behoort nie” (Psalm 146:3). As ons ons hoop op die organisasies, materiële dinge en drome van hierdie wêreld vestig, sal dit slegs tot teleurstelling lei. Waarom? Want “die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte”.—1 Johannes 2:17.

God was egter deur die eeue heen die onfeilbare hoop van regverdige mense. Die Bybel noem hom “die hoop van [eertydse] Israel” en “die hoop van [Israel se] voorvaders”, en hoop, geloof en vertroue in hom word baie dikwels uitgespreek (Jeremia 14:8; 17:13; 50:7). Ja, die Skrif spoor ons aan om te “hoop op Jehovah”.—Psalm 27:14.

Spreuke 3:5, 6 spoor ons aan: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.” Jy het alle rede om volle vertroue in so ’n belofte te stel omdat Jehovah God onveranderlik en betroubaar is en altyd sy woord gestand doen (Maleagi 3:6; Jakobus 1:17). Hy wil die beste vir jou hê, en as jy altyd ag slaan op wat in sy Woord, die Bybel, gesê word, sal dit jou met welslae deur hierdie angswekkende tye lei.—Jesaja 48:17, 18.

Iemand wat God se leiding heelhartig volg, kan staatmaak op hierdie belofte: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Moenie rondkyk nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help. Ek sal jou werklik stewig vashou met my regterhand van regverdigheid” (Jesaja 41:10). Vurige gebed tesame met bepeinsing oor hierdie versekering is ’n groot vertroosting vir almal wat Jehovah God waarlik liefhet, want dit help hulle om moeilike omstandighede en kommer die hoof te bied.

Neem byvoorbeeld Andrea, een van Jehovah se Getuies en die moeder van twee kinders. Sy sê: “Slegs deur te bid en te peins oor die beloftes van Jehovah, het ek die krag om voort te gaan gedurende tye van onsekerheid in my lewe. As ek seker maak dat Jehovah die een bestendige ding in my lewe is, is dit baie makliker om stabiliteit te handhaaf.”

Versterk jou hoop op Jehovah

Een psalmis het beklemtoon hoe belangrik dit is om op Jehovah te hoop en gesê: “Oorvloedige vrede behoort aan dié wat u wet liefhet, en vir hulle is daar geen struikelblok nie” (Psalm 119:165). ’n Opregte studie van God se Woord kan grootliks help om jou verstand en hart te vul met geestelik opbouende en positiewe dinge ‘wat waar, van ernstige belang, regverdig, kuis en lieflik is, waarvan goed gepraat word, wat deugsaam en lofwaardig is’. As jy ’n doelbewuste poging aanwend om sulke dinge te hoor, te leer, te aanvaar en toe te pas, sal ‘die God van vrede met jou wees’.—Filippense 4:8, 9.

John praat uit dekades van persoonlike ondervinding en sê: “Voordat my gevoelens oor die toekoms kon verander, was dit vir my belangrik om te leer dat ’n drastiese verandering in my persoonlikheid en denke nodig was as ek enigsins kon hoop om ’n verhouding met ’n volmaakte, onsigbare God op te bou. Die enigste manier waarop ek hierdie verhouding kon aankweek, was om ’n geestelikgesinde mens te word. Dit het behels dat ek God-georiënteerd moes word, dat ek God se beskouing van sake moes hê deur sy geïnspireerde Woord te lees en daaroor te peins.”

As jy die verkwikkende, lewegewende water van waarheid indrink wat in die geïnspireerde Skrif gevind word, sal jy ’n doeltreffende en beproefde voorskrif volg om die eindelose stortvloed slegte dinge te weerstaan wat daagliks deur die media aangebied word. As jy toepas wat die Bybel sê, kan dit ook jou gesinsbande versterk en jou help om kommer te verminder. Bowendien belowe God dat hy gereed is om “sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is” (2 Kronieke 16:9). Hy sal sake op so ’n manier laat afloop dat jy werklik niks het om te vrees nie.

Phinehas, wat ’n oorlog en massaslagting oorleef het, sê: “Ek het geleer om my lewe in Jehovah se liefdevolle hande te plaas. Omdat ek by Bybelbeginsels gebly het, het ek baie probleme vermy.” As jy werklik op Jehovah God vertrou, kan hy jou help om oor enige muur van teëspoed te klim (Psalm 18:29). ’n Jong kind wat ’n hegte band met sy ouers het, leer om hulle ten volle te vertrou en voel veilig in hulle sorg selfs wanneer hy siek is of iets hom kwel. Jy kan ook so voel as jy die uitnodiging aanneem om op Jehovah te hoop.—Psalm 37:34.

’n Vaste grondslag vir hoop

Jesus Christus het vir sy volgelinge gesê: “Julle moet . . . só bid: ‘Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde’” (Matteus 6:9, 10). Hierdie hemelse Koninkryk—’n regering in die hande van Jesus Christus—is die middel waardeur God Sy regmatige soewereiniteit oor die aarde gaan uitoefen.—Psalm 2:7-12; Daniël 7:13, 14.

Die talle oorsake van vrees wat vandag elke aspek van die lewe raak, toon duidelik dat goddelike ingryping nodig is. Gelukkig is die tyd daarvoor naby! Aan Jesus Christus, wat reeds deur God as Messiaanse Koning op die troon geplaas is, is die gesag toevertrou om Jehovah se soewereiniteit te regverdig en Sy naam te heilig (Matteus 28:18). Koninkryksheerskappy sal binnekort oor die aarde uitgeoefen word en alle oorsake van vrees en kommer uit die weg ruim. Jesaja 9:6 meld kwalifikasies wat toon dat Jesus ’n waardige Heerser is wat ons van ons vrese kan bevry. Hy word byvoorbeeld “Ewige Vader”, “Wonderlike Raadgewer” en “Vredevors” genoem.

Kyk byvoorbeeld na die hartlike uitdrukking “Ewige Vader”. As sodanig het Jesus, op grond van die waarde van sy losprysoffer, die mag en gesag—asook die begeerte—om aan gehoorsame mense die vooruitsig op ewige lewe op aarde te gee. Dit beteken dat hulle uiteindelik bevry sal word van die sonde en onvolmaaktheid wat hulle van die sondige eerste mens, Adam, geërf het (Matteus 20:28; Romeine 5:12; 6:23). Christus sal ook sy godgegewe gesag gebruik om baie wat gesterf het, op te wek.—Johannes 11:25, 26.

Toe Jesus op aarde was, was hy die “Wonderlike Raadgewer”. Weens sy kennis van God se Woord en sy buitengewone insig in die menslike natuur het Jesus geweet hoe om alledaagse probleme op te los. Sedert hy in die hemel op die troon geplaas is, gaan Christus voort om die “Wonderlike Raadgewer” te wees en dien hy as die vernaamste figuur in Jehovah se kommunikasiekanaal met die mens. Jesus se raad, soos opgeteken in die Bybel, is altyd wys en foutloos. As jy dit weet en glo, kan dit vir jou tot ’n lewe lei wat vry is van onsekerheid en verlammende vrees.

Jesaja 9:6 identifiseer Jesus ook as die “Vredevors”. In hierdie hoedanigheid sal Christus binnekort sy mag gebruik om alle ongelykheid—op politieke, maatskaplike en ekonomiese gebied—uit die weg te ruim. Hoe? Deur die mensdom onder die een vreedsame heerskappy van die Messiaanse Koninkryk te bring.—Daniël 2:44.

Onder Koninkryksheerskappy sal daar wêreldwyd blywende vrede heers. Waarom kan jy hiervan seker wees? Die rede word in Jesaja 11:9 gegee, waar ons lees: “Hulle [die onderdane van die Koninkryk] sal geen kwaad doen of enige verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek.” Uiteindelik sal elke mens op aarde juiste kennis van God hê en hom gehoorsaam. Verbly hierdie vooruitsig jou hart? Indien wel, moet jy nie huiwer om die kosbare “kennis van Jehovah” in te neem nie.

Jy kan die geloofversterkende en lewegewende kennis van God verkry deur ondersoek in te stel na wat die Bybel werklik leer oor gebeure van ons dag en die rooskleurige toekoms wat in die Bybel belowe word. Ons spoor jou dus aan om gebruik te maak van die gratis Bybelstudieprogram wat Jehovah se Getuies in jou omgewing aanbied. Dit is ’n manier om vrees te bowe te kom en ware hoop te vind in ’n wêreld vol benoudheid.

[Venster/Prente op bladsy 7]

Waarom die Koninkryksregering mense met hoop vervul

Jesus Christus is, as Koning van God se Koninkryk, die vermoë en die reg gegee om mag universeel uit te oefen (Matteus 28:18). Hy sal die aarde se ekologie tot sy volmaakte balans herstel. Hy het ook mag oor siektes. Die kragtige werke wat Jesus op aarde verrig het, was ’n voorskou van selfs groter seëninge wat onder sy heerskappy as ’n volmaakte en betroubare Koning geniet sal word. Watter eienskappe van hierdie Messiaanse Koning wat hieronder aangegee word, is vir jou besonder aantreklik?

Genaakbaar.Markus 10:13-16.

Redelik en onpartydig.Markus 10:35-45.

Verantwoordelik en onselfsugtig.Matteus 4:5-7; Lukas 6:19.

Regverdig.Jesaja 11:3-5; Johannes 5:30; 8:16.

Bedagsaam en nederig.Johannes 13:3-15.

[Prent op bladsy 4]

Bybellees en bepeinsing kan ons help om op Jehovah te hoop