Waarom alle lyding binnekort sal eindig
Waarom alle lyding binnekort sal eindig
“Die Rots, volmaak is sy werk.”—DEUTERONOMIUM 32:4.
1, 2. (a) Waarom koester jy die hoop om vir ewig te lewe? (b) Wat verhinder baie mense om te glo in die God wat wonderlike beloftes vir die toekoms maak?
GENIET jy dit om jou die lewe in die Paradys voor te stel? Dalk sien jy hoe jy hierdie wonderlike planeet verken en leer van die byna eindelose verskeidenheid lewende dinge daarop. Of miskien dink jy aan hoe bevredigend dit sal wees om saam met ander te werk om na die aarde om te sien en dit in ’n aardwye park te help omskep. Of jy dink dalk aan die talente wat jy sal kan ontwikkel op die gebied van kuns, argitektuur, musiek of ander strewes waarvoor jy in die dolle gejaag van vandag se lewe nie tyd kan vind nie. Hoe dit ook al sy, jy koester die hoop om te geniet wat die Bybel “die werklike lewe” noem—die lewe soos Jehovah bedoel het ons moet lewe, met die ewigheid in die vooruitsig.—1 Timoteus 6:19.
2 Dit is ’n genot en ’n kosbare voorreg om hierdie Bybelse hoop aan ander te verkondig, nie waar nie? Maar baie verwerp hierdie hoop. Hulle maak dit af as ’n illusie, ’n onrealistiese droom vir goedgelowige mense. Miskien is dit selfs vir hulle moeilik om te glo in die God wat die ewige lewe in die Paradys beloof. Waarom? Vir party is die struikelblok die vraagstuk oor die bestaan van boosheid. As God bestaan en almagtig en liefdevol is, kan daar volgens hulle geen verklaring vir die boosheid en lyding in die wêreld wees nie. Hulle redeneer dat daar nie ’n God kan bestaan wat boosheid duld nie—of as hy bestaan, is hy nie almagtig nie of gee hy nie vir ons om nie. Vir party klink dit na oortuigende redenasies. Satan het beslis bewys dat hy mense se verstande op meesterlike wyse kan verblind.—2 Korintiërs 4:4.
3. Op watter moeilike vraag kan ons mense help om ’n antwoord te kry, en waarom is ons in ’n unieke posisie om dit te doen?
3 As Jehovah se Getuies is ons in die unieke posisie om mense te help wat deur Satan en die wysheid van hierdie wêreld mislei word (1 Korintiërs 1:20; 3:19). Ons verstaan waarom baie mense nie in die Bybel se beloftes glo nie. Hulle ken Jehovah eenvoudig nie. Hulle weet dalk nie wat sy naam of die betekenis daarvan is nie, en hulle weet waarskynlik min of niks van sy eienskappe of van hoe getrou hy sy beloftes nakom nie. Ons is geseënd om hierdie kennis te hê. Ons kan gerus van tyd tot tyd nadink oor hoe ons mense wat “verstandelik in duisternis” is, kan help om die antwoord te vind op een van die moeilikste vrae wat mense vra: “Waarom laat God boosheid en lyding toe?” (Efesiërs 4:18). Ons sal eerstens kyk hoe ons hierdie vraag op doeltreffende wyse kan benader. Dan sal ons bespreek hoe Jehovah se eienskappe duidelik gesien kan word in die manier waarop hy die kwessie van boosheid hanteer het.
Vind die regte benadering
4, 5. Wat moet ons dalk eers doen wanneer iemand vra waarom God lyding toelaat? Verduidelik.
4 Hoe antwoord ons wanneer iemand vra waarom God lyding toelaat? Ons is moontlik geneig om onmiddellik ’n breedvoerige verduideliking te gee deur te begin met wat in die tuin van Eden gebeur het. In party gevalle sal dit dalk goed werk. Maar ’n woordjie van waarskuwing is gepas. Dit is moontlik nodig om eers ’n grondslag te lê (Spreuke 25:11; Kolossense 4:6). Kom ons kyk na drie skriftuurlike punte waarop ons kortliks kan let voordat ons die antwoord op die vraag ontleed.
5 Eerstens, as die persoon redelik ontsteld is oor die algemeenheid van boosheid in die wêreld, was hy of sy geliefdes waarskynlik al persoonlik die slagoffers van boosheid. Dit sal dan moontlik verstandig wees om eers opregte empatie te betoon. Die apostel Paulus het Christene gemaan: “Huil saam met mense wat huil” (Romeine 12:15). As ’n mens empatie, of “meegevoel”, betoon, kan dit die persoon se hart raak (1 Petrus 3:8). As hy besef dat ons vir hom omgee, sal hy waarskynlik meer geneig wees om te luister na wat ons sê.
6, 7. Waarom kan ons ’n opregte persoon wat ’n verontrustende geestelike vraag opper, tereg prys?
6 Tweedens, ons kan ’n opregte persoon prys omdat hy hierdie vraag opper. Party mense meen dat hulle nie geloof het nie of oneerbiedig teenoor God is as hulle met sulke vrae worstel. Miskien het ’n geestelike dit selfs al vir hulle gesê. Maar dit is nie noodwendig die geval nie. Getroue mense in Bybeltye het immers soortgelyke vrae gevra. Die psalmis Dawid het byvoorbeeld gevra: “Waarom, o Jehovah, bly u ver weg staan? Waarom hou u u verborge in tye van benoudheid?” (Psalm 10:1). Die profeet Habakuk het eweneens gevra: “Hoe lank, o Jehovah, moet ek om hulp roep, sonder dat u hoor? Hoe lank sal ek tot u om hulp roep teen geweld, sonder dat u red? Waarom laat u my sien wat skadelik is en hou u aan om te kyk na wat niks anders as moeite is nie? En waarom is plundering en geweld voor my, en waarom is daar rusie, en waarom ontstaan twis?”—Habakuk 1:2, 3.
7 Hulle was getroue manne wat groot eerbied vir God gehad het. Is hulle bestraf omdat hulle hierdie verontrustende vrae geopper het? Inteendeel, Jehovah het dit goedgedink om hulle opregte vrae in sy Woord te laat opteken. Iemand wat vandag bekommerd is oor die algemeenheid van boosheid, is dalk in werklikheid geestelik honger en smag na antwoorde wat net die Bybel kan verstrek. Onthou dat Jesus goed gepraat het van diegene wat geestelik honger is, of wat “bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Wat ’n voorreg is dit tog om sulke persone te help om die geluk te vind wat Jesus beloof het!
8. Watter verwarrende leringe het mense laat glo dat God verantwoordelik is vir lyding, en hoe kan ons hulle help?
8 Derdens, ons sal die persoon dalk moet help om te sien dat God nie verantwoordelik is vir die goddeloosheid wat so algemeen in die wêreld is nie. Baie mense word geleer dat God oor hierdie wêreld heers waarin ons lewe, dat God lank gelede alles bepaal het wat met ons gebeur en dat hy om verborge, onverstaanbare redes ellende oor die mensdom bring. Hierdie leringe is vals. Dit strek God tot oneer en skep die indruk dat hy verantwoordelik is vir die goddeloosheid en lyding in die wêreld. Daarom sal ons moontlik God se Woord moet gebruik om hierdie idees reg te stel (2 Timoteus 3:16). Jehovah is nie die heerser van hierdie verdorwe stelsel van dinge nie; Satan die Duiwel is (1 Johannes 5:19). Jehovah beskik nie vooraf wat met sy intelligente skepsele sal gebeur nie; hy gee elkeen die vryheid en geleenthede om te kies tussen goed en sleg, reg en verkeerd (Deuteronomium 30:19). En Jehovah is nooit die bron van goddeloosheid nie; hy haat goddeloosheid en gee om vir dié wat onregverdig ly.—Job 34:10; Spreuke 6:16-19; 1 Petrus 5:7.
9. Wat is van die hulpmiddels wat “die getroue en verstandige slaaf” voorsien het om mense te help verstaan waarom Jehovah God lyding toelaat?
9 Nadat jy hierdie grondslag gelê het, sal jy miskien vind dat die persoon wat na jou luister, gereed is om te leer waarom God toelaat dat goddeloosheid voortduur. Om jou te help, het “die getroue en verstandige slaaf” etlike hulpmiddels voorsien (Matteus 24:45-47). By die “Godvrugtige gehoorsaamheid”-streekbyeenkoms van 2005/06 is daar byvoorbeeld ’n traktaat met die titel Alle lyding sal binnekort eindig! vrygestel. As hierdie traktaat in jou taal beskikbaar is, kan jy gerus met die inhoud daarvan vertroud raak. Die boek Wat leer die Bybel werklik?, wat nou in 157 tale beskikbaar is, wy ook ’n hoofstuk aan hierdie belangrike vraag. Maak ten volle gebruik van hierdie hulpmiddels. Dit gee ’n duidelike uiteensetting van die skriftuurlike agtergrond van die geskil oor universele soewereiniteit wat in Eden geopper is en waarom Jehovah hierdie geskil hanteer het op die manier waarop hy dit wel gedoen het. Hou ook in gedagte dat jy, terwyl jy hierdie onderwerp bespreek, die allerbelangrikste kennisveld open vir die persoon wat na jou luister. Dit is die kennis van Jehovah en sy wonderlike eienskappe.
Vestig die aandag op Jehovah se eienskappe
10. Waarom is dit vir baie mense moeilik om te verstaan dat God lyding toelaat, en watter kennis kan hulle help?
10 Terwyl jy mense help om te verstaan waarom Jehovah die mensdom toegelaat het om onder Satan se invloed oor hulleself te regeer, moet jy die aandag probeer vestig op Jehovah se wonderlike eienskappe. Baie mense weet dat God groot krag het; hulle is daaraan gewoond om te hoor dat hy God die Almagtige genoem word. Maar dit is miskien vir hulle moeilik om te begryp waarom hy nie sy groot krag gebruik om dadelik ’n einde te maak aan ongeregtigheid en lyding nie. Hulle verstaan waarskynlik nie Jehovah se ander eienskappe, soos sy heiligheid, geregtigheid, wysheid en liefde nie. Jehovah lê hierdie eienskappe op ’n volmaakte, gebalanseerde wyse aan die dag. Daarom sê die Bybel: “Volmaak is sy werk” (Deuteronomium 32:4). Hoe kan jy hierdie eienskappe benadruk terwyl jy vrae beantwoord wat dikwels oor hierdie kwessie geopper word? Kom ons beskou ’n paar voorbeelde.
11, 12. (a) Waarom was vergifnis nie ’n opsie toe Adam en Eva gesondig het nie? (b) Waarom sal Jehovah sonde nie vir ewig duld nie?
11 Kon Jehovah Adam en Eva nie maar net vergewe het nie? Vergifnis was nooit in dié geval ’n opsie nie. As volmaakte mense het Adam en Eva willens en wetens gekies om Jehovah se soewereiniteit te verwerp en eerder die leiding van Satan te aanvaar. Dit is nie verbasend dat die opstandelinge geen teken van berou getoon het nie. Maar wanneer mense vra waarom vergifnis nie in hierdie geval geskenk is nie, wonder hulle dalk in werklikheid waarom Jehovah nie net sy standaard verlaag het en die bestaan van sonde en opstand geduld het nie. Die antwoord hou verband met ’n eienskap wat inherent is aan Jehovah se persoonlikheid—sy heiligheid.—Eksodus 28:36; 39:30.
12 Die Bybel beklemtoon Jehovah se heiligheid honderde kere. Maar ongelukkig is daar min mense in hierdie verdorwe wêreld wat hierdie eienskap verstaan. Jehovah is rein, suiwer en afgeskeie van alle sonde (Jesaja 6:3; 59:2). Hy het voorsiening gemaak vir die versoening van sonde, vir die uitwissing daarvan, maar hy sal dit nie vir ewig duld nie. As Jehovah bereid was om sonde vir ewig te duld, sou ons geen hoop vir die toekoms gehad het nie (Spreuke 14:12). Jehovah sal op sy bestemde tyd die hele skepping herstel tot ’n toestand van heiligheid. Dit is seker, want dit is die wil van die Heilige.
13, 14. Waarom het Jehovah besluit om die opstandelinge in Eden nie te vernietig nie?
13 Kon Jehovah eenvoudig die opstandelinge in Eden vernietig het en oor begin het? Hy het beslis die krag gehad om dit te doen; en binnekort sal hy daardie krag gebruik om al die goddeloses te vernietig. ‘Waarom’, wonder party miskien, ‘het hy dit nie gedoen toe daar net drie sondaars in die heelal was nie? Sou dit nie gekeer het dat sonde—en al die ellende wat ons in die wêreld sien—versprei nie?’ Waarom het Jehovah besluit om dit nie te doen nie? Deuteronomium 32:4 sê: “Al sy weë is geregtigheid.” Jehovah voel baie sterk oor geregtigheid. Trouens, “Jehovah het geregtigheid lief” (Psalm 37:28). Weens sy liefde vir geregtigheid het Jehovah nie die opstandelinge in Eden uitgewis nie. Waarom nie?
14 Satan se opstand het ’n vraag laat ontstaan oor die regmatigheid van God se soewereiniteit. Jehovah se sin vir geregtigheid het vereis dat Satan se uitdaging ’n antwoord ontvang wat op geregtigheid berus. Die onmiddellike teregstelling van die opstandelinge, hoewel hulle dit verdien het, sou nie so ’n antwoord verstrek het nie. Dit sou verdere bewys gelewer het van Jehovah se almagtigheid, maar dit was nie sy mag wat bevraagteken is nie. Jehovah het boonop sy voorneme aan Adam en Eva bekend gemaak. Hulle moes kinders hê en die aarde vul en dit onderwerp, en die hele aardse skepping moes aan hulle onderworpe wees (Genesis 1:28). As Jehovah Adam en Eva eenvoudig vernietig het, sou sy verklaarde voorneme vir die mens net leë woorde geword het. Jehovah se geregtigheid sal nooit toelaat dat sake so afloop nie, want sy voorneme word altyd volbring.—Jesaja 55:10, 11.
15, 16. Hoe kan ons mense help wat alternatiewe “oplossings” bied vir die uitdaging wat in Eden gerig is?
15 Kon enigiemand in die heelal die opstand met groter wysheid hanteer het as Jehovah? Party mense kom miskien vorendag met hulle eie “oplossings” vir die opstand in Eden. Maar sou hulle nie daardeur te kenne gee dat hulle aan beter maniere kan dink om die geskil te hanteer nie? Hulle doen dit moontlik nie uit ’n slegte beweegrede nie, maar omdat hulle nie ’n begrip van Jehovah en sy ontsagwekkende wysheid het nie. Toe die apostel Paulus aan die Christene in Rome geskryf het, het hy diep gedelf in God se wysheid, onder andere die “heilige geheim” oor Jehovah se voorneme om die Messiaanse Koninkryk te gebruik om die verlossing van getroue mense te bewerkstellig en Sy grootse naam te heilig. Hoe het Paulus gevoel oor die wysheid van die God wat hierdie voorneme gevorm het? Die apostel het sy brief afgesluit met hierdie woorde: “Aan God, alleen wys, die heerlikheid deur middel van Jesus Christus tot in ewigheid. Amen.”—Romeine 11:25; 16:25-27.
16 Paulus het begryp dat Jehovah “alleen wys” is—die allerwysste Persoon in die heelal. Watter onvolmaakte mens kan hoegenaamd aan ’n beter manier dink om enigiets te hanteer—wat nog te sê die moeilikste uitdaging waarvoor goddelike wysheid nog ooit te staan gekom het? Ons moet mense dus help om dieselfde ontsag as ons te verkry vir die God wat “wys van hart” is (Job 9:4). Hoe beter ons Jehovah se wysheid begryp, hoe groter sal ons vertroue word dat die manier waarop hy sake behartig, die beste is.—Spreuke 3:5, 6.
Waardering vir Jehovah se vernaamste eienskap
17. Hoe kan ’n beter begrip van Jehovah se liefde diegene help wat verontrus is oor die feit dat God lyding toelaat?
17 “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Met hierdie treffende woorde identifiseer die Bybel Jehovah se vernaamste eienskap, wat die aantreklikste van al sy eienskappe is, asook die bemoedigendste, vir diegene wat verontrus is oor hoe algemeen goddeloosheid voorkom. Jehovah het deurgaans liefde betoon in die manier waarop hy die verskriklike uitwerking van sonde op sy skepping hanteer het. Liefde het Jehovah beweeg om die sondige nakomelinge van Adam en Eva hoop te gee en hulle te voorsien van ’n manier om Hom te nader en in ’n goedgekeurde verhouding met Hom te kom. Liefde het God beweeg om ’n losprys te voorsien wat die weg sou baan vir volkome vergifnis van sonde en herstel tot volmaakte, ewige lewe (Johannes 3:16). En liefde het hom beweeg om geduldig te wees met die mensdom en soveel as moontlik die geleentheid te gee om Satan te verwerp en Jehovah as hulle Soewerein te kies.—2 Petrus 3:9.
18. Met watter insig is ons geseën, en wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
18 Toe ’n geestelike ’n gehoor toegespreek het wat bymekaargekom het vir die herdenking van ’n verwoestende terreuraanval, het hy gesê: “Ons weet nie waarom God toelaat dat boosheid en lyding voortduur nie.” Hoe tragies tog! Is ons nie geseënd om insig in hierdie onderwerp te hê nie? (Deuteronomium 29:29). En aangesien Jehovah ’n God van wysheid, geregtigheid en liefde is, weet ons dat hy binnekort alle lyding tot ’n einde sal bring. Trouens, hy het belowe om dit te doen (Openbaring 21:3, 4). Maar wat van almal wat deur die eeue heen gesterf het? Het die wyse waarop Jehovah die uitdaging in Eden hanteer het, hulle sonder hoop gelaat? Nee. Liefde het hom beweeg om, deur middel van die opstanding, ook vir hulle voorsiening te maak. Dit sal die onderwerp van die volgende artikel wees.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe kan ons iemand antwoord wat vra waarom God lyding toelaat?
• Hoe word Jehovah se heiligheid en sy geregtigheid geopenbaar in die wyse waarop hy met die opstandelinge in Eden gehandel het?
• Waarom moet ons mense help om ’n beter begrip van Jehovah se liefde te verkry?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 21]
Probeer diegene help wat verontrus is oor die lyding in die wêreld
[Prente op bladsy 23]
Getroue Dawid en Habakuk het God opregte vrae gevra