Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom moet ons saam vergader?

Waarom moet ons saam vergader?

Waarom moet ons saam vergader?

CHRISTINE se man het haar skielik verlaat—ná 20 jaar van getroude lewe. Gevolglik moes Christine sewe seuns en ’n dogter alleen grootmaak. Hulle was tussen 7 en 18 jaar oud. “Van toe af moes ek self al die belangrike besluite neem”, sê sy. “Ek het oorweldig gevoel deur die verantwoordelikheid en het gesmag na ondersteuning en leiding.” Waar het sy die nodige hulp gevind?

“Christelike vergaderinge was vir my en my gesin ’n lewenslyn”, sê Christine. “By die vergaderinge het ons ondersteuning van ons vriende en leiding uit God se Woord ontvang. Gereelde vergaderingbywoning het ons in elke belangrike aspek van ons gesinslewe gehelp.”

Gedurende hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, het ons almal met verskillende beproewinge te kampe (2 Timoteus 3:1). Soos Christine beskou jy die vergaderinge van Jehovah se Getuies dalk as ’n geestelike lewenslyn, ’n noodsaaklike deel van jou aanbidding van Jehovah. Jy vind heel waarskynlik dat die vyf gemeentelike vergaderinge wat elke week gehou word, jou liefde vir God stimuleer, jou hoop vir die toekoms versterk en jou van leiding uit die Bybel voorsien oor hoe om beproewinge die hoof te bied.

Daar is egter persone wat dit moeilik vind om vergaderinge gereeld by te woon. Aan die einde van die dag is hulle uitgeput, en die gedagte dat hulle gepaste klere moet aantrek en na ’n vergadering toe moet gaan, is miskien oorweldigend. Party vind dat hulle werkrooster gereeld inbreuk maak op hulle vergaderingbywoning. Om al die vergaderinge by te woon, sal beteken dat hulle van hulle inkomste moet prysgee of dalk die gevaar moet loop om hulle werk te verloor. ’n Paar bly miskien van vergaderinge af weg omdat hulle dink dat die een of ander vorm van ontspanning verkwikkender sal wees as omgang met die gemeente.

Watter dwingende redes is daar dan om Christelike vergaderinge by te woon? Hoe kan jy seker maak dat hierdie geleenthede vir jou verkwikkend is? Laat ons Jesus se hartlike uitnodiging in Matteus 11:28-30 ondersoek om hierdie vrae te help beantwoord. Hy het gesê: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig.”

“Kom na my toe”

Jesus het gesê: “Kom na my toe.” Een manier om hierdie uitnodiging te aanvaar, is om vergaderinge gereeld by te woon. Daar is goeie rede om teenwoordig te wees, want by ’n ander geleentheid het Jesus gesê: “Waar twee of drie in my naam bymekaar is, daar is ek in hulle midde.”—Matteus 18:20.

In die eerste eeu het Jesus persoonlik verskillende mense genooi om hom te volg. Hy het hulle sodoende die geleentheid gegee om noue omgang met hom te geniet. Party het dit onmiddellik gedoen (Matteus 4:18-22). Ander het toegelaat dat dinge soos materiële belange hulle verhinder om hierdie uitnodiging te aanvaar (Markus 10:21, 22; Lukas 9:57-62). Vir dié wat hom wel gevolg het, het Jesus hierdie versekering gegee: “Julle het my nie uitgekies nie, maar ek het julle uitgekies.”—Johannes 15:16.

Ná sy dood en opstanding was Christus nie meer fisies teenwoordig by sy dissipels nie. Maar hy was nog met hulle in die sin dat hy hulle werk gerig en hulle reaksie op sy raad waargeneem het. Ongeveer 70 jaar ná sy opstanding het Jesus byvoorbeeld raad en aanmoediging aan sewe gemeentes in Klein-Asië gegee. Sy kommentare het getoon dat hy baie goed vertroud was met die sterk en swak punte van die persone in daardie gemeentes.—Openbaring 2:1–3:22.

Jesus stel nog steeds intens belang in elkeen van sy dissipels. Hy belowe: “Kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 28:20). Ons lewe nou in die tyd van die einde, en daarom moet ons reageer op Jesus se uitnodiging om hom te volg. Dit beteken onder andere dat ons vergaderinge gereeld moet bywoon. Jesus wil hê dat ons na hom moet luister en “deur middel van hom geleer” moet word, deur Bybelstudie en -toesprake wat gereelde kenmerke van die vergaderinge is (Efesiërs 4:20, 21). Aanvaar jy Jesus se uitnodiging: “Kom na my toe”?

“Almal wat swoeg en swaar belaai is”

’n Baie belangrike rede om Christelike vergaderinge by te woon, is dat ’n mens daar aangemoedig word (Hebreërs 10:24, 25). Daar is ongetwyfeld baie van ons wat op verskillende maniere “swoeg en swaar belaai is”. Jy is dalk swaar belaai met persoonlike sorge, soos gesondheidsprobleme. By Christelike vergaderinge is daar wedersydse aanmoediging (Romeine 1:11, 12). Jy sal byvoorbeeld geestelik opbouende kommentare hoor, aan jou Bybelse hoop herinner word en die geloof sien van ander wat beproewinge verduur. Dit alles kan jou help om te volhard en om jou probleme in die regte perspektief te sien.

Beskou die kommentare van ’n Christenvrou wat deur ’n chroniese siekte gekniehalter word. “My siekte vereis dat ek af en toe tyd in die hospitaal moet deurbring”, verduidelik sy. “Om na die vergaderinge toe te gaan nadat ek ’n ruk in die hospitaal was, is soms ’n bietjie moeilik, maar dit is waar ek hoort. Die hartlikheid en liefde van die broers en susters vergroot my vreugde, en die onderrigting en leiding wat deur Jehovah en Jesus gegee word, maak my lewe sinvol.”

“My juk is sag en my vrag is lig”

Let daarop dat Jesus in die gedeelte wat ons ontleed, gesê het: “Leer by my.” As ons by Jesus leer, word ons sy dissipels, en ons neem sy juk op wanneer ons ons aan God toewy en gedoop word (Matteus 28:19, 20). Gereelde deelname aan vergaderinge is noodsaaklik as ons Jesus se dissipels wil bly. Waarom? Omdat ons by Christelike vergaderinge van Jesus, sy leringe en sy metodes leer.

Wat is die vrag wat Christus wil hê dat ons moet dra? Dit is dieselfde vrag wat hy self dra—die voorreg om God se wil te doen (Johannes 4:34; 15:8). Dit verg inspanning om God se gebooie te gehoorsaam, maar hierdie vrag is nie te swaar om te dra nie. Dit lyk miskien swaar as ons dit in ons eie krag probeer dra. Maar as ons vir God se gees bid en ons voed met die geestelike voedsel wat by die vergaderinge voorsien word, sal ons godgegewe “krag wat bo die normale is”, ontvang (2 Korintiërs 4:7). Wanneer ons vir die vergaderinge voorberei en daaraan deelneem, word ons liefde vir Jehovah al hoe sterker. En wanneer ons deur liefde beweeg word, is God se gebooie “nie swaar nie”.—1 Johannes 5:3.

Mense oor die algemeen het te kampe met uitdagings soos om ’n bestaan te maak, gesondheidskwessies die hoof te bied en persoonlike probleme te hanteer. Om teen hierdie dinge opgewasse te wees, vertrou ons egter nie op blote menslike wysheid nie. Gemeentelike vergaderinge help ons om ‘op te hou om ons te kwel’, want Jehovah voorsien in ons behoeftes en help ons om probleme die hoof te bied (Matteus 6:25-33). Ja, Christelike vergaderinge is ’n blyk van God se liefde vir ons.

“Ek is saggeaard en nederig van hart”

Dit was Jesus se gewoonte om na die sinagoge toe te gaan, waar God se Woord bespreek is. By een van hierdie geleenthede het Jesus die boekrol van Jesaja geneem en gelees: “Jehovah se gees is op my, want hy het my gesalf om goeie nuus aan die armes bekend te maak, hy het my uitgestuur om ’n vrylating aan die gevangenes te verkondig en ’n herstel van gesig aan die blindes, om die verbryseldes in vryheid weg te stuur, om Jehovah se aanneemlike jaar te verkondig” (Lukas 4:16, 18, 19). Hoe opwindend sou dit tog gewees het om Jesus se toepassing van daardie woorde te hoor toe hy gesê het: “Vandag is hierdie Skrifgedeelte wat julle so pas gehoor het, vervul”!—Lukas 4:21.

Jesus, die saggeaarde “hoofherder”, hou nog steeds toesig oor die geestelike sorg wat sy volgelinge ontvang (1 Petrus 5:1-4). Onder sy leiding het “die getroue en verstandige slaaf” manne as herders aangestel in die gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die wêreld (Matteus 24:45-47; Titus 1:5-9). Hierdie manne ‘hou as herders toesig oor die gemeente van God’ met sagmoedigheid en stel ’n goeie voorbeeld deur die vergaderinge gereeld by te woon. Jy kan waardering toon vir hierdie “gawes in die vorm van mense” deur by die vergaderinge te wees, waar jy ander deur jou teenwoordigheid en deelname kan aanmoedig.—Handelinge 15:30-33; 20:28; Efesiërs 4:8, 11, 12.

“Julle sal verkwikking vir julle siele vind”

Hoe kan jy, wanneer jy Christelike vergaderinge bywoon, seker maak dat hierdie geleenthede werklik verkwikkend is? Een manier is deur Jesus se raad toe te pas: “Skenk . . . aandag aan hoe julle luister” (Lukas 8:18). Mense wat regtig wou leer, het noukeurig aandag geskenk aan Jesus. Hulle het hom gevra om sy illustrasies te verduidelik en is gevolglik met ’n dieper begrip beloon.—Matteus 13:10-16.

Jy kan die voorbeeld van sulke geestelik honger mense navolg deur aandagtig te luister na toesprake by ons vergaderinge (Matteus 5:3, 6). As jy die spreker se redenasie probeer volg, sal dit jou help om te konsentreer. Vra jou vrae af soos: ‘Hoe kan ek hierdie inligting in my lewe toepas? Hoe kan ek dit gebruik om ander te help? Hoe kan ek hierdie punt verduidelik?’ Slaan ook die tekste na wat die spreker gebruik om sy hoofpunte te ondersteun. Hoe meer jy aandag skenk aan hoe jy luister, hoe verkwikkender sal die vergaderinge word.

Bespreek die program ná die vergadering met ander. Gesels oor die materiaal en hoe dit toegepas kan word. Opbouende gesprekke maak die vergaderinge baie verkwikkend.

Ons het beslis goeie redes om saam te vergader. Nadat jy die voordele hersien het wat so pas bespreek is, kan jy jou gerus afvra: ‘Hoe reageer ek op Jesus se uitnodiging: “Kom na my toe”?’

[Prente op bladsy 11]

Maak ander bedrywighede inbreuk op jou vergaderingbywoning?