Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Oorwinning in die Europese Hof van Menseregte

’n Oorwinning in die Europese Hof van Menseregte

’n Oorwinning in die Europese Hof van Menseregte

OP 11 Januarie 2007 het die Europese Hof van Menseregte in Straatsburg, Frankryk, ’n eenparige beslissing gegee ten gunste van Jehovah se Getuies in Rusland in hulle saak teen die Russiese Federasie. Die beslissing het godsdiensvryheid vir Jehovah se Getuies gehandhaaf, asook hulle reg tot ’n regverdige verhoor. Kom ons kyk wat tot die verhoor gelei het.

’n Gemeente van Jehovah se Getuies in die stad Tsjeljabinsk, Rusland, bestaan hoofsaaklik uit dowes. Hulle het in ’n ouditorium vergader wat hulle by ’n vakopleidingskool gehuur het. Op Sondag 16 April 2000 is hulle vergadering onderbreek deur die voorsitster, of Kommissaris, van die streek se Menseregtekommissie sowel as twee senior polisieoffisiere en ’n polisieman in burgerdrag. As gevolg van vooroordeel, veral aan die kant van die Kommissaris, is die byeenkoms stopgesit op grond van die valse aanklag dat die vergaderinge nie op ’n wettige grondslag gehou word nie. Toe, op 1 Mei 2000, is die huurkontrak vir die ouditorium gekanselleer.

Jehovah se Getuies het ’n klag by Tsjeljabinsk se aanklaer ingedien, maar dit het geen resultate opgelewer nie. Die Russiese Grondwet en die Konvensie vir die Beskerming van Menseregte en Basiese Vryhede waarborg godsdiensvryheid en vryheid van assosiasie. Daarom is ’n siviele klag by ’n distrikshof ingedien, gevolg deur ’n appèlsaak in ’n streekhof. Vroeër, op 30 Julie 1999, het die hooggeregshof in ’n ander verhoor beslis dat, “volgens die Russiese Wet op vryheid van gewete en godsdiensassosiasie, die uitdrukking ‘sonder belemmering’ beteken dat geen toestemming van, of vroeëre magtiging deur, die sekulêre owerheid nodig is vir godsdiensseremonies wat gehou word op plekke [wat vir dié doel] voorsien is nie” (Hulle hakies). Ondanks hierdie presedent is die klagte wat by die distriks- en streekhof ingedien is, afgewys.

Op 17 Desember 2001 is die saak voor die Europese Hof van Menseregte gebring. ’n Verhoor het op 9 September 2004 plaasgevind. Hier volg ’n paar uittreksels uit die finale uitspraak wat deur die Hof gelewer is:

“Die Hof bevind dat daar inbreuk gemaak is op die applikante se reg tot godsdiensvryheid omdat die staatsamptenare op 16 April 2000 veroorsaak het dat hulle godsdiensbyeenkoms voor die tyd beëindig moes word.”

“’n Wetlike grondslag vir die ontwrigting van ’n godsdiensgeleentheid wat gehou is op die perseel wat wettig vir daardie doel gehuur is, het opvallend ontbreek.”

“[Die Hof] neem kennis van die konsekwente beslissings van die Russiese Hooggeregshof dat godsdiensbyeenkomste nie enige vroeëre magtiging deur, of kennisgewing aan, die owerheid vereis nie.”

“Die ontwrigting van die applikante se godsdiensvergadering op 16 April 2000 deur die Kommissaris en haar helpers was dus ’n skending van Artikel 9 [godsdiensvryheid] van die Konvensie.”

“Die Hof bevind dat die plaaslike howe in gebreke gebly het . . . om te bewys dat die partye op ’n regverdige en onpartydige wyse verhoor is. Daar was . . . ’n skending van Artikel 6 [reg tot ’n regverdige verhoor] van die Konvensie.”

Jehovah se Getuies is dankbaar teenoor God dat hy hulle ’n oorwinning in die Europese Hof van Menseregte gegee het (Psalm 98:1). Hoe omvattend sal die uitwerking van die Hof se beslissing wees? Joseph K. Grieboski, die president van die Instituut insake Godsdiens en Openbare Beleid, sê hieroor: “Dit is nog ’n uiters belangrike beslissing wat godsdiensvryheid regoor Europa raak, aangesien die beslissing ’n uitwerking sal hê op godsdiensregte in al die state wat onderworpe is aan die Europese Hof van Menseregte.”