Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bejaardes—’n seën vir die jonges

Bejaardes—’n seën vir die jonges

Bejaardes—’n seën vir die jonges

“Selfs tot die ouderdom en grysheid toe, o God, moet u my nie verlaat nie, totdat ek vir die geslag van u arm kan vertel, vir almal wat sal kom, van u mag.”—PSALM 71:18.

1, 2. Wat moet bejaarde knegte van God besef, en wat gaan ons nou bespreek?

 ’N CHRISTEN- OUER MAN in Wes-Afrika het ’n bejaarde gesalfde broer besoek en hom gevra: “Hoe gaan dit?” Die broer het geantwoord: “Ek kan hardloop, ek kan huppel en ek kan spring”, terwyl hy die dinge wat hy opgenoem het, probeer doen het. “Maar”, het hy bygevoeg, “ek kan nie vlieg nie.” Dit was duidelik wat hy bedoel het. ‘Wat ek kan doen, doen ek met graagte, maar wat ek nie kan doen nie, doen ek nie.’ Die ouer man wat daardie besoek gedoen het, is nou in sy tagtigerjare, en hy onthou nog steeds daardie broer se sin vir humor en sy lojaliteit.

2 Die godvrugtige eienskappe wat ’n ouer persoon aan die dag lê, kan ’n blywende indruk op ander maak. Ouderdom op sigself bring natuurlik nie wysheid en Christelike eienskappe voort nie (Prediker 4:13). Die Bybel sê: “Grysheid is ’n pragtige kroon wanneer dit op die weg van regverdigheid gevind word” (Spreuke 16:31). Besef jy, as jy gevorderd is in jare, watter heilsame uitwerking jou woorde en dade op ander kan hê? Beskou ’n paar Bybelvoorbeelde wat toon in watter mate bejaardes ’n ware seën vir jonger mense was.

Geloof met verreikende gevolge

3. Hoe raak Noag se getrouheid almal wat nou lewe?

3 Noag se geloof en standvastigheid het voordele meegebring wat tot vandag toe nog ervaar word. Noag was byna 600 jaar oud toe hy die ark gebou, die diere bymekaargemaak en vir sy bure gepreek het (Genesis 7:6; 2 Petrus 2:5). Weens sy godvrugtige vrees het Noag, tesame met sy familie, die groot Vloed oorleef en die voorvader geword van almal wat vandag op die aarde lewe. Noag het weliswaar gelewe toe die algemene lewensduur langer was. Maar Noag het getrou gebly selfs toe hy baie oud was, en dit het tot betekenisvolle seëninge gelei. Hoe so?

4. Hoe strek Noag se standvastigheid hedendaagse knegte van God tot voordeel?

4 Noag was byna 800 jaar oud toe Nimrod die Toring van Babel begin bou het in verset teen Jehovah se bevel om ‘die aarde te vul’ (Genesis 9:1; 11:1-9). Noag het egter geen aandeel gehad aan Nimrod se opstand nie. Dit is dus waarskynlik dat sy taal nie verander is toe die rebelle se taal verwar is nie. Noag se geloof en standvastigheid, wat nie net op sy oudag nie, maar ook regdeur sy lang lewe gesien is, is waarlik navolgenswaardig vir God se knegte van alle ouderdomme.—Hebreërs 11:7.

Invloed op die familie

5, 6. (a) Wat het Jehovah vir Abraham gesê om te doen toe hy 75 jaar oud was? (b) Hoe het Abraham op God se bevel gereageer?

5 Die invloed wat bejaardes op die geloof van hulle familielede kan hê, kan gesien word in die lewens van die aartsvaders wat ná Noag gelewe het. Abraham was ongeveer 75 jaar oud toe God vir hom gesê het: “Trek weg uit jou land en van jou familielede en van die huis van jou vader af na die land wat ek jou sal wys; en ek sal jou ’n groot nasie maak en ek sal jou seën.”—Genesis 12:1, 2.

6 Stel jou voor daar word vir jou gesê om jou huis, jou vriende, jou geboorteland en die veiligheid van jou uitgebreide familie te verlaat om na ’n land te gaan wat jy nie ken nie. Dit is presies wat Abraham aangesê is om te doen. Hy het “getrek, net soos Jehovah vir hom gesê het”, en hy het vir die res van sy lewe in tente gewoon as ’n vreemdeling en ’n swerwer in die land Kanaän (Genesis 12:4; Hebreërs 11:8, 9). Hoewel Jehovah gesê het dat Abraham “’n groot nasie” sou word, het hy gesterf lank voordat sy nageslag talryk geword het. By sy vrou Sara het hy maar net een seun, Isak, gehad, en dit was eers nadat Abraham al 25 jaar lank as vreemdeling in die land van die belofte gewoon het (Genesis 21:2, 5). Tog het Abraham nie moeg geraak en teruggekeer na die stad waarvandaan hy gekom het nie. Wat ’n goeie voorbeeld van geloof en volharding!

7. Watter uitwerking het Abraham se volharding op sy seun Isak gehad, en waartoe het dit vir die mensdom gelei?

7 Abraham se volharding het ’n kragtige uitwerking op sy seun Isak gehad, wat sy hele lewe—180 jaar—as ’n inwonende vreemdeling in die land Kanaän deurgebring het. Isak se volharding was gegrond op geloof in God se belofte, geloof wat sy bejaarde ouers by hom ingeboesem het en wat later versterk is deur Jehovah se woord aan hom (Genesis 26:2-5). Isak se standvastigheid het ’n sleutelrol gespeel in die vervulling van Jehovah se belofte dat ’n “saad” waardeur die hele mensdom geseën sou word, deur Abraham se familie sou kom. Honderde jare later het Jesus Christus, die vernaamste deel van daardie “saad”, die weg gebaan vir almal wat geloof in hom beoefen om met God versoen te raak en die ewige lewe te geniet.—Galasiërs 3:16; Johannes 3:16.

8. Hoe het Jakob sterk geloof geopenbaar, en met watter gevolg?

8 Isak het op sy beurt sy seun Jakob gehelp om sterk geloof op te bou wat hom tot op sy oudag onderskraag het. Jakob was 97 toe hy ’n hele nag met ’n engel geworstel het om ’n seën te ontvang (Genesis 32:24-28). Voordat hy op 147-jarige ouderdom gesterf het, het Jakob genoeg krag bymekaargeskraap om elkeen van sy 12 seuns te seën (Genesis 47:28). Die profetiese woorde wat hy geuiter het en wat nou in Genesis 49:1-28 opgeteken is, is bewaarheid en word nog steeds vervul.

9. Wat kan gesê word oor die invloed wat geestelik ryp ouer mense op hulle familie het?

9 Dit is duidelik dat bejaarde lojale knegte van God ’n heilsame invloed op hulle familielede kan hê. Skriftuurlike onderrigting tesame met wyse raad en ’n voorbeeld van volharding kan grootliks daartoe bydra dat ’n jong persoon met vaste geloof grootword (Spreuke 22:6). Ouer mense moet nooit die kragtige positiewe invloed onderskat wat hulle op hulle familie kan hê nie.

Invloed op medeaanbidders

10. Wat was Josef se “bevel . . . aangaande sy beendere”, en watter uitwerking het dit gehad?

10 Ouer mense kan ook ’n goeie invloed op medegelowiges hê. Op sy oudag het Jakob se seun Josef ’n eenvoudige daad van geloof verrig wat ’n verreikende uitwerking gehad het op miljoene ware aanbidders wat ná hom gelewe het. Hy was 110 jaar oud toe hy “bevel gegee [het] aangaande sy beendere”, naamlik dat die Israeliete sy beendere saam met hulle moes neem wanneer hulle Egipte uiteindelik verlaat (Hebreërs 11:22; Genesis 50:25). Daardie bevel het as ’n verdere straal van hoop vir Israel gedien gedurende al die jare wat hulle ná Josef se dood as slawe moes dien en het hulle die versekering gegee dat hulle verlossing sou kom.

11. Watter invloed het die bejaarde Moses waarskynlik op Josua gehad?

11 Moses was een van dié wat versterk is deur Josef se blyk van geloof. Toe Moses 80 jaar oud was, het hy die voorreg gehad om Josef se beendere uit Egipteland te neem (Eksodus 13:19). Ongeveer daardie tyd het hy in aanraking gekom met Josua, wat baie jonger as hy was. Josua het die volgende 40 jaar as Moses se persoonlike dienaar gedien (Numeri 11:28). Hy het saam met Moses teen die berg Sinai opgeklim en was daar toe Moses met die tafels van die Getuienis teen die berg afgeklim het (Eksodus 24:12-18; 32:15-17). Wat ’n fontein van volwasse raad en wysheid moes die bejaarde Moses tog vir Josua gewees het!

12. Hoe het Josua sy hele lewe lank ’n positiewe invloed op die nasie Israel gehad?

12 Josua was op sy beurt sy hele lewe lank ’n bron van bemoediging vir die nasie Israel. Rigters 2:7 sê vir ons: “Die volk het Jehovah gedien al die dae van Josua en al die dae van die ouer manne wie se dae ná dié van Josua voortgeduur het en wat al Jehovah se groot werke gesien het wat hy vir Israel gedoen het.” Die dood van Josua en die ander ouer manne het egter ’n tydperk van 300 jaar ingelui waartydens die volk geweifel het tussen ware en valse aanbidding, tot die dae van Samuel die profeet.

Samuel het “regverdigheid bewerkstellig”

13. Hoe het Samuel “regverdigheid bewerkstellig”?

13 Die Bybel sê nie hoe oud Samuel was toe hy gesterf het nie, maar gebeure in die boek Eerste Samuel dek ongeveer 102 jaar, en Samuel het die meeste daarvan beleef. In Hebreërs 11:32, 33 lees ons dat regskape rigters en profete “regverdigheid bewerkstellig het”. Ja, Samuel het van sy tydgenote beïnvloed om oortreding te vermy of die rug toe te keer (1 Samuel 7:2-4). Hoe? Hy was sy hele lewe lank lojaal aan Jehovah (1 Samuel 12:2-5). Hy was nie bang om selfs vir die koning streng raad te gee nie (1 Samuel 15:16-29). Daarbenewens het Samuel, toe hy “oud en grys geword” het, ’n goeie voorbeeld gestel deur vir ander te bid. Hy het gesê dat dit “ondenkbaar [is] om teen Jehovah te sondig deur op te hou . . . bid” vir sy mede-Israeliete.—1 Samuel 12:2, 23.

14, 15. Hoe kan bejaardes Samuel vandag navolg wat gebed betref?

14 Dit alles beklemtoon ’n belangrike manier waarop bejaardes ’n positiewe invloed op medeknegte van Jehovah kan uitoefen. Ondanks beperkings weens gesondheid of ander omstandighede kan diegene wat gevorderd is in jare, vir ander bid. Bejaardes, besef julle hoeveel die gemeente by julle gebede baat vind? Weens julle geloof in Christus se vergote bloed geniet julle ’n goedgekeurde posisie voor Jehovah, en weens julle rekord van volharding het julle geloof ’n “beproefde hoedanigheid” verkry (Jakobus 1:3; 1 Petrus 1:7). Moet nooit vergeet nie: “Die smeking van ’n regverdige het groot krag wanneer dit aan die werk is.”—Jakobus 5:16.

15 Julle gebede ter ondersteuning van Jehovah se Koninkrykswerk is noodsaaklik. Van ons broers is in die gevangenis vanweë hulle Christelike neutraliteit. Ander ly as gevolg van natuurrampe, oorloë en burgertwis. Dan is daar ander, in ons eie gemeentes, wat met versoekings of teenstand te kampe het (Matteus 10:35, 36). Diegene wat die leiding in die predikingswerk en in die gemeentes neem, het ook julle gereelde gebede nodig (Efesiërs 6:18, 19; Kolossense 4:2, 3). Hoe goed is dit tog dat julle medegelowiges in julle gebede meld, soos Epafras gedoen het!—Kolossense 4:12.

Onderrig die geslag wat sal kom

16, 17. Wat is in Psalm 71:18 voorspel, en hoe word dit bewaarheid?

16 Omgang met getroues van die “klein kuddetjie”, diegene met die hemelse roeping, het noodsaaklike opleiding voorsien aan diegene van die “ander skape”, wat die hoop het om vir ewig op aarde te lewe (Lukas 12:32; Johannes 10:16). Dit is voorspel in Psalm 71:18, wat lui: “Selfs tot die ouderdom en grysheid toe, o God, moet u my nie verlaat nie, totdat ek vir die geslag van u arm kan vertel, vir almal wat sal kom, van u mag.” Geesgesalfdes is gretig om hulle metgeselle, die ander skape, op te lei vir groter verantwoordelikhede voordat hulle hulle verlaat om saam met Jesus Christus verheerlik te word.

17 In beginsel kan die woorde van Psalm 71:18 oor die onderrigting van diegene “wat sal kom”, ook toegepas word op die ander skape, wat onderrigting by God se gesalfdes ontvang het. Jehovah het ouer mense die voorreg gegee om vir diegene wat nou ware aanbidding aanneem, van hom te vertel (Joël 1:2, 3). Die ander skape voel geseënd vanweë die dinge wat hulle by gesalfdes geleer het en kan nie anders nie as om vir ander wat Jehovah graag wil dien, van hulle skriftuurlike opvoeding te vertel.—Openbaring 7:9, 10.

18, 19. (a) Watter kosbare inligting kan talle ouer knegte van Jehovah oordra? (b) Waarvan kan bejaarde Christene seker wees?

18 Ouer knegte van Jehovah, gesalfdes sowel as dié van die ander skape, is ’n lewende skakel met belangrike geskiedkundige gebeure. ’n Paar wat nog lewe, was by die oorspronklike vertonings van die “Fotodrama van die Skepping”. Party het die broers wat die leiding geneem het en in 1918 in die gevangenis gesit is, persoonlik geken. Ander het deelgeneem aan uitsendings oor die Wagtoring-radiostasie, WBBR. Baie kan vertel van die tyd toe hofsake oor die godsdiensvryheid van Jehovah se Getuies in die hoogste howe gevoer is. Nog ander het ferm standpunt ingeneem vir ware aanbidding terwyl hulle onder diktatorskappe gelewe het. Ja, bejaardes kan vertel hoe begrip van die waarheid progressief geopenbaar is. Die Bybel moedig ons aan om by hierdie oorvloedige ondervinding baat te vind.—Deuteronomium 32:7.

19 Bejaarde Christene word aangespoor om goeie voorbeelde vir jonger mense te wees (Titus 2:2-4). Dalk sien jy nie nou die uitwerking wat jou volharding, gebede en raad op ander het nie. Noag, Abraham, Josef, Moses en ander kon onmoontlik geweet het watter groot invloed hulle getrouheid op toekomstige geslagte sou hê. Tog was hulle erfenis van geloof en onkreukbaarheid van groot waarde; en joune is ook.

20. Watter seëninge wag op diegene wat tot die einde toe stewig vashou aan hulle hoop?

20 Hetsy jy deur die “groot verdrukking” behoue bly of in die opstanding teruggebring word, wat ’n vreugde sal dit tog wees om “die werklike lewe” te geniet! (Matteus 24:21; 1 Timoteus 6:19). Stel jou die tyd voor gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus wanneer Jehovah die gevolge van die ouderdom ongedaan sal maak. In plaas daarvan om die meedoënlose agteruitgang van ons liggame te ondervind, sal ons elke dag wakker word met al hoe beter fisiese gesondheid—meer energie, skerper sig, fyner gehoor, ’n beter voorkoms! (Job 33:25; Jesaja 35:5, 6). Diegene wat met lewe in God se nuwe wêreld geseën word, sal altyd jonk wees in vergelyking met die ewigheid wat nog ondervind moet word (Jesaja 65:22). Mag ons almal dus tot die einde toe stewig vashou aan ons hoop en voortgaan om Jehovah heelhartig te dien. Ons kan die vertroue hê dat Jehovah alles wat hy belowe het, sal vervul en dat wat hy gaan doen, al ons verwagtinge ver sal oortref.—Psalm 37:4; 145:16.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe het die standvastigheid van die bejaarde Noag tot seëninge vir die hele mensdom gelei?

• Watter uitwerking het die geloof van die aartsvaders op hulle nakomelinge gehad?

• Hoe het Josef, Moses, Josua en Samuel op gevorderde leeftyd medeaanbidders versterk?

• Watter erfenis kan ouer mense nalaat?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 26]

Abraham se volharding het ’n kragtige uitwerking op Isak gehad

[Prent op bladsy 28]

Moses se volwasse raad het Josua aangemoedig

[Prent op bladsy 29]

Jou gebede vir ander kan van groot waarde wees

[Prent op bladsy 30]

Jongmense vind daarby baat om na getroue ouer mense te luister