Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Besnydenis—’n Teken van manlikheid?

Besnydenis—’n Teken van manlikheid?

Besnydenis’n Teken van manlikheid?

IN BAIE dele van die wêreld word babaseuntjies as ’n gesondheidsmaatreël besny. In ander dele van die wêreld is dit gebruiklik vir mans om lewenslank onbesnede te bly. Vir party, soos Jode en Moslems, is besnydenis meer as ’n gesondheidsmaatreël; dit het godsdienstige betekenis.

Maar in sekere volke word ’n besnydenisritueel uitgevoer wanneer ’n seun die manlike jare bereik. Dit behels gewoonlik dat die seun na ’n tradisionele skool gestuur word, waar hy besny word en ’n aantal weke van die gemeenskap afgesonder word totdat hy van die operasie herstel het. Gedurende hierdie tyd moet die seun spesifieke rituele volg en word hy geleer om ’n man te wees. Is hierdie soort besnydenis nodig om te bewys dat ’n seun ’n man geword het? Kom ons kyk na wat die Bybel sê oor God se beskouing van die saak.—Spreuke 3:5, 6.

God se beskouing van besnydenis

Party volke in die ou tyd, soos die Egiptenare, het besnydenis beoefen, dit is die verwydering van die voorhuid van die manlike geslagsorgaan. Abraham was egter nie in so ’n kultuur gebore nie. Trouens, vir die grootste deel van sy lewe was Abraham onbesnede. Wat meer is, in sy onbesnede staat het Abraham bewys dat hy ’n dapper man is. Met ’n klein groepie mans het hy die strydmagte van vier konings wat sy broerskind Lot gevange geneem het, agternagesit en verslaan (Genesis 14:8-16). Omtrent 14 jaar later het God Abraham beveel om besny te word en om sy hele huishouding te besny. Waarom het God dit gedoen?

Dit was allermins ’n teken dat Abraham nie meer ’n seun was nie, maar ’n man geword het. Hy was immers 99 jaar oud! (Genesis 17:1, 26, 27). God het die rede vir hierdie bevel gegee en gesê: “Julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal dien as ’n teken van die verbond tussen my en julle” (Genesis 17:11). Daardie Abrahamitiese verbond het God se belofte ingesluit dat daar deur Abraham uiteindelik groot seëninge oor “al die families van die aarde” sal kom (Genesis 12:2, 3). In God se oë het besnydenis dus niks met manlikheid te doen gehad nie. Dit is uitgevoer om te wys dat iemand een van die Israelitiese afstammelinge van Abraham was, aan wie “die heilige verklarings van God . . . toevertrou is”.—Romeine 3:1, 2.

Die nasie Israel het later bewys dat hulle nie hierdie voorreg waardig was nie deur die ware Saad van Abraham, Jesus Christus, te verwerp. Gevolglik het God hulle verwerp, en hulle besnede staat het geen betekenis meer in God se oë gehad nie. Maar party Christene in die eerste eeu G.J. het volgehou dat besnydenis nog steeds ’n goddelike vereiste is (Handelinge 11:2, 3; 15:5). As gevolg hiervan het die apostel Paulus Titus gestuur om in verskeie gemeentes ‘die dinge wat gebrekkig was, reg te stel’. Paulus het aan Titus oor een van hierdie gebrekkige dinge geskryf: “Daar is talle weerbarstiges, onsinpraters en bedrieërs van die verstand, veral dié wat aan die besnydenis vashou. Dit is nodig om hulle mond te snoer, aangesien juis hulle aanhou om hele huisgesinne te ondermyn deur ter wille van oneerlike gewin dinge te leer wat hulle nie behoort te leer nie.”—Titus 1:5, 10, 11.

Paulus se raad is nog steeds van toepassing. Dit sal beslis teenstrydig met die Skrif wees as ’n ware Christen sou voorstel dat iemand anders se kind besny moet word. ’n Christen moenie “hom met ander se sake bemoei nie”, maar moet eerder sulke persoonlike besluite aan die ouers oorlaat (1 Petrus 4:15). Paulus is bowendien geïnspireer om aangaande besnydenis volgens die Mosaïese Wet te skryf: “Is iemand as besnedene geroep? Laat hom nie onbesnede word nie. Is iemand as onbesnedene geroep? Laat hom nie besny word nie. Die besnydenis beteken hoegenaamd niks, en onbesnedenheid beteken hoegenaamd niks, maar die onderhouding van God se gebooie. Laat elkeen bly in watter staat hy ook al geroep is.”—1 Korintiërs 7:18-20.

Wat van “besnydenisskole”?

Sê nou Christenouers besluit dat hulle seuns besny moet word? Sal dit in ooreenstemming met die Bybel wees om hulle seuns na die sogenaamde besnydenisskole te stuur wat vroeër gemeld is? Die bywoning van hierdie skole behels veel meer as die chirurgiese verwydering van die voorhuid. Iemand wat so ’n skool bywoon, sal ’n aantal weke lank saam met seuns en onderwysers bly wat nie aanbidders van Jehovah is nie. Baie dinge wat by hierdie skole geleer word, is in stryd met die Bybel se hoë sedelike standaarde. Die Bybel waarsku: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.”—1 Korintiërs 15:33.

Daar is ook al hoe meer fisiese gevare daaraan verbonde om hierdie skole by te woon. In 2003 het die South African Medical Journal gewaarsku: “Skokkende gevolge van besnydenis is weer vanjaar waargeneem, met berigte van sterftes en verminking wat regoor die wêreld deur al die vername nuusdienste versprei word. . . . Kortom, baie van die sogenaamde ‘besnydenisskole’ van vandag is nie egte skole nie en is dodelik.”

Benewens die fisiese skade wat ’n jong man aangedoen kan word, is daar selfs ’n groter geestelike gevaar. Die leringe en gebruike by besnydenisskole hou ten nouste verband met spiritisme en die aanbidding van afgestorwe voorouers. Byvoorbeeld, in plaas van te erken dat nalatige dokters en onhigiëniese toestande verantwoordelik is vir die skade, glo baie dat toordery of die misnoeë van die afgestorwe voorouers die oorsaak van hierdie tragedies is. Die Bybel beveel aangaande enigiets wat met valse godsdiens verband hou: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie. Want watter gemeenskap het regverdigheid en wetteloosheid? Of watter deelgenootskap het lig met duisternis? . . . ’Gaan dus onder hulle uit en sonder julle af’, sê Jehovah, ‘en hou op om wat onrein is, aan te raak’; ‘en ek sal julle inneem’” (2 Korintiërs 6:14-17). Met die oog op hierdie raad sal dit beslis onverstandig van Christenouers wees om hulle seuns na ’n besnydenisskool te stuur.

Wat maak ’n Christen manlik?

’n Christenman se manlikheid het niks daarmee te doen of hy besny is of nie. Die hoofsaak vir ware Christene is om aanneemlik in die oë van God te wees, nie om “’n innemende vertoning in die vlees [te] maak” nie.—Galasiërs 6:12.

Maar om aanneemlik vir God te wees, moet ’n Christen se ‘hart besny word’ (Deuteronomium 10:16; 30:6; Matteus 5:8). Dit word gedoen, nie deur met ’n mes te sny nie, maar deur verkeerde begeertes en trotse gedagtes te verwerp, soos die opvatting dat iemand wat in die vlees besny is, beter is as ander. Deur beproewinge te verduur en “vas in die geloof” te staan, kan ’n Christen bewys dat hy manlik is, hetsy hy besny is of nie.—1 Korintiërs 16:13; Jakobus 1:12.