Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Boosheid—Is dit buite beheer?

Boosheid—Is dit buite beheer?

Boosheid—Is dit buite beheer?

’n Nuuskierige seuntjie tel iets in ’n veld op—’n landmyn—en is lewenslank verblind en vermink. ’n Ma wil nie haar pasgebore baba hê nie en steek hom in rommel langs die pad weg. ’n Afgedankte werker keer terug na sy vorige werksplek en skiet almal in sig, waarna hy homself om die lewe bring. ’n Gesiene burger molesteer weerlose kinders.

ONGELUKKIG het berigte van sulke bose dade vandag baie algemeen geword. Wat nog erger is, is dat hierdie berigte dikwels oorskadu word deur verslae van etniese suiwering, volksmoord en terrorisme. “Op sy slegste was dit Satan se eeu”, het ’n hoofartikel gesê wat in 1995 gepubliseer is. “In geen vorige tydperk het mense so ’n geneigdheid, en drang, geopenbaar om miljoene ander mense weens hulle ras, godsdiens of stand dood te maak nie.”

Terselfdertyd besoedel mense die lug en die aarde, put hulle die hulpbronne uit en bring hulle tallose diersoorte tot op die randjie van uitsterwing. Kan die mensdom al hierdie bose toestande uit die weg ruim en die wêreld ’n beter, veiliger plek maak? Of sal ’n poging om dit te doen, dieselfde wees as om die gety met ’n besem te probeer terugvee? ’n Professor wat al baie oor die onderwerp van boosheid geskryf het, het gesê: “Ek wou bitter graag ’n verskil in die wêreld maak, die wêreld probeer verbeter. Maar daar is geen sigbare verbetering in die wêreld nie.” Miskien voel jy ook so.

Die wêreld stuur op rampspoed af, soos ’n skip wat in waters vaar wat elke dag onstuimiger en gevaarliker word. Hoewel niemand in dié rigting wil gaan nie, misluk elke poging om van koers te verander. Die vaartuig beweeg eenvoudig reguit, onkeerbaar, in die dodelike storm in.

Hierdie immer verslegtende situasie kan in sekere mate aan menslike onvolmaaktheid toegeskryf word (Romeine 3:23). Maar dit wil voorkom of die omvang en algemeenheid van boosheid sowel as die meedoënloosheid waarmee dit voortwoed, nie bloot aan die kwaadwilligheid van mense toegeskryf kan word nie. Is dit moontlik dat die mensdom deur ’n onsigbare maar kragtige en boosaardige mag gemanipuleer word? Indien wel, wat is dit, en hoe kan ons ons beskerm? Die volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.

[Foto-erkenning op bladsy 3]

© Heldur Netocny/Panos Pictures