Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die bron van boosheid ontmasker!

Die bron van boosheid ontmasker!

Die bron van boosheid ontmasker!

IN DIE eerste eeu het baie van die Jode gewag op die koms van die beloofde Messias (Johannes 6:14). Toe Jesus verskyn het, het hy vertroosting en lig gebring. Hy het die siekes genees, dié wat honger was, gevoed, die elemente beheer en selfs die dooies opgewek (Matteus 8:26; 14:14-21; 15:30, 31; Markus 5:38-43). Hy het ook Jehovah se woorde gespreek en die belofte van die ewige lewe aan mense voorgehou (Johannes 3:34). Deur sy woorde en dade het Jesus onteenseglik bewys dat hy die Messias is, die een wat die mensdom van sonde en al die bose gevolge daarvan sou bevry.

Die Joodse godsdiensleiers moes logieserwys die eerstes gewees het om Jesus te verwelkom, na hom te luister en sy leiding vreugdevol te aanvaar. Maar hulle het nie. Hulle het hom eerder gehaat, vervolg en saamgesweer om hom dood te maak!—Markus 14:1; 15:1-3, 10-15.

Jesus het hierdie laakbare manne tereg veroordeel (Matteus 23:33-35). Maar hy het besef dat iemand anders deels verantwoordelik is vir die boosheid in hulle harte. Hy het vir hulle gesê: “Julle is van julle vader die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader doen. Hy was ’n mensemoordenaar toe hy begin het, en hy het nie in die waarheid vasgestaan nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy die leuen spreek, spreek hy ooreenkomstig sy eie geaardheid, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen” (Johannes 8:44). Hoewel Jesus erken het dat mense in staat is tot bose dade, het hy gewys op die bron van boosheid—Satan die Duiwel.

Deur te sê dat Satan “nie in die waarheid vasgestaan [het] nie”, het Jesus geopenbaar dat hierdie geesskepsel vroeër ’n getroue kneg van God was, maar dat hy van daardie regte weg afgewyk het. Waarom het Satan teen Jehovah in opstand gekom? Omdat hy in so ’n mate gevoelens van eiewaan gekoester het dat hy later die aanbidding begeer het wat God alleen toekom. aMatteus 4:8, 9.

Satan se opstand het in die tuin van Eden tot uiting gekom toe hy Eva bedrieg het sodat sy die verbode vrug geëet het. Deur die heel eerste leuen te vertel en deur Jehovah te belaster, het Satan homself “die vader van die leuen” gemaak. Verder het hy, deur Adam en Eva te verlok om ongehoorsaam te wees, veroorsaak dat sonde oor hulle heers, wat uiteindelik tot hulle dood en die dood van toekomstige geslagte gelei het. So het Satan homself ook “’n mensemoordenaar” gemaak—ja, die afgryslikste moordenaar van alle tye!—Genesis 3:1-6; Romeine 5:12.

Satan se bose invloed het selfs tot in die geesteryk gestrek, waar hy ander engele oorgehaal het om by hom aan te sluit in sy opstand (2 Petrus 2:4). Soos Satan het hierdie bose geeste ’n ongepaste belangstelling in mense getoon. Maar in hulle geval was dit ’n verdorwe seksuele belangstelling, met rampspoedige, bose gevolge.

Boosheid vul die aarde

Die Bybel sê vir ons: “Toe die mense . . . in getal begin toeneem het en dogters vir hulle gebore is, het die seuns van die ware God die dogters van die mense begin opmerk, dat hulle mooi is; en hulle het vir hulle vrouens geneem, naamlik almal wat hulle verkies het” (Genesis 6:1, 2). Wie was hierdie “seuns van die ware God”? Hulle was geesskepsele, nie mense nie (Job 1:6; 2:1). Hoe weet ons dit? Om maar een ding te noem, huwelike tussen mense het toe al sowat 1 500 jaar lank plaasgevind en het nie spesiale vermelding geregverdig nie. Deur dus die aandag te vestig op die seksuele verbintenisse van “die seuns van die ware God” wat gematerialiseer en “die dogters van die mense” geneem het, verwys die verslag ongetwyfeld na iets wat ongehoord, abnormaal was.

Die feit dat dit abnormaal was, word bevestig deur die soort kinders wat uit hierdie verbintenisse gebore is. Hulle is die Nefilim genoem en was ’n bastergeslag wat reuse geword het. Hulle was ook wrede bullebakke. Trouens, “Nefilim” beteken “Neervellers”, of “dié wat ander laat val”. Daardie wreedaards word beskryf as “die sterkes van die ou tyd, die manne van naam”.—Genesis 6:4, voetnoot in NW.

Die Nefilim en hulle vaders het goddeloosheid tot nuwe hoogtes gevoer. “Die aarde het verdorwe geraak voor die oë van die ware God en . . . het vol geweld geraak”, sê Genesis 6:11. Ja, mense het die gewelddadige, verdorwe weë van die nuwelinge in hulle midde aangeneem.

Hoe het die Nefilim en hulle vaders so ’n kragtige bose invloed op mense uitgeoefen? Deur die mensdom se sondige neigings en begeertes uit te buit. Die gevolg? “Alle vlees het sy weg op die aarde verderf.” Uiteindelik het Jehovah daardie wêreld in ’n aardwye Vloed vernietig en net regverdige Noag en sy gesin gespaar (Genesis 6:5, 12-22). Die gematerialiseerde engele het egter in oneer na die geesteryk teruggekeer. As verdorwe demone het hulle voortgegaan om God en sy regverdige gesin van lojale engele teë te staan. God het hierdie bose geeste klaarblyklik sedert daardie tyd belet om te materialiseer (Judas 6). Hulle oefen nietemin nog steeds ’n kragtige invloed op menseaangeleenthede uit.

Die bose heeltemal ontmasker!

Die omvang van Satan se bose invloed word in 1 Johannes 5:19 geopenbaar, wat sê: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose.” Die Duiwel stuur die mensdom op listige wyse in die rigting van ’n storm van toenemende ellende. Trouens, hy is meer vasbeslote as ooit tevore om skade aan te rig. Waarom? Omdat hy en die demone ná die oprigting van God se Koninkryk in 1914 uit die hemel gewerp is. Die Bybel het oor hierdie uitwerping voorspel: “Wee die aarde . . . , want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het” (Openbaring 12:7-12). Hoe oefen Satan dan vandag sy invloed oor die mensdom uit?

Satan doen dit hoofsaaklik deur ’n gees te bevorder wat mense se denke en dade rig. Gevolglik noem Efesiërs 2:2 die Duiwel “die heerser van die gesag van die lug, die gees [of, oorheersende gesindheid] wat nou in die seuns van die ongehoorsaamheid werk”. In plaas van godvrugtige vrees en goedheid aan te wakker, verwek hierdie demoniese “lug” opstand teen God en sy standaarde. Satan en sy demone bevorder en vererger dus die boosheid wat deur mense bedryf word.

“Bewaak jou hart”

Een manier waarop hierdie “lug” geopenbaar word, is deur die plaag van pornografie, wat verkeerde seksuele begeertes wek en afwykende gedrag aanloklik laat lyk (1 Tessalonisense 4:3-5). Verkragting, sadisme, groepsverkragting, bestialiteit en seksuele molestering van kinders is party van die dinge wat pornografie as vermaaklik voorstel. Selfs die minder skadelike vorme van pornografie kan uiters verslawend wees en benadeel diegene wat daarna kyk of dit lees deur as ’t ware van hulle gewoonteafloerders te maak. b Dit is ’n euwel wat menseverhoudinge sowel as jou verhouding met God benadeel. Pornografie weerspieël die verdorwe mentaliteit van die demone wat dit bevorder—opstandelinge wie se ongepaste seksuele begeertes uit die wêreld voor die Vloed van Noag se dag dateer.

Die wyse man Salomo het met goeie rede gemaan: “Bewaak jou hart meer as enigiets anders wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23). Om jou hart teen die strik van pornografie te bewaak, kan in praktiese terme beteken dat jy die TV-kanaal moet verander of die rekenaar moet afskakel wanneer wellustige beelde verskyn, en dit is belangrik om vinnig en op besliste wyse op te tree! Dink aan jouself as ’n soldaat wat probeer keer dat ’n koeël jou hart tref. Satan se teiken is jou figuurlike hart—die setel van jou motivering en begeertes—en hy probeer dit verderf.

Jy moet ook jou hart teen liefde vir geweld beskerm, want die Duiwel weet dat Jehovah “beslis elkeen [haat] wat geweld liefhet” (Psalm 11:5). Satan hoef jou nie in ’n bloeddorstige booswig te verander om jou ’n vyand van God te maak nie; hy hoef maar net ’n liefde vir geweld in jou aan te wakker. Dit is geen toeval dat die gewilde media vol geweld, dikwels met okkulte temas, is nie. Die Nefilim is lankal dood, maar hulle eienskappe en gedrag lewe baie beslis voort! Toon jou keuse van vermaak dat jy Satan se planne weerstaan?—2 Korintiërs 2:11.

Hoe om Satan se bose invloed te weerstaan

Bose magte kan gedug lyk. Die Bybel toon dat diegene wat God probeer behaag, nie net ’n stryd teen hulle eie onvolmaakte vlees het nie, maar ook “’n worstelstryd . . . teen die bose geesmagte”. Om die stryd te wen en God se guns te geniet, moet ons al die voorsienings van God benut.—Efesiërs 6:12; Romeine 7:21-25.

Hierdie voorsienings sluit God se heilige gees in, die sterkste krag in die heelal. Die apostel Paulus het aan eerste-eeuse Christene geskryf: “Ons het nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die gees wat van God kom” (1 Korintiërs 2:12). Diegene wat deur God se gees gelei word, leer om lief te kry wat God liefhet en te haat wat hy haat (Amos 5:15). Hoe kan ’n mens heilige gees ontvang? Hoofsaaklik deur gebed, Bybelstudie—aangesien die Bybel ’n produk van die heilige gees is—en heilsame omgang met diegene wat werklik lief is vir God.—Lukas 11:13; 2 Timoteus 3:16; Hebreërs 10:24, 25.

As jy hierdie goddelike voorsienings benut, begin jy “die volle wapenrusting van God” aantrek, wat die enigste onfeilbare beskerming teen “die sette van die Duiwel” is (Efesiërs 6:11-18). Dit is nou dringender as ooit tevore om ten volle gebruik te maak van hierdie voorsienings. Hoe so?

Die einde van boosheid is op hande!

“Wanneer die goddeloses uitspruit soos die plante en almal wat skadelike dinge beoefen, bloei, is dit sodat hulle vir ewig verdelg kan word”, sê die psalmis (Psalm 92:7). Ja, soos in Noag se dag is die huidige toename in boosheid ’n bewys dat God se oordeel op hande is, nie net teen goddelose mense nie, maar ook teen Satan en sy demone, wat in ’n afgrond van onbedrywigheid gewerp sal word as ’n voorspel tot hulle uiteindelike vernietiging (2 Timoteus 3:1-5; Openbaring 20:1-3, 7-10). Wie sal hierdie oordeel voltrek? Niemand anders nie as Jesus Christus, van wie ons lees: “Met dié doel is die Seun van God openbaar gemaak, naamlik om die werke van die Duiwel te verbreek.”—1 Johannes 3:8.

Smag jy na die einde van boosheid? Dan kan jy vertroosting put uit die beloftes in die Bybel. Geen ander boek ontmasker die bron van boosheid, Satan, nie, en geen ander boek toon hoe hy en al sy bose werke uiteindelik vernietig sal word nie. Ons spoor jou aan om juiste kennis van die Bybel in te neem, sodat jy jou nou teen Satan se bose invloede kan beskerm en die hoop op lewe in ’n wêreld sonder boosheid kan verkry.—Psalm 37:9, 10.

[Voetnote]

a Ons weet nie wat die oorspronklike naam was van die engel wat Satan geword het nie. Die woorde “Satan” en “Duiwel” beteken “Teenstander” en “Lasteraar”. In sekere opsigte kom Satan se weg ooreen met dié van die eertydse koning van Tirus (Esegiël 28:12-19). Albei was aan die begin onberispelik in hulle weë, maar het later slagoffers van hulle eie hoogmoed geword.

b Sien die reeks “Pornografie—Skadelik of onskadelik?” in die Ontwaak! van 22 Julie 2003, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster/Prent op bladsy 6]

Legendes waarin ’n greintjie waarheid steek

Stories oor halfgode, reuse en ’n rampspoedige vloed word in ou mitologieë regoor die wêreld gevind. Byvoorbeeld, die Gilgamesj-epos van die Akkadiërs meld ’n vloed, ’n skip en oorlewendes. Gilgamesj self is beskryf as ’n wellustige, gewelddadige halfgod, dit wil sê gedeeltelik god, gedeeltelik mens. Asteekse mitologie vertel van ’n eertydse wêreld wat deur reuse bewoon is en van ’n groot vloed. ’n Noorse legende beskryf ’n ras van reuse en ’n wyse man genaamd Bergelmir wat ’n groot boot gebou en hom en sy vrou gered het. Die gesamentlike getuienis van al hierdie legendes staaf die Bybel se getuienis dat alle mense nakomelinge is van die oorlewendes van ’n vloed waardeur ’n goddelose wêreld van die ou tyd vernietig is.

[Prent]

’n Tablet waarop die Gilgamesj-epos gegraveer is

[Erkenning]

The University Museum, University of Pennsylvania (neg. # 22065)

[Prent op bladsy 5]

Die eienskappe van die Nefilim word vandag in mense gesien

[Prent op bladsy 7]

Juiste kennis versterk ons teen bose invloede