Die mag van die tong
Die mag van die tong
DIE kameelperd se tong is tot 45 sentimeter lank en is buigsaam en sterk genoeg om blare van boomtakke af te trek. Die blouwalvis se tong is so swaar soos ’n olifant. Stel jou voor hoeveel krag nodig is net om dit te beweeg!
In vergelyking hiermee is die mensetong onbeduidend wat grootte, gewig en krag betref. Tog is dit baie magtiger. “Dood en lewe is in die mag van die tong”, sê die Bybel van hierdie klein lid van die menseliggaam (Spreuke 18:21). Ja, hoeveel keer het ons al gehoor hoe die dodelike mag van die mensetong gebruik word om leuens en valse getuienis te versin wat ondergang, selfs die dood, vir onskuldige slagoffers meebring?
Ou vriendskappe is eweneens al deur kwetsende opmerkings verwoes. Emosies is deur harde woorde verbrysel. “Hoe lank sal julle my siel bly irriteer en my met woorde bly verbrysel?” het Job uitgeroep, van wie baie slegte dinge gesê is (Job 19:2). Die dissipel Jakobus het ’n treffende beskrywing gegee van die verwoestende mag van ’n onbeteuelde tong: “Die tong [is] ’n klein lid, en tog praat hy baie groot. Kyk! Wat ’n klein vuurtjie is nodig om so ’n groot bos aan die brand te steek! Wel, die tong is ’n vuur.”—Jakobus 3:5, 6.
Die mag van die tong kan egter ook lewegewend wees. Simpatieke en vertroostende woorde het party al gehelp om depressie te bowe te kom en hulle van selfmoord gered. Goeie raad het dwelmgebruikers en straatboewe al van ’n ontydige dood gered wanneer hulle dit toegepas het. Ja, die vrugte van ’n regverdige se tong is “’n lewensboom”, en “soos goue appels in silwersnywerk is ’n woord wat op sy regte tyd gespreek word”.—Spreuke 15:4; 25:11.
Maar die beste manier om die tong te gebruik, is om Jehovah God te loof, die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en ander mense die kosbare waarhede van die Bybel te leer. Waarom? Jesus het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3; Matteus 24:14; 28:19, 20.