Floreer geestelik in die grysheid
Floreer geestelik in die grysheid
“Dié wat in die huis van Jehovah geplant is, . . . sal nog in die grysheid bly floreer.”—PSALM 92:13, 14.
1, 2. (a) Hoe word die ouderdom dikwels beskryf? (b) Wat belowe die Skrif in verband met die uitwerking van Adamitiese sonde?
DIE OUDERDOM—waaraan laat hierdie uitdrukking jou dink? Plooie? Hardhorendheid? Swak ledemate? Of aan ’n ander aspek van “die rampspoedige dae” wat so duidelik in Prediker 12:1-7 uitgebeeld word? Indien wel, is dit belangrik om in gedagte te hou dat die beskrywing in Prediker hoofstuk 12 veroudering uitbeeld, nie soos die Skepper, Jehovah God, oorspronklik bedoel het dit moes wees nie, maar as die gevolg van Adamitiese sonde op die menseliggaam.—Romeine 5:12.
2 Veroudering op sigself is nie ’n vloek nie, want ’n voortgesette bestaan vereis die verloop van jare. Trouens, groei en volwassenheid is iets begeerliks by alle lewende dinge. Die skade wat ons om ons sien en wat deur sesduisend jaar van sonde en onvolmaaktheid veroorsaak is, sal binnekort iets van die verlede wees, en alle gehoorsame mense sal die lewe geniet soos dit oorspronklik moes gewees het, sonder die pyn van die ouderdom en die dood (Genesis 1:28; Openbaring 21:4, 5). Dan sal “geen inwoner . . . sê: ‘Ek is siek’ nie” (Jesaja 33:24). Bejaardes sal terugkeer na die dae van hulle “jeugdige krag”, en hulle vlees sal “frisser word as in die jeug” (Job 33:25). Maar vir eers het almal met die Adamitiese erfenis te kampe. Knegte van Jehovah word nietemin op spesiale maniere geseën namate hulle ouer word.
3. Hoe kan Christene “in die grysheid bly floreer”?
3 God se Woord verseker ons dat “dié wat in die huis van Jehovah geplant is, . . . nog in die grysheid [sal] bly floreer” (Psalm 92:13, 14). In figuurlike taal het die psalmis die grondwaarheid gemeld dat getroue knegte van God kan voortgaan om geestelik te vorder, te gedy en voorspoedig te wees, selfs al gaan hulle liggaamlik agteruit. Talle Bybelse en hedendaagse voorbeelde bevestig dit.
‘Nooit afwesig nie’
4. Hoe het die bejaarde profetes Anna haar toegewydheid aan God getoon, en hoe is sy beloon?
4 Neem byvoorbeeld die eerste-eeuse profetes Anna. Op 84-jarige ouderdom was sy “nooit van die tempel afwesig . . . nie en [het sy] nag en dag met vaste en smekinge heilige diens verrig”. As ’n vrou wie se vader ’n nie-Leviet “uit die stam Aser” was, kon Anna nie letterlik by die tempel woon nie. Dink net wat dit van haar moes geverg het om elke dag van die tyd van die oggenddiens tot die tyd van die aanddiens by die tempel te wees! Maar Anna is ryklik beloon vir haar toegewydheid. Sy het die voorreg gehad om daar te wees toe Josef en Maria Jesus as ’n baba na die tempel gebring het om hom volgens die Wet voor Jehovah te stel. Toe sy Jesus sien, het Anna “begin om dank aan God te betuig en met almal wat op Jerusalem se verlossing gewag het, oor die kind te praat”.—Lukas 2:22-24, 36-38; Numeri 18:6, 7.
5, 6. Hoe openbaar talle bejaardes vandag ’n gees soos dié van Anna?
5 Vandag is talle bejaardes onder ons soos Anna deurdat hulle vergaderinge gereeld bywoon, ernstige smeekbedes doen ter bevordering van ware aanbidding en ’n vurige begeerte het om die goeie nuus te verkondig. ’n Broer in sy tagtigerjare wat Christelike vergaderinge gereeld saam met sy vrou bywoon, het gesê: “Ons het die gewoonte aangekweek om na die vergaderinge toe te gaan. Ons wil nêrens anders wees nie. Waar God se volk is, daar wil ons wees. Dis waar ons tuis voel.” Wat ’n bemoedigende voorbeeld vir almal!—Hebreërs 10:24, 25.
6 “As daar enige geestelike geleentheid is waaraan ek kan deel hê, wil ek dit doen.” Dit is Jean se leuse, ’n Christenweduwee in haar tagtigerjare. “Daar is natuurlik tye wanneer ek hartseer voel”, sê sy verder, “maar waarom moet almal om my saam met my hartseer wees?” Met glinsterende oë het sy vertel watter vreugde dit haar verskaf om ander lande vir opbouende geestelike geleenthede te besoek. Op ’n onlangse reis het sy vir haar metgeselle gesê: “Ek wil nie nog kastele sien nie; ek wil in die veldbediening uitgaan!” Hoewel sy nie die plaaslike taal kon praat nie, kon Jean mense se belangstelling in die Bybel se boodskap wek. Sy het ook etlike jare saam met ’n gemeente gewerk wat hulp nodig gehad het, al moes sy ’n nuwe taal leer en ’n uur lank na die vergaderinge reis.
Hou die verstand aktief
7. Hoe het Moses in sy latere jare sy begeerte uitgespreek om in sy verhouding met God te groei?
7 Lewenservaring kom met die verloop van tyd (Job 12:12). Geestelike vooruitgang daarenteen kom nie outomaties met die ouderdom nie. Lojale knegte van God vertrou dus nie bloot op die kennis wat hulle in die verlede opgedoen het nie, maar streef eerder daarna om met die verloop van jare ‘in kundigheid toe te neem’ (Spreuke 9:9). Toe Moses sy opdrag van Jehovah ontvang het, was hy 80 jaar oud (Eksodus 7:7). Teen sy dag was dit klaarblyklik ongewoon om so oud te word, want hy het geskryf: “Die dae van ons jare is op sigself sewentig jaar; en . . . weens besondere krag tagtig jaar” (Psalm 90:10). Moses het nietemin nooit gevoel dat hy te oud is om te leer nie. Nadat hy God dekades lank gedien het, talle voorregte geniet het en gewigtige verantwoordelikhede gedra het, het Moses Jehovah gesmeek: “Maak . . . asseblief u weë aan my bekend, dat ek u kan ken” (Eksodus 33:13). Dit was altyd Moses se begeerte om in sy verhouding met Jehovah te groei.
8. Hoe het Daniël tot in sy negentigerjare sy verstand aktief gehou, en wat was die resultate?
8 Die profeet Daniël het, waarskynlik in sy negentigerjare, nog steeds die heilige geskrifte bestudeer. Die dinge wat hy onderskei het deur sy studie van “die boeke”—wat moontlik Levitikus, Jesaja, Jeremia, Hosea en Amos ingesluit het—het hom beweeg om Jehovah in vurige gebed te soek (Daniël 9:1, 2). Daardie gebed is verhoor met geïnspireerde inligting aangaande die koms van die Messias en die toekoms van ware aanbidding.—Daniël 9:20-27.
9, 10. Wat het party gedoen om hulle verstand aktief te hou?
9 Soos Moses en Daniël kan ons probeer om ons verstand aktief te hou deur op geestelike sake te konsentreer so lank as wat dit vir ons moontlik is. Baie doen juis dit. Worth, ’n Christen- ouer man in sy tagtigerjare, probeer op hoogte bly met die geestelike voedsel wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word (Matteus 24:45). Hy sê: “Ek is só lief vir die waarheid, en ek is verheug om te sien hoe die lig van waarheid al hoe helderder word” (Spreuke 4:18). So ook vind Fred, wat meer as 60 jaar in die voltydse bediening deurgebring het, dit geestelik stimulerend om Bybelgesprekke met medegelowiges aan te knoop. “Ek moet die Bybel lewend hou in my verstand”, sê hy. “As jy die Bybel kan laat lewe—dit betekenisvol kan maak—en as jy die dinge wat jy leer, kan inpas in ‘die patroon van gesonde woorde’, het jy nie net afsonderlike brokkies inligting nie. Jy kan sien hoe elkeen op sy regte plek glinster.”—2 Timoteus 1:13.
10 Die feit dat ’n mens bejaard is, beteken nie noodwendig dat jy nie nuwe en moeilike konsepte kan leer nie. Mense in hulle sestiger-, sewentiger- en selfs tagtigerjare het al leer lees en skryf of ’n nuwe taal aangeleer. Party van Jehovah se Getuies het dit gedoen met die doel om die goeie nuus aan mense van verskillende nasionaliteite te verkondig (Markus 13:10). Harry en sy vrou was in hulle laat sestigerjare toe hulle besluit het om in die Portugese veld te gaan help. “Laat ons maar eerlik wees”, sê Harry, “enige taak in die lewe word moeiliker hoe ouer jy word.” Met inspanning en volharding kon hulle nietemin Bybelstudies in Portugees hou. Harry lewer ook al etlike jare streekbyeenkomstoesprake in sy nuwe taal.
11. Waarom bespreek ons wat getroue ouer mense vermag het?
11 Nie almal se gesondheid of omstandighede laat hulle natuurlik toe om sulke uitdagings te aanvaar nie. Waarom bespreek ons dan wat sommige ouer mense vermag het? Dit is beslis nie om te kenne te gee dat almal dieselfde dinge moet probeer doen nie. Dit is eerder in die gees van die apostel Paulus se woorde in sy brief aan die Hebreeuse Christene oor getroue gemeentelike ouer manne: “Namate julle die uiteinde van hulle gedrag aanskou, moet julle hulle geloof navolg” (Hebreërs 13:7). Wanneer ons oor hierdie ywerige voorbeelde nadink, kan dit ons aanmoedig om die sterk geloof na te volg wat hierdie ouer mense beweeg om God te dien. Harry, nou 87 jaar oud, verduidelik wat hom motiveer en sê: “Ek wil graag my oorblywende jare verstandig gebruik en so nuttig moontlik in Jehovah se diens wees.” Fred, wat vroeër gemeld is, put groot bevrediging daaruit om sy Betheltoewysing uit te voer. Hy sê: “Jy moet uitvind hoe jy Jehovah op die beste manier kan dien en daarmee volhou.”
Toegewyd ondanks veranderende omstandighede
12, 13. Hoe het Barsillai godvrugtige toegewydheid geopenbaar ondanks sy veranderde omstandighede?
12 Dit kan moeilik wees om fisiese veranderinge te aanvaar. Dit is nogtans moontlik om ten spyte van sulke veranderinge godvrugtige toegewydheid te openbaar. Barsillai, die Gileadiet, is ’n goeie voorbeeld in hierdie opsig. Op 80-jarige ouderdom het hy uitsonderlike gasvryheid aan Dawid en sy leër betoon deur hulle van voedsel en verblyf te voorsien gedurende Absalom se opstand. Toe Dawid na Jerusalem terugkeer, het Barsillai hom en sy volgelinge na die Jordaanrivier vergesel. Dawid het aangebied om Barsillai deel van sy koninklike hof te maak. Hoe het Barsillai gereageer? “Ek is vandag tagtig jaar oud. Kan . . . u kneg proe wat ek eet en wat ek drink, of kan ek nog na die stem van sangers en sangeresse luister? . . . Maar hier is u kneg Kimham. Laat hy saam met my heer die koning oortrek; en doen met hom wat goed is in u oë.”—2 Samuel 17:27-29; 19:31-40.
13 Ondanks sy veranderde omstandighede het Barsillai gedoen wat hy kon om Jehovah se aangestelde koning te ondersteun. Hoewel hy erken het dat sy smaak en gehoor nie meer so goed was nie, was hy nie verbitterd nie. Barsillai het eerder onselfsugtig voorgestel dat Kimham die voordele ontvang wat aangebied is, en sodoende het hy getoon watter soort man hy in sy hart was. Soos Barsillai lê talle bejaardes vandag ’n onselfsugtige en vrygewige gees aan die dag. Hulle doen wat hulle kan om ware aanbidding te ondersteun, in die wete dat “sulke offerandes . . . vir God welbehaaglik [is]”. Wat ’n seën is dit tog om lojales in ons midde te hê!—Hebreërs 13:16.
14. Hoe maak Dawid se gevorderde jare die woorde in Psalm 37:23-25 sinvoller?
14 Hoewel Dawid se omstandighede oor die jare heen dikwels verander het, het hy oortuig gebly dat Jehovah se sorg vir sy lojale knegte nooit verander nie. Teen die einde van sy lewe het Dawid die lied gekomponeer wat vandag bekend staan as Psalm 37. Stel jou Dawid in ’n peinsende stemming voor, terwyl hy homself op die harp begelei en hierdie woorde sing: “Deur Jehovah is die voetstappe van ’n man berei, en in sy weg skep Hy behae. Al val hy, sal hy nie neergeslinger word nie, want Jehovah ondersteun sy hand. Ek was eens ’n jong man, ook het ek oud geword, en tog het ek geen regverdige heeltemal verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie” (Psalm 37:23-25). Jehovah het dit goedgedink om ’n verwysing na Dawid se ouderdom in hierdie geïnspireerde psalm in te sluit. Watter gevoel gee dit tog aan daardie hartgrondige woorde!
15. Hoe het die apostel Johannes ’n goeie voorbeeld van getrouheid gestel ondanks veranderde omstandighede en die ouderdom?
15 Die apostel Johannes is nog ’n goeie voorbeeld van getrouheid ondanks veranderde omstandighede en ’n gevorderde ouderdom. Nadat hy God byna 70 jaar lank gedien het, is Johannes na die eiland Patmos verban “omdat [hy] oor God gepraat en van Jesus getuig het” (Openbaring 1:9). Sy werk was egter nog nie klaar nie. Trouens, alles in die Bybel wat deur Johannes opgeteken is, is in die laaste jare van sy lewe geskryf. Terwyl hy op Patmos was, het hy die ontsagwekkende visioen van Openbaring ontvang, wat hy noukeurig neergeskryf het (Openbaring 1:1, 2). Die algemene mening is dat hy gedurende die Romeinse keiser Nerva se heerskappy vrygelaat is. Daarna, teen ongeveer 98 G.J., toe hy waarskynlik 90 of 100 jaar oud was, het Johannes die Evangelie en die drie briewe geskryf wat sy naam dra.
’n Permanente rekord van volharding
16. Hoe kan diegene wie se spraakvermoë aangetas is, hulle toegewydheid aan Jehovah openbaar?
16 Beperkings kan in baie vorme en in verskillende grade voorkom. Byvoorbeeld, sommige mense se spraakvermoë is selfs aangetas. Maar hulle koester steeds aangename herinneringe van God se liefde en onverdiende goedhartigheid. Hoewel hulle min met hulle mond kan sê, sê hulle in hulle hart vir Jehovah: “Hoe lief het ek u wet tog! Die hele dag oordink ek dit” (Psalm 119:97). Wat Jehovah betref, hy ken diegene wat “aan sy naam dink”, en hy besef hoe hulle verskil van die oorgrote meerderheid van die mensdom, wat glad nie op sy weë ag slaan nie (Maleagi 3:16; Psalm 10:4). Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah behae skep in die bepeinsing van ons hart!—1 Kronieke 28:9; Psalm 19:14.
17. Wat het knegte van Jehovah wat hom al lank dien, bereik wat waarlik uniek is?
17 Iets wat nie oor die hoof gesien moet word nie, is die feit dat diegene wat Jehovah al dekades lank getrou dien, iets bereik het wat waarlik uniek is en wat nie op enige ander manier verkry kan word nie—’n permanente rekord van volharding. Jesus het gesê: “Deur julle volharding sal julle julle siel verwerf” (Lukas 21:19). Volharding is noodsaaklik om die ewige lewe te verkry. Julle wat “die wil van God gedoen het” en julle lojaliteit deur julle lewenswandel bewys het, kan daarna uitsien om “die vervulling van die belofte” te ontvang.—Hebreërs 10:36.
18. (a) Wat is Jehovah verheug om in die geval van ouer mense te sien? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
18 Jehovah stel jou heelhartige diens hoog op prys, ongeag hoe baie of hoe min jy kan doen. Ongeag wat met ‘die uiterlike mens’ gebeur namate jy ouer word, ‘die innerlike mens’ kan van dag tot dag vernuwe word (2 Korintiërs 4:16). Dit ly geen twyfel dat Jehovah waardeer wat jy in die verlede vermag het nie, maar dit is baie duidelik dat hy ook waardeer wat jy nou vir sy naam doen (Hebreërs 6:10). In die volgende artikel sal ons die verreikende gevolge van sulke getrouheid bespreek.
Hoe sal jy antwoord?
• Watter goeie voorbeeld het Anna vir bejaarde Christene van vandag gestel?
• Waarom beperk ouderdom nie noodwendig wat ’n mens kan doen nie?
• Hoe kan bejaardes voortgaan om godvrugtige toegewydheid te openbaar?
• Hoe beskou Jehovah ouer mense se diens aan hom?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 23]
Die bejaarde Daniël het uit “die boeke” onderskei hoe lank Juda se ballingskap sou duur
[Prente op bladsy 25]
Talle ouer mense is voorbeeldig wat gereelde vergaderingbywoning, ywerige predikingswerk en leergierigheid betref