Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Glanspunte uit die boek Klaagliedere

Glanspunte uit die boek Klaagliedere

Jehovah se Woord is lewend

Glanspunte uit die boek Klaagliedere

DIE profeet Jeremia sien die vervulling van die oordeelsboodskap wat hy 40 jaar lank bekend gemaak het. Hoe voel die profeet wanneer hy self die vernietiging van sy geliefde stad aanskou? Die Griekse Septuagint sê in sy inleiding van die boek Klaagliedere: “Jeremia het gaan sit en huil en met hierdie klaaglied oor Jerusalem geweeklaag.” Die boek Klaagliedere, wat in 607 v.G.J. geskryf is terwyl die herinnering aan die 18 maande lange beleëring van Jerusalem en die verbranding wat daarop gevolg het, nog vars in die profeet se gedagte was, dra Jeremia se diepe smart op treffende wyse oor (Jeremia 52:3-5, 12-14). Daar is oor geen ander stad in die geskiedenis met sulke roerende en hartverskeurende woorde geweeklaag nie.

Die boek Klaagliedere is ’n versameling van vyf liriese gedigte. Die eerste vier is klaagliedere, of weeklagte; die vyfde is ’n versoek, of gebed. Die eerste vier liedere is akrostigons, waar elke opeenvolgende vers begin met die volgende letter in die Hebreeuse alfabet van 22 karakters. Hoewel die vyfde lied 22 verse het om ooreen te stem met die aantal letters van die Hebreeuse alfabet, is dit nie alfabeties gerangskik nie.—Klaagliedere 5:1, voetnoot in NW.

“MY OË HET AAN HULLE EINDE GEKOM IN TRANE”

(Klaagliedere 1:1–2:22)

“Hoe eensaam sit sy tog, die stad wat vol mense was! Hoe het sy tog soos ’n weduwee geword, sy wat volkryk onder die nasies was! Hoe moet sy wat ’n vorstin onder die regsgebiede was, tog nou dwangarbeid doen!” So begin die klaagliedere van die profeet Jeremia oor Jerusalem. Die profeet verstrek die rede vir hierdie rampspoed en sê: “Jehovah [het] droefheid oor haar gebring . . . weens die oorvloed van haar oortredings.”—Klaagliedere 1:1, 5.

Jerusalem, wat verpersoonlik word as ’n weduwee wat haar man en kinders aan die dood afgestaan het, vra: “Is daar enige pyn soos my pyn?” Aangaande haar vyande bid sy tot God: “Laat al hulle slegtheid voor u kom, en tree streng teen hulle op, net soos u streng teen my opgetree het weens al my oortredings. Want my versugtinge is baie, en my hart is siek.”—Klaagliedere 1:12, 22.

Diep bedroef sê Jeremia: “In gloeiende toorn het [Jehovah] elke horing van Israel afgekap. Hy het sy regterhand teruggetrek voor die vyand; en in Jakob bly hy brand soos ’n vlammende vuur wat rondom verteer het.” Die profeet beskryf sy diepe droefheid en weeklaag: “My oë het aan hulle einde gekom in trane. My ingewande is in beroering. My lewer is op die grond uitgestort.” Selfs verbygangers het verbasing uitgespreek en gesê: “Is dit die stad waarvan hulle gesê het: ‘Dit is die vervolmaking van skoonheid, ’n vreugde vir die hele aarde’?”—Klaagliedere 2:3, 11, 15.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

1:15—Hoe het Jehovah “die wynpers getrap wat aan die maagdelike dogter van Juda behoort”? Toe die Babiloniërs die stad, wat as ’n maagd beskryf word, vernietig het, het hulle soveel bloed vergiet dat dit vergelyk kon word met die pars van druiwe in ’n wynpers. Jehovah het dit voorspel en toegelaat dat dit gebeur; daarom kan daar gesê word dat hy “die wynpers getrap” het.

2:1—Hoe is “die prag van Israel uit die hemel op die aarde neergewerp”? Omdat “die hemel hoër is as die aarde”, word verhewe dinge wat verlaag word, soms uitgebeeld as iets wat “uit die hemel op die aarde neergewerp” word. “Die prag van Israel”—die heerlikheid en mag wat dit geniet het terwyl Jehovah se seën daarop gerus het—is neergewerp met die vernietiging van Jerusalem en die verwoesting van Juda.—Jesaja 55:9.

2:1, 6—Wat is Jehovah se “voetbank” en sy “hut”? Die psalmis het gesing: “Laat ons in sy grootse tabernakel ingaan; laat ons ons voor sy voetbank neerbuig” (Psalm 132:7). Die “voetbank” in Klaagliedere 2:1 verwys dus na Jehovah se huis van aanbidding, of sy tempel. Die Babiloniërs ‘het die huis van Jehovah verbrand’ asof dit ’n blote hut in ’n tuin was.—Jeremia 52:12, 13.

2:16, 17—Moet die 16de vers nie met die Hebreeuse letter ajin en die 17de met pe begin om die volgorde van die Hebreeuse alfabet te volg nie? Wanneer geïnspireerde skrywers gedigte in hierdie styl geskryf het, het hulle gewoonlik die volgorde van die alfabet gevolg. Hulle het dit egter nie gedoen wanneer dit geforseerd of onnatuurlik sou klink nie. Die gedagte-inhoud is belangriker geag as om streng by ’n literêre vorm te bly wat bloot as ’n geheuehulp gedien het. Die omgekeerde volgorde van dieselfde twee karakters word ook in liedere 3 en 4 van Klaagliedere gevind.—Klaagliedere 3:46, 49; 4:16, 17.

2:17—Presies wat het Jehovah in verband met Jerusalem “gesê” wat hy toe volbring het? Daar word blykbaar hier na Levitikus 26:17 verwys, wat sê: “Ek sal inderdaad my aangesig teen julle rig, en julle sal beslis voor julle vyande verslaan word; en julle haters sal julle eenvoudig vertrap, en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie.”

Lesse vir ons:

1:1-9. Snags huil Jerusalem bitterlik, en haar trane is op haar wange. Haar poorte is verwoes, en haar priesters sug. Haar maagde is bedroef, en sy self het dit bitter. Waarom? Omdat Jerusalem openlik sonde gepleeg het. Haar onreinheid is aan haar some. Die vrugte van oortreding is nie vreugde nie; dit is trane, gesug, droefheid en bitterheid.

1:18. Wanneer Jehovah oortreders straf, is hy altyd regverdig.

2:20. Die Israeliete is gewaarsku dat hulle, as hulle nie na die stem van Jehovah luister nie, vloeke sou ervaar, onder andere dat hulle ‘die vlees van hulle seuns en dogters’ sou eet (Deuteronomium 28:15, 45, 53). Hoe onverstandig tog om ’n weg van ongehoorsaamheid aan God te kies!

‘MOENIE U OOR VERBERG VIR MY VERLIGTING NIE’

(Klaagliedere 3:1–5:22)

In Klaagliedere hoofstuk 3 word daar van die nasie Israel as “die man” gepraat. Ondanks die rampspoed wat hierdie man ervaar, sing hy: “Jehovah is goed vir die een wat op hom hoop, vir die siel wat hom bly soek.” In gebed tot die ware God versoek hy: “U moet my stem hoor. Moenie u oor verberg vir my verligting, vir my hulpgeroep nie.” Hy vra Jehovah om aandag te skenk aan die smaad van die vyand en sê: “U sal hulle hulle handelswyse vergeld, o Jehovah, volgens die werk van hulle hande.”—Klaagliedere 3:1, 25, 56, 64.

Jeremia stort sy gevoelens uit oor die verskriklike gevolge van die 18 maande lange beleëring van Jerusalem en weeklaag: “Die straf vir die oortreding van die dogter van my volk word ook groter as die straf vir die sonde van Sodom, wat asof in ’n oomblik verwoes is en waarna geen hulpvaardige hande uitgesteek is nie.” Jeremia sê verder: “Dié wat met die swaard omgebring is, was beter daaraan toe as dié wat deur die hongersnood omgebring is, want hulle kwyn weg, deurboor weens gebrek aan die opbrengs van die oop veld.”—Klaagliedere 4:6, 9.

In die vyfde gedig is dit asof die inwoners van Jerusalem praat. Hulle sê: “Dink, o Jehovah, aan wat met ons gebeur het. Kyk tog en aanskou ons smaad.” Terwyl hulle hulle ellendes opnoem, versoek hulle: “O Jehovah, tot onbepaalde tyd sal u sit. U troon is van geslag tot geslag. Bring ons terug tot u, o Jehovah, en ons sal graag terugkom. Bring vir ons nuwe dae soos lank gelede.”—Klaagliedere 5:1, 19, 21.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

3:16—Wat word te kenne gegee deur die uitdrukking: “Op gruis laat hy my tande breek”? Een naslaanwerk sê: “Terwyl die Jode in ballingskap weggevoer is, moes hulle hulle brood bak in holtes wat in die grond gegrawe is; gevolglik was hulle brood met gruis gemeng.” Wanneer iemand sulke brood geëet het, kon dit sy tande breek.

4:3, 10—Waarom vergelyk Jeremia “die dogter van [sy] volk” met “volstruise in die wildernis”? Die volstruis “behandel haar kleintjies hard, asof hulle nie hare is nie”, sê Job 39:16. Nadat die eiers byvoorbeeld uitgebroei is, gaan die wyfie weg saam met ander wyfies terwyl die mannetjie die verantwoordelikheid oorneem om vir die kleintjies te sorg. En wat gebeur wanneer gevaar dreig? Beide die mannetjie en die wyfie vlug van die nes af weg en laat hulle kleintjies agter. Gedurende die Babiloniese beleëring het die hongersnood in Jerusalem so erg geword dat moeders wat normaalweg medelydend sou gewees het, wreed teenoor hulle eie kinders opgetree het, soos volstruise in die wildernis. Dit was in skerp teenstelling met die manier waarop ’n jakkals vir haar kleintjies sorg.

5:7—Hou Jehovah mense aanspreeklik vir die oortredings van hulle voorvaders? Nee, Jehovah straf mense nie regstreeks vir die sondes van hulle voorouers nie. “Elkeen van ons [sal] vir homself aan God rekenskap gee”, sê die Bybel (Romeine 14:12). Maar die gevolge van oortredings kan voortduur en deur latere geslagte ervaar word. Die afgodediens wat eertydse Israel beoefen het, het dit byvoorbeeld selfs vir die getroue Israeliete van latere tye moeilik gemaak om aan die weg van regverdigheid vas te hou.—Eksodus 20:5.

Lesse vir ons:

3:8, 43, 44. Gedurende die rampspoed wat Jerusalem getref het, het Jehovah geweier om na die hulpgeroep van die stad se inwoners te luister. Waarom? Omdat die volk ongehoorsaam was, en hulle het onberouvol gebly. As ons wil hê dat Jehovah ons gebede moet verhoor, moet ons hom gehoorsaam.—Spreuke 28:9.

3:20. Jehovah, “die Allerhoogste oor die hele aarde”, is so verhewe dat hy hom moet neerbuig “om na die hemel en die aarde te kyk” (Psalm 83:18; 113:6). Jeremia was egter terdeë bewus van die Almagtige se bereidwilligheid om hom oor die volk neer te buig, dit wil sê om tot hulle vlak af te daal om hulle aan te moedig. Hoe bly kan ons tog wees dat die ware God nie net almagtig en alwys is nie, maar ook nederig!

3:21-26, 28-33. Hoe kan ons selfs ondanks groot lyding volhard? Jeremia sê vir ons. Ons moenie vergeet dat Jehovah oorvloedig is in dade van liefderyke goedhartigheid en dat sy barmhartighede baie is nie. Ons moet ook onthou dat die feit dat ons lewe, genoeg rede is om nie moed op te gee nie en dat ons geduldig moet wees en in stilte, sonder om te kla, op Jehovah moet wag vir redding. Verder moet ons ons “mond in die stof steek”, dit wil sê ons nederig aan beproewinge onderwerp, in die besef dat daar ’n goeie rede is waarom God toelaat dat sekere dinge gebeur.

3:27. Wanneer ’n mens in jou jeug toetse van geloof die hoof te bied, kan dit beteken dat jy ontberinge en bespotting moet verduur. Maar dit is ‘goed vir ’n man om die juk in sy jeug te dra’. Waarom? As iemand leer om in sy jeug ’n juk van lyding te dra, berei dit hom voor om in sy latere jare uitdagings die hoof te bied.

3:39-42. Dit is nie verstandig om ons ‘aan klagtes oor te gee’ wanneer ons weens ons sondes ly nie. Ons moenie kla omdat ons die gevolge van oortreding ondervind nie, maar ons moet eerder “ons weë deursoek en navors, en . . . tot Jehovah terugkeer”. Dit is verstandig van ons om berou te toon en ons weë reg te stel.

Maak Jehovah jou vertroue

Die Bybelboek Klaagliedere toon hoe Jehovah Jerusalem en die land van Juda beskou het nadat die Babiloniërs die stad verbrand en die land verwoes het. Die belydenis van sonde daarin toon duidelik dat die volk se oortreding, in Jehovah se oë, die rede vir die rampspoed was. Hierdie boek se geïnspireerde liedere bevat ook lirieke wat hoop op Jehovah uitspreek, asook die begeerte om die regte weg te bewandel. Hoewel die meeste mense in Jeremia se dag nie so gevoel het nie, weerspieël dit die gevoelens van Jeremia en die berouvolle oorblyfsel.

Jehovah se beoordeling van Jerusalem se situasie, soos in die boek Klaagliedere uiteengesit word, leer ons twee baie belangrike lesse. Eerstens, Jerusalem se vernietiging en die verwoesting van Juda benadruk gehoorsaamheid aan Jehovah en dien as ’n waarskuwing om nie God se wil te ignoreer nie (1 Korintiërs 10:11). Die tweede les kom uit Jeremia se voorbeeld (Romeine 15:4). Selfs in ’n oënskynlik hopelose situasie het die diep bedroefde profeet op Jehovah vertrou vir redding. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons ten volle op Jehovah en sy Woord steun en hom ons vertroue maak!—Hebreërs 4:12.

[Prent op bladsy 9]

Die profeet Jeremia het die vervulling van sy oordeelsboodskap gesien

[Prent op bladsy 10]

Die geloof van hierdie Koreaanse Getuies is getoets weens hulle standpunt oor Christelike neutraliteit