Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van boekrol tot kodeks—Hoe die Bybel ’n boek geword het

Van boekrol tot kodeks—Hoe die Bybel ’n boek geword het

Van boekrol tot kodeksHoe die Bybel ’n boek geword het

DEUR die eeue heen het mense inligting op baie maniere bewaar. In vervloë tye het skrywers hulle woorde op monumente, klip- of houttablette, perkamentvelle en ander materiale geskryf. Teen die eerste eeu was die boekrol in die Midde-Ooste die aanvaarde en gevestigde formaat vir die geskrewe woord. Dit is gevolg deur die kodeks, wat die boekrol mettertyd vervang het en die universele middel geword het om geskrewe inligting te bewaar. Dit het ook grootliks bygedra tot die verspreiding van die Bybel. Wat was die kodeks, en hoe het dit in gebruik gekom?

Die kodeks was die prototipe, of vroegste vorm, van die hedendaagse boek. Dit het bestaan uit velle wat gevou, versamel en langs die vou saamgebind is. Daar is op albei kante van die bladsye geskryf, en die bladsye is deur ’n omslag beskerm. Die vroeë kodeks het nie baie soos die boeke van vandag gelyk nie, maar soos in die geval van die meeste ander uitvindsels, is dit verfyn en verander na gelang van die behoeftes en voorkeure van die gebruikers daarvan.

Hout, was en perkament

Aan die begin was kodekse dikwels van wasbedekte houttablette gemaak. Geskrewe, wasbedekte poliptieke, oftewel tablette wat aan die lengtekant saamgeheg is, is gevind in Herkulaneum, ’n dorp wat in 79 G.J. saam met Pompeji deur die uitbarsting van die berg Vesuvius vernietig is. Uiteindelik is die onbuigsame tablette deur velle voubare materiaal vervang. In Latyn het hierdie kodekse, of boeke, bekend gestaan as membranae, of perkamente, na aanleiding van die leer wat oor die algemeen as bladsye gebruik is.

Party kodekse wat behoue gebly het, is van papirus gemaak. Die oudste bekende Christelike kodekse, wat in die droë klimaat van sekere dele van Egipte bewaar is, is papirusse. a

Boekrol of kodeks?

Dit wil voorkom asof Christene ten minste tot omstreeks die einde van die eerste eeu G.J. hoofsaaklik die boekrol gebruik het. Van die einde van die eerste eeu af tot in die derde eeu G.J. was daar ’n stryd tussen voorstanders van die kodeks en dié van die boekrol. Konserwatiewe mense wat daaraan gewoond was om die boekrol te gebruik, was onwillig om goedgevestigde gebruike en tradisies te laat vaar. Maar dink ’n bietjie aan wat dit behels het om ’n boekrol te lees. ’n Boekrol het gewoonlik uit ’n vasgestelde aantal papirus- of perkamentvelle bestaan wat aanmekaargelym is om ’n lang strook te vorm, wat dan opgerol is. Die teks is in kolomme op die voorkant van die boekrol geskryf. As iemand daaruit wou lees, moes hy die boekrol ooprol om die gedeelte te vind wat hy wou hê. Nadat hy dit gelees het, het hy dit weer opgerol (Lukas 4:16-20). Meer as een boekrol was dikwels nodig vir ’n enkele letterkundige werk, wat dit selfs moeiliker gemaak het om te gebruik. Hoewel Christene van die tweede eeu af klaarblyklik verkies het om die Skrif in kodeksvorm te kopieer, is die boekrol nog eeue lank gebruik. Nietemin glo deskundiges dat die Christene se gebruik van die kodeks ’n belangrike rol gespeel het in die wydverspreide aanvaarding daarvan.

Die kodeks het duidelike voordele—dit kan baie inligting bevat, is gerieflik om te gebruik en is maklik om saam te dra. Hoewel party in die vroeë dae bewus was van hierdie voordele, was die meerderheid traag om die gebruik van die boekrol te laat vaar. Maar oor ’n tydperk van etlike eeue het verskeie faktore geleidelik daartoe gelei dat die kodeks die boekrol verdring het.

Die kodeks was meer ekonomies as die boekrol. Daar kon op albei kante van ’n bladsy geskryf word, en verskeie boeke kon in dieselfde bundel saamgebind word. Volgens party was die gemak waarmee spesifieke gedeeltes in die kodeks gevind kon word, die hoofrede waarom dit so gewild was onder Christene en sekere beroepsmense, soos regsgeleerdes. Vir Christene was kompakte tekste—of net ’n handige lys van Skrifaanhalings—uiters nuttig vir die evangelisasiewerk. Verder het die kodeks ’n omslag gehad, wat dikwels van hout gemaak was, en dit was dus duursamer as die boekrol.

Kodekse was ook prakties vir persoonlike leeswerk. Teen die einde van die derde eeu het verklaarde Christene die Evangelies in sakformaat op perkament gehad. Sedertdien is letterlik miljarde eksemplare van die volledige Bybel of dele daarvan in kodeksvorm gemaak.

Vandag is daar baie middele wat vinnige en maklike toegang tot die goddelike wysheid in die Bybel moontlik maak. Dit kan op rekenaars, oudio-opnames en die gedrukte bladsy gevind word. Ongeag watter formaat van die Bybel jy verkies, kweek ’n liefde vir God se Woord aan en oordink dit elke dag.—Psalm 119:97, 167.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “The Early Christian Codex”, in The Watchtower van 15 Augustus 1962, bladsye 501-5.

[Prente op bladsy 15]

Die kodeks het grootliks bygedra tot die verspreiding van die Bybel