Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vasbeslote om ons bediening uit te voer

Vasbeslote om ons bediening uit te voer

Lewensverhaal

Vasbeslote om ons bediening uit te voer

Soos vertel deur Lena Davison

“Ek sukkel om te sien. Ek kan nie sien nie”, het ons vlieënier in ’n swak stem gesê. Oomblikke later het sy hande afgegly van die stuurstang van die ligte vliegtuig waarin ons was, en hy het bewusteloos vooroor gesak in sy sitplek. My man, wat nog nooit aan die stuur van ’n vliegtuig was nie, het desperaat probeer om hom by te bring. Maar voordat ek julle van ons noue ontkoming vertel, wil ek eers verduidelik hoe dit gekom het dat ons in daardie vliegtuig was wat oor Papoea-Nieu-Guinee, een van die mees afgeleë dele van die aarde, gevlieg het.

EK IS in 1929 in Australië gebore en het in Sydney, die hoofstad van Nieu-Suid-Wallis, grootgeword. My pa, Bill Muscat, was ’n Kommunis wat, eienaardig genoeg, in God geglo het. In 1938 het hy selfs ingestem om ’n landwye petisie te onderteken waarin versoek is dat Joseph F. Rutherford, van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, toegelaat word om ’n toespraak in Sydney se stadsaal te hou.

“Hy het sekerlik iets belangriks om te sê”, het my pa destyds vir ons gesê. Agt jaar later het ons uitgevind wat die hoofgedagtes van daardie boodskap was. My pa het Norman Bellotti, ’n voltydse pionierbedienaar van Jehovah se Getuies, na ons huis genooi om oor die Bybel te praat. Ons gesin het gou Bybelwaarheid aangeneem en weldra baie bedrywig geword in die Christelike bediening.

In die middel-1940’s het ek die skool verlaat om my ma te help, wat chronies siek was. Ek het klere gemaak om my te onderhou. Saterdagaande het ek en my suster Rose saam met ’n groep pioniers straatgetuieniswerk buite Sydney se stadsaal gedoen. In 1952 het my ouer broer, John, aan die Gileadsendingskool in die Verenigde State gegradueer en is hy na Pakistan gestuur. Ek was ook baie lief vir die bediening en wou sy voorbeeld volg. Die volgende jaar het ek dus ’n gewone pionier geword.

Die huwelik en sendingwerk

Kort daarna het ek John Davison ontmoet, wat by die Australiese takkantoor van Jehovah se Getuies gewerk het. Sy nederigheid, stille vasberadenheid en karaktervastheid het my beïndruk. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was hy drie maal in die tronk omdat hy sy Christelike neutraliteit gehandhaaf het. Ons het saam besluit om die Christelike bediening ons lewenstaak te maak.

Ek en John is in Junie 1955 getroud. Ons het ’n bus gekoop wat ons in ’n mobiele huis wou omskep. Ons was van plan om daarin te bly wanneer ons die predikingswerk in verafgeleë gebiede van Australië gaan doen. Die volgende jaar is daar ’n beroep op Getuies gedoen om na Nieu-Guinee, die noordoostelike deel van ’n groot eiland noord van Australië, te verhuis. a Die Koninkryksboodskap was nog nie in daardie deel van die wêreld verkondig nie. Ons het onmiddellik aangebied om te gaan.

Destyds kon ’n mens slegs in Nieu-Guinee inkom as jy ’n kontrak vir ’n voltydse werk gehad het, en daarom het John begin werk soek. Hy het gou ’n kontrak gekry by ’n saagmeule in Nieu-Brittanje, ’n baie kleiner eiland wat deel is van Nieu-Guinee. ’n Paar weke later het ons na ons nuwe toewysing vertrek, en in Julie 1956 het ons in Rabaul, Nieu-Brittanje, aangekom. Daar het ons ses dae gewag vir ’n skip om ons na Waterfall Bay te neem.

Ons bediening in Waterfall Bay

Ná ’n paar dae op ’n stormagtige see het ons by Waterfall Bay, ’n groot inham omtrent 240 kilometer suid van Rabaul, aangekom. Hier was ’n groot saagmeule op ’n oop plek in die woud. Daardie aand, toe al die werkers om die etenstafel sit, het die bestuurder gesê: “So terloops, mnr. en mev. Davison, dit is hierdie maatskappy se beleid dat alle werkers sê aan watter godsdiens hulle behoort.”

Ons was redelik seker dat daar nie so ’n beleid was nie, maar hulle was blykbaar agterdogtig omdat ons nie saam met hulle wou rook nie. Hoe dit ook al sy, John het geantwoord: “Ons is Jehovah se Getuies.” ’n Ongemaklike stilte het gevolg. Die mans was veterane van die Tweede Wêreldoorlog en was bevooroordeeld teen die Getuies weens hulle neutrale standpunt tydens die oorlog. Van toe af het die mans elke geleentheid gebruik om dinge vir ons moeilik te maak.

Eers het die bestuurder geweier om vir ons ’n yskas en ’n stoof te gee, hoewel ons op beide geregtig was. Ons bederfbare kos het sleg geword, en ons moes noodgedwonge op ’n ou, beskadigde stoof kook wat ons in die woud gekry het. Daarna is die plaaslike dorpsmense verbied om vars produkte aan ons te verkoop; ons moes dus op ander maniere groente in die hande kry. Ons is ook as spioene gebrandmerk en fyn dopgehou om te sien of ons enigiemand die Bybel leer. Boonop het ek malaria gekry.

Ons was nietemin vasbeslote om ons bediening uit te voer. Ons het dus twee jong boorlinge wat by die meule gewerk het en Engels kon praat, gevra om ons Melanesiese Pidgin, die landstaal, te leer. En ons het húlle die Bybel geleer. Naweke het ons op lang staptogte gegaan om “die omgewing te besigtig”. Langs die pad het ons onopsigtelik probeer getuig vir enige dorpsmense wat ons kon vind; ons Bybelstudente het as tolke gedien. Ons het snelvloeiende riviere oorgesteek, waar yslike krokodille op die oewers in die son lê en bak het. Buiten een noue ontkoming is ons selde deur hierdie skrikwekkende roofdiere gepla.

Hulpmiddele om mense te onderrig

Toe ons bediening begin uitbrei, het ons besluit om eenvoudige Bybelboodskappe uit te tik en dit vir belangstellendes te gee. Ons Bybelstudente by die meule het ons gehelp om die eerstes te vertaal. Ons het nagte lank honderde traktate gesit en tik en dit onder die dorpsmense en die bemanning van verbygaande bote versprei.

In 1957 het John Cutforth, ’n bekwame reisende bedienaar, ’n bemoedigende besoek by ons afgelê. b Hy het gemeen dat dit dalk doeltreffend sou wees om prente te gebruik om Bybelwaarhede aan mense te leer wat nie kon lees nie. Hy en my man het ’n klompie eenvoudige tekeninge, onder andere van stokmannetjies, uitgedink om basiese Bybelleringe te verduidelik. Later het ons tallose ure daaraan bestee om hierdie prentpreke in skryfboeke oor te teken. Elke Bybelstudent het ’n eksemplaar gekry, wat hy gebruik het om vir ander te getuig. Hierdie onderrigmetode is uiteindelik landwyd gebruik.

Ná twee en ’n half jaar by Waterfall Bay het ons ons werkskontrak voltooi en toestemming ontvang om in die land aan te bly. Ons het dus ’n uitnodiging aanvaar om as spesiale pioniers te dien.

Terug na Rabaul

Met ons vaart noord na Rabaul het ons skip vir die nag by ’n kopra- en kakaoplantasie in Wide Bay gestop. Die eienaars, ’n bejaarde egpaar wat wou aftree en na Australië wou verhuis, het vir John die werk aangebied om die plantasie te bestuur. Die aanbod was baie aanloklik, maar toe ons daardie aand oor die saak gesels, was ons dit eens dat ons nie na Nieu-Guinee gekom het om materiële rykdom na te jaag nie. Ons was vasbeslote om ons bediening as pioniers uit te voer. Die volgende dag het ons dus die egpaar van ons besluit ingelig en weer op die skip geklim.

Nadat ons in Rabaul aangekom het, het ons by ’n klein groepie Getuies aangesluit wat uit ander lande na die gebied verhuis het. Die plaaslike mense het groot belangstelling in die Koninkryksboodskap getoon, en ons het baie Bybelstudies begin. Intussen het ons Christelike vergaderinge in ’n plaaslike saal gehou wat ons gehuur het, en tot 150 mense het dit bygewoon. Baie van hulle het die waarheid aangeneem en die goeie nuus van God se Koninkryk na ander dele van die land help versprei.—Matteus 24:14.

Ons het ook Vunabal besoek, ’n dorpie sowat 50 kilometer van Rabaul af, waar ’n groep mense groot belangstelling in Bybelwaarheid getoon het. Hulle het gou ’n invloedryke plaaslike Katoliek se aandag getrek. Saam met ’n klomp van sy kerkvriende het hy ons weeklikse Bybelstudie ontwrig en ons uit die dorpie gejaag. Toe ons uitvind dat daar die volgende week verdere probleme sou wees, het ons die polisie gevra om ons te vergesel.

Daardie dag het jouende Katolieke kilometers ver langs die pad gestaan. Baie was reg om ons met klippe te bestook. Intussen het ’n priester honderde stamlede by die dorpie laat vergader. Die polisie het ons verseker dat ons die reg het om ons vergadering te hou en het dus ’n pad deur die skare gebaan. Maar net toe ons met ons vergadering begin, het die priester die skare tot raserny opgesweep. Die polisie kon die skare nie bedwing nie; gevolglik het die polisiehoof ons aangespoor om te vertrek en ons gou na ons motor toe gelei.

Die skare het om ons gedrom en gevloek, gespoeg en hulle vuiste in die lug geswaai, terwyl die priester met gevoude arms gestaan en glimlag het. Ná ons ontkoming het die polisiehoof erken dat dit die ergste situasie was wat hy nog gesien het. Hoewel die meeste van die mense in Vunabal deur die massageweld geïntimideer is, het een Bybelstudent moedig sy standpunt vir Koninkrykswaarheid ingeneem. Sedertdien het honderde ander oral in Nieu-Brittanje hulle standpunt ingeneem.

Die werk vorder in Nieu-Guinee

In November 1960 is ons na Madang gestuur, ’n groot dorp aan die noordelike kus van Nieu-Guinee, die hoofeiland. Hier is ek en John tallose voltydse betrekkings aangebied. Een maatskappy het my gevra om hulle klerewinkel te bestuur. ’n Ander een wou hê dat ek klere moes verstel. ’n Paar buitelandse vroue het selfs aangebied om my te help om my eie kleremakerswinkel te begin. Ons het ons doelwitte voor oë gehou en hierdie sowel as ander werkgeleenthede vriendelik van die hand gewys.—2 Timoteus 2:4.

Die gebied in Madang het vrug opgelewer, en daar was kort voor lank ’n florerende gemeente. Ons het afgeleë dorpies te voet en per motorfiets besoek op predikingstogte wat ’n hele paar dae geduur het. Langs die pad het ons in leë hutte geslaap op gras wat ons in die veld gesny het. Blikkieskos, kraakbeskuitjies en ’n muskietnet was van die noodsaaklike items wat ons saamgeneem het.

Op een tog het ons ’n groep belangstellendes in Talidig besoek, ’n dorpie omtrent 50 kilometer noord van Madang. Toe die groep geestelike vordering begin maak het, het die hoof van die plaaslike skool hulle verbied om die Bybel op staatsgrond te bestudeer. Later het hy die polisie aangehits om hulle huise te verwoes en hulle in die bos in te dryf. ’n Hoofman daar naby het die groep egter toegelaat om op sy grond te woon. Mettertyd het hierdie vriendelike hoofman Bybelwaarheid aangeneem, en ’n moderne Koninkryksaal is in die gebied gebou.

Vertaling en die reisende werk

Net twee jaar ná ons aankoms in 1956 in Nieu-Brittanje is ek en John gevra om verskeie Bybelpublikasies in Melanesiese Pidgin te vertaal. Hierdie werk het oor die jare voortgeduur. Toe, in 1970, is ons na die takkantoor in Port Moresby, die hoofstad van Papoea-Nieu-Guinee, genooi om as voltydse vertalers te dien. Ons het ook taalklasse daar gehou.

In 1975 het ons na Nieu-Brittanje teruggekeer om aan die reisende bediening deel te neem. Ons het die volgende 13 jaar na byna elke deel van die land gevlieg, geroei, gery of geloop. Ons het talle noue ontkomings gehad, met inbegrip van die voorval wat aan die begin van hierdie artikel beskryf word. By daardie geleentheid het ons vlieënier weens erge maagontsteking sy bewussyn verloor terwyl ons die Kandriaanse landingstrook in Nieu-Brittanje genader het. Met die vliegtuig wat deur die stuuroutomaat beheer is, het ons hulpeloos bokant die oerwoud gesirkel terwyl John desperaat probeer het om die bewustelose vlieënier by te bring. Hy het uiteindelik sy bewussyn herwin en kon goed genoeg sien om ’n rowwe landing te doen. Daarna het hy weer sy bewussyn verloor.

Nog ’n deur tot bedrywigheid gaan oop

In 1988 is ons weer na Port Moresby gestuur om te help met die toenemende vertaalwerk by die tak. Omtrent 50 van ons het as ’n gesin by die tak gewoon en gewerk, waar ons ook nuwe vertalers opgelei het. Ons het almal in beskeie eenvertrekwoonstelletjies gebly. Ek en John het besluit om ons deur half oop te laat om gesinslede en besoekers aan te spoor om in te loer en ons te leer ken. Ons het dus baie geheg geraak aan ons gesin, en ons kon mekaar baie liefde en aanmoediging gee.

Toe, in 1993, is John aan ’n hartaanval oorlede. Dit het vir my gevoel asof ’n deel van my ook gesterf het. Ons was 38 jaar lank getroud en het al daardie tyd saam in die bediening deurgebring. Ek was nogtans vasbeslote om voort te gaan, met krag van Jehovah (2 Korintiërs 4:7). My woonstelletjie se deur het oop gebly, en die jongmense het aangehou om my te besoek. Hierdie heilsame assosiasie het my gehelp om ’n positiewe uitkyk te behou.

In 2003 is ek as gevolg van my kwynende gesondheid na die takkantoor in Sydney, Australië, gestuur. Ek dien vandag nog steeds, op 77-jarige ouderdom, voltyds in die Vertaalafdeling, en ek bly ook besig in die predikingswerk. My vriende en geestelike kinders en kleinkinders is vir my ’n voortdurende bron van vreugde.

By Bethel staan my kamerdeur nog steeds oop, en ek het omtrent elke dag besoekers. Trouens, wanneer my deur toe is, klop mense dikwels om te sien wat fout is. So lank as wat ek asemhaal, sal ek vasbeslote bly om my bediening uit te voer en my God, Jehovah, te dien.—2 Timoteus 4:5.

[Voetnote]

a Op dié stadium was die oostelike deel van die eiland verdeel in Papoea in die suide en Nieu-Guinee in die noorde. Vandag word die westelike deel van hierdie eiland, wat deel is van Indonesië, Papoea genoem, en die oostelike deel, Papoea-Nieu-Guinee.

b Sien The Watchtower van 1 Junie 1958, bladsye 333-6, vir die lewensverhaal van John Cutforth.

[Kaart op bladsy 18]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

NIEU-GUINEE

AUSTRALIË

Sydney

INDONESIË

PAPOEA-NIEU-GUINEE

Talidig

Madang

PORT MORESBY

NIEU-BRITTANJE

Rabaul

Vunabal

Wide Bay

Waterfall Bay

[Erkenning]

Kaart en aardbol: Based on NASA/Visible Earth imagery

[Prent op bladsy 17]

Saam met John by ’n streekbyeenkoms in Lae, Nieu-Guinee, 1973

[Prent op bladsy 20]

By die tak in Papoea-Nieu- Guinee, 2002