Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Waarborg Spreuke 22:6 dat Christenkinders wat reg opgelei word, nie Jehovah se weg sal verlaat nie?

Hierdie vers sê: “Lei ’n seun op volgens die weg vir hom; ook as hy oud word, sal hy nie daarvan afwyk nie.” Net soos die manier waarop ’n jong boompie gebuig word, ’n uitwerking het op hoe dit sal ontwikkel, is kinders wat reg opgelei word, meer geneig om voort te gaan om Jehovah te dien wanneer hulle grootword. Soos elke ouer weet, verg hierdie opleiding baie tyd en inspanning. Om Christendissipels van hulle kinders te maak, moet ouers hulle sorgvuldig onderrig, vermaan, aanmoedig en dissiplineer sowel as ’n goeie voorbeeld stel. Hulle moet jare lank op liefdevolle wyse hiermee volhou.

Maar gestel ’n kind wyk wel daarvan af om Jehovah te dien. Sou dit beteken dat die ouerlike opleiding te kort geskiet het? In sommige gevalle het ouers dalk nie genoeg gedoen om hulle kinders in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed nie (Efesiërs 6:4). Maar die spreuk is nie ’n waarborg dat goeie opleiding kinders sal voortbring wat getrou is aan God nie. Ouers kan hulle kinders nie vorm in wat hulle ook al wil hê hulle moet wees nie. Kinders het, net soos volwassenes, wilsvryheid en moet uiteindelik kies watter lewensweg hulle wil volg (Deuteronomium 30:15, 16, 19). Ten spyte van die ywerigste pogings van ouers word party kinders ontrou, soos Salomo, wat die vers onder bespreking geskryf het. Selfs Jehovah het kinders gehad wat ontrou geword het.

Hierdie teks beteken dus nie dat dit altyd die geval sal wees dat ’n kind “nie daarvan afwyk nie”, maar dat dit oor die algemeen die resultaat sal wees. Hoe aanmoedigend is dit tog vir ouers! Ouers kan moed skep uit die wete dat hulle ywerige pogings om hulle kinders in Jehovah se weg op te lei, goeie resultate sal oplewer. Aangesien ouers ’n belangrike rol speel en ’n groot invloed het, word hulle aangespoor om hulle rol ernstig op te neem.—Deuteronomium 6:6, 7.

Selfs wanneer kinders daarvan afwyk om Jehovah te dien, kan ouers wat hulle kinders pligsgetrou opgelei het, die hoop koester dat hulle kinders tot hulle sinne sal kom. Bybelwaarheid is kragtig, en ouerlike opleiding word nie maklik vergeet nie.—Psalm 19:7.