Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ernst Glück se ontsaglike taak

Ernst Glück se ontsaglike taak

Ernst Glück se ontsaglike taak

MEER as 300 jaar gelede het Ernst Glück ’n taak aangepak wat min mense deur die geskiedenis heen aangedurf het. Hy het besluit om die Bybel te vertaal in ’n taal wat hy nie geken het nie.

Glück is omstreeks 1654 in die dorpie Wettin, naby Halle, Duitsland, gebore. Sy vader was ’n Lutherse predikant, en die godsdienstige atmosfeer in die huis het in die jong Ernst ’n belangstelling in geestelike sake aangewakker. Op 21-jarige ouderdom het hy sy teologiese opleiding in Duitsland voltooi en verhuis na wat nou as Letland bekend staan. Die meeste mense daar het destyds nie ’n skoolopleiding gehad nie, en min boeke was in hulle taal beskikbaar. Glück het geskryf: “Die eerste behoefte wat ek opgemerk het toe ek as jong man in hierdie land aangekom het, was die feit dat die Lettiese kerk nie die Bybel gehad het nie . . . Dit het my voor God laat besluit om hierdie taal te bestudeer en dit ten volle te bemeester.” Hy was vasbeslote om die Lette ’n Bybel in hulle taal te gee.

Voorbereidings vir vertaling

Die gebied waar Glück hom gevestig het, het destyds as Lyfland bekend gestaan en is deur Swede regeer. Die plaaslike verteenwoordiger van die koning van Swede was Johannes Fischer. Hy het daarin belanggestel om die opvoedingspeil in die land te verhoog en ook om geld te maak. Glück het met Fischer gepraat oor die vertaling van die Bybel in Letties. Fischer het ’n drukkery in die hoofstad Riga besit. Deur die Lettiese Bybel te druk, kon hy sy werk op die gebied van opvoeding bevorder en hopelik terselfdertyd ’n goeie wins maak. Fischer het koning Karel XI van Swede gevra om die vertaalwerk te magtig. Die koning het hom toestemming vir die projek gegee en aangebied om dit te finansier. Kragtens ’n koninklike resolusie van 31 Augustus 1681 kon die vertaalwerk begin.

Intussen het Glück hom voorberei. Met sy Duitse agtergrond kon hy Martin Luther se vertaling as die grondslag vir die Lettiese Bybel gebruik het. Maar Glück wou die beste vertaling moontlik lewer en het tot die slotsom gekom dat dít sou beteken dat die vertaling uit die oorspronklike Hebreeus en Grieks gedoen moet word. Glück se kennis van Bybeltale was onvoldoende, en daarom het hy Hebreeus en Grieks in Hamburg, Duitsland, gaan studeer. Terwyl hy daar was, het ’n Lyflandse geestelike met die naam Jānis Reiters hom waarskynlik met Letties sowel as Bybelse Grieks gehelp.

Jare se werk, jare se gewag

Glück het sy taalopleiding in 1680 voltooi en toe na Letland teruggekeer en as ’n predikant begin dien. Kort daarna het hy met sy vertaalwerk begin. In 1683 het Glück ’n nuwe aanstelling ontvang as predikant van die groot gemeente van Alūksne, wat ten nouste met sy vertaling geassosieer word.

Daar was destyds baie Bybelse terme en begrippe waarvoor daar nie woorde in Letties was nie. Glück het dus ’n paar Duitse woorde in sy vertaling gebruik. Maar hy het sy bes gedoen om God se Woord in Letties oor te sit, en deskundiges is dit eens dat sy vertaling van hoë gehalte is. Glück het selfs nuwe woorde gesmee, en etlike woorde wat hy uitdink het, word nou algemeen in Letties gebruik. Dit sluit die Lettiese woorde in vir “voorbeeld”, “fees”, “reus”, “om te verken” en “om te getuig”.

Johannes Fischer het die koning van Swede op hoogte gehou van hoe die vertaalwerk vorder, en hulle korrespondensie toon dat Glück teen 1683 die Christelike Griekse Geskrifte vertaal het. Hy het die hele Bybel teen 1689 voltooi en sodoende sy ontsaglike taak in net agt jaar afgehandel. a Daar was ’n lang vertraging voordat dit gepubliseer is, maar in 1694 het hy sy doelwit bereik—die regering het die openbare verspreiding van die Lettiese Bybel gemagtig.

Party geskiedkundiges het dit bevraagteken of Glück se Bybelvertaling alles sy eie werk was. Hy het ongetwyfeld Luther se vertaling geraadpleeg en dele van die Bybel wat reeds in Letties beskikbaar was, in sy teks ingewerk. Maar hierdie dele maak net ’n klein deel van sy vertaling uit. Het ander vertalers gehelp? Glück het wel ’n assistent gehad terwyl hy vertaal het, en ander het gehelp met die proefleeswerk en om die gehalte van sy vertaling na te gaan. Maar hulle hulp het blykbaar nie vertaling as sodanig ingesluit nie. Glück was dus waarskynlik die enigste vertaler.

Glück se vertaling was ’n mylpaal in die ontwikkeling van geskrewe Letties, maar daar was ’n baie belangriker gevolg. Die Lettiese volk kon uiteindelik God se Woord in hulle eie taal lees en die lewegewende leringe daarvan inneem. Hulle het nie vergeet wat Ernst Glück vir hulle gedoen het nie. Die mense van Alūksne versorg nou al meer as 300 jaar lank twee akkerbome wat bekend staan as Glika ozoli, of Glück se akkerbome. Glück het hulle ter herdenking aan die Lettiese Bybel geplant. Daar is ’n klein museum in Alūksne waar verskillende Bybelvertalings bewaar word, onder andere ’n eksemplaar van die eerste uitgawe van Glück se vertaling. En Alūksne se stadswapen het die Bybel sowel as die jaartal 1689 daarop, die jaar toe Glück sy werk voltooi het.

Sy latere werk

Kort ná sy aankoms in Letland het Glück Russies begin leer. In 1699 het hy geskryf dat hy besig is om nog ’n begeerte te vervul—om die Bybel in daardie taal te vertaal. In ’n brief gedateer 1702 het hy geskryf dat hy die Lettiese Bybel begin hersien het. Maar die toestande wat bevorderlik was vir Bybelvertaling, was aan die verdwyn. Ná baie jare van vrede het Letland ’n slagveld geword. In 1702 het die Russiese leër die Swede oorwin en beheer van Alūksne oorgeneem. Glück en sy gesin is na Rusland gedeporteer. b In daardie onstuimige tye het Glück die manuskripte van sy nuwe Lettiese Bybel en van sy Russiese vertaling verloor. Hy het in 1705 in Moskou gesterf.

Die verdwyning van hierdie latere weergawes in Letties en Russies was ’n groot verlies. Maar tot vandag toe vind almal wat die Lettiese Bybel lees, nog baat by Glück se oorspronklike vertaling.

Ernst Glück is net een van baie wat die ontsaglike taak onderneem het om die Bybel in volkstale te vertaal. Gevolglik kan feitlik elke taalgroep op die aarde God se Woord lees en sodoende die kosbare waters van die waarheid inneem. Ja, deur middel van Bybelvertalings in meer as 2 000 tale gaan Jehovah voort om hom aan mense in alle wêrelddele bekend te maak.

[Voetnote]

a In vergelyking hiermee het 47 geleerdes sewe jaar lank gewerk om die Engelse Authorized Version, of King James Version, in 1611 te voltooi.

b Glück se pleegdogter het hom oorleef en met die Russiese tsaar Pieter die Grote getrou. In 1725, die jaar waarin Pieter gesterf het, het sy Katharina I, die keiserin van Rusland, geword.

[Prent op bladsy 12]

Glück se vertaling

[Prent op bladsy 14]

Jehovah se Getuies leer mense die Bybel in die dorp waar Glück dit vertaal het