Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Geanker deur tydlose waardes

Geanker deur tydlose waardes

Geanker deur tydlose waardes

ALLE mensegemeenskappe staan die een of ander sedewet voor. Stem jy nie saam dat eienskappe soos eerlikheid, goedhartigheid, medelye en onselfsugtigheid regoor die wêreld hoog op prys gestel word en vir die meeste van ons aantreklik is nie?

Wie se waardes?

In die eerste eeu G.J. het ’n hooggeleerde man met die naam Saulus te midde van drie invloedryke waardestelsels gelewe—die Joodse, die Griekse en die Romeinse stelsels. Hierdie kulture het uitvoerige reëls en wette voorgeskryf, maar Saulus het gesien dat mense oor die algemeen ook deur ’n inherente sedelikheidsgevoel gerig word. Dit is ons gewete. Nadat Saulus die Christenapostel Paulus geword het, het hy geskryf: “Wanneer mense van die nasies, wat geen wet het nie, van nature [“deur natuurlike instink”, The New Testament in Modern Speech] die dinge van die wet doen, is hierdie mense, al het hulle geen wet nie, ’n wet vir hulleself. Dit is juis hulle wat toon dat die wese van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam met hulle getuig.”—Romeine 2:14, 15.

Maar is dit genoeg om net “deur natuurlike instink” gerig te word wanneer ons probeer besluit wat reg is en wat verkeerd is? Soos jy dalk al gesien het, is die mensegeskiedenis besaai met die mislukkings van individue en groepe. Dit het baie daarvan oortuig dat leiding van ’n hoër bron nodig is om die beste waardes vas te stel waarvolgens ons kan lewe. Baie sal erken dat die mensdom se Maker in die beste posisie is om hierdie tydlose standaarde te voorsien. In sy boek The Undiscovered Self het dr. Carl Jung gesê: “Die persoon wat nie in God geanker is nie, kan in sy eie krag geen weerstand bied teen die fisiese en sedelike verlokkings van die wêreld nie.”

Hierdie slotsom stem ooreen met die woorde van ’n eertydse profeet wat geskryf het: “Aan die mens [behoort] sy weg nie . . . Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Ons Skepper sê: “Tot jou eie beswil leer ek jou en lei ek jou op die regte pad.”—Jesaja 48:17, Contemporary English Version.

’n Gesaghebbende bron van betroubare waardes

Die woorde wat so pas aangehaal is, word in die wyds verspreide bron van sedelike waardes gevind—die Heilige Skrif. Miljoene mense regoor die wêreld, selfs nie-Christene en niegodsdienstige persone, het hulle vir insig en wysheid tot die Skrif gewend. Die Duitse digter Johann Wolfgang von Goethe het geskryf: “Wat my betref, ek het ’n liefde en eerbied [vir die Bybel], want ek het feitlik my hele sedelike opvoeding daaraan te danke.” Die Hindoeleier Mohandas Gandhi het volgens berig gesê: “Drink gerus diep van die fonteine wat vir julle gegee word in die Bergpredikasie [deel van Jesus Christus se leringe wat in die Bybel gevind word] . . . Want die leer van die Bergpredikasie is vir ’n ieder en ’n elk van ons bedoel.”

Die apostel Paulus, wat vroeër aangehaal is, het die belangrike rol beklemtoon wat die Heilige Skrif in die voorsiening van betroubare waardes speel: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig” (2 Timoteus 3:16). Is dit werklik die geval?

Waarom ondersoek jy dit nie self nie? Bestudeer die beginsels wat op die volgende bladsy uiteengesit word. Kyk na die nuttige waardes wat daardeur bevorder word. Peins oor hoe die gedagtes wat in hierdie leringe vervat is, die krag het om die gehalte van jou lewe en van jou verhoudinge met ander te verbeter.

Sal jy daarby baat vind?

Die beginsels wat uiteengesit word, is net ’n paar voorbeelde van die praktiese raad wat in die Heilige Skrif gevind word. God se Woord bevat daarbenewens ook tallose waarskuwings teen skadelike gedagtes, spraak en dade wat ’n nadelige invloed op ons lewe kan hê.—Spreuke 6:16-19.

Ja, die leringe van die Bybel bied iets waaraan daar oor die algemeen ’n groot gebrek in die mensegemeenskap is—raad wat mense in staat stel om die allerbeste sedelike standaarde te ontwikkel. Diegene wat hierdie leringe aanneem en toepas, ondergaan ’n belangrike verandering. Hulle denke verander ten goede (Efesiërs 4:23, 24). Hulle beweegredes verbeter. Toe hulle God se waardes geleer het, soos dit in die Bybel uiteengesit word, het dit baie mense gehelp om rassisme, vooroordeel en haat uit hulle hart uit te roei (Hebreërs 4:12). Die Skrif en die waardes wat daarin bevorder word, het mense beweeg om allerhande vorme van geweld en verdorwenheid die rug toe te keer en beter mense te word.

Ja, die Bybel se waardes het miljoene gehelp om diepgewortelde gewoontes en gebruike te oorkom wat die lewens van ander verwoes het (1 Korintiërs 6:9-11). Bybelleringe verander sulke persone—nie net hulle gewoontes nie, maar hulle harte, hulle verwagtinge, hulle gesinne. Ongeag hoeveel die wêreld agteruitgaan, mense regoor die aarde verander steeds ten goede. En dit gaan nie ophou nie. “Die groen gras het verdroog, die bloeisel het verwelk; maar wat die woord van ons God betref, dit sal tot onbepaalde tyd bly bestaan.”—Jesaja 40:8.

Maar sal jy persoonlik baat vind by “die woord van ons God”? Jehovah se Getuies sal jou met graagte wys hoe jy die Bybel se waardes jou eie kan maak, tot jou beswil. As ’n mens in ooreenstemming met hierdie waardes lewe, sal dit beteken dat jy nou God se goedkeuring verkry, asook uiteindelik ewige lewe wat deur goddelike, tydlose beginsels gerig word.

[Venster/Prent op bladsy 6]

TYDLOSE BEGINSELS

Die gulde reël. “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen; trouens, dit is wat die Wet en die Profete beteken.”—Matteus 7:12.

Wees lief vir jou naaste. “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:39). “Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.”—Romeine 13:10.

Respekteer en eer ander. “In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê. Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar.”—Romeine 12:10.

Streef vrede na. “Julle moet . . . vrede onder mekaar bewaar” (Markus 9:50). “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense” (Romeine 12:18). “Laat ons dan die dinge nastreef wat vrede bevorder.”—Romeine 14:19.

Wees vergewensgesind. “Vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe het” (Matteus 6:12). “Word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik.”—Efesiërs 4:32.

Wees lojaal, getrou. “Wees getrou aan jou eie vrou en gee jou liefde slegs aan haar. . . . Wees gelukkig met jou vrou en vind vreugde met die meisie met wie jy getrou het . . . Laat haar bekoorlikheid jou gelukkig hou; laat sy jou met haar liefde omring. . . . Waarom sou jy jou liefde vir ’n ander vrou gee? Waarom sou jy die bekoorlikheid van ’n ander man se vrou verkies?” (Spreuke 5:15-20, Today’s English Version). “Hy wat in die geringste getrou is, is ook in baie getrou, en hy wat in die geringste onregverdig is, is ook in baie onregverdig” (Lukas 16:10). “Wat . . . van bestuurders verwag word, is dat ’n man getrou bevind word.”—1 Korintiërs 4:2.

Wees eerlik. “Kan ek sedelik rein wees by ’n valse weegskaal en by ’n sak vol bedrieglike weegstene?” (Miga 6:11). “Ons vertrou dat ons ’n eerlike gewete het, aangesien ons ons in alles eerlik wil gedra.”—Hebreërs 13:18.

Wees waarheidliewend, regverdig. “Haat wat sleg is, en wees lief vir wat goed is, en gee geregtigheid ’n plek in die poort” (Amos 5:15). “Praat die waarheid met mekaar. Lewer julle regspraak met waarheid en met die oordeel van vrede in julle poorte” (Sagaria 8:16). “Noudat julle onwaarheid afgelê het, moet julle derhalwe die waarheid praat, elkeen van julle met sy naaste.”—Efesiërs 4:25.

Wees vlytig, ywerig. “Het jy ’n man gesien wat vaardig is in sy werk? Voor konings sal hy staan” (Spreuke 22:29). “Moenie traag wees in julle bedrywighede nie” (Romeine 12:11). “Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel soos vir Jehovah en nie vir mense nie.”—Kolossense 3:23.

Wees sagmoedig, medelydend, goedhartig. “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid.”—Kolossense 3:12.

Oorwin die kwaad met die goeie. “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg” (Matteus 5:44). “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin.”—Romeine 12:21.

Gee God jou beste. “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod.”—Matteus 22:37, 38.

[Prente]

As ons die Bybel se waardes aanneem, kan dit ons help om ’n suksesvolle huwelik, gelukkige gesinsverhoudings en sinvolle vriendskappe te geniet