Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah waardeer jou gehoorsaamheid

Jehovah waardeer jou gehoorsaamheid

Jehovah waardeer jou gehoorsaamheid

“Wees wys, my seun, en maak my hart bly.”—SPREUKE 27:11.

1. Watter gees vier hoogty in vandag se samelewing?

 ’N GEES van onafhanklikheid en ongehoorsaamheid vier vandag hoogty in die wêreld. Die apostel Paulus verduidelik in sy brief aan die Christene in Efese waarom dit die geval is: “Julle [het] vroeër volgens die stelsel van dinge van hierdie wêreld gewandel . . . , volgens die heerser van die gesag van die lug, die gees wat nou in die seuns van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:1, 2). Ja, Satan die Duiwel, “die heerser van die gesag van die lug”, het as ’t ware die hele wêreld besmet met die gees van ongehoorsaamheid. Hy het dit in die eerste eeu gedoen, en hy doen dit selfs in groter mate sedert hy omstreeks die tyd van die Eerste Wêreldoorlog uit die hemel gewerp is.—Openbaring 12:9.

2, 3. Watter redes het ons om aan Jehovah gehoorsaam te wees?

2 As Christene weet ons egter dat Jehovah God ons hartgrondige gehoorsaamheid verdien omdat hy ons Skepper, die Onderhouer van ons lewe, die liefdevolle Soewerein en ons Verlosser is (Psalm 148:5, 6; Handelinge 4:24; Kolossense 1:13; Openbaring 4:11). Die Israeliete van Moses se dag het geweet dat Jehovah hulle Lewegewer en hulle Redder is. Daarom het Moses vir hulle gesê: “Julle moet sorgvuldig doen net soos Jehovah julle God julle beveel het” (Deuteronomium 5:32). Ja, Jehovah het hulle gehoorsaamheid verdien. Tog het hulle gou ongehoorsaam geword aan hulle Soewerein.

3 Hoe belangrik is ons gehoorsaamheid aan die Skepper van die heelal? God het eenkeer deur middel van die profeet Samuel vir koning Saul gesê: “Om gehoorsaam te wees, is beter as ’n offerande” (1 Samuel 15:22, 23). Waarom?

Hoe gehoorsaamheid ‘beter is as ’n offerande’

4. In watter sin kan ons iets aan Jehovah gee?

4 Aangesien Jehovah die Skepper is, behoort al ons materiële besittings reeds aan hom. Is daar dan enigiets wat ons hom kan gee? Ja, ons kan hom iets baie kosbaars gee. Wat is dit? Ons kan die antwoord aflei uit hierdie vermaning: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee” (Spreuke 27:11). Ons kan God ons gehoorsaamheid gee. Hoewel ons verskillende omstandighede en agtergronde het, kan elkeen van ons, deur gehoorsaam te wees, ’n antwoord gee op die kwaadwillige aantyging van Satan die Duiwel dat mense nie lojaal aan God sal bly wanneer hulle beproewinge ondergaan nie. Wat ’n voorreg is dit tog!

5. Hoe raak ongehoorsaamheid die Skepper? Lig toe.

5 God stel belang in die besluite wat ons neem. As ons ongehoorsaam is, raak dit hom. Hoe? Dit bedroef hom om iemand so ’n onverstandige weg te sien inslaan (Psalm 78:40, 41). Gestel ’n diabeet hou nie by die gesonde dieet wat vir sy beswil voorgeskryf is nie en bly eet wat sleg is vir hom. Hoe sal sy besorgde geneesheer voel? Ons kan seker wees dat dit Jehovah bedroef wanneer mense ongehoorsaam is aan hom, want hy weet wat die gevolge is wanneer sy voorskrif vir die lewe geïgnoreer word.

6. Wat sal ons help om gehoorsaam te wees aan God?

6 Wat sal ons persoonlik help om gehoorsaam te wees? Dit is gepas dat elkeen van ons God om “’n gehoorsame hart” vra, soos koning Salomo gedoen het. Hy het so ’n hart gevra sodat hy “tussen goed en kwaad [kon] onderskei” om oor sy mede-Israeliete reg te spreek (1 Konings 3:9). Ons het “’n gehoorsame hart” nodig as ons tussen goed en kwaad wil onderskei in ’n wêreld waarin die gees van ongehoorsaamheid hoogty vier. God het vir ons sy Woord, Bybelstudiehulpe, Christelike vergaderinge en liefdevolle gemeentelike ouer manne gegee sodat ons “’n gehoorsame hart” kan aankweek. Maak ons goed gebruik van hierdie liefdevolle voorsienings?

7. Waarom lê Jehovah groter klem op gehoorsaamheid as op offerandes?

7 Dink in hierdie opsig aan die feit dat Jehovah in die verlede aan sy eertydse volk geopenbaar het dat gehoorsaamheid selfs belangriker is as diereoffers (Spreuke 21:3, 27; Hosea 6:6; Matteus 12:7). Waarom was dit die geval, aangesien dit Jehovah was wat sy volk beveel het om hierdie offerandes te bring? Wel, wat is die beweegrede van die een wat die offerande bring? Doen hy dit om God te behaag? Of volg hy bloot die een of ander ritueel? As ’n aanbidder God werklik wil behaag, sal hy sorg dat hy al God se gebooie gehoorsaam. God het diereoffers glad nie nodig nie, maar ons gehoorsaamheid is iets waardevols wat ons aan hom kan gee.

’n Waarskuwende voorbeeld

8. Waarom het God Saul as koning verwerp?

8 Die Bybelverslag van koning Saul beklemtoon dat gehoorsaamheid lewensbelangrik is. Aan die begin was Saul ’n nederige en beskeie heerser, wat ‘klein was in sy eie oë’. Maar mettertyd het trots en valse redenering sy besluite begin oorheers (1 Samuel 10:21, 22; 15:17). By een geleentheid moes Saul teen die Filistyne gaan veg. Samuel het die koning aangesê om vir hom te wag sodat hý offerandes aan Jehovah kon bring en verdere instruksies kon gee. Maar Samuel het nie so gou gekom as wat verwag is nie, en die volk het uitmekaar begin gaan. Toe Saul dit sien, “het hy die brandoffer geoffer”. Dit het Jehovah mishaag. Toe Samuel uiteindelik daar aankom, het die koning sy ongehoorsaamheid verontskuldig en gesê dat hy, omdat Samuel laat was, ‘homself gedwing het’ om die brandoffer te offer om Jehovah se aangesig te versag. Vir koning Saul was dit belangriker om daardie offerande te bring as om die opdrag te gehoorsaam wat hy ontvang het om vir Samuel te wag om die offerande te bring. Samuel het vir hom gesê: “Jy het dwaas opgetree. Jy het nie die gebod van Jehovah jou God onderhou wat hy jou beveel het nie.” Ongehoorsaamheid aan Jehovah het Saul sy koningskap gekos.—1 Samuel 10:8; 13:5-13.

9. Hoe het Saul ’n patroon van ongehoorsaamheid aan God geopenbaar?

9 Het die koning ’n les uit hierdie ondervinding geleer? Nee! Later het Jehovah Saul beveel om die Amalekiete uit te wis, wat Israel vroeër sonder enige aanleiding aangeval het. Saul moes nie eens hulle mak diere spaar nie. Hy was in sekere mate gehoorsaam deur “Amalek [te] verslaan van Hawila af tot by Sur”. Toe Samuel hom kom ontmoet, was die koning verheug oor die oorwinning en het hy gesê: “Mag u geseënd wees deur Jehovah. Ek het die woord van Jehovah uitgevoer.” Maar in stryd met die duidelike bevele wat hulle ontvang het, het Saul en sy manskappe koning Agag laat lewe, asook “die beste van die kleinvee en die beeste en die vettes en . . . die ramme en . . . alles wat goed was”. Koning Saul het sy ongehoorsaamheid geregverdig deur te sê: “Die manskappe het medelye gehad met die beste van die kleinvee en van die beeste, om aan Jehovah u God offerandes te bring.”—1 Samuel 15:1-15.

10. Watter les het Saul versuim om te leer?

10 Toe het Samuel vir Saul gesê: “Skep Jehovah soveel behae in brandoffers en offerandes as in gehoorsaamheid aan die stem van Jehovah? Kyk! Om gehoorsaam te wees, is beter as ’n offerande, om aandag te skenk beter as die vet van ramme” (1 Samuel 15:22). Aangesien Jehovah bepaal het dat daardie diere vernietig moet word, was hulle nie aanneemlik as offerandes nie.

Wees gehoorsaam in alles

11, 12. (a) Hoe beskou Jehovah ons pogings om hom in ons aanbidding te behaag? (b) Hoe maak ’n persoon homself dalk wys dat hy God se wil doen terwyl hy in werklikheid ongehoorsaam is?

11 Hoe verbly dit Jehovah tog om te sien dat sy lojale knegte standvastig bly ondanks vervolging, die Koninkryk verkondig ondanks die onverskilligheid van mense en Christelike vergaderinge bywoon ondanks die druk om ’n bestaan te maak! Ons gehoorsaamheid in hierdie belangrike aspekte van ons geestelike lewe maak sy hart bly! Ons pogings om Jehovah te aanbid, is vir hom kosbaar wanneer dit uit liefde voortspruit. Mense ignoreer dalk ons harde werk, maar God let op ons opregte offers en onthou dit.—Matteus 6:4.

12 Maar as ons ons God ten volle wil behaag, moet ons gehoorsaam wees in alle fasette van ons lewe. Ons moet ons nooit probeer wysmaak dat ons van party van God se vereistes kan afwyk solank ons hom in ander aspekte van die lewe aanbid nie. Byvoorbeeld, iemand maak homself dalk wys dat hy met onsedelikheid of ander ernstige oortredings kan wegkom solank hy party van die formaliteite van aanbidding nakom. Wat ’n fout sal dit tog wees!—Galasiërs 6:7, 8.

13. Hoe kan ons gehoorsaamheid aan Jehovah getoets word wanneer ons alleen is?

13 Gevolglik kan ons ons afvra: ‘Gehoorsaam ek Jehovah in my daaglikse bedrywighede, selfs in sake wat skynbaar persoonlik is?’ Jesus het gesê: “Hy wat in die geringste getrou is, is ook in baie getrou, en hy wat in die geringste onregverdig is, is ook in baie onregverdig” (Lukas 16:10). Wandel ons selfs ‘in ons huis in die onkreukbaarheid van ons hart’, waar ander ons nie sien nie? (Psalm 101:2). Ja, ons onkreukbaarheid kan getoets word terwyl ons in ons huis is. In baie lande waar rekenaars algemene huishoudelike artikels is, kan onwelvoeglike beelde met net ’n paar klieke van ’n muis gevind word. ’n Paar jaar gelede kon ’n mens sulke beelde nie sien sonder om na plekke te gaan waar onsedelike vermaak aangebied is nie. Sal ons gehoorsaam wees en Jesus se woorde ter harte neem: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg”? Ja, sal ons weier om selfs net te kyk na onsedelike beelde? (Matteus 5:28; Job 31:1, 9, 10; Psalm 119:37; Spreuke 6:24, 25; Efesiërs 5:3-5). Wat van gewelddadige TV-programme? Is ons dit eens met ons God, wie se siel ‘beslis elkeen haat wat geweld liefhet’? (Psalm 11:5). Of wat van die oormatige gebruik van alkohol wanneer ons alleen is? Die Bybel veroordeel dronkenskap, maar dit waarsku Christene ook om nie aan “baie wyn” verslaaf te wees nie.—Titus 2:3; Lukas 21:34, 35; 1 Timoteus 3:3, voetnoot in NW.

14. In watter opsigte kan ons gehoorsaamheid aan God in geldsake gesien word?

14 Nog ’n gebied waar ons op ons hoede moet wees, is die hantering van geldsake. Byvoorbeeld, sal ons betrokke raak by ’n kitsrykwordskema wat aan bedrog grens? Kom ons in die versoeking om belasting op onwettige maniere te probeer ontduik? Of gehoorsaam ons eerder nougeset die gebod: “Gee aan almal wat hulle toekom: aan hom wat die belasting verlang, die belasting”?—Romeine 13:7.

Gehoorsaamheid wat uit liefde voortspruit

15. Waarom gehoorsaam jy Jehovah se gebooie?

15 Gehoorsaamheid aan goddelike bevele bring seëninge mee. Byvoorbeeld, as ons ons van tabak onthou, ’n sedelike rein lewe lei en die heiligheid van bloed respekteer, kan ons sekere siektes vermy. En as ons in ander aspekte van die lewe in ooreenstemming met Bybelwaarheid lewe, kan dit ons ook ekonomies, maatskaplik of in die gesin tot voordeel strek (Jesaja 48:17). Sulke tasbare voordele kan tereg beskou word as seëninge wat toon hoe prakties God se wette is. Maar die hoofrede waarom ons Jehovah gehoorsaam, is omdat ons hom liefhet. Ons dien God nie om selfsugtige redes nie (Job 1:9-11; 2:4, 5). God het ons die vryheid gegee om te kies wie ons wil gehoorsaam. Ons kies om Jehovah te gehoorsaam omdat ons hom wil behaag en omdat ons probeer doen wat reg is.—Romeine 6:16, 17; 1 Johannes 5:3.

16, 17. (a) Hoe het Jesus uit innige liefde gehoorsaamheid aan God getoon? (b) Hoe kan ons Jesus navolg?

16 Jesus het die volmaakte voorbeeld gestel van gehoorsaamheid aan Jehovah uit innige liefde vir Hom (Johannes 8:28, 29). Terwyl hy op die aarde was, het Jesus “gehoorsaamheid geleer uit die dinge wat hy gely het” (Hebreërs 5:8, 9). Hoe? Jesus het “homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal” (Filippense 2:7, 8). Hoewel Jesus reeds in die hemel gehoorsaam was, is sy gehoorsaamheid verder getoets op die aarde. Ons kan seker wees dat Jesus in elke opsig hoogs bekwaam is om as Hoëpriester te dien vir sy geestelike broers sowel as vir ander gelowige mense.—Hebreërs 4:15; 1 Johannes 2:1, 2.

17 Wat van ons? Ons kan Jesus navolg deur gehoorsaamheid aan God se wil die voorkeur te gee (1 Petrus 2:21). Dit sal ons ’n gevoel van bevrediging verskaf wanneer ons liefde vir God ons beweeg om te doen wat Jehovah beveel, selfs wanneer druk op ons uitgeoefen word of ons in die versoeking kom om dit nie te doen nie (Romeine 7:18-20). Dit sluit in dat ons bereid moet wees om die riglyne te volg van diegene wat die leiding in ware aanbidding neem, al is hulle onvolmaak (Hebreërs 13:17). Ons gehoorsaamheid aan goddelike gebooie in ons persoonlike lewe is kosbaar in Jehovah se oë.

18, 19. Wat het ons hartgrondige gehoorsaamheid aan God tot gevolg?

18 Vandag kan gehoorsaamheid aan Jehovah beteken dat ons vervolging moet verduur om ons onkreukbaarheid te handhaaf (Handelinge 5:29). En ons gehoorsaamheid aan Jehovah se bevel om te preek en te onderrig, vereis dat ons tot die einde van hierdie stelsel van dinge moet volhard (Matteus 24:13, 14; 28:19, 20). Ons het volharding nodig om aan te hou om saam met ons broers te vergader, selfs al gaan ons gebuk onder die druk van hierdie wêreld. Ons liefdevolle God is terdeë bewus van ons pogings om op hierdie gebiede gehoorsaam te wees. Maar om ten volle gehoorsaam te wees, moet ons teen ons sondige vlees stry en ons afkeer van wat sleg is terwyl ons waardering opbou vir wat goed is.—Romeine 12:9.

19 Wanneer ons Jehovah uit liefde en met ’n hart vol waardering dien, word hy vir ons “die beloner . . . van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Gepaste offerandes is nodig en wenslik, maar dit is algehele gehoorsaamheid uit liefde vir Jehovah wat hom die meeste behaag.—Spreuke 3:1, 2.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom kan ons sê dat ons iets het wat ons Jehovah kan gee?

• Watter foute het Saul begaan?

• Hoe kan jy toon dat jy glo dat gehoorsaamheid beter is as offerandes?

• Wat beweeg jou om Jehovah te gehoorsaam?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 26]

Hoe sal ’n besorgde geneesheer voel oor ’n pasiënt wat sy aanbevelings ignoreer?

[Prent op bladsy 28]

Waarom het koning Saul hom Jehovah se misnoeë op die hals gehaal?

[Prente op bladsy 30]

Gehoorsaam jy God se gebooie in die privaatheid van jou huis?