Verlore in ’n see van veranderende waardes
Verlore in ’n see van veranderende waardes
VOLGENS ’n gewilde legende het hy helder oordag met ’n lantern rondgestap in ’n doelgerigte maar vrugtelose soeke na ’n deugsame mens. Sy naam was Diogenes, ’n filosoof wat in die vierde eeu v.G.J. in Atene gewoon het.
Daar kan nie bevestig word of dié legende waar is nie. Maar as Diogenes vandag gelewe het, sal hy tien teen een selfs harder moet soek om mense met goeie sedes te vind. Dit lyk of baie die opvatting verwerp dat mense vaste etiese waardes moet aanneem. Die media vestig herhaaldelik ons aandag op sedelike misstappe—in mense se privaat lewe, in die regering, in die beroepswêreld, in sport, in die sakegemeenskap en op ander gebiede. Baie van die waardes wat vorige geslagte na aan die hart gelê het, word nie meer gerespekteer nie. Gevestigde standaarde kom onder die soeklig en word dikwels verwerp. Ander waardes word in teorie gerespekteer, maar nie in die praktyk nie.
“Die dae van algemeen aanvaarde sedelike standaarde is verby”, sê die godsdienssosioloog Alan Wolfe. Hy het volgens berig ook gesê: “Nog nooit tevore in die geskiedenis het daar ’n sterker gevoel bestaan dat mense nie op tradisies en instellings kan vertrou om hulle sedelike leiding te gee nie.” Wat die afgelope 100 jaar betref, verwys die Los Angeles Times na die filosoof Jonathan Glover se opmerking dat die agteruitgang in godsdiens en algemeen aanvaarde sedewette ’n groot rol gespeel het in die wêreldwye toename in geweld.
Hierdie verwarring oor algemeen aanvaarde waardes het sommige mense egter nie verhinder om na ’n sedelike gedragskode te soek nie. ’n Paar jaar gelede het Federico Mayor, die voormalige direkteur-generaal van UNESCO, gesê dat “die wêreld, meer as ooit tevore, baie, baie besorg is oor sedelike norme”. Maar die feit dat die wêreld versuim om heilsame waardes aan te neem, beteken nie dat daar geen heilsame waardes is wat aangeneem kan en moet word nie.
Kan alle mense egter saamstem oor watter
standaarde aangeneem moet word? Klaarblyklik nie. En as daar nie eenstemmigheid is oor standaarde van reg en verkeerd nie, hoe kan enigiemand dan vasstel of enige waardes goed is? Hierdie beskouing dat sedelikheid relatief is, is vandag gewild. Tog kan jy sien dat hierdie gesindheid sedes oor die algemeen nie werklik laat verbeter het nie.Die Britse geskiedskrywer Paul Johnson is van mening dat hierdie filosofie dat sedelikheid relatief is, ’n rol gespeel het in die “ondermyning van die hoogs ontwikkelde gevoel van persoonlike verantwoordelikheid en van verpligting teenoor ’n gevestigde en onbetwisbare sedewet”, wat blykbaar voor die begin van die 20ste eeu geheers het.
Is dit dan moontlik om ’n “onbetwisbare sedewet” te vind of om volgens “algemeen aanvaarde sedewette” te lewe? Is daar ’n gesaghebbende bron wat tydlose, onveranderlike waardes kan voorsien wat ons lewe bestendig kan maak en ons ’n hoop vir die toekoms kan gee? Die volgende artikel sal hierdie vrae ondersoek.