Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg jy Jehovah na deur besorg te wees oor ander?

Volg jy Jehovah na deur besorg te wees oor ander?

Volg jy Jehovah na deur besorg te wees oor ander?

‘WERP al julle sorge op God, want hy sorg vir julle’ (1 Petrus 5:7). Wat ’n hartlike uitnodiging! Jehovah God is besorg oor sy volk. Ons kan veilig voel in sy arms.

Ons moet ook sulke liefdevolle besorgdheid oor ander aankweek en openbaar. Omdat ons onvolmaak is, moet ons oppas vir sekere valstrikke wanneer ons persoonlike belangstelling in ander toon. Voordat ons party hiervan bespreek, kom ons kyk eers na ’n paar maniere waarop Jehovah vir sy volk sorg.

Die psalmis Dawid het ’n herder as illustrasie gebruik om God se sorg te beskryf: “Jehovah is my Herder. Niks sal my ontbreek nie. In grasryke weivelde laat hy my neerlê; by waterryke rusplekke bring hy my. My siel verkwik hy. . . . Al wandel ek in die vallei van diep skaduwee, vrees ek niks slegs nie, want u is met my.”—Psalm 23:1-4.

Omdat Dawid self ’n herder was, het hy geweet wat dit behels om vir ’n kudde te sorg. Die herder beskerm sy skape teen roofdiere, soos leeus, wolwe en bere. Hy sorg dat die skape nie wegdwaal nie, soek dié wat wel verdwaal het, dra moeë lammers in sy boesem en versorg die siekes en beseerdes. Hy maak seker dat die kudde elke dag water het om te drink. Dit beteken nie dat die herder elke beweging van die skape beheer nie. Die skape is vry maar beskermd.

Dit is hoe Jehovah vir sy volk sorg. Die apostel Petrus het verduidelik: ‘Julle word deur God se krag beveilig.’ Hier beteken ‘word beveilig’ letterlik “word bewaak” (1 Petrus 1:5, voetnoot in NW). Uit opregte besorgdheid waak Jehovah altyd oor ons, immer gereed om hulp te verleen wanneer ons dit vra. Maar Jehovah het ons met wilsvryheid geskep, en daarom gryp hy nie in al ons dade en besluite in nie. Hoe kan ons Jehovah in hierdie opsig navolg?

Volg God na deur besorg te wees oor jou kinders

“Seuns is ’n erfdeel van Jehovah.” Ouers moet dus hulle kinders beskerm en besorg wees oor hulle (Psalm 127:3). Dit kan insluit dat hulle die kinders aanmoedig om te sê wat hulle dink en hoe hulle voel en hierdie dinge dan in aanmerking neem in hulle handelinge met hulle. As ouers elke beweging van hulle kinders probeer beheer en hulle wense heeltemal ignoreer, sal dit wees soos ’n herder wat sy skape met leibande probeer beheer. Geen herder sal só na sy kudde omsien nie; en ook sien Jehovah as herder nie só na ons om nie.

Mariko a erken: “Ek het jare lank net altyd vir my kinders gesê: ‘Jy moet dit doen’ en ‘Jy moenie dit doen nie’. Ek het gedink dat dít my plig is as ’n ouer. Ek het hulle nooit geprys nie, en ek het ook nie werklik met hulle gekommunikeer nie.” Hoewel Mariko se dogter ure lank met haar vriende oor die telefoon gepraat het, was haar gesprekke met haar ma nie baie lank nie. “Toe het ek die verskil besef”, sê Mariko. “Wanneer my dogter met haar vriende gepraat het, het sy uitdrukkings gebruik wat empatie toon, soos ‘Ja, ek stem saam’ of ‘Ek ook’. Ek het soortgelyke uitdrukkings begin gebruik om my dogter aan te moedig om oor haar gevoelens te praat, en ons gesprekke het gou langer en aangenamer geword.” Dit beklemtoon die belangrikheid van goeie kommunikasie, wat gewoonlik wederkerig is, nie eensydig nie.

Ouers moet hulle kinders aanmoedig om oor hulle gevoelens te praat, en kinders moet besef waarom ouerlike besorgdheid ’n beskerming is. Die Bybel maan kinders om hulle ouers te gehoorsaam; dan gee dit die rede: “Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag bly” (Efesiërs 6:1, 3). Kinders wat vas oortuig is van die voordele van onderdanigheid, vind dit makliker om gehoorsaam te wees.

Die versorging van Jehovah se kudde

Jehovah se liefdevolle besorgdheid word in die Christengemeente weerspieël. As die Hoof van die gemeente rig Jesus Christus ouer manne om vir sy kudde te sorg (Johannes 21:15-17). Die Griekse woord vir opsiener is verwant aan ’n werkwoord wat “sorgvuldig oppas” beteken. Petrus beklemtoon hoe dit gedoen moet word en beveel ouer manne: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is, nie onder dwang nie, maar gewillig; ook nie uit liefde vir oneerlike gewin nie, maar gretig; ook nie as persone wat baasspeel oor dié wat God se erfenis is nie, maar deur voorbeelde vir die kudde te word.”—1 Petrus 5:2, 3.

Ja, die ouer manne se taak is soortgelyk aan dié van herders. Christen- ouer manne moet sorg vir dié wat geestelik siek is en hulle reghelp sodat hulle lewe regverdige standaarde weerspieël. Dit is die ouer manne se verantwoordelikheid om gemeentelike bedrywighede te organiseer, reëlings vir vergaderinge te tref en orde in die gemeente te handhaaf.—1 Korintiërs 14:33.

Petrus se voorgaande woorde vestig egter ons aandag op ’n gevaar—dat ouer manne moontlik oor die gemeente sal “baasspeel”. ’n Aanduiding hiervan is as ’n ouer man onnodige reëls neerlê. Weens ’n sterk pligsgevoel om die kudde te beskerm, gaan ’n ouer man miskien te ver. In een gemeente in die Ooste het ouer manne reëls neergelê oor hoe om ander in die Koninkryksaal te groet—soos wie eerste moet praat—vas oortuig daarvan dat hierdie reëls tot die vrede van die gemeente sou bydra. Het hierdie ouer manne, hoewel hulle beweegredes ongetwyfeld goed was, Jehovah se sorg vir sy volk nagevolg? Interessant genoeg, die apostel Paulus se geestesgesindheid is weerspieël in sy woorde: “Nie dat ons die meesters oor julle geloof is nie, maar ons is medewerkers vir julle vreugde, want deur julle geloof staan julle” (2 Korintiërs 1:24). Jehovah vertrou sy volk.

Ouer manne toon hulle opregte besorgdheid nie net deur hulle daarvan te weerhou om reëls neer te lê wat geen skriftuurlike grondslag het nie, maar ook deur nie vertroulike inligting bekend te maak nie. Hulle hou die goddelike waarskuwing in gedagte: “Moenie die vertroulike gesprek van ’n ander openbaar nie.”—Spreuke 25:9.

Die apostel Paulus het die gemeente van gesalfde Christene met die menseliggaam vergelyk: “God het die liggaam saamgestel . . . sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam moet wees nie, maar die lede daarvan dieselfde sorg vir mekaar moet dra” (1 Korintiërs 12:12, 24-26). Die Griekse uitdrukking vir “dieselfde sorg vir mekaar moet dra” beteken letterlik ‘moet besorg wees oor mekaar’. Die lede van die Christengemeente moet intens in mekaar belangstel.—Filippense 2:4.

Hoe kan ware Christene toon dat hulle ‘besorg is oor mekaar’? Hulle kan hulle besorgdheid oor ander gemeentelede toon deur middel van hulle gebede en deur praktiese hulp aan te bied vir dié wat dit nodig het. Dit help om die goeie in ander na vore te bring. Beskou hoe Tadataka deur sulke liefdevolle besorgdheid gehelp is. Toe hy op die ouderdom van 17 gedoop is, was hy die enigste een in sy gesin wat Jehovah gedien het. Hy sê: “’n Gesin in die gemeente het my dikwels vir etes en gesellighede genooi. Ek het byna elke oggend op pad skool toe by hulle aangegaan om die dag se Bybelteks saam met hulle te bespreek. Ek het raad gekry oor hoe om probleme by die skool te bowe te kom, en ons het saam daaroor gebid. By hierdie gesin het ek geleer om te gee.” Tadataka pas nou toe wat hy geleer het deur by een van die takkantore van Jehovah se Getuies te dien.

Die apostel Paulus het teen ’n spesifieke valstrik gewaarsku wanneer dit by belangstelling in ander kom. Hy het sekere vroue gemeld wat “skindertonge” geword het en ‘wat hulle met ander se sake bemoei het en oor dinge gepraat het waaroor hulle nie behoort te praat nie’ (1 Timoteus 5:13). Terwyl ons tereg in ander belangstel, moet ons oppas dat dit nie die punt bereik waar ons ons met hulle persoonlike sake bemoei nie. ’n Aanduiding van oordrewe belangstelling in ander is wanneer ons ‘praat oor dinge waaroor ons nie behoort te praat nie’, soos om kritiese aanmerkings te maak.

Ons moet onthou dat Christene kan verskil in hoe hulle hulle persoonlike sake behartig, wat hulle besluit om te eet en watter soort heilsame ontspanning hulle kies. Elkeen is vry om te besluit wat hy sal doen binne die perke van Bybelbeginsels. Paulus het Christene in Rome gemaan: “Laat ons mekaar . . . nie langer oordeel nie. . . . Laat ons dan die dinge nastreef wat vrede bevorder en die dinge wat vir mekaar opbouend is” (Romeine 14:13, 19). Ons opregte besorgdheid oor ander in die gemeente moet getoon word, nie deur ons met hulle sake te bemoei nie, maar deur ons bereidwilligheid om te help. Wanneer ons só vir mekaar sorg, sal liefde en eenheid in die gesin en in die gemeente floreer.

[Voetnoot]

a Van die name is verander.

[Prent op bladsy 19]

Moedig jou kinders deur middel van lof en empatie aan om oor hulle gevoelens te praat