’n Jaar in “die goeie land”
’n Jaar in “die goeie land”
IN 1908 is ’n opwindende ontdekking gedoen by die eertydse ligging van die Bybelse stad Geser, wat in die rigting van die kusvlakte wes van Jerusalem geleë is: ’n klein kalksteengedenkplaat of -tablet, wat blykbaar uit die tiende eeu v.G.J. dateer. Op die tablet is daar antieke Hebreeuse skrif gevind wat vermoedelik ’n vereenvoudigde weergawe is van ’n landboujaar of -siklus, met sy verskillende landboubedrywighede. Hierdie tablet het bekend geword as die Kalender van Geser.
Die tablet is onderteken deur ’n sekere Abia. Hoewel nie alle argeoloë saamstem nie, meen baie dat dit ’n skoolseun se huiswerk is wat in digvorm geskryf is. a Sou jy graag die verloop van die seisoene wou sien deur die oë van ’n seun wat destyds geleef het? Dit kan jou dalk help om ’n paar Bybelgebeure te herroep.
Twee maande van insameling
Die skrywer van hierdie eertydse kalender het met die algemene insameling begin. Hoewel dit eerste in hierdie kalender aangegee is, kan ’n mens verstaan waarom die Israeliete hierdie insameling as die hoogtepunt, of einde, van die vernaamste deel van die landboujaar beskou het. Die maand Etanim (wat later Tisjri genoem is) kom ooreen met September/Oktober op ons huidige kalender. Met die grootste deel van die oes agter die rug was dit ’n besonder feestelike tyd waarby jong Abia betrokke sou gewees het. Stel jou sy opgewondenheid voor terwyl hy sy vader gehelp het om die hut te bou wat ’n week lank hulle tuiste sou wees terwyl hulle Jehovah met vreugde gedank het vir die opbrengs van hulle landerye!—Deuteronomium 16:13-15.
Omstreeks hierdie tyd was die olywe byna gereed vir Abia se gesin om in te samel deur die bome se takke te slaan, ’n taak wat dalk vir jong Abia te moeilik was, maar wat pret was om dop te hou (Deuteronomium 24:20). Hulle sou die olywe dan optel en dit na die naaste klipstampblok neem om olie te maak. Of ’n gesin kon olie deur middel van ’n eenvoudiger metode verkry—deur gekneusde of gebarste olywe in water te plaas en dan die olie wat op die oppervlak dryf, af te skep. Hoe dit ook al sy, hierdie kosbare vloeistof het nie net as voedsel gedien nie. Dit is ook gebruik as brandstof vir lampe en om kneusplekke en wonde mee te behandel, soos dié wat ’n seun soos Abia moontlik sou kry terwyl hy gespeel het.
Twee maande van saaiwerk
Wanneer die vroeë reëns begin val het, was Abia dalk bly om die koel druppels op sy vel te voel. Sy vader het hom waarskynlik vertel hoe belangrik reën vir die land is (Deuteronomium 11:14). Die grond, wat maande lank deur die son hard gebak is, sou sag word en gereed wees om geploeg te word. ’n Ploeër van die ou tyd het ’n houtploeg, dalk een met ’n metaalpunt, behendig gestuur terwyl ’n dier dit getrek het. Die doel was om reguit vore in die grond te maak. Die land was kosbaar, en daarom het Israelitiese boere selfs klein lappies grond benut, ook die skuinstes. Maar daar sou hulle moontlik handgereedskap moes gebruik.
Nadat die sagte grond geploeg is, kon koring en gars gesaai word. Dit is interessant dat die volgende inskrywing in die Kalender van Geser na twee maande van hierdie soort saaiwerk verwys. Die saaier het moontlik die graankorrels in ’n vou van sy klere gedra en die saad met ’n wye, swaaiende beweging van sy arm versprei.
Twee maande van laat saaiwerk
“Die goeie land” het nooit opgehou om voedsel voort te bring nie (Deuteronomium 3:25). Gedurende Desember het die reënval ’n hoogtepunt bereik, en die land het groen geword. Dit was die tyd vir die laat saaiwerk waartydens peulgroente, soos ertjies en dwerg-ertjies, sowel as ander groentes gesaai is (Amos 7:1, 2). Op die tablet het Abia dit die “lenteweiding” of, volgens ’n ander vertaling, die “laat plantwerk” genoem, ’n tyd van heerlike disse wat voorberei is met baie groentes uit hierdie tyd van die jaar.
Namate die effens koue seisoen warmer geword het, het die amandelboom, ’n lentebode, wit en pienk bloeisels begin kry. Dit kon begin wanneer dit selfs net ’n bietjie warmer word, reeds in Januarie.—Jeremia 1:11, 12.
Een maand waarin vlas gesny is
Abia het vlas volgende genoem. Dit laat jou dalk dink aan ’n voorval wat eeue voor Abia se tyd aan die oostekant van die Judese heuwels plaasgevind het. In die stad Jerigo het Ragab twee spioene “weggesteek tussen vlasstingels wat [op haar] dak in rye gelê is” sodat dit kon droog word (Josua 2:6). Vlas het ’n belangrike rol in die Israeliete se lewens gespeel. Die plantmateriaal moes eers verrot om die vlasvesels te laat los raak. Dit het stadig gebeur met behulp van die dou of vinniger as die vlas in ’n dammetjie of ’n stroom geplaas is. Wanneer die vlasvesels geskei is, is dit gebruik om linne te vervaardig, waarvan daar dan seile, tente en klere gemaak is. Vlas is ook vir lamppitte gebruik.
Party maak beswaar teen die idee dat vlas in die gebied van Geser gekweek is, waar daar nie juis baie water was nie. Ander beweer dat vlas eers later in die jaar gekweek is. Dit is waarom party glo dat die woord “vlas” in die Kalender van Geser ’n sinoniem is vir “gras” wat as veevoer gebruik is.
Een maand van die garsoes
Elke jaar, naby die lente-dag-en-nag-ewening, het Abia die groen garsare gesien, die oes wat hy volgende op sy kalender genoem het. Die ooreenstemmende Hebreeuse maand is Abib, wat “Groen are” beteken, moontlik met verwysing na die stadium wanneer die are ryp maar nog sag is. Jehovah het beveel: “Laat die maand Abib onderhou word, en jy moet die pasga vir Jehovah . . . vier” (Deuteronomium 16:1). Abib (wat later Nisan genoem is) kom ooreen met dele van die hedendaagse Maart en April. Die tyd wanneer die gars ryp geword het, het moontlik ’n rol daarin gespeel om die begin van hierdie maand te bepaal. Selfs vandag let Karaïtiese Jode op hierdie rypwording om hulle nuwe jaar vas te stel. Hoe dit ook al sy, die eerstelinge van die garsoes moes op die 16de Abib voor Jehovah beweeg word.—Levitikus 23:10, 11.
Gars het ’n baie belangrike rol in die daaglikse lewe van die meeste Israeliete gespeel. Omdat gars goedkoper as koring was, het hulle, veral die armes, dikwels verkies om eerder daarmee brood te bak.—Esegiël 4:12.
Een maand van oes en afmeting
As ’n mens terugdink aan Abia se tyd, kan jy jou voorstel dat hy dalk vroeg een oggend gesien het hoe die swaar wolke stadigaan verdwyn—wat beteken het dat daar ’n ruk lank geen reën meer sou wees nie. Die plante van die goeie land was nou van die dou afhanklik (Genesis 27:28; Sagaria 8:12). Israelitiese boere het geweet dat baie van die gewasse en vrugte wat gedurende die sonnigste maande van die jaar ingesamel word, tot Pinkster net die regte winde nodig gehad het. Die koue, nat wind wat uit die noorde gewaai het, was moontlik voordelig vir graan wat nog besig was om te groei, maar dit was skadelik vir vrugtebome wat al bloeisels gehad het. Die warm, droë wind uit die suide het die bloeisels gehelp om oop te gaan en bestuif te word.—Spreuke 25:23; Hooglied 4:16.
Jehovah, die Heer van die elemente, het ’n fyn gebalanseerde ekologiese stelsel in werking gestel. In Abia se dag was Israel werklik “’n land van koring en gars en wingerdstokke en vye en granate, ’n land van olieryke olywe en heuning” (Deuteronomium 8:8). Abia se oupa het hom dalk alles vertel omtrent die buitengewone tydperk van oorvloed onder die heerskappy van wyse koning Salomo—’n duidelike bewys van Jehovah se seën.—1 Konings 4:20.
Ná die vermelding van die oes het die kalender ’n woord bevat wat party dink “afmeting” beteken. Dit kan verwys na die afmeting van die oes om porsies aan die eienaars van die landery en aan die werkers te gee of selfs om as belasting te betaal. Maar ander geleerdes verstaan die Hebreeuse woord as “feesviering” en beskou dit as ’n verwysing na die Fees van die Weke, wat in die maand Siwan (Mei/Junie) geval het.—Eksodus 34:22.
Twee maande waarin blare gepluk is
Abia het vervolgens oor twee maande geskryf waarin daar na die wingerdstokke omgesien is. Het hy dalk gehelp om die welige blare van die wingerdstokke af te pluk sodat die son die druiwe kon bereik? (Jesaja 18:5). Daarna was dit tyd om die druiwe in te samel, ’n opwindende periode vir ’n jongmens van destyds. Hoe heerlik was die eerste ryp druiwe tog nie! Abia het heel moontlik gehoor van die 12 verkenners wat deur Moses na die Beloofde Land gestuur is. Hulle het in die dae van die eerste ryp druiwe soontoe gegaan om te sien hoe goed die land is. By daardie geleentheid was een van die druiwetrosse so groot dat twee manne dit moes dra!—Numeri 13:20, 23.
Een maand van somervrugte
Die laaste inskrywing op Abia se kalender het na somervrugte verwys. In die eertydse Midde-Ooste was somer die deel van die landboujaar wanneer vrugte die vernaamste produk was. Ná Abia se tyd het Jehovah die uitdrukking “’n mandjie somervrugte” gebruik om toe te lig dat ‘die einde vir sy volk Israel gekom het’, deur in Hebreeus ’n woordspeling tussen “somervrugte” en “einde” te gebruik (Amos 8:2). Dit moes ontroue Israel daaraan herinner het dat hulle tot hulle einde gekom het en dat hulle Jehovah se oordeel verdien. Vye was ongetwyfeld van die somervrugte waarna Abia verwys het. Somervye is soms in koeke saamgepers om te eet of om as ’n pap op swere aan te wend.—2 Konings 20:7.
Die Kalender van Geser en jy
Jong Abia was heel moontlik regstreeks betrokke by die landbou van Israel. Plaasbedrywighede was algemeen onder die Israeliete van daardie dae. Al het jy self nie veel met landboubedrywighede te doen nie, kan die verwysings in die tablet van Geser help om jou Bybellees te laat lewe en dit verstaanbaarder en betekenisvoller te maak.
[Voetnoot]
a Nie almal stem saam oor die ooreenkomste tussen die lys op die Kalender van Geser en die maande wat oor die algemeen in die Bybel gevolg is nie. Daarbenewens vind nie alle landboubedrywighede moontlik op presies dieselfde tyd in die verskillende dele van die Beloofde Land plaas nie.
[Venster/Prent op bladsy 11]
’N MOONTLIKE WEERGAWE VAN DIE TEKS VAN DIE KALENDER VAN GESER:
“Maande van die druiwe- en olyfoes;
maande van saaiwerk;
maande van die lenteweiding;
maand om vlas te trek;
maand van die garsoes;
maand van die koringoes en afmeting;
maande van snoeiwerk;
maand van die somervrugte.”
[geteken:] Abia b
[Voetnoot]
b Gebaseer op Textbook of Syrian Semitic Inscriptions, Deel 1, deur John C. L. Gibson, 1971.
[Erkenning]
Archaeological Museum of Istanbul
[Tabel/Prente op bladsy 9]
NISAN (ABIB)
Maart—April
IJJAR (SIF)
April—Mei
SIWAN
Mei—Junie
TAMMUS
Junie—Julie
AB
Julie—Augustus
ELUL
Augustus—September
TISJRI (ETANIM)
September—Oktober
GESWAN (BUL)
Oktober—November
KISLEF
November—Desember
TEBET
Desember—Januarie
SEBAT
Januarie—Februarie
ADAR
Februari—Maart
WE-ADAR
Maart
[Erkenning]
Boer: Garo Nalbandian
[Prent op bladsy 8]
Opgrawing by Geser
[Erkenning]
© 2003 BiblePlaces.com
[Prente op bladsy 10]
Amandelboom
[Prent op bladsy 10]
Vlasplant
[Erkenning]
Dr. David Darom
[Prent op bladsy 10]
Gars
[Erkenning]
U.S. Department of Agriculture