Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bybelonderrig bou geloof

Bybelonderrig bou geloof

Bybelonderrig bou geloof

“WAT ’n kosbare voorreg was dit tog om die afgelope vyf maande aandag te skenk aan die gedagtes van ons Skepper en te leer om dinge te beskou soos hy dit beskou!” het ’n verteenwoordiger van die 122ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead op gradueringsdag gesê. Die 10de Maart 2007 sal lank onthou word deur die 56 lede van die klas, wat op die punt gestaan het om hulle sendingdiens te begin in die 26 lande waar hulle toegewys is.

Nadat Theodore Jaracz, ’n lid van die Bestuursliggaam, die gehoor van 6 205 hartlik verwelkom het, het hy gesê: “Ons is seker dat julle bywoning van hierdie gradueringsprogram julle geestelik gaan versterk en dat dit julle geloof gaan opbou.” Hy het vier sprekers, wat die studente tydige Bybelse aanmoediging en raad sou gee om hulle te help om suksesvol in hulle sendingtoewysings te wees, een na die ander aan die woord gestel.

Bemoedigende woorde om geloof in ander te bou

Leon Weaver, ’n lid van die Takkomitee in die Verenigde State, het die tema bespreek: “Hou aan om te doen wat goed is.” Hy het die studente daaraan herinner dat elkeen van hulle gemiddeld 13 jaar in die voltydse diens deurgebring het, waartydens hulle Bybelonderrig bevorder het wat geloof bou. Hy het gesê: “Dit is ’n goeie werk omdat dit mense se lewens red, en nog belangriker, dit is ’n goeie werk omdat dit ons hemelse Vader, Jehovah, verheerlik.” Broer Weaver het die studente toe aangespoor om voort te gaan om ‘met die oog op die gees te saai’ en om nie ‘op te hou om te doen wat goed is nie’.—Galasiërs 6:8, 9.

David Splane, ’n lid van die Bestuursliggaam, het praktiese herinneringe gegee terwyl hy die tema “Maak seker dat julle die beste voet voorsit” ontwikkel het. Broer Splane het die nuwe sendelinge aangespoor om goed te begin in hulle toewysings deur die volgende te doen: “Behou ’n positiewe gesindheid. Moenie oorhaastige gevolgtrekkings maak nie. Glimlag. Moenie krities wees nie. Wees nederig en respekteer die plaaslike broers.” Toe het hy bygevoeg: “Wanneer julle van die vliegtuig afstap, moet julle julle beste voet voorsit, en mag Jehovah daardie pragtige voete van julle seën terwyl hulle die ‘goeie nuus van iets beters’ na die mense neem.”—Jesaja 52:7.

“’n Erfenis wat ’n absolute sekerheid is” was die tema wat deur die Gileadinstrukteur Lawrence Bowen bespreek is. Broer Bowen het die studente daaraan herinner dat die stigting van die Gileadskool gedurende die Tweede Wêreldoorlog gegrond was op volle vertroue in die vervulling van Jehovah se profetiese Woord (Hebreërs 11:1; Openbaring 17:8). Gilead het studente sedertdien die geleentheid gebied om hulle geloof te versterk. Sterk geloof spoor gegradueerdes aan om uit te gaan en die waarheid ywerig te verkondig.

Mark Noumair, nog ’n Gileadinstrukteur, het die interessante tema bespreek: “Julle laat my aan iemand dink.” Hy het die aandag gevestig op die voorbeeld van die profeet Elisa, wat geloof en moed in sy toewysing aan die dag gelê het. Broer Noumair het sy kommentare op 1 Konings 19:21 gebaseer en gesê: “Elisa was bereid om aanpassings in sy lewe te maak, sy eie belange op die agtergrond te skuif en Jehovah se belange te bevorder.” Hy het die gegradueerdes geprys omdat hulle dieselfde gees geopenbaar het en hulle aangespoor om voort te gaan om dit in hulle nuwe toewysings te doen.

Geloof bevorder vrymoedigheid van spraak

Terwyl die toekomstige sendelinge hulle geloof gedurende die skooltermyn opgebou het, het hulle van die naweke gebruik gemaak om die goeie nuus aan ander te verkondig. Dit het goeie ondervindinge tot gevolg gehad wat vertel en gedemonstreer is in ’n programdeel wat behartig is deur Wallace Liverance, nog ’n Gileadinstrukteur. Die tema van sy deel, “Ons beoefen geloof, en daarom spreek ons”, was gebaseer op die apostel Paulus se woorde in 2 Korintiërs 4:13.

Ná hierdie deel het Daniel Barnes en Charles Woody, lede van die Bethelgesin, onderhoude met huidige en voormalige sendelinge gevoer. Hierdie sendelinge het beklemtoon hoe Jehovah sorg vir diegene wat hom getrou dien en hoe hy hulle seën (Spreuke 10:22; 1 Petrus 5:7). Een sendeling het gesê: “Ek en my vrou het beslis Jehovah se sorg gesien in die onderrigting wat ons by Gilead ontvang het. Dit het werklik ons geloof opgebou. Geloof is belangrik omdat al God se knegte, sendelinge inkluis, beproewinge, probleme en kwellinge gaan hê.”

Hou aan om Bybelonderrig te bevorder wat geloof bou

As ’n gepaste hoogtepunt van die gradueringsprogram het Samuel Herd, ’n lid van die Bestuursliggaam, die gehoor toegespreek oor die onderwerp: “Hou aan om julle broers op te bou.” Wat was die doel van die onderrigting wat die studente ontvang het? “Die doel daarvan was om julle te leer hoe om julle tong te gebruik om Jehovah te loof, om sy waarhede aan ander in julle nuwe toegewese gebied te leer en om mekaar in die geloof op te bou”, het broer Herd gesê. Hy het die studente egter daaraan herinner dat die tong ook dinge kan bevorder wat nie opbouend is nie (Spreuke 18:21; Jakobus 3:8-10). Hy het die studente aangespoor om Jesus se voorbeeld na te volg in hoe hulle hulle tong gebruik. By een geleentheid het Jesus se dissipels, nadat hulle na hom geluister het, gesê: “Het ons hart nie gebrand . . . toe hy die Skrif ten volle vir ons geopen het nie?” (Lukas 24:32). Broer Herd het gesê: “As julle woorde positief is, sal dit die harte van julle broers en susters in julle toewysing raak.”

Daarna het die gegradueerdes hulle diplomas ontvang. Toe is ’n brief gelees waarin die klas hulle waardering uitgespreek het. Dit het gelui: “Ons voel ’n sterk verantwoordelikheid om te gebruik wat ons geleer het om ons toewysings as sendelinge getrou uit te voer. Noudat ons gereedstaan om na die eindes van die aarde te gaan, bid ons dat ons pogings groot lof aan ons Grootse Onderrigter, Jehovah God, sal bring.” Die gehoor het toe geesdriftig hande geklap. Die gradueringsprogram het inderdaad die geloof van al die aanwesiges opgebou.

[Lokteks op bladsy 17]

“As julle woorde positief is, sal dit die harte van julle broers en susters in julle toewysing raak”

[Venster op bladsy 15]

KLASSTATISTIEK

Aantal lande verteenwoordig: 9

Aantal lande waarheen gestuur: 26

Aantal studente: 56

Gemiddelde ouderdom: 33,4

Gemiddelde jare in waarheid: 16,8

Gemiddelde jare in voltydse diens: 13

[Prent op bladsy 16]

122ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

In die lys hieronder word die rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.

(1) Howitt, R.; Smith, P.; Martinez, A.; Pozzobon, S.; Kitamura, Y.; Laud, C. (2) Fiedler, I.; Beasley, K.; Matkovich, C.; Bell, D.; Lippincott, W. (3) Sites, W.; Andersen, A.; Toevs, L.; Fusano, G.; Rodríguez, C.; Yoo, J. (4) Sobomehin, M.; Thomas, L.; Gasson, S.; Dauba, V.; Bertaud, A.; Winn, C.; Dobrowolski, M. (5) Yoo, J.; Dauba, J.; Mixer, H.; Newton, M.; Rodríguez, F.; Mixer, N. (6) Laud, M.; Lippincott, K.; Martinez, R.; Haub, A.; Schamp, R.; Pozzobon, L.; Toevs, S. (7) Howitt, S.; Kitamura, U.; Newton, D.; Haub, J.; Sites, J.; Thomas, D. (8) Sobomehin, L.; Matkovich, J.; Fusano, B.; Winn, J.; Schamp, J.; Andersen, D.; Dobrowolski, J. (9) Fiedler, P.; Bell, E.; Beasley, B.; Smith, B.; Bertaud, P.; Gasson, M.