Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Glanspunte uitdie boek Esegiël—I

Glanspunte uitdie boek Esegiël—I

Jehovah se Woord is lewend

Glanspunte uit die boek Esegiël—I

DIT is die jaar 613 v.G.J. Die profeet Jeremia is in Juda, en hy maak die naderende vernietiging van Jerusalem en die verwoesting van die land van Juda onbevrees bekend. Koning Nebukadnesar van Babilon het alreeds baie Jode in gevangenskap weggevoer. Onder hulle is die jong Daniël en sy drie metgeselle, wat aan die Galdese hof dien. Die meeste Joodse ballinge is by die Kebarrivier in “die land van die Galdeërs” (Esegiël 1:1-3). Jehovah laat hierdie gevangenes nie sonder ’n boodskapper nie. Hy stel die 30-jarige Esegiël as profeet aan.

Die boek Esegiël, wat in 591 v.G.J. voltooi is, dek ’n tydperk van 22 jaar. Esegiël skryf alles baie noukeurig neer. Hy dateer sy profesieë deur nie net die jaar te verstrek nie, maar selfs ook die dag en die maand. Die eerste deel van Esegiël se boodskap handel oor die val en vernietiging van Jerusalem. Die tweede deel bevat uitsprake teen omliggende nasies, en die laaste deel het te doen met die herstelling van Jehovah se aanbidding. Hierdie artikel bespreek glanspunte uit Esegiël 1:1–24:27 en dek visioene, profesieë en tonele wat toon wat met Jerusalem sou gebeur.

‘’N WAG HET EK JOU GEMAAK’

(Esegiël 1:1–19:14)

Nadat Esegiël ’n ontsagwekkende visioen van Jehovah se troon gesien het, ontvang hy sy opdrag. “’n Wag het ek jou vir die huis van Israel gemaak”, sê Jehovah vir hom, “en jy sal woorde uit my mond hoor en jy moet hulle namens my waarsku” (Esegiël 3:17). Om die beleëring van Jerusalem en die gevolge daarvan te voorspel, word Esegiël beveel om twee tonele uit te beeld. Met verwysing na die land van Juda sê Jehovah deur Esegiël: “Hier is ek! Ek bring ’n swaard oor julle, en ek sal beslis julle hoogtes vernietig” (Esegiël 6:3). Aan die inwoner van die land sê hy: “Die sierkrans [van rampspoed] moet by jou kom.”—Esegiël 7:7.

In 612 v.G.J. word Esegiël in ’n visioen na Jerusalem gevoer. Watter verfoeilike dinge sien hy tog in God se tempel plaasvind! Wanneer Jehovah sy hemelse teregstellingsmagte (voorgestel deur “ses manne”) stuur om aan sy toorn teenoor die afvalliges uiting te gee, sal net dié wat ‘’n merk op die voorkop’ ontvang het, gespaar word (Esegiël 9:2-6). Maar eers moet “vuurkole”—God se vurige boodskap van vernietiging—oor die stad gestrooi word (Esegiël 10:2). Hoewel ‘Jehovah die goddeloses se weg op hulle hoof sal laat neerkom’, belowe hy dat hy die verstrooides van Israel weer bymekaar sal maak.—Esegiël 11:17-21.

God se gees bring Esegiël terug na Galdea. Esegiël beeld ’n toneel uit wat koning Sedekia en die volk se vlug uit Jerusalem voorstel. Valse profete en profetesse word veroordeel. Afgodedienaars word verwerp. Juda word vergelyk met ’n waardelose wingerdstok. ’n Raaisel oor arende en ’n wingerdstok toon wat die bittere gevolge sal wees omdat Jerusalem hom tot Egipte gewend het vir hulp. Die raaisel sluit af met die belofte dat ‘Jehovah ’n sagte takkie op ’n hoë berg sal oorplant’ (Esegiël 17:22). Maar in Juda sal daar ‘geen septer wees om te heers nie’.—Esegiël 19:14.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

1:4-28—Wat stel die hemelse strydwa voor? Die strydwa stel die hemelse deel van Jehovah se organisasie voor wat uit getroue geesskepsele bestaan. Die strydwa se bron van krag is Jehovah se heilige gees. Die Een wat op die strydwa ry, wat Jehovah voorstel, is onbeskryflik glorieryk. Sy kalmte word deur ’n pragtige reënboog voorgestel.

1:5-11—Wie is die vier lewende wesens? In sy tweede visioen van die strydwa identifiseer Esegiël die vier lewende wesens as gerubs (Esegiël 10:1-11; 11:22). In hierdie latere beskrywing noem hy die bul se gesig “die gesig van die gerub” (Esegiël 10:14). Dit is gepas, want die bul is ’n simbool van mag en krag, en gerubs is magtige geesskepsele.

2:6—Waarom word Esegiël herhaaldelik “mensekind” genoem? Jehovah spreek Esegiël só aan om die profeet daaraan te herinner dat hy vlees en bloed is en beklemtoon sodoende die groot verskil tussen die menslike boodskapper en die goddelike Bron van die boodskap. ’n Soortgelyke benaming, seun van die mens, word ongeveer 80 keer in die Evangelies op Jesus Christus toegepas, wat duidelik toon dat die Seun van God as ’n mens gekom het, nie as ’n geespersoon wat gematerialiseer het nie.

2:9–3:3—Waarom het die boekrol waarin daar klaagliedere en ’n gekerm geskryf was, vir Esegiël soet gesmaak? Dit was Esegiël se gesindheid teenoor sy opdrag wat die boekrol vir hom soet laat smaak het. Esegiël was dankbaar dat hy Jehovah as ’n profeet kon dien.

4:1-17—Het Esegiël werklik die toneel uitgebeeld wat Jerusalem se naderende beleëring voorgestel het? Esegiël se versoek om ander vuurmaakgoed te gebruik en die feit dat Jehovah sy versoek toegestaan het, dui daarop dat die profeet werklik die toneel uitgebeeld het. Hy het op sy linkersy gelê om die tienstammeryk se oortreding van 390 jaar uit te beeld—vandat dit in 997 v.G.J. tot stand gekom het tot die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. Hy het op sy regtersy gelê om Juda se 40 jaar van sonde uit te beeld, wat gestrek het vanaf 647 v.G.J., toe Jeremia as ’n profeet aangestel is, tot 607 v.G.J. Gedurende die hele tydperk van 430 dae het Esegiël van ’n karige voorraad kos en water gelewe, wat ’n profetiese aanduiding was dat daar gedurende die beleëring van Jerusalem ’n hongersnood sou wees.

5:1-3—Waarom het Esegiël ’n klein bietjie hare geneem van die deel wat hy in die wind moes strooi en dit in die slippe van sy kleed gebind? Dit was om te toon dat ’n oorblyfsel ná die 70 jaar waartydens die land woes sou lê, na Juda sou terugkeer en weer ware aanbidding sou beoefen.—Esegiël 11:17-20.

17:1-24—Wie is die twee groot arende, hoe word die jong lote van ’n seder afgepluk en wie is die “sagte takkie” wat deur Jehovah oorgeplant word? Die twee arende stel die heersers van Babilon en Egipte voor. Die eerste arend kom na die top van die seder, dit wil sê na die heerser van die regering in die koninklike lyn van Dawid. Hierdie arend pluk die boonste van die jong lote af deur koning Jojagin van Juda met Sedekia te vervang. Ten spyte daarvan dat Sedekia ’n eed van getrouheid afgelê het, soek hy die hulp van die ander arend, Egipte se heerser, maar tevergeefs. Hy sal gevange geneem word en in Babilon sterf. Jehovah pluk ook “’n sagte takkie” af, die Messiaanse Koning. Hy word oorgeplant op “’n hoë en verhewe berg”, op die hemelse berg Sion, waar hy “’n majestueuse seder” sal word, ’n bron van ware seëninge vir die aarde.—Openbaring 14:1.

Lesse vir ons:

2:6-8; 3:8, 9, 18-21. Ons moenie deur die goddeloses geïntimideer word of versuim om God se boodskap, wat ’n waarskuwing vir hulle insluit, te verkondig nie. Wanneer ons onverskilligheid of teenstand ondervind, moet ons so hard soos ’n diamant wees. Maar ons moet oppas dat ons nie hardvogtig, ongevoelig of genadeloos word nie. Jesus het medelye gevoel vir die mense vir wie hy gepreek het, en ons moet ook deur medelye beweeg word om vir ander te preek.—Matteus 9:36.

3:15. Nadat Esegiël sy opdrag ontvang het, het hy ‘sewe dae lank verstom’ in Tel-Abib gebly, terwyl hy die boodskap verteer het wat hy bekend moes maak. Moet ons nie tyd opsysit om ywerig te studeer en te peins sodat ons diep geestelike waarhede kan verstaan nie?

4:1–5:4. Dit het nederigheid en moed van Esegiël geverg om die twee profetiese tonele uit te beeld. Ons moet ook nederig en moedig wees wanneer ons ’n godgegewe toewysing moet uitvoer.

7:4, 9; 8:18; 9:5, 10. Ons hoef nie ons oog jammer te laat voel vir diegene wat God se ongunstige oordeel ontvang of medelye vir hulle te voel nie.

7:19. Wanneer Jehovah sy oordeel aan hierdie stelsel voltrek, sal geld heeltemal waardeloos wees.

8:5-18. Afvalligheid is geestelik dodelik. “Deur sy mond stort die afvallige sy medemens in die verderf” (Spreuke 11:9). Dit is verstandig van ons om dit nie eens te oorweeg om na afvalliges te luister nie.

9:3-6. As ons die “groot verdrukking” wil oorleef, is dit noodsaaklik dat ons die merk ontvang—die bewys dat ons toegewyde, gedoopte knegte van God is en dat ons die Christelike persoonlikheid het (Matteus 24:21). Gesalfde Christene, wat deur die man met die sekretaris se inkhoring voorgestel word, neem die leiding in die merkwerk, dit is die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk. As ons ons merk wil behou, moet ons hulle ywerig met hierdie werk help.

12:26-28. Selfs vir dié wat met sy boodskap gespot het, moes Esegiël sê: “Daar sal geen uitstel meer wees wat enige van [Jehovah se] woorde betref nie.” Ons moet alles in ons vermoë doen om ander te help om hulle vertroue in Jehovah te stel voordat hy hierdie stelsel van dinge tot ’n einde bring.

14:12-23. Dit is ons persoonlike verantwoordelikheid om redding te verkry. Niemand kan dit vir ons doen nie.—Romeine 14:12.

18:1-29. Ons is verantwoordelik vir die gevolge van ons eie dade.

“’N PUINHOOP, ’N PUINHOOP, ’N PUINHOOP SAL EK DIT MAAK”

(Esegiël 20:1–24:27)

In die sewende jaar van ballingskap, 611 v.G.J., kom die ouer manne van Israel na Esegiël toe “om Jehovah te raadpleeg”. Hulle hoor ’n lang geskiedenis van Israel se opstand en ’n waarskuwing dat ‘Jehovah sy swaard sal uittrek’ teen hulle (Esegiël 20:1; 21:3). Jehovah spreek die owerste van Israel (Sedekia) aan en sê: “Verwyder die tulband en haal die kroon af. Dit sal nie dieselfde wees nie. Verhoog wat laag is en verlaag die een wat hoog is. ’n Puinhoop, ’n puinhoop, ’n puinhoop sal ek dit maak. Ook wat dit betref, dit sal beslis niemand s’n word nie totdat hy kom wat die wetlike reg het [Jesus Christus], en ek sal dit aan hom gee.”—Esegiël 21:26, 27.

Jerusalem word aangekla. Die skuld van Ohola (Israel) en van Oholiba (Juda) word blootgelê. Ohola is alreeds “in die hand gegee van dié wat haar hartstogtelik liefgehad het, in die hand van die kinders van Assirië” (Esegiël 23:9). Die verwoesting van Oholiba is op hande. In 609 v.G.J. begin die 18 maande lange beleëring van Jerusalem. Wanneer die stad uiteindelik val, sal die Jode te verstom wees om aan hulle droefheid uiting te gee. Esegiël moet God se boodskap aan die ballinge eers bekend maak wanneer hy van “die een wat ontkom het”, berig ontvang dat die stad vernietig is.—Esegiël 24:26, 27.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

21:3—Wat is die “swaard” wat Jehovah uit die skede trek? Die “swaard” wat Jehovah gebruik om sy oordeel aan Jerusalem en Juda te voltrek, is die Babiloniese koning Nebukadnesar en sy leër. Dit kan ook die hemelse deel van God se organisasie insluit wat uit magtige geesskepsele bestaan.

24:6-14—Wat stel die roes van die kookpot voor? Die beleërde stad Jerusalem word met ’n wyebekkookpot vergelyk. Die roes stel die sedelike verdorwenheid van die stad voor—die onreinheid, losbandige gedrag en bloedvergieting waarvoor dit verantwoordelik is. Die stad se onreinheid is so groot dat die roes nie eens verwyder kan word deur die pot leeg op die kole te laat staan en dit baie warm te maak nie.

Lesse vir ons:

20:1, 49. Die reaksie van die ouer manne van Israel toon dat hulle skepties was oor wat Esegiël gesê het. Mag ons nooit ’n skeptiese gesindheid teenoor goddelike waarskuwings ontwikkel nie.

21:18-22. Hoewel Nebukadnesar van waarsêery gebruik gemaak het, was dit Jehovah wat seker gemaak het dat die heidense heerser teen Jerusalem sou optrek. Dit toon dat selfs demone nie kan keer dat Jehovah se teregstellingswerktuie sy voorneme volbring nie.

22:6-16. Jehovah verfoei laster, losbandige gedrag, die misbruik van mag en die aanvaarding van omkoopgeskenke. Ons moet vasbeslote wees om hierdie oortredings te vermy.

23:5-49. Die politieke bondgenootskappe wat Israel en Juda aangegaan het, het daartoe gelei dat hulle die valse aanbidding van hulle bondgenote aangeneem het. Laat ons daarteen waak om wêreldse bande te smee wat ons geloof kan vernietig.—Jakobus 4:4.

’n Boodskap wat lewend is en krag uitoefen

Watter pragtige lesse leer ons tog uit die eerste 24 hoofstukke van die Bybelboek Esegiël! Die beginsels wat daarin uiteengesit word, toon wat God se misnoeë meebring, hoe ons sy barmhartigheid kan ontvang en waarom ons die goddeloses moet waarsku. Die profesie oor die vernietiging van Jerusalem beeld Jehovah duidelik uit as ’n God wat sy volk ‘nuwe dinge laat hoor voordat dit uitspruit’.—Jesaja 42:9.

Profesieë soos dié in Esegiël 17:22-24 en 21:26, 27 het gewys na die oprigting van die Messiaanse Koninkryk in die hemel. Hierdie heerskappy sal binnekort meebring dat God se wil op die aarde gedoen word (Matteus 6:9, 10). Ons kan met sterk geloof en oortuiging na Koninkrykseëninge uitsien. Ja, “die woord van God is lewend en oefen krag uit”.—Hebreërs 4:12.

[Prent op bladsy 12]

Wat word deur die hemelse strydwa voorgestel?

[Prent op bladsy 14]

As ons ’n ywerige aandeel aan die predikingswerk het, help dit ons om ons “merk” te behou