Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin”

“Hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin”

“Hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin”

“Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin.”—ROMEINE 12:21.

1. Waarom kan ons seker wees dat ons die kwaad kan oorwin?

 IS DIT moontlik om vas te staan teen diegene wat ware aanbidding hewig teëstaan? Is dit moontlik om die invloede te oorwin wat ons weer in die goddelose wêreld probeer intrek? Die antwoord op albei vrae is ja! Waarom sê ons so? Weens die apostel Paulus se woorde in sy brief aan die Romeine. Hy skryf: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin” (Romeine 12:21). As ons op Jehovah vertrou en vasbeslote is om nie toe te laat dat die wêreld ons oorwin nie, sal die kwaad daarin nie die oorhand oor ons kry nie. Verder toon die uitdrukking “hou aan om die kwaad . . . te oorwin” dat ons oor die kwaad kan seëvier as ons volhou met ons geestelike stryd daarteen. Slegs diegene wat in hulle waaksaamheid verslap en die stryd gewonne gee, sal deur hierdie goddelose wêreld en sy bose heerser, Satan die Duiwel, oorweldig word.—1 Johannes 5:19.

2. Waarom gaan ons ’n paar gebeure in die lewe van Nehemia ondersoek?

2 Sowat 500 jaar voor Paulus se tyd het ’n kneg van God wat in Jerusalem gewoon het, Paulus se woorde oor die stryd teen die kwaad waar bewys. Daardie man van God, Nehemia, het nie net teenstand van goddelose mense die hoof gebied nie, maar het ook die kwaad met die goeie oorwin. Voor watter uitdagings het hy te staan gekom? Wat het hom in staat gestel om suksesvol te wees? Hoe kan ons sy voorbeeld navolg? Om hierdie vrae te beantwoord, gaan ons ’n paar gebeure in die lewe van Nehemia ondersoek. a

3. In watter milieu het Nehemia gelewe, en watter merkwaardige prestasie het hy behaal?

3 Nehemia het aan die hof van koning Artasasta van Persië gedien. Hoewel Nehemia tussen ongelowiges gewoon het, is hy nie na die “stelsel van dinge” van daardie dae “gevorm” nie (Romeine 12:2). Toe ’n behoefte in Juda ontstaan het, het hy sy gerieflike lewenstyl opgeoffer, die moeilike reis na Jerusalem onderneem en die ontsaglike taak aangepak om die stadsmuur te herbou (Romeine 12:1). Hoewel hy die goewerneur van Jerusalem was, het Nehemia elke dag “van dagbreek af totdat die sterre uitgekom het”, sy aan sy met sy mede-Israeliete gewerk. Gevolglik is die projek binne net twee maande voltooi! (Nehemia 4:21; 6:15). Dit was ’n merkwaardige prestasie, want die Israeliete het tydens die bouwerk verskeie vorme van teenstand ondervind. Wie was Nehemia se teenstanders, en wat was hulle oogmerk?

4. Wat was die doelwit van Nehemia se teenstanders?

4 Die vernaamste teenstanders was Sanballat, Tobia en Gesem, invloedryke manne wat naby Juda gewoon het. Aangesien hulle vyande van God se volk was, “was dit in hulle oë iets baie slegs dat [Nehemia] gekom het om iets goeds vir die kinders van Israel te soek” (Nehemia 2:10, 19). Nehemia se vyande was daarop uit om Nehemia se bouplanne stop te sit en het selfs bose planne beraam. Sou Nehemia hom “deur die kwaad laat oorwin”?

‘Kwaad en baie vererg’

5, 6. (a) Hoe het Nehemia se vyande op die bouwerk gereageer? (b) Waarom het Nehemia hom nie deur teenstanders laat intimideer nie?

5 Nehemia het sy volk moedig aangespoor: “Laat ons die muur van Jerusalem herbou.” Hulle het geantwoord: “Ons sal bou.” Nehemia vertel: “Hulle [het] hulle hande versterk vir die goeie werk”, maar teenstanders het “ons begin bespot en met veragting op ons neergesien en gesê: ‘Wat is hierdie ding wat julle doen? Is julle opstandig teen die koning?’” Nehemia het hom nie laat intimideer deur hulle gespot en valse aantygings nie. Hy het vir die teenstanders gesê: “Die God van die hemel, Hy sal ons sukses laat behaal, en ons, sy knegte, sal opstaan, en ons sal bou” (Nehemia 2:17-20). Nehemia was vasbeslote om voort te gaan met “die goeie werk”.

6 Een van hierdie teenstanders, Sanballat, het “kwaad geword en hom baie vererg”, en hy het sy tirade verskerp. “Wat doen die magtelose Jode?” het hy gespot. “Sal hulle die klippe uit die stowwerige puinhope lewend maak?” Tobia het ook spottend gesê: “As ’n jakkals daarteen opspring, sal hy beslis hulle klipmuur omgooi” (Nehemia 4:1-3). Hoe het Nehemia gereageer?

7. Hoe het Nehemia op die aantygings van sy teenstanders gereageer?

7 Nehemia het die gespot eenvoudig geïgnoreer. Hy het God se gebod gehoorsaam en hulle nie in gelyke munt probeer terugbetaal nie (Levitikus 19:18). Hy het eerder die saak in Jehovah se hande gelaat en gebid: “Hoor, o ons God, want ons het ’n voorwerp van veragting geword; en laat hulle smaad op hulle eie hoof terugkom” (Nehemia 4:4). Nehemia het vertroue gehad in Jehovah se versekering: “Die wraak is myne, en die vergelding” (Deuteronomium 32:35). Verder het Nehemia en sy volk “aangehou om die muur te bou”. Hulle het nie toegelaat dat hulle aandag afgetrek word nie. Trouens, “die hele muur is tot op die helfte van sy hoogte aanmekaargevoeg, en die volk het deurentyd ’n hart gehad om te werk” (Nehemia 4:6). Die vyande van ware aanbidding het nie daarin geslaag om die bouwerk stop te sit nie! Hoe kan ons Nehemia navolg?

8. (a) Hoe kan ons Nehemia navolg wanneer teenstanders valse aantygings teen ons maak? (b) Vertel ’n ondervinding wat jy gehad het of waarvan jy gehoor het wat toon dat dit wys is om nie in gelyke munt terug te betaal nie.

8 Vandag sal teenstanders by die skool, by die werk of selfs by die huis ons dalk bespot en aantygings teen ons maak. Maar die beste manier om sulke valse beskuldigings te hanteer, is dikwels deur dié skriftuurlike beginsel toe te pas: “[Daar is] ’n tyd om stil te bly” (Prediker 3:1, 7). Soos Nehemia onthou ons ons dus daarvan om met snydende woorde terug te antwoord (Romeine 12:17). Ons wend ons tot God in gebed en vertrou op die een wat ons verseker: “Ek sal vergeld” (Romeine 12:19; 1 Petrus 2:19, 20). Sodoende keer ons dat ons teenstanders ons aandag aftrek van die geestelike werk wat vandag uitgevoer moet word—naamlik om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en dissipels te maak (Matteus 24:14; 28:19, 20). Elke keer dat ons aan die predikingswerk deelneem en weier om deur teenstand afgeskrik te word, lê ons dieselfde getroue gees aan die dag as Nehemia.

‘Ons sal julle beslis doodmaak’

9. Watter vorm van teenstand het Nehemia se vyande gebruik, en hoe het Nehemia gereageer?

9 Toe teenstanders van ware aanbidding in Nehemia se dag gehoor het dat “die herstelwerk aan die mure van Jerusalem gevorder het”, het hulle hulle swaarde opgeneem om “teen Jerusalem te . . . veg”. Vir die Jode het die situasie maar somber gelyk. Daar was Samaritane in die noorde, Ammoniete in die ooste, Arabiere in die suide en Asdodiete in die weste. Jerusalem was van alle kante ingesluit; dit het gelyk of die bouers vasgekeer is! Wat het hulle te doen gestaan? “Ons het tot ons God gebid”, sê Nehemia. Die vyande het gedreig: “Ons sal hulle beslis doodmaak en die werk stopsit.” Nehemia het gereageer deur die bouers die taak op te lê om die stad “met hulle swaarde, hulle lanse en hulle boë” te verdedig. Vanuit ’n menslike oogpunt het die klein groepie Jode weliswaar nie ’n kans gestaan teen die oorweldigende vyandelike magte nie, maar Nehemia het hulle aangespoor: “Moenie . . . bang wees nie. Dink aan Jehovah, groot en vreesinboesemend.”—Nehemia 4:7-9, 11, 13, 14.

10. (a) Waarom was daar ’n skielike wending in sake met betrekking tot Nehemia se vyande? (b) Watter maatreëls het Nehemia getref?

10 Toe was daar skielik ’n wending in sake. Die vyande het die aanval afgelas. Waarom? “Die ware God [het] hulle raad verydel”, berig Nehemia. Nehemia het egter besef dat die vyande nog steeds ’n bedreiging was. Daarom het hy wyslik die werkmetode van die bouers verander. Van toe af het “elkeen . . . met die een hand die werk gedoen terwyl die ander hand die werpspies vasgehou het”. Nehemia het ook ’n “horingblaser” aangestel wat die bouers sou waarsku as daar ’n aanval deur die vyand is. Bowenal het Nehemia die volk verseker: “Ons God sal vir ons veg” (Nehemia 4:15-20). Bemoedig en gereed om ’n aanval af te weer, het die bouers aanhou werk. Watter lesse kan ons uit hierdie verslag leer?

11. Wat stel ware Christene in staat om die kwaad die hoof te bied in lande waar die Koninkrykswerk verbied is, en hoe oorwin hulle die kwaad met die goeie?

11 Soms ondervind ware Christene hewige teenstand. Trouens, in party lande vorm verwoede teenstanders van ware aanbidding ’n oorweldigende vyandelike mag. Vanuit ’n menslike oogpunt staan ons medegelowiges in daardie lande nie ’n kans nie. Hierdie Getuies is nietemin vol vertroue dat ‘God vir hulle sal veg’. Ja, diegene wat weens hulle opvattings vervolg word, het al keer op keer ondervind dat Jehovah hulle gebede verhoor en magtige vyande se “raad verydel”. Selfs in lande waar die Koninkrykswerk verbied is, vind Christene maniere om aan te hou om die goeie nuus te verkondig. Net soos die bouers in Jerusalem hulle werkmetode aangepas het, pas Jehovah se Getuies vandag wyslik hulle predikingsmetodes aan wanneer hulle aangeval word. Hulle gebruik natuurlik nie letterlike wapens nie (2 Korintiërs 10:4). Selfs die bedreiging van fisiese geweld laat hulle nie ophou met hulle predikingsbedrywighede nie (1 Petrus 4:16). Inteendeel, hierdie moedige broers en susters “hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin”.

‘Kom tog, en laat ons byeenkom’

12, 13. (a) Watter strategie het Nehemia se teenstanders gebruik? (b) Waarom het Nehemia die uitnodiging om sy teenstanders te ontmoet, van die hand gewys?

12 Nadat Nehemia se vyande besef het dat hulle openlike aanvalle misluk het, het hulle hulle tot subtieler vorme van teenstand gewend. Trouens, hulle het drie planne probeer uitvoer. Wat was dit?

13 Eerstens het Nehemia se vyande hom probeer mislei. Hulle het vir hom gesê: “Kom tog, en laat ons volgens afspraak byeenkom in die dorpies van die valleivlakte van Ono.” Ono was tussen Jerusalem en Samaria geleë. Die vyande het dus voorgestel dat Nehemia hulle halfpad ontmoet om die verskille op te los. Nehemia kon gedink het: ‘Dit klink redelik. Dit is beter om te praat as om te veg.’ Maar Nehemia het geweier. Hy het verduidelik waarom: “Hulle het planne beraam om my kwaad aan te doen.” Hy het besef wat agter hulle planne skuil en is nie mislei nie. Hy het vier keer vir sy teenstanders gesê: “Ek kan nie afkom nie. Waarom moet die werk ophou terwyl ek dit laat staan en na julle toe moet afkom?” Die vyande se pogings om Nehemia sover te kry om toe te gee, het misluk. Hy het sy aandag toegespits gehou op die bouwerk.—Nehemia 6:1-4.

14. Hoe het Nehemia teenoor sy valse beskuldigers gereageer?

14 Tweedens het Nehemia se vyande valse gerugte begin versprei en Nehemia daarvan beskuldig dat hy “planne beraam om in opstand te kom” teen koning Artasasta. Daar is weer eens vir Nehemia gesê: “Laat ons saam beraadslaag.” Nehemia het weer geweier, want hy het besef wat die vyande se oogmerk is. Nehemia het verduidelik: “Hulle almal het ons probeer bang maak en gesê: ‘Hulle hande sal ophou met die werk sodat dit nie gedoen sal word nie.’” Hierdie keer het Nehemia egter wel die aantyging van een van sy vyande weerspreek deur te sê: “Dinge soos dié waarvan jy praat, het nie gebeur nie, maar jy versin dit in jou eie hart.” Verder het Nehemia hom tot Jehovah gewend vir onderskraging en gebid: “Versterk . . . my hande.” Hy het vertrou dat hy met Jehovah se hulp hierdie bose sameswering sou kon verydel en met die bouprojek sou kon voortgaan.—Nehemia 6:5-9.

15. Watter voorstel het ’n valse profeet gemaak, en waarom het Nehemia nie die voorstel aanvaar nie?

15 Derdens het Nehemia se vyande ’n verraaier gebruik, die Israeliet Semaja, om Nehemia sover te probeer kry om God se Wet te verbreek. Semaja het vir Nehemia gesê: “Laat ons volgens afspraak byeenkom in die huis van die ware God, binne-in die tempel, en laat ons die deure van die tempel toemaak; want hulle kom om u dood te maak.” Semaja het gesê dat Nehemia gevaar loop om vermoor te word, maar dat hy sy lewe kan red deur in die tempel weg te kruip. Maar Nehemia was nie ’n priester nie. Dit sou vir hom ’n sonde wees om in die huis van God weg te kruip. Sou hy God se Wet verbreek in ’n poging om sy lewe te red? Nehemia het geantwoord: “Wie is daar soos ek wat in die tempel sou kon ingaan en bly lewe? Ek sal nie ingaan nie!” Waarom het Nehemia nie in die strik getrap wat vir hom gestel is nie? Omdat hy geweet het dat dit “nie God [was] wat [Semaja] gestuur het nie”, al was hy ’n mede-Israeliet. ’n Ware profeet sou hom immers nooit aangeraai het om God se Wet te verbreek nie. Nehemia het weer eens nie toegelaat dat hy deur teenstanders met kwade bedoelings oorwin word nie. Kort hierna kon hy berig: “Eindelik is die muur op die vyf-en-twintigste dag van Elul voltooi, in twee-en-vyftig dae.”—Nehemia 6:10-15; Numeri 1:51; 18:7.

16. (a) Hoe moet ons teenoor valse vriende, valse beskuldigers en valse broers reageer? (b) Hoe toon jy dat jy weier om jou oortuigings prys te gee by die huis, op skool of by die werk?

16 Soos Nehemia het ons dalk ook te kampe met teenstanders in die vorm van valse vriende, valse beskuldigers en valse broers. Party persone nooi ons miskien om hulle as ’t ware halfpad te ontmoet. Hulle probeer ons dalk oortuig om Jehovah met ’n bietjie minder ywer te dien sodat ons terselfdertyd wêreldse doelwitte kan nastreef. Maar omdat God se Koninkryk die eerste plek in ons lewe beklee, weier ons om ons oortuigings prys te gee (Matteus 6:33; Lukas 9:57-62). Teenstanders versprei ook valse aantygings teen ons. In party lande word ons daarvan beskuldig dat ons ’n bedreiging vir die Staat is, net soos Nehemia daarvan beskuldig is dat hy teen die koning in opstand gekom het. Party aantygings is suksesvol weerlê in geregshowe. Maar ongeag hoe sake in individuele situasies afloop, ons bid vol vertroue dat Jehovah sake in ooreenstemming met sy wil sal rig (Filippense 1:7). Teenstand kan ook kom van diegene wat voorgee om Jehovah te dien. Net soos ’n mede-Jood vir Nehemia probeer oorreed het om God se Wet te verbreek om sy lewe te red, probeer afvalliges wat voorheen Getuies was, ons miskien beïnvloed om ons oortuigings op die een of ander manier prys te gee. Maar ons verwerp afvalliges omdat ons weet dat ons lewe gered word, nie deur God se wette te verbreek nie, maar deur dit te gehoorsaam! (1 Johannes 4:1). Ja, met Jehovah se hulp kan ons die kwaad in enige vorm oorwin.

Verkondig die goeie nuus ten spyte van die kwaad

17, 18. (a) Wat probeer Satan en sy agente bereik? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen, en waarom?

17 God se Woord sê aangaande Christus se gesalfde broers: “Hulle het [Satan] oorwin weens . . . die woord van hulle getuienis” (Openbaring 12:11). Daar is dus ’n regstreekse verband tussen ’n oorwinning oor Satan—die bron van die kwaad—en die verkondiging van die Koninkryksboodskap. Geen wonder dat Satan die gesalfde oorblyfsel sowel as die “groot menigte” meedoënloos aanval deur teenstand te verwek nie!—Openbaring 7:9; 12:17.

18 Soos ons gesien het, kan teenstand voorkom in die vorm van mondelinge aanvalle of dreigemente van fisiese geweld of in subtieler vorme. Hoe dit ook al sy, Satan se oogmerk is altyd dieselfde—om die predikingswerk stop te sit. Maar hy sal hopeloos misluk omdat God se volk, in navolging van Nehemia van ouds, vasbeslote is om “aan [te hou] om die kwaad met die goeie te oorwin”. Hulle sal dit doen deur vol te hou met die verkondiging van die goeie nuus totdat Jehovah sê dat die werk volbring is!—Markus 13:10; Romeine 8:31; Filippense 1:27, 28.

[Voetnoot]

a Lees Nehemia 1:1-4; 2:1-6, 9-20; 4:1-23; 6:1-15 vir die agtergrond van hierdie gebeure.

Onthou jy?

• Watter teenstand het God se knegte in die verlede ondervind en watter teenstand ondervind hedendaagse Christene?

• Wat was die hoofoogmerk van Nehemia se vyande, en wat is die oogmerk van God se hedendaagse vyande?

• Hoe hou ons vandag aan om die kwaad met die goeie te oorwin?

[Studievrae]

[Venster/Prent op bladsy 29]

Lesse in die boek Nehemia

Knegte van God het te kampe met

• bespotting

• dreigemente

• misleiding

Misleiding word gebruik deur

• valse vriende

• valse beskuldigers

• valse broers

God se knegte oorwin die kwaad deur

• met hulle godgegewe taak vol te hou

[Prent op bladsy 27]

Nehemia en sy medewerkers het die muur van Jerusalem ten spyte van hewige teenstand herbou

[Prent op bladsy 31]

Ware Christene verkondig die goeie nuus onbevrees