Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie”

“Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie”

“Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie”

“Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. Verskaf goeie dinge voor die oë van alle mense.”—ROMEINE 12:17.

1. Watter soort gedrag is nie ongewoon nie?

 WANNEER ’n kind deur sy broer of suster gestamp word, is sy eerste reaksie gewoonlik om terug te stamp. Ongelukkig het nie net kinders die gewoonte om in gelyke munt terug te betaal nie. Baie volwassenes doen dit ook. Wanneer iemand hulle te na kom, wil hulle sommer dadelik met hom afreken. Die meeste volwassenes sal iemand weliswaar nie letterlik terugstamp nie, maar baie sal op subtiele maniere wraak neem. Hulle versprei miskien skadelike skinderstories oor die persoon wat hulle aanstoot gegee het of vind maniere om te verhinder dat hy sukses behaal. Watter metode ook al gebruik word, die bedoeling is dieselfde—om in gelyke munt terug te betaal, om kwaad vir kwaad te vergeld.

2. (a) Waarom weerstaan ware Christene die drang om in gelyke munt terug te betaal? (b) Watter vrae en watter hoofstuk in die Bybel gaan ons bespreek?

2 Hoewel die drang om in gelyke munt terug te betaal, diepgewortel is, weerstaan ware Christene die versoeking om daarvoor te swig. Hulle probeer eerder die apostel Paulus se vermaning volg: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie” (Romeine 12:17). Wat sal ons beweeg om volgens hierdie hoë standaard te lewe? Veral wie moet ons nie met kwaad vergeld nie? Watter voordele sal ons maai as ons nie in gelyke munt terugbetaal nie? Om hierdie vrae te beantwoord, gaan ons die konteks van Paulus se woorde ondersoek en sien hoe Romeine hoofstuk 12 toon dat dit die regte, die liefdevolle en die beskeie weg is om te volg om nie kwaad vir kwaad te vergeld nie. Ons sal hierdie drie aspekte een vir een bespreek.

“Gevolglik versoek ek julle dringend”

3, 4. (a) Wat bespreek Paulus van Romeine hoofstuk 12 af, en wat is betekenisvol omtrent sy gebruik van die woord “gevolglik”? (b) Watter uitwerking moes God se medelye op die Christene in Rome gehad het?

3 Van hoofstuk 12 af bespreek Paulus vier verwante onderwerpe wat ’n Christen se lewe raak. Hy beskryf ons verhouding met Jehovah, met medegelowiges, met ongelowiges en met regeringsowerhede. Paulus toon dat daar ’n fundamentele rede is om verkeerde neigings te weerstaan, waaronder die drang om in gelyke munt terug te betaal, wanneer hy sê: “Gevolglik versoek ek julle dringend op grond van die medelye van God, broers” (Romeine 12:1). Let op die woord “gevolglik”, wat “met die oog op die voorgaande” beteken. Paulus sê in werklikheid: ‘Met die oog op wat ek so pas aan julle verduidelik het, versoek ek julle dringend om te doen wat ek vervolgens vir julle gaan sê.’ Wat het Paulus aan daardie Christene in Rome verduidelik?

4 In die eerste 11 hoofstukke van sy brief het Paulus die wonderlike geleentheid bespreek wat aan Jode sowel as nie-Jode gebied is om saam met Christus heersers in God se Koninkryk te word, ’n hoop wat natuurlike Israel verwerp het (Romeine 11:13-36). Daardie kosbare voorreg was slegs moontlik “op grond van die medelye van God”. Hoe moet Christene op hierdie groot onverdiende goedhartigheid van God reageer? Hulle harte moet so vol dankbaarheid wees dat dit hulle sal beweeg om te doen wat Paulus volgende sê: “[Bied] julle liggaam aan . . . as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is, ’n heilige diens met julle denkvermoë” (Romeine 12:1). Maar hoe kon daardie Christene hulle nou eintlik as “’n offerande” vir God aanbied?

5. (a) Hoe kan iemand hom as “’n offerande” vir God aanbied? (b) Watter beginsel moet ’n Christen se gedrag beïnvloed?

5 Paulus verduidelik verder: “Moenie langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie, maar word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle kan seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). Hulle moes nie toelaat dat die gees van die wêreld hulle denke vorm nie, maar moes eerder hulle verstand hervorm om soos Christus te dink (1 Korintiërs 2:16; Filippense 2:5). Hierdie beginsel moet die daaglikse gedrag van alle ware Christene beïnvloed, met inbegrip van ons wat vandag lewe.

6. Wat beweeg ons, volgens Paulus se redenasie in Romeine 12:1, 2, om nie in gelyke munt terug te betaal nie?

6 Hoe help Paulus se redenasie in Romeine 12:1, 2 ons? Soos daardie geesgesalfde Christene in Rome, is ons innig dankbaar vir die volgehoue en talryke blyke van medelye wat God reeds aan ons betoon het en voortgaan om elke dag van ons lewe aan ons te betoon. Gevolglik beweeg ’n hart vol dankbaarheid ons om God met al ons krag, middele en vermoëns te dien. Hierdie hartgrondige begeerte beweeg ons ook om ons uiterste bes te doen om nie soos die wêreld te dink nie, maar soos Christus. En as ons die denke van Christus het, beïnvloed dit die manier waarop ons ander behandel—medegelowiges sowel as ongelowiges (Galasiërs 5:25). Byvoorbeeld: As ons soos Christus dink, dring dit ons om die drang te weerstaan om in gelyke munt terug te betaal.—1 Petrus 2:21-23.

“Laat julle liefde sonder huigelary wees”

7. Watter soort liefde word in Romeine hoofstuk 12 bespreek?

7 Ons weerhou ons daarvan om kwaad vir kwaad te vergeld, nie net omdat dit die regte weg is om te volg nie, maar ook omdat dit die liefdevolle weg is. Let op hoe die apostel Paulus vervolgens liefde as beweegrede bespreek. In die boek Romeine gebruik Paulus die woord “liefde” (a·gaʹpe in Grieks) etlike kere wanneer hy na God se liefde en dié van Christus verwys (Romeine 5:5, 8; 8:35, 39). Maar in hoofstuk 12 gebruik Paulus a·gaʹpe op ’n ander manier—wanneer hy praat van die liefde wat aan ander mense bewys word. Nadat hy gemeld het dat daar verskillende geestelike gawes is en dat dit onder party gelowiges gevind word, noem Paulus ’n eienskap wat deur alle Christene aangekweek moet word. Hy sê: “Laat julle liefde sonder huigelary wees” (Romeine 12:4-9). Die betoning van liefde aan ander is ’n basiese kenmerk van ware Christene (Markus 12:28-31). Paulus spoor ons aan om seker te maak dat die liefde wat ons as Christene betoon, opreg is.

8. Hoe kan ons liefde sonder huigelary betoon?

8 Paulus meld verder hoe liefde sonder huigelary betoon word en sê: “Verafsku wat goddeloos is, hou vas aan wat goed is” (Romeine 12:9). “Verafsku” en “hou vas” is kragtige woorde. “Verafsku” kan weergegee word met “’n intense haat koester vir”. Ons moenie net die gevolge van die kwaad haat nie, maar ook die kwaad self (Psalm 97:10). Die uitdrukking “hou vas” is ’n vertaling van ’n Griekse werkwoord wat letterlik beteken “om vas te gom”. ’n Christen wat opregte liefde het, is so stewig vasgegom, of vasgeheg, aan die eienskap goedheid dat dit ’n onafskeidelike deel van sy persoonlikheid word.

9. Watter vermaning gee Paulus herhaaldelik?

9 Een spesifieke blyk van liefde word herhaaldelik deur Paulus genoem. Hy sê: “Hou aan om dié te seën wat julle vervolg; seën en moenie vervloek nie.” “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie.” “Moet julle nie wreek nie, geliefdes.” “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin” (Romeine 12:14, 17-19, 21). Paulus se woorde laat geen twyfel oor hoe ons ongelowiges moet behandel nie, selfs dié wat ons teëstaan.

“Hou aan om dié te seën wat julle vervolg”

10. Hoe kan ons ons vervolgers seën?

10 Hoe gehoorsaam ons Paulus se vermaning: “Hou aan om dié te seën wat julle vervolg”? (Romeine 12:14). Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg” (Matteus 5:44; Lukas 6:27, 28). Een manier waarop ons ons vervolgers seën, is dus om vir hulle te bid en Jehovah te versoek om die oë van persone wat ons miskien uit onkunde vervolg, vir die waarheid te open (2 Korintiërs 4:4). Dit klink miskien vreemd om God te vra om ’n vervolger te seën. Maar hoe meer ons denke met Christus se denke ooreenstem, hoe makliker sal dit vir ons word om liefde aan ons vyande te betoon (Lukas 23:34). Wat kan die betoning van sulke liefde tot gevolg hê?

11. (a) Wat kan ons uit Stefanus se voorbeeld leer? (b) Watter verandering kan party vervolgers ondergaan, soos Paulus se lewe toelig?

11 Stefanus het vir sy vervolgers gebid, en sy gebed was nie tevergeefs nie. Nie lank ná Pinkster 33 G.J. nie is Stefanus deur teenstanders van die Christengemeente in hegtenis geneem, tot buite Jerusalem gesleep en gestenig. Voordat hy gesterf het, het hy uitgeroep: “Jehovah, reken hulle hierdie sonde nie toe nie” (Handelinge 7:58–8:1). Een van die manne vir wie Stefanus daardie dag gebid het, was Saulus, wat die moord op Stefanus aanskou en goedgekeur het. Later het die verrese Jesus aan Saulus verskyn. Daardie voormalige vervolger het ’n volgeling van Christus en toe die apostel Paulus geword, die skrywer van die brief aan die Romeine (Handelinge 26:12-18). In ooreenstemming met Stefanus se gebed het Jehovah Paulus blykbaar vergewe vir die sonde waaraan hy as ’n vervolger skuldig was (1 Timoteus 1:12-16). Geen wonder nie dat Paulus Christene aangespoor het: “Hou aan om dié te seën wat julle vervolg”! Hy het uit ondervinding geweet dat party vervolgers uiteindelik knegte van God sal word. In ons dag het party vervolgers eweneens gelowiges geword as gevolg van die vreedsame gedrag van Jehovah se knegte.

“Wees . . . vreedsaam teenoor alle mense”

12. Hoe hou die vermanings in Romeine 12:9, 17 met mekaar verband?

12 Paulus se volgende vermaning oor hoe om gelowiges en ongelowiges te behandel, is: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie.” Hierdie stelling is ’n logiese gevolg van wat hy vroeër gesê het, naamlik: “Verafsku wat goddeloos is.” Hoe kan iemand immers sê dat hy waarlik goddeloosheid, of die kwaad, verafsku as hy ander kwaad vir kwaad vergeld? As hy dit doen, sal dit beteken dat hy beslis nie liefde “sonder huigelary” betoon nie. Hierna sê Paulus: “Verskaf goeie dinge voor die oë van alle mense” (Romeine 12:9, 17). Hoe pas ons hierdie woorde toe?

13. Hoe gedra ons ons “voor die oë van alle mense”?

13 Vroeër, in sy brief aan die Korintiërs, het Paulus geskryf oor die vervolging waarmee die apostels te kampe gehad het. Hy het gesê: “Ons het ’n teaterskouspel geword vir die wêreld en vir engele en vir mense. . . . Wanneer ons uitgeskel word, seën ons; wanneer ons vervolg word, hou ons uit; wanneer ons beswadder word, smeek ons” (1 Korintiërs 4:9-13). Ware Christene word vandag eweneens deur die mense van hierdie wêreld dopgehou. Wanneer diegene om ons die goeie dinge sien wat ons doen selfs wanneer ons onregverdig behandel word, sal hulle dalk geneig wees om ons Christelike boodskap in ’n gunstiger lig te sien.—1 Petrus 2:12.

14. Hoe ver moet ons gaan om vrede te maak?

14 Maar hoe ver moet ons gaan om vrede te bevorder? Ons moet so ver as moontlik gaan. Paulus sê vir sy Christenbroers: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense” (Romeine 12:18). “Indien moontlik” en “sover dit van julle afhang” is bepalende uitdrukkings wat aandui dat dit nie altyd moontlik sal wees om met ander vrede te maak nie. Ons sal byvoorbeeld nie ’n wet van God oortree net om vrede met mense te bewaar nie (Matteus 10:34-36; Hebreërs 12:14). Ons doen nietemin alles wat ons redelikerwys kan—sonder om regverdige beginsels prys te gee—om met “alle mense” vrede te maak.

“Moet julle nie wreek nie”

15. Watter rede gee Romeine 12:19 ons om nie in gelyke munt terug te betaal nie?

15 Paulus verstrek nog ’n dwingende rede waarom ons nie in gelyke munt moet terugbetaal nie; dit is die beskeie weg om te volg. Hy sê: “Moet julle nie wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die gramskap; want daar staan geskrywe: ‘Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah’” (Romeine 12:19). ’n Christen wat wraak probeer neem, is vermetel. Hy eien hom ’n rol toe wat aan God behoort (Matteus 7:1). Wat meer is, deur sake in sy eie hande te neem, toon hy ’n gebrek aan geloof in Jehovah se versekering: “Ek sal vergeld.” In teenstelling hiermee het ware Christene die vertroue dat Jehovah “reg [sal] laat geskied aan sy uitverkorenes” (Lukas 18:7, 8; 2 Tessalonisense 1:6-8). Hulle laat dit beskeie aan God oor om onregte te wreek.—Jeremia 30:23, 24; Romeine 1:18.

16, 17. (a) Wat beteken dit om ‘vurige kole op iemand se hoof te hoop’? (b) Het jy al persoonlik gesien hoe goedhartigheid die hart van ’n ongelowige versag het? Indien wel, gee ’n voorbeeld.

16 As ’n mens wraak neem op ’n vyand, sal dit waarskynlik sy gees verhard, maar as ’n mens hom vriendelik behandel, kan dit sy hart versag. Waarom? Let op Paulus se woorde aan die Christene in Rome. Hy sê: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, sal jy vurige kole op sy hoof hoop” (Romeine 12:20; Spreuke 25:21, 22). Wat beteken dit?

17 Die uitdrukking “vurige kole op sy hoof hoop”, hou verband met die metode wat in Bybeltye gebruik is om metaal te smelt. Erts is in ’n oond gesit, en ’n laag kole is nie net onder die erts geplaas nie, maar ook bo-op. Die vurige kole wat bo-op gehoop is, het die hitte vermeerder sodat die harde metaal gesmelt het en van die onsuiwerhede in die erts geskei is. Net so kan ons, deur middel van goedhartige dade teenoor ’n teenstander, sy hardheid laat “smelt” en sy goeie eienskappe na vore laat kom (2 Konings 6:14-23). Trouens, baie lede van die Christengemeente is aanvanklik tot ware aanbidding aangetrek deur die goedhartige dade wat Jehovah se knegte teenoor hulle betoon het.

Waarom ons nie in gelyke munt terugbetaal nie

18. Waarom is dit reg, liefdevol en beskeie om nie in gelyke munt terug te betaal nie?

18 In hierdie kort bespreking van Romeine hoofstuk 12 het ons verskeie belangrike redes gesien waarom ons “niemand kwaad vir kwaad vergeld nie”. Eerstens, om nie in gelyke munt terug te betaal nie, is die regte weg om te volg. Met die oog op die medelye wat God aan ons betoon, is dit reg en redelik dat ons ons vir Jehovah aanbied en sy gebooie gewillig gehoorsaam—met inbegrip van die gebod om ons vyande lief te hê. Tweedens, om te weier om kwaad vir kwaad te vergeld, is die liefdevolle weg om te volg. Deur nie in gelyke munt terug te betaal nie en vrede te bevorder, hoop ons, uit liefde, om selfs party wrede teenstanders te help om aanbidders van Jehovah te word. Derdens, om nie kwaad vir kwaad te vergeld nie, is die beskeie weg om te volg. Dit sal vermetel wees om ons te wreek, want Jehovah sê: “Die wraak is myne.” God se Woord waarsku ook: “Het vermetelheid gekom? Dan sal oneer kom; maar wysheid is by die beskeidenes” (Spreuke 11:2). Wanneer ons wyslik die wraak aan God oorlaat, toon ons dat ons beskeie is.

19. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

19 Paulus som sy bespreking op van hoe ons ander moet behandel. Hy vermaan Christene: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin” (Romeine 12:21). Met watter kwaad het ons vandag te kampe? Hoe kan ons dit oorwin? Die antwoorde op hierdie en verwante vrae sal in die volgende artikel bespreek word.

Kan jy verduidelik?

• Watter vermaning word herhaaldelik in Romeine hoofstuk 12 gevind?

• Wat sal ons beweeg om nie in gelyke munt terug te betaal nie?

• Watter voordele sal ons en ander geniet as ons nie “kwaad vir kwaad vergeld” nie?

[Studievrae]

[Venster op bladsy 22]

Romeine hoofstuk 12 beskryf ’n Christen se verhouding met

• Jehovah

• medegelowiges

• ongelowiges

[Prent op bladsy 23]

Paulus se brief aan die Romeine voorsien praktiese raad aan Christene

[Prent op bladsy 25]

Wat kan ons uit die voorbeeld van die dissipel Stefanus leer?