Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Verdeel deur taal maar verenig deur liefde”

“Verdeel deur taal maar verenig deur liefde”

“Verdeel deur taal maar verenig deur liefde”

Verlossing. Bevryding. Redding. Mense smag al eeue lank na verligting van laste en sorge. Hoe kan ons die lewe se probleme die hoof bied? Sal daar ooit verlossing kom? En indien wel, hoe?

DIT was die onderwerp van ’n reeks driedaagse streekbyeenkomste wat deur Jehovah se Getuies georganiseer is en in Mei 2006 begin het. Die tema was “Verlossing is op hande!”

Nege van hierdie byeenkomste is deur duisende afgevaardigdes uit verskillende lande bygewoon. Dit is gedurende Julie en Augustus 2006 in Praag, die hoofstad van die Tsjeggiese Republiek, gehou; asook in Bratislava, die hoofstad van Slowakye; in Chorzów en Poznan, Pole; a en in vyf Duitse stede—Dortmund, Frankfurt, Hamburg, Leipzig en München. Die gesamentlike bywoning van hierdie byeenkomste was meer as 313 000.

Watter soort gees het by die byeenkomste geheers? Watter soort publisiteit het dit ontvang? En hoe het byeenkomsgangers gevoel nadat hulle dit bygewoon het?

Voorbereiding

Besoekers sowel as plaaslike Getuies het gretig uitgesien na wat hulle geweet het onvergeetlike geestelike geleenthede sou wees. Dit was ’n groot werk om genoeg huisvesting vir die afgevaardigdes te reël. Vir die Chorzów-streekbyeenkoms het Poolse Getuies byvoorbeeld hulle huise vir byna 13 000 gaste uit Oos-Europa oopgestel. Dié byeenkoms is bygewoon deur afgevaardigdes uit Armenië, Belo-Rusland, Estland, Georgië, Kazakstan, Kirgistan, Letland, Litaue, Moldowa, Oesbekistan, die Oekraïne, Rusland, Tadjikistan, Turkmenistan en die Verenigde State.

Baie afgevaardigdes moes maande voor die tyd voorbereidings vir hulle reis begin tref. Tatiana, ’n voltydse evangeliedienaar in Kamtsjatka, ’n Russiese skiereiland noordoos van Japan, het ’n jaar voor die tyd vir die reis begin spaar. Sy moes ongeveer 10 500 kilometer reis. Eers het sy 5 uur per vliegtuig gevlieg, toe het sy byna drie dae lank per trein gereis en uiteindelik 30 uur op ’n bus deurgebring om Chorzów te bereik.

Duisende het aangebied om met voorbyeenkomswerk te help om die stadions en die omliggende terrein geskikte plekke vir aanbidding te maak (Deuteronomium 23:14). Om maar een voorbeeld te noem, in Leipzig het die plaaslike Getuies die stadion mooi skoongemaak, en hulle het belowe om dit ná die byeenkoms weer te doen. Gevolglik het stadionbeamptes ’n klousule van die huurkontrak gekanselleer wat die betaling van ’n aansienlike bedrag geëis het om die skoonmaakkoste te dek.

Uitnodigings

Gemeentes regoor die wêreld het die “Verlossing is op hande!”-streekbyeenkomste wyd en syd geadverteer. Diegene wat spesiale streekbyeenkomste sou bywoon, het met groot geesdrif aan hierdie kampanje deelgeneem. Die dag voor die byeenkoms het hulle die byeenkoms nog tot laat in die aand geadverteer. Het hulle ywer enige goeie resultate opgelewer?

’n Poolse Getuie met die naam Bogdan het ’n bejaarde man ontmoet wat die byeenkoms wou bywoon, maar hy het gesê dat hy net ’n klein pensioen ontvang en dit nie kan bekostig om die 120 kilometer na Chorzów te reis nie. Toevallig was daar ’n oop sitplek op die bus wat deur die plaaslike gemeente gehuur is. Bogdan vertel: “Ons het vir die man gesê dat hy verniet saam met ons kan gaan as hy halfses die oggend by die vertrekpunt is.” Die man het die uitnodiging aanvaar en die byeenkoms bygewoon. Later het hy aan die broers geskryf en gesê: “Nadat ek hierdie byeenkoms bygewoon het, is ek vasbeslote om ’n beter mens te wees.”

In Praag het ’n man wat in een van die hotelle gebly het wat deur afgevaardigdes van Brittanje gebruik is, een aand vir byeenkomsgangers gesê dat hy ook daardie dag die sessies bygewoon het. Wat het hom beweeg om dit te doen? Die man het gesê dat hy eenvoudig moes gaan nadat hy in die stad uitnodigings van tien verskillende verkondigers op straat ontvang het! Hy was baie beïndruk en wou graag meer weet.—1 Timoteus 2:3, 4.

’n Heilsame geestelike program

Die program het bespreek hoe om verskillende probleme te hanteer. Reguit skriftuurlike raad het verduidelik hoe hierdie probleme opgelos of verduur kan word.

Persone wat deur bejaardheid, swak gesondheid, die dood van geliefdes of ander persoonlike probleme geteister word, het bemoediging uit die Bybel ontvang om hulle te help om ’n positiewer uitkyk op die lewe te hê (Psalm 72:12-14). Egpare en ouers het na Bybelraad geluister oor hoe om ’n gelukkige huwelik te geniet en hoe om hulle kinders suksesvol groot te maak (Prediker 4:12; Efesiërs 5:22, 25; Kolossense 3:21). Jong Christene—wat by die skool aan ongesonde portuurdruk blootgestel word maar by die huis en in die gemeente aan wyse raad uit God se Woord—het praktiese raad ontvang oor hoe om sosiale druk die hoof te bied en hoe om te “vlug . . . vir die begeertes wat eie is aan die jeug”.—2 Timoteus 2:22.

’n Waarlik internasionale broederskap

Jehovah se Getuies ontvang altyd goeie skriftuurlike leiding by hulle samekomste (2 Timoteus 3:16). Maar wat hierdie byeenkomste anders gemaak het, was hulle internasionale geur. Al die spesiale streekbyeenkomste het dieselfde geestelike program in ’n aantal tale aangebied. Daar was elke dag toesprake deur lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, en dit was baie interessant om verslae uit ander lande te hoor. Hierdie toesprake en verslae is getolk ter wille van die verskillende taalgroepe wat teenwoordig was.

Byeenkomsgangers was gretig om hulle broers en susters van ander lande te ontmoet. “Taalverskille het nie werklik enige probleme geskep nie”, het een byeenkomsganger gesê. “Inteendeel, dit het bygedra tot die gees van die geleentheid. Die gaste was uit verskillende kulturele agtergronde, maar hulle is almal deur dieselfde geloof verenig.” Byeenkomsgangers by die München-streekbyeenkoms het dit so gestel: “Verdeel deur taal maar verenig deur liefde.” Ongeag hulle vaderland en taal, die byeenkomsgangers het besef dat hulle tussen ware vriende is—geestelike broers en susters.—Sagaria 8:23.

Dankbetuigings

Die weer gedurende die byeenkomste in Pole het die gees en volharding van die byeenkomsgangers op die proef gestel. Dit het feitlik die hele tyd gereën en was boonop koud—ongeveer 14 grade Celsius. ’n Broer van die Verenigde State het gesê: “Dit was die slegste weer en die laagste temperatuur wat ek nog ooit by ’n byeenkoms ondervind het, en ek het min van die program verstaan. Maar die ongelooflike internasionale atmosfeer, die wonderlike gees en die unieke gasvryheid het vir al hierdie dinge vergoed. Dit was ’n onvergeetlike byeenkoms!”

Iets wat vir Poolssprekende byeenkomsgangers onvergeetlik was, was die vrystelling van Insight on the Scriptures in Pools—’n wonderlike beloning vir hulle trotsering van die koue en reën. Die vrystelling van die nuwe publikasie Lewe met Jehovah se dag in gedagte is ook by al die “Verlossing is op hande!”-streekbyeenkomste met groot vreugde begroet.

Baie van diegene wat by die byeenkoms was, sal dit om ander redes onthou. Kristina, ’n Tsjeggiese suster wat aangebied het om ’n busgroep afgevaardigdes van oorsee te vergesel, vertel: “Toe ons afskeid neem, het ’n suster my eenkant geneem, my omhels en gesê: ‘Julle het so mooi na ons gekyk! Julle het kos na ons sitplekke toe gebring en ons selfs van drinkwater voorsien. Baie dankie vir julle selfopofferende liefde.’” Sy het verwys na die verskaffing van middagetes aan oorsese afgevaardigdes. “Ons het geen vorige ondervinding van hierdie soort werk gehad nie”, het een broer verduidelik. “Dit het behels dat byna 6 500 middagetes elke dag afgelewer moes word. Dit was hartverblydend om te sien hoeveel Getuies, insluitende kinders, aangebied het om te help.”

’n Suster wat van die Oekraïne af na Chorzów gereis het vir die byeenkoms, het gesê: “Ons is diep geraak deur die liefde, sorg en vrygewigheid wat ons medegelowiges getoon het. Ons het nie woorde om ons dankbaarheid uit te spreek nie.” En agtjarige Annika van Finland het aan die takkantoor van Jehovah se Getuies in Pole geskryf: “Die byeenkoms was selfs wonderliker as wat ek my ooit kon voorgestel het. Dit is wonderlik om aan Jehovah se organisasie te behoort, want ’n mens het vriende regoor die wêreld!”—Psalm 133:1.

Opmerkings deur buitestanders

Voor die byeenkomste is besigtigingstoere vir party van die afgevaardigdes gereël. Op die Beierse platteland het die besoekers Koninkryksale besoek, waar plaaslike Getuies hulle verwelkom het. Een toergroep se gids, wat nie ’n Getuie is nie, was baie beïndruk met hierdie blyk van broederlike geneentheid. “Op die bus op pad terug na ons hotel”, vertel ’n afgevaardigde, “het die toergids gesê dat ons baie anders is as ander toergroepe. Ons was netjies aangetrek, en almal het saamgewerk met dié wat die leiding in die groep geneem het. Daar was geen gevloek en geen verwarring nie. Sy was verstom om te sien hoe vreemdelinge dadelik sulke goeie vriende kan word.”

’n Broer wat by die Praag-streekbyeenkoms se Nuusafdeling gewerk het, vertel: “Sondagoggend het die offisier in bevel van die polisiemanne wat by die byeenkoms diens gedoen het, ons besoek. Hy het opgemerk dat alles vreedsaam is en dat hy niks het om te doen nie. Hy het ook gesê dat van die mense wat naby die stadion woon, navraag gedoen het oor die aard van die program. Wanneer hy Jehovah se Getuies gemeld het, het hulle gewoonlik negatief gereageer, waarop die offisier dan vir hulle gesê het: ‘As mense hulle net die helfte so goed soos Jehovah se Getuies gedra, sou dit nie nodig wees om polisie te hê nie.’”

Baie reeds verlos!

God se Woord, die Bybel, dien as ’n brug tussen kulture, wat Christene in vrede en eenheid bymekaarbring (Romeine 14:19; Efesiërs 4:22-24; Filippense 4:7). Die spesiale “Verlossing is op hande!”-streekbyeenkomste was ’n bewys hiervan. Jehovah se Getuies is reeds verlos van baie van die plae wat hierdie wêreld teister. Onverdraagsaamheid, aggressie en rassisme—om maar net ’n paar van die samelewing se euwels te noem—bestaan feitlik nie meer onder hulle nie, en hulle sien uit na die tyd wanneer die hele wêreld vry sal wees van hierdie probleme.

Diegene wat hierdie byeenkomste bygewoon het, het die eenheid wat daar onder Getuies van verskillende lande en kulture bestaan, self ondervind. Dit was baie duidelik aan die einde van die byeenkomste. Almal het hande geklap, nuwe vriende omhels en vir oulaas foto’s geneem (1 Korintiërs 1:10; 1 Petrus 2:17). Gelukkig en oortuig dat verlossing van alle probleme en sorge op hande is, het die afgevaardigdes na hulle huise en gemeentes teruggekeer met hernieude vasbeslotenheid om ’n baie stewige greep op God se “woord van die lewe” te behou.—Filippense 2:15, 16.

[Voetnoot]

a Ses ander byeenkomsterreine regdeur Pole en een in Slowakye was elektronies verbind tydens die internasionale dele van die program.

[Venster/Prent op bladsy 10]

Ses-en-twintig tale praat soos een

By al nege streekbyeenkomste is die program in die plaaslike taal aangebied. In Duitsland is die toesprake by die byeenkomste ook in 18 ander tale gehou. In Dortmund is toesprake gehou in Arabies, Farsi, Portugees, Spaans en Russies; in Frankfurt in Engels, Frans en Serwies/Kroaties; in Hamburg in Deens, Nederlands, Sweeds en Tamil; in Leipzig in Chinees, Pools en Turks; en in München in Grieks, Italiaans en Duitse Gebaretaal. By die Praag-streekbyeenkoms is al die toesprake in Engels, Russies en Tsjeggies gehou. In Bratislava is die program in Engels, Hongaars, Slowaaks en Slowaakse Gebaretaal aangebied. In Chorzów was die tale Oekrains, Pools, Russies en Poolse Gebaretaal. En in Poznan was dit Pools en Fins.

Altesaam ses-en-twintig tale! Ja, die byeenkomsgangers was verdeel deur taal, maar hulle was verenig deur hulle liefde.

[Prent op bladsy 9]

Kroatiese afgevaardigdes in Frankfurt was verheug om die “Nuwe Wêreld-vertaling” in hulle eie taal te ontvang