Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat is die oplossing vir etniese onverdraagsaamheid?

Wat is die oplossing vir etniese onverdraagsaamheid?

Wat is die oplossing vir etniese onverdraagsaamheid?

IN Spanje onderbreek ’n skeidsregter ’n sokkerwedstryd. Waarom? Omdat soveel toeskouers ’n speler van Kameroen beledigings toeslinger dat hy dreig om die veld te verlaat. In Rusland het gewelddadige aanvalle teen mense van Afrika, Asië en Latyns-Amerika algemeen geword; gedurende 2004 het rasseaanvalle daar met 55 persent toegeneem tot 394 voorvalle in 2005. In ’n opname in Brittanje was ’n derde van die Asiatiese en swart respondente van mening dat hulle hulle werk verloor het weens rassediskriminasie. Hierdie voorbeelde weerspieël ’n wêreldwye tendens.

Etniese onverdraagsaamheid kom in verskillende grade van ernstigheid voor—van beledigende of onbedagsame aanmerkings tot pogings om ’n etniese groep deur middel van ’n nasionale beleid uit te wis. a Wat is die grondoorsaak van etniese onverdraagsaamheid? Hoe kan ons keer dat ons dit openbaar? Is dit redelik om te hoop dat al die families van die mensdom eendag in vrede sal saamlewe? Die Bybel bied interessante insig in hierdie aangeleenthede.

Onderdrukking en haat

“Die neiging van die mens se hart is sleg van sy jeug af”, sê die Bybel (Genesis 8:21). Daarom put sommige mense genot daaruit om ander te onderdruk. Die Bybel sê verder: “Kyk! die trane van die onderdruktes, maar hulle het geen vertrooster gehad nie; en aan die kant van hulle onderdrukkers was daar mag.”—Prediker 4:1.

Die Bybel toon ook dat etniese haat ver teruggaan in die geskiedenis. Byvoorbeeld, in die 18de eeu voor ons Gewone Jaartelling het ’n Egiptiese Farao die Hebreër Jakob en sy groot familie genooi om hulle in Egipte te vestig. Maar later het ’n ander Farao bedreig gevoel deur hierdie groot groep immigrante. Gevolglik sê die verslag: “Hy het vir sy volk gesê: ‘Kyk! Die volk van die kinders van Israel is talryker en magtiger as ons. Kom! Laat ons op sluwe wyse met hulle handel, sodat hulle nie kan vermeerder . . . nie.’ Toe het hulle hoofde van dwangarbeid oor hulle aangestel om hulle te onderdruk in die las wat hulle gedra het” (Eksodus 1:9-11). Die Egiptenaars het selfs beveel dat alle pasgebore seuntjies van Jakob se nakomelinge doodgemaak moet word.—Eksodus 1:15, 16.

Wat is die grondoorsaak?

Die wêreld se godsdienste help selde om etniese onverdraagsaamheid teë te werk. Party individue het weliswaar onderdrukking dapper teëgewerk, maar godsdiens as ’n geheel het alte dikwels die onderdrukkers se kant gekies. Dit was die geval in die Verenigde State, waar die onderwerping van swart mense afgedwing is deur die wet en deur teregstelling sonder ’n verhoor en waar wetgewing tot in 1967 gemengde huwelike verbied het. Dit was ook in Suid-Afrika die geval onder die apartheidstelsel, toe ’n minderheid hulle oorheersende posisie beskerm het deur wette wat ’n verbod op gemengde huwelike ingesluit het. In albei gevalle was sommige lede van die etniese groep wat onverdraagsaamheid bevorder het, baie godsdienstig.

Maar die Bybel openbaar ’n dieperliggende rede vir etniese onverdraagsaamheid. Dit verduidelik waarom party etniese groepe ander onderdruk. Dit sê: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde. As iemand die bewering maak: ‘Ek het God lief’, en tog sy broer haat, is hy ’n leuenaar. Want hy wat sy broer, wat hy gesien het, nie liefhet nie, kan God nie liefhê, wat hy nie gesien het nie” (1 Johannes 4:8, 20). Hierdie stelling identifiseer die grondoorsaak van etniese onverdraagsaamheid. Mense beoefen dit—of hulle nou beweer dat hulle godsdienstig is of nie—omdat hulle God nie leer ken of leer liefkry het nie.

Kennis van God—die grondslag vir etniese harmonie

Hoe bring kennis van God en ’n liefde vir hom etniese harmonie voort? Watter kennis word in God se Woord geopenbaar wat keer dat mense diegene benadeel wat skynbaar anders is? Die Bybel openbaar dat Jehovah die Vader van alle mense is. Dit sê: “Daar [is] in werklikheid vir ons een God, die Vader, uit wie alles is” (1 Korintiërs 8:6). Verder sê dit: “Hy het uit een mens elke nasie van die mense gemaak” (Handelinge 17:26). Daarom is alle mense in werklikheid broers.

Alle etniese groepe kan daarop trots wees dat hulle lewe van God ontvang het, maar almal het iets om oor spyt te wees wat hulle voorouers betref. Die Bybelskrywer Paulus het gesê: “Deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom.” “Almal het [dus] gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23; 5:12). Jehovah is ’n God van verskeidenheid—geen twee skepsele is presies dieselfde nie. Tog het hy geen etniese groep ’n grondslag gegee om meerderwaardig te voel nie. Die algemene gevoel dat jou etniese groep beter is as dié van ander, is strydig met die feite wat in die Skrif uiteengesit word. Dit is duidelik dat die kennis wat ons van God ontvang, etniese harmonie bevorder.

God se besorgdheid oor al die nasies

Party het al gewonder of God etniese vooroordeel bevorder het deur die Israeliete te begunstig en hulle te leer om afgeskeie te bly van ander nasies (Eksodus 34:12). God het die nasie Israel as sy spesiale besitting gekies weens die uitsonderlike geloof van Israel se voorvader Abraham. God het self oor eertydse Israel regeer, hulle heersers gekies en aan hulle ’n stelsel van wette voorsien. Gedurende die tyd dat Israel hierdie reëling aanvaar het, kon ander volke die resultate sien van ’n goddelike regering in teenstelling met die resultate van menseregerings elders. Jehovah het Israel ook destyds geleer dat ’n offerande nodig is om die mensdom weer in ’n goeie verhouding met God te bring. Jehovah se handelinge met Israel het dus al die nasies bevoordeel. Dit het ooreengestem met wat hy vir Abraham gesê het: “Deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën omdat jy na my stem geluister het.”—Genesis 22:18.

Daarbenewens was die Jode bevoorreg om die heilige verklarings van God te ontvang en die nasie te wees waarin die Messias gebore is. Maar ook dit was sodat al die nasies bevoordeel kon word. Die Hebreeuse Geskrifte wat aan die Jode gegee is, bevat ’n hartverblydende beskrywing van die tyd wanneer alle etniese groepe groot seëninge sal ontvang: “Baie nasies sal beslis heengaan en sê: ‘Kom, en laat ons opgaan na die berg van Jehovah en na die huis van die God van Jakob; en hy sal ons omtrent sy weë onderrig‘ . . . Hulle sal nie, nasie teen nasie, die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie. En hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie.”—Miga 4:2-4.

Hoewel Jesus Christus self vir die Jode gepreek het, het hy ook gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies” (Matteus 24:14). Elke nasie sou die goeie nuus hoor. Jehovah het derhalwe ’n volmaakte voorbeeld gestel deur alle etniese groepe onpartydig te behandel. “God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik.”—Handelinge 10:34, 35.

Die wette wat God vir die eertydse nasie Israel gegee het, toon ook dat hy vir al die nasies omgee. Let daarop dat die Wet meer vereis het as blote verdraagsaamheid teenoor nie-Israeliete wat in die land gewoon het, wanneer dit sê: “Die inwonende vreemdeling wat as ’n vreemdeling by julle woon, moet vir julle soos ’n boorling onder julle word; en jy moet hom liefhê soos jouself, want julle het inwonende vreemdelinge in Egipteland geword” (Levitikus 19:34). Baie van God se wette het die Israeliete geleer om goedhartig teenoor immigrante te wees. Toe Boas, ’n voorvader van Jesus, dus ’n behoeftige uitlandse vrou are sien optel het, het hy opgetree in ooreenstemming met wat God hom geleer het deur seker te maak dat die snyers vir haar genoeg graan agterlaat om in te samel.—Rut 2:1, 10, 16.

Jesus leer ander om goedhartig te wees

Jesus het die kennis van God meer as enigiemand anders geopenbaar. Hy het vir sy volgelinge gewys hoe om goedhartig te wees teenoor mense wat anders is. Eenkeer het hy ’n gesprek aangeknoop met ’n Samaritaanse vrou. Die Samaritane was ’n etniese groep wat deur baie Jode verag is, en daarom was die vrou verbaas. Gedurende hierdie gesprek het Jesus die vrou op goedhartige wyse gehelp om te verstaan hoe sy die ewige lewe kan verkry.—Johannes 4:7-14.

Jesus het ons ook geleer hoe om mense van ander etniese groepe te behandel toe hy ’n illustrasie oor ’n barmhartige Samaritaan gegee het. Hierdie man het op ’n ernstig beseerde Jood afgekom wat deur rowers aangeval is. Die Samaritaan kon maklik geredeneer het: ‘Waarom moet ek ’n Jood help? Die Jode verag my volk.’ Maar Jesus het die Samaritaan uitgebeeld as iemand wat ’n ander beskouing van vreemdelinge gehad het. Hoewel ander reisigers by die gewonde man verbygeloop het, is die Samaritaan “ontroer deur innige jammerte” en het hy uit sy pad gegaan om hulp te verleen. Jesus het hierdie gelykenis afgesluit deur te sê dat enigiemand wat God se guns wil hê, dieselfde moet doen.—Lukas 10:30-37.

Die apostel Paulus het diegene wat God wil behaag, geleer om hulle persoonlikheid te verander en die manier na te volg waarop God mense behandel. Paulus het geskryf: “Lê die ou persoonlikheid met sy gebruike af, en beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat deur juiste kennis vernuwe word na die beeld van die Een wat dit geskep het, waar daar nie Griek of Jood, besnydenis of onbesnedenheid, uitlander, Skitiër . . . is nie . . . Maar beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.”—Kolossense 3:9-14.

Verander kennis van God mense?

Verander kennis van Jehovah God werklik die manier waarop mense diegene van ander etniese groepe behandel? Neem die voorbeeld van ’n Asiatiese immigrant in Kanada wat teleurgesteld was toe sy daar diskriminasie ondervind het. Sy het Jehovah se Getuies ontmoet, en hulle het die Bybel met haar begin studeer. Later het sy uit waardering vir hulle ’n brief geskryf, waarin sy gesê het: ‘Julle is baie gawe en goedhartige wit mense. Toe ek besef dat julle werklik anders is as ander wit mense, het ek gewonder waarom. Ek het gedink en gedink en tot die slotsom gekom dat julle God se Getuies is. Daar moet iets in die Bybel steek. By julle vergaderinge het ek skares wit, swart, bruin en geel mense gesien wie se harte almal dieselfde kleur is—deursigtig—omdat hulle broers en susters is. Nou weet ek wie hulle so gemaak het. Dit is julle God.’

God se Woord voorspel ’n tyd wanneer “die aarde . . . beslis vol [sal] wees van die kennis van Jehovah” (Jesaja 11:9). Ter vervulling van Bybelprofesie word ’n groot menigte wat miljoene tel en “uit alle nasies en stamme en volke en tale” kom, reeds nou in ware aanbidding verenig (Openbaring 7:9). Hulle sien uit na die tyd wanneer haat deur liefde vervang sal word in ’n wêreldwye gemeenskap waarin Jehovah se voorneme wat hy teenoor Abraham uitgespreek het, binnekort vervul sal word: “Al die families van die aarde [sal] geseën word.”—Handelinge 3:25.

[Voetnote]

a Die woord “etnies” beskryf iets wat verband hou met ’n bevolking wat deur ras, nasionaliteit, godsdiens, taal of kultuur van ander onderskei word.

[Prent op bladsy 4, 5]

God se Wet het die Israeliete geleer om inwonende vreemdelinge lief te hê

[Prent op bladsy 5]

Wat kan ons uit die gelykenis van die barmhartige Samaritaan leer?

[Prente op bladsy 6]

God het geen etniese groep ’n rede gegee om meerderwaardig te voel nie