Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Barsillai—’n Man wat bewus was van sy beperkings

Barsillai—’n Man wat bewus was van sy beperkings

Barsillai—’n Man wat bewus was van sy beperkings

‘WAAROM sou ek vir u ’n las word?’ Die 80-jarige man wat dit vir Israel se koning Dawid gesê het, was Barsillai. Die Bybel sê dat hy “’n baie vermoënde man” was, met ander woorde hy was baie ryk (2 Samuel 19:32, 35). Barsillai het in die land Gilead gewoon, ’n bergstreek oos van die Jordaanrivier.—2 Samuel 17:27; 19:31.

Onder watter omstandighede het Barsillai hierdie woorde aan Dawid gerig? En waarom het hierdie bejaarde man dit gesê?

Opstand teen die koning

Dawid was in gevaar. Sy seun Absalom het die troon wederregtelik in besit geneem nadat hy ‘die hart van die manne van Israel gesteel het’. Dit was duidelik dat Absalom niemand wat lojaal is teenoor sy vader, sou ontsien nie. Dawid en sy knegte het Jerusalem dus verlaat (2 Samuel 15:6, 13, 14). Toe Dawid by Mahanaim, ’n gebied oos van die Jordaan, aangekom het, het Barsillai hom gehelp.

Barsillai en twee ander mans het baie materiële benodigdhede ruimhartig tot Dawid se beskikking gestel. Hierdie drie lojale onderdane het die volgende van Dawid en sy manne gesê en sodoende getoon dat hulle sy droewige situasie begryp het: “Die mense is honger en moeg en dors in die wildernis.” Barsillai, Sobi en Magir het hulle bes gedoen om in daardie behoeftes te voorsien deur vir Dawid en sy manne beddens, koring, gars, meel, geroosterde graan, boerbone, lensies, heuning, botter, skape en ander benodigdhede te gee.—2 Samuel 17:27-29.

Dit was gevaarlik om Dawid te help. Dit was onwaarskynlik dat Absalom enigiemand wat die regmatige koning ondersteun, ongestraf sou laat bly. Dit was dus dapper van Barsillai om lojaal teenoor Dawid op te tree.

Die situasie word omgekeer

Kort daarna het Absalom se rebellemagte Dawid se manne teëgekom. ’n Geveg het in die woud van Efraim plaasgevind, moontlik in die omgewing van Mahanaim. Absalom se leër is verslaan, “en die slagting daar was dié dag groot”. Hoewel Absalom probeer ontsnap het, het hy spoedig aan sy einde gekom.—2 Samuel 18:7-15.

Dawid was weer eens Israel se onbestrede koning. Dit was nie meer vir sy volgelinge nodig om as voortvlugtiges te lewe nie. Wat meer is, weens hulle lojaliteit teenoor Dawid het hulle sy respek en dankbaarheid verwerf.

Net voordat Dawid na Jerusalem sou terugkeer, het “Barsillai, die Gileadiet, . . . uit Rogelim afgekom sodat hy saam met die koning na die Jordaan kon trek om hom na die Jordaan te vergesel”. By daardie geleentheid het Dawid die bejaarde Barsillai genooi: “Trek jy saam met my oor, en ek sal jou by my in Jerusalem beslis van voedsel voorsien.”—2 Samuel 19:15, 31, 33.

Dawid het Barsillai se hulp ongetwyfeld baie waardeer. Die koning wou blykbaar nie net die guns terugbetaal deur materiële benodigdhede te voorsien nie. Ryk Barsillai het nie daardie soort hulp nodig gehad nie. Dawid wou daardie bejaarde man moontlik by die koninklike hof gehad het weens sy uitstekende eienskappe. Dit sou ’n eer gewees het om ’n permanente plek daar te hê, en Barsillai sou die voordele van die koning se vriendskap kon geniet.

Hy was beskeie en realisties

Barsillai het op koning Dawid se uitnodiging gereageer deur te sê: “Wat is nog die dae van my lewensjare, dat ek saam met die koning na Jerusalem sou opgaan? Ek is vandag tagtig jaar oud. Kan ek tussen goed en kwaad onderskei, of kan u kneg proe wat ek eet en wat ek drink, of kan ek nog na die stem van sangers en sangeresse luister?” (2 Samuel 19:34, 35). Barsillai het dus die uitnodiging en ’n groot voorreg respekvol van die hand gewys. Maar waarom?

Een rede vir Barsillai se besluit was moontlik sy gevorderde jare en die beperkings wat daarmee gepaardgaan. Barsillai het dalk gevoel dat hy nie veel langer sou leef nie (Psalm 90:10). Hy het gedoen wat hy kon om Dawid te ondersteun, maar hy was ook bewus van die beperkings wat gevorderde jare op hom geplaas het. Barsillai het nie toegelaat dat die gedagte van aansien en belangrikheid hom verhoed om realisties te bepaal wat sy vermoëns is nie. Anders as eersugtige Absalom het Barsillai wyslik beskeidenheid geopenbaar.—Spreuke 11:2.

’n Ander rede vir Barsillai se besluit was dalk dat hy nie wou hê dat sy beperkings die bedrywigheid van God se aangestelde koning enigsins verhinder nie. Barsillai het gevra: “Waarom sou u kneg dan nog vir my heer die koning ’n las word?” (2 Samuel 19:35). Hoewel Barsillai Dawid nog steeds ondersteun het, het hy waarskynlik gevoel dat ’n jonger man toewysings doeltreffender sal kan uitvoer. Barsillai het vermoedelik na sy eie seun verwys en gesê: “Hier is u kneg Kimham. Laat hy saam met my heer die koning oortrek; en doen met hom wat goed is in u oë.” Dawid het nie aanstoot geneem nie, maar het hierdie voorstel aanvaar. Trouens, voordat Dawid die Jordaan oorsteek het, het hy “Barsillai gesoen en hom geseën”.—2 Samuel 19:37-39.

Balans is nodig

Die verslag van Barsillai toon hoe belangrik dit is om gebalanseerd te wees. Aan die een kant moet ons nie ’n diensvoorreg van die hand wys of dit probeer vermy omdat ons ’n rustige lewe wil hê of dalk onbekwaam voel om die verantwoordelikheid te dra nie. God kan ons tekort aanvul as ons op hom vertrou vir krag en wysheid.—Filippense 4:13; Jakobus 4:17; 1 Petrus 4:11.

Aan die ander kant moet ons ons beperkings erken. Byvoorbeeld, ’n Christen is dalk reeds baie besig met geestelike bedrywighede. Hy besef dat hy gevaar sal loop om skriftuurlike verantwoordelikhede af te skeep, soos om vir sy gesin te sorg, as hy verdere voorregte aanvaar. Sal dit in so ’n geval nie ’n aanduiding van beskeidenheid en redelikheid van sy kant wees as hy op hierdie stadium bykomende voorregte van die hand wys nie?—Filippense 4:5; 1 Timoteus 5:8.

Barsillai stel vir ons ’n goeie voorbeeld, en ons kan gerus daaroor peins. Hy was lojaal, dapper, vrygewig en beskeie. Bowenal was Barsillai vasbeslote om God se belange bo sy eie te stel.—Matteus 6:33.

[[Kaart op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Tagtigjarige Barsillai het ’n vermoeiende reis afgelê sodat hy Dawid kon help

GILEAD

Rogelim

Sukkot

Mahanaim

Jordaanrivier

Gilgal

Jerigo

Jerusalem

EFRAIM

[Prent op bladsy 13]

Waarom het Barsillai Dawid se aanbod van die hand gewys?