Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Gaan was jou in die bad Siloam”

“Gaan was jou in die bad Siloam”

“Gaan was jou in die bad Siloam”

NADAT Jesus saggemaakte klei op ’n blinde man se oë gesit het, het hy vir hom gesê: “Gaan was jou in die bad Siloam.” Die man het dit toe gedoen en het “siende teruggekom” (Johannes 9:6, 7). Waar was die bad Siloam? ’n Onlangse argeologiese ontdekking werp nuwe lig op die saak.

Baie toeriste het al die plek in Jerusalem besoek wat as die bad Siloam bekend staan, onder die indruk dat dit die bad is wat in Johannes 9:7 gemeld word. Dit is aan die eindpunt van Hiskia se tonnel geleë—’n 530 meter lange watertonnel wat in die agtste eeu v.G.J. gebou is. Hierdie bad dateer egter uit die vierde eeu G.J. Dit is deur Bisantynse “Christene” gebou wat verkeerdelik aangeneem het dat die bad wat in Johannes se Evangelie gemeld word, aan die eindpunt van hierdie tonnel geleë was.

Maar in 2004 het argeoloë afgekom op wat hulle besef het die bad Siloam is, wat bestaan het toe Jesus op die aarde was. Dit is sowat 100 meter suidoos van die plek wat verkeerdelik as die bad Siloam beskou is. Hoe het hulle dit ontdek? Die stadsowerheid moes ’n rioolpyp in die gebied herstel, en daarom het hulle werkers met swaar toerusting soontoe gestuur. ’n Argeoloog wat daar naby gewerk het, het die grawery dopgehou en gesien hoe twee trappe te voorskyn kom. Die werk is stopgesit, en Israel se Departement van Oudhede het ’n opgrawing van die gebied goedgekeur. Een kant van die bad, sowat 70 meter lank, en twee hoeke daarvan is alreeds opgegrawe.

Party muntstukke wat tydens die opgrawing gevind is, dateer uit die tweede, derde en vierde jaar van die Joodse opstand teen Rome. Daardie opstand het tussen 66 en 70 G.J. plaasgevind. Die muntstukke lewer bewys dat die bad tot 70 G.J. gebruik is, toe Jerusalem deur die Romeine vernietig is. Die tydskrif Biblical Archaeology Review maak dié gevolgtrekking: “Die bad is dus tot aan die einde van die opstand gebruik, waarna dit in onbruik verval het. Hierdie gebied, die laagliggendste deel in die hele Jerusalem, is eers weer in die Bisantynse tydperk bewoon. Elke jaar het die winterreëns wat in die vallei invloei, nog ’n laag modder in die bad afgeset. En ná die Romeinse vernietiging van die stad is die bad nie meer skoongemaak nie. Deur die eeue heen het ’n dik laag modder opgebou, en die bad het geleidelik verdwyn. Die argeoloë het dit onder modder gevind wat op plekke byna drie meter diep was.”

Waarom stel opregte Bybelstudente belang in die ligging van die bad Siloam? Omdat dit hulle help om die geografie van eerste-eeuse Jerusalem beter te verstaan, wat so dikwels in die Evangelieverslae van Jesus se lewe en bediening gemeld word.

[Prent op bladsy 7]

Die onlangs ontdekte bad Siloam

[Erkenning]

© 2003 BiblePlaces.com