Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy ’n onsterflike siel?

Het jy ’n onsterflike siel?

Het jy ’n onsterflike siel?

Is ons net vlees en bloed? Of bestaan ons uit meer as net die versameling elemente waarvan ons gemaak is? Is ons vandag hier en môre net ’n herinnering? Of lewe die een of ander onsigbare deel van ons voort ná die dood?

HOEWEL die godsdienste van die wêreld ’n verwarrende reeks opvattings oor die hiernamaals ontwikkel het, stem die meeste van hulle saam oor een basiese idee: Iets binne-in ’n mens is onsterflik en lewe voort ná die dood. Baie glo dat hierdie “iets” ’n siel is. Wat glo jy? Is ons gedeeltelik vlees en gedeeltelik siel? Wat is ’n siel? Het mense ’n onsterflike siel? Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons die waarheid weet oor wat ons is!

“Die mens het ’n lewende siel geword”

Is die “siel” ’n deel van die mens wat by die dood die liggaam verlaat en aanhou lewe? Volgens die Holman Illustrated Bible Dictionary “word die siel dikwels beskou as die persoon as geheel”. Genesis 2:7 sê byvoorbeeld: “Jehovah God het die mens uit stof van die aarde begin vorm en in sy neusgate die asem van die lewe geblaas, en die mens het ’n lewende siel geword.” Die eerste mens, Adam, was ’n siel.

Die begrip dat die woord “siel” die hele persoon kan beteken, word deur ander tekste ondersteun. Die Bybel praat byvoorbeeld van ’n siel wat werk doen (Levitikus 23:30). Daar word gepraat van siele wat ongeduldig, geïrriteerd, slapeloos, bevrees en terneergedruk is (Rigters 16:16; Job 19:2; Psalm 119:28; Handelinge 2:43; 1 Tessalonisense 5:14). Romeine 13:1 verwys na ’n siel as ’n persoon en sê: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede.” En in 1 Petrus 3:20 lees ons: “In Noag se dae . . . [is] ’n paar mense, naamlik agt siele, veilig deur die water heen gevoer.” Niks in hierdie tekste toon dat die siel die een of ander onstoflike entiteit is wat ná die dood voortlewe nie.

Wat van plante en diere? Is hulle siele? Kyk hoe die Bybel die skepping van diere beskryf. “Laat die waters wemel met ’n gewemel van lewende siele”, het God beveel. Op die volgende skeppingsdag het God gesê: “Laat die aarde lewende siele voortbring volgens hulle soorte, mak diere en kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte” (Genesis 1:20, 24). Alle lewende wesens—mens of dier—is dus siele. Die Bybel verwys nie na plante as siele nie.

Die woord “siel” word ook op ’n ander manier gebruik. In Job 33:22 lees ons: “Sy siel kom nader aan die kuil, en sy lewe aan dié wat die dood veroorsaak.” Hier word die woorde “siel” en “lewe” as parallelle uitdrukkings gebruik, waar die een die betekenis van die ander verklaar. “Siel” kan dus ook verwys na die lewe wat iemand as ’n lewende siel, of persoon, geniet. Gevolglik verwys die Skrif na Moses se vyande wat sy lewe wou neem, as “al die manne wat [sy] siel gesoek het” (Eksodus 4:19). En aangaande Jesus Christus sê die Bybel: “Die Seun van die mens [het] gekom . . . om sy siel [lewe] te gee as ’n losprys in ruil vir baie.”—Matteus 20:28.

Die Bybel se definisie van “siel” is eenvoudig en konsekwent. Die woord kan verwys na ’n mens of ’n dier of na die lewe wat ’n wese as ’n lewende siel geniet. Soos ons sal sien, stem hierdie begrip ooreen met wat die Bybel sê oor wat met die siel gebeur by die dood.

‘Die siel wat sondig, sal sterf’

Die Bybel sê: “Die siel wat sondig—dié sal sterf” (Esegiël 18:4). Die angstige profeet Elia “het begin vra dat sy siel moet sterf” (1 Konings 19:4). Net so het Jona “bly vra dat sy siel mag sterf” (Jona 4:8). Ja, die siel sterf wanneer die persoon sterf; dit is nie onsterflik nie. Aangesien ’n persoon ’n siel is, kan ’n mens sê dat iemand wat gesterf het, se siel gesterf het.

Maar wat van Bybeltekste wat praat van mense wie se siel uitgegaan het of teruggekeer het? Die Bybel sê die volgende aangaande wat met Ragel gebeur het toe sy geboorte aan ’n seun gegee het: “Terwyl haar siel uitgegaan het (want sy het gesterf), [het sy hom] Ben-Oni genoem . . . ; maar sy vader het hom Benjamin genoem” (Genesis 35:18). En wanneer 1 Konings 17:22 na die opstanding van ’n weduwee se seun verwys, sê dit: “Jehovah [het] na Elia se stem [of, gebed] geluister, sodat die siel van die kind in hom teruggekeer het en hy lewend geword het.” Toon hierdie gedeeltes dat die siel die een of ander onsigbare, skimagtige deel van die mens is wat uit ’n liggaam kan ontsnap of daarheen kan terugkeer?

Wel, onthou dat die een betekenis van die woord “siel” “lewe” is. Derhalwe het Ragel se siel uitgegaan in die sin dat haar lewe uitgegaan het. Trouens, party Bybels vertaal die frase ‘haar siel het uitgegaan’ as ‘haar lewe het uitgevloei’ (Knox) en ‘sy het haar laaste asem uitgeblaas’ (Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Ook in die geval van die weduwee se seun was dit sy lewe wat na hom teruggekeer het.—1 Konings 17:23.

Wat die mens is

Die Bybel toon duidelik wat die mens is. Hy het nie ’n siel nie; hy is ’n siel. As gevolg van wat die mens is—sy natuur—hang enige hoop op toekomstige lewe vir die dooies af van ’n opstanding. Die Bybel belowe: “Moet julle nie hieroor verwonder nie, want die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goeie dinge gedoen het, tot ’n opstanding van die lewe, dié wat veragtelike dinge beoefen het, tot ’n opstanding van oordeel” (Johannes 5:28, 29). Daardie betroubare belofte van ’n opstanding—nie die leerstelling van die onsterflikheid van die siel nie—is die grondslag vir ware hoop vir die dooies.

Hoe noodsaaklik is dit tog om juiste kennis te verkry oor wat die opstanding is en wat dit vir die mensdom beteken! Wat ook onontbeerlik is, is kennis van God en van Christus, want Jesus het in gebed gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Jehovah se Getuies in jou omgewing sal bly wees om jou te help om die Bybel te bestudeer sodat jy jou kennis van God, sy Seun en Sy beloftes kan vergroot. Ons nooi jou om met die Getuies in verbinding te tree of aan die uitgewers van hierdie tydskrif te skryf.

[Prente op bladsy 4]

Hulle is almal siele

[Erkenning]

Bok: CNPC—Centro Nacional de Pesquisa de Caprinos (Sobral, CE, Brasil)