Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy teen die heilige gees gesondig?

Het jy teen die heilige gees gesondig?

Het jy teen die heilige gees gesondig?

“Daar is ’n sonde wat wel die dood meebring.”—1 JOHANNES 5:16.

1, 2. Hoe weet ons dat dit moontlik is om teen God se heilige gees te sondig?

 “EK HET ’n obsessie ontwikkel met die gedagte dat ek teen die heilige gees gesondig het.” Dit is wat ’n vrou in Duitsland geskryf het, hoewel sy God dien. Kan ’n Christen werklik teen God se heilige gees, of werkende krag, sondig?

2 Ja, dit is moontlik om teen Jehovah se heilige gees te sondig. “Elke soort sonde en lastering sal die mense vergewe word,” het Jesus Christus gesê, “maar die lastering teen die gees sal nie vergewe word nie” (Matteus 12:31). Ons word gewaarsku: “As ons moedswillig sonde beoefen nadat ons die juiste kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offerande vir sondes meer oor nie, maar daar is ’n sekere vreeslike verwagting van oordeel” (Hebreërs 10:26, 27). En die apostel Johannes het geskryf: “Daar is ’n sonde wat wel die dood meebring” (1 Johannes 5:16). Maar berus dit by die een wat ernstig gesondig het, om te besluit of hy hom skuldig gemaak het aan “’n sonde wat wel die dood meebring”?

Berou lei tot vergifnis

3. Wat is waarskynlik die geval as ons diep bedroef is oor ’n sonde wat ons gepleeg het?

3 Jehovah is die finale Regter van oortreders. Ja, ons moet almal aan hom rekenskap gee, en hy doen altyd wat reg is (Genesis 18:25; Romeine 14:12). Jehovah besluit of ons ons aan ’n onvergeeflike sonde skuldig gemaak het, en hy kan sy gees van ons onttrek (Psalm 51:11). Maar as ons diep bedroef is oor ’n sonde wat ons gepleeg het, is ons heel waarskynlik opreg berouvol. Maar wat is ware berou?

4. (a) Hoe sal jy berou definieer? (b) Waarom is Psalm 103:10-14 so vertroostend?

4 Om berou te hê, beteken dat ons ons gesindheid verander ten opsigte van oortredings wat ons gepleeg het of van plan was om te pleeg. Dit beteken dat ons bedroef en spyt voel en afwyk van ’n sondige weg. As ons ernstig gesondig het, maar die nodige stappe gedoen het om te toon dat ons werklik berou het, kan ons vertroosting put uit die psalmis se woorde: “Hy [Jehovah] het nie met ons gehandel volgens ons sondes nie; ook het hy nie volgens ons oortredings oor ons gebring wat ons verdien nie. Want soos die hemel hoër is as die aarde, is sy liefderyke goedhartigheid groter teenoor dié wat hom vrees. So ver as die sonsopgang verwyderd is van die sonsondergang, so ver het hy ons oortredings van ons verwyder. Soos ’n vader barmhartigheid aan sy kinders bewys, het Jehovah barmhartigheid bewys aan dié wat hom vrees. Want hy weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is.”—Psalm 103:10-14.

5, 6. Gee ’n opsomming van 1 Johannes 3:19-22, en verduidelik die betekenis van die apostel se woorde.

5 Die apostel Johannes se woorde is ook vertroostend: “Hieraan sal ons weet dat ons ons oorsprong by die waarheid het, en ons sal ons hart voor hom gerusstel met betrekking tot alles waarin ons hart ons veroordeel, want God is groter as ons hart en weet alles. Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid van spraak teenoor God; en wat ons ook al vra, ontvang ons van hom, omdat ons sy gebooie bewaar en die dinge doen wat in sy oë welbehaaglik is.”—1 Johannes 3:19-22.

6 Ons “weet dat ons ons oorsprong by die waarheid het” omdat ons broederliefde betoon en nie ’n gewoonte daarvan maak om sonde te beoefen nie (Psalm 119:11). As ons om die een of ander rede veroordeeld voel, is dit goed om te onthou dat ‘God groter is as ons hart en alles weet’. Jehovah bewys barmhartigheid aan ons omdat hy bewus is van ons “ongeveinsde broederlike geneentheid”, ons stryd teen sonde en ons pogings om sy wil te doen (1 Petrus 1:22). As ons op Jehovah vertrou, broederliefde betoon en nie opsetlik sonde beoefen nie, sal ons hart “ons nie veroordeel nie”. Ons sal “vrymoedigheid van spraak teenoor God” in gebed hê, en hy sal ons verhoor omdat ons sy gebooie bewaar.

Hulle het teen die gees gesondig

7. Wat bepaal of ’n sonde vergewe kan word of nie?

7 Watter sondes word nie vergewe nie? Om hierdie vraag te beantwoord, kan ons na ’n paar Bybelse voorbeelde kyk. Dit behoort vertroostend vir ons te wees as ons berou het, maar nog steeds erg ontsteld is oor ons ernstige oortredings. Ons sal sien dat dit nie soseer ’n kwessie is van watter soort sonde iemand gepleeg het nie; dit is eerder die motief, die hartstoestand en die mate van moedswilligheid wat bepaal of ’n sonde vergewe kan word of nie.

8. Hoe het sommige eerste-eeuse Joodse godsdiensleiers teen die heilige gees gesondig?

8 Eerste-eeuse Joodse godsdiensleiers wat Jesus Christus kwaadwillig teëgestaan het, het teen die heilige gees gesondig. Hulle het gesien hoe God se gees werksaam is in Jesus wanneer hy wonderwerke verrig het wat Jehovah vereer het. Nogtans het hierdie vyande van Christus hierdie krag aan Satan die Duiwel toegeskryf. Volgens Jesus het diegene wat so teen God se heilige gees gelaster het, ’n sonde gepleeg wat nie in die huidige “stelsel van dinge of in die toekomstige” vergewe sal word nie.—Matteus 12:22-32.

9. Wat is laster, en wat het Jesus daaroor gesê?

9 Laster is krenkende of smadende taal of taal wat ander se karakter skend. Aangesien God die Bron van die heilige gees is, praat ’n mens in werklikheid teen Jehovah as jy iets teen sy gees sê. Om op so ’n manier te praat sonder om berou te toon, is onvergeeflik. Die voorval wat aanleiding gegee het tot Jesus se woorde oor hierdie soort sonde, toon dat Jesus verwys na diegene wat die werking van God se heilige gees moedswillig teëstaan. Omdat die Fariseërs gesien het hoe Jehovah se gees werksaam is in Jesus, maar hierdie krag aan die Duiwel toegeskryf het, het hulle gesondig deur teen die gees te laster. Jesus het dus verklaar: “Wie teen die heilige gees laster, het tot in ewigheid geen vergifnis nie, maar is skuldig aan ewige sonde.”—Markus 3:20-29.

10. Waarom het Jesus Judas “die seun van die vernietiging” genoem?

10 Dink ook aan die geval van Judas Iskariot. Hy het ’n oneerlike weg ingeslaan en geld gesteel uit die geldkissie wat aan sy sorg toevertrou is (Johannes 12:5, 6). Judas het later na die Joodse leiers gegaan en met hulle ooreengekom om Jesus vir 30 silwerstukke te verraai. Ja, Judas het ná sy verraad spyt gevoel, maar hy het nooit berou gehad oor sy opsetlike sonde nie. Gevolglik is Judas nie waardig om ’n opstanding te ontvang nie. Dit is waarom Jesus hom “die seun van die vernietiging” genoem het.—Johannes 17:12; Matteus 26:14-16.

Hulle het nie teen die gees gesondig nie

11-13. Hoe het koning Dawid met betrekking tot Batseba gesondig, en watter vertroosting kan geput word uit die manier waarop God met hulle gehandel het?

11 Christene wat hulle ernstige sonde bely het en geestelike hulp van gemeentelike ouer manne ontvang het, kwel hulle soms nog steeds oor oortredings van God se wet wat hulle in die verlede begaan het (Jakobus 5:14). As ons persoonlik sulke kwelgedagtes het, sal ons heel waarskynlik baat vind by ’n ondersoek van wat die Skrif sê oor diegene wie se sondes vergewe is.

12 Koning Dawid het ernstig gesondig met betrekking tot Batseba, die vrou van Uria. Nadat Dawid van sy nabygeleë dak af hierdie pragtige getroude vrou sien bad het, het hy haar na sy paleis laat bring en geslagsomgang met haar gehad. Toe hy later uitvind dat sy swanger is, het hy ’n plan beraam om haar man, Uria, te kry om geslagsomgang met haar te hê om die egbreuk weg te steek. Toe daardie plan misluk, het die koning gereël dat Uria in die oorlog doodgemaak word. Daarna het Batseba Dawid se vrou geword en vir hom ’n kind gebaar wat gesterf het.—2 Samuel 11:1-27.

13 Jehovah het sake in verband met Dawid en Batseba hanteer. God het Dawid vergewe en blykbaar faktore in ag geneem soos sy berou en die Koninkryksverbond wat met hom gesluit is (2 Samuel 7:11-16; 12:7-14). Batseba het klaarblyklik ’n berouvolle gesindheid gehad, want sy was bevoorreg om die moeder van koning Salomo en ’n voorouer van Jesus Christus te word (Matteus 1:1, 6, 16). As ons gesondig het, is dit goed om te onthou dat Jehovah ons berouvolle gesindheid sien.

14. Hoe word die omvang van God se vergifnis toegelig in die geval van koning Manasse?

14 Die omvang van Jehovah se vergifnis word ook toegelig in die geval van koning Manasse van Juda. Hy het gedoen wat sleg was in Jehovah se oë. Manasse het altare vir Baäl opgerig, “die hele leër van die hemel” aanbid en selfs altare vir valse gode in twee tempelvoorhowe gebou. Hy het sy seuns deur die vuur laat gaan, spiritistiese gebruike aangemoedig en die inwoners van Juda en Jerusalem sover gekry “om erger dinge te doen as die nasies wat Jehovah voor die kinders van Israel uit verdelg het”. Die waarskuwings deur God se profete is in die wind geslaan. Uiteindelik het die koning van Assirië Manasse gevange geneem. Terwyl Manasse in gevangenskap was, het hy berou gehad en nederig tot God bly bid, wat hom vergewe het en hom in die koningskap in Jerusalem herstel het, waar hy ware aanbidding bevorder het.—2 Kronieke 33:2-17.

15. Watter voorval in die apostel Petrus se lewe toon dat Jehovah “ryklik vergewe”?

15 Eeue later het die apostel Petrus ernstig gesondig deur Jesus te verloën (Markus 14:30, 66-72). Maar Jehovah het Petrus “ryklik vergewe” (Jesaja 55:7). Waarom? Omdat Petrus opreg berouvol was (Lukas 22:62). Daar was 50 dae later duidelike bewys van God se vergifnis toe Petrus op Pinksterdag bevoorreg was om ’n moedige getuienis oor Jesus te gee (Handelinge 2:14-36). Is daar enige rede om te dink dat God vandag minder vergewensgesind teenoor waarlik berouvolle Christene sal wees? “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan?” het die psalmis gesing, “want by u is daar ware vergifnis.”—Psalm 130:3, 4.

Ruim vrees oor sonde uit die weg

16. Onder watter omstandighede staan God vergifnis toe?

16 Die voorgaande voorbeelde behoort kwelgedagtes dat ons teen die heilige gees gesondig het, uit die weg te ruim. Hulle toon dat Jehovah wel berouvolle sondaars vergewe. Van die allergrootste belang is innige gebed tot God. As ons gesondig het, kan ons om vergifnis smeek op grond van Jesus se losprysoffer, Jehovah se barmhartigheid, ons oorgeërfde onvolmaaktheid en ons rekord van getroue diens. Omdat ons Jehovah se onverdiende goedhartigheid ken, kan ons om vergifnis vra, met die vertroue dat dit toegestaan sal word.—Efesiërs 1:7.

17. Wat moet ons doen as ons gesondig het en geestelike hulp nodig het?

17 Sê nou ons het gesondig, maar ons kan nie bid nie omdat ons sonde ons geestelik siek gemaak het? In hierdie verband het die dissipel Jakobus geskryf: “Laat [so iemand] die ouer manne van die gemeente na hom toe roep, en laat hulle oor hom bid en hom in die naam van Jehovah met olie salf. En die gebed van geloof sal die een wat ongesteld is, gesond maak, en Jehovah sal hom oprig. Ook as hy sondes gepleeg het, sal dit hom vergewe word.”—Jakobus 5:14, 15.

18. Waarom is iemand se sonde nie noodwendig onvergeeflik nie, al word hy uit die gemeente gesit?

18 Al is ’n oortreder op daardie stadium onberouvol en word hy uit die gemeente gesit, is sy sonde nie noodwendig onvergeeflik nie. Aangaande ’n uitgesette gesalfde oortreder in Korinte het Paulus geskryf: “Hierdie bestrawwing wat deur die meerderheid gegee is, is voldoende vir so iemand, sodat julle hom nou daarenteen goedgunstig moet vergewe en vertroos, sodat so iemand nie dalk op die een of ander wyse deur sy oormatige droefheid verswelg word nie” (2 Korintiërs 2:6-8; 1 Korintiërs 5:1-5). Maar om geestelik herstel te word, moet oortreders geestelike hulp wat op die Bybel gebaseer is, van Christen- ouer manne aanvaar en bewys lewer van ware berou. Hulle moet ‘vrugte voortbring wat by berou pas’.—Lukas 3:8.

19. Wat kan ons help om “gesond in geloof” te bly?

19 Wat dra dalk by tot die gevoel dat ons teen die heilige gees gesondig het? Oordrewe nougesetheid of ’n swak fisiese toestand speel dalk ’n rol. In so ’n geval kan gebed en ekstra rus help. Ons moet veral nie toelaat dat Satan ons ontmoedig nie, want dit kan daartoe lei dat ons ophou om God te dien. Aangesien Jehovah geen behae skep in die dood van die goddelose nie, skep hy beslis geen behae daarin dat enige van sy knegte ophou om hom te dien nie. As ons dan vrees dat ons teen die gees gesondig het, moet ons voortgaan om ons met God se Woord te voed, onder meer met vertroostende gedeeltes soos die Psalms. Ons moet aanhou om gemeentelike vergaderinge by te woon en aan die Koninkrykspredikingswerk deel te neem. Dit sal ons help om “gesond in geloof” te wees en ons nie te bekommer oor die moontlikheid dat ons ’n onvergeeflike sonde gepleeg het nie.—Titus 2:2.

20. Watter redenasie kan iemand help om te sien dat hy nie teen die heilige gees gesondig het nie?

20 Enigeen wat vrees dat hy teen die heilige gees gesondig het, kan hom afvra: ‘Het ek teen die heilige gees gelaster? Voel ek dat ek nou nie meer berou het oor my sonde nie? Het ek geloof in God se vergifnis? Is ek ’n afvallige wat geestelike lig verwerp het?’ Sulke persone sal heel waarskynlik besef dat hulle nie teen God se heilige gees gelaster het nie en ook nie afvalliges geword het nie. Hulle is berouvol, en hulle het vaste geloof in Jehovah se vergifnis. As dit die geval is, het hulle nie teen Jehovah se heilige gees gesondig nie.

21. Watter vrae sal in die volgende artikel bespreek word?

21 Wat ’n seën is dit tog om seker te wees dat ons nie teen die heilige gees gesondig het nie! Maar daar is nog vrae wat met hierdie saak verband hou en in die volgende artikel bespreek sal word. Ons kan ons byvoorbeeld afvra: ‘Word ek werklik deur God se heilige gees gelei? Kan die vrug daarvan in my lewe gesien word?’

Wat is jou antwoord?

• Waarom kan ons sê dat dit moontlik is om teen die heilige gees te sondig?

• Wat beteken dit om berou te hê?

• Wie het teen die gees gesondig toe Jesus op die aarde was?

• Hoe kan kwelgedagtes dat ’n mens ’n onvergeeflike sonde gepleeg het, uit die weg geruim word?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 17]

Diegene wat gesê het dat Jesus wonderwerke deur middel van Satan se krag verrig, het teen God se heilige gees gesondig

[Prent op bladsy 18]

Hoewel Petrus Jesus verloën het, het hy nie ’n onvergeeflike sonde gepleeg nie