Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal jy ‘aanhou om deur gees te wandel’?

Sal jy ‘aanhou om deur gees te wandel’?

Sal jy ‘aanhou om deur gees te wandel’?

“Hou aan om deur gees te wandel, en julle sal hoegenaamd geen vleeslike begeerte uitvoer nie.”—GALASIËRS 5:16.

1. Hoe kan kwelgedagtes dat ons teen die gees gesondig het, uit die weg geruim word?

 DAAR is ’n manier om kwelgedagtes dat ons teen Jehovah se heilige gees gesondig het, uit die weg te ruim. Dit is deur te doen wat die apostel Paulus gesê het: “Hou aan om deur gees te wandel, en julle sal hoegenaamd geen vleeslike begeerte uitvoer nie” (Galasiërs 5:16). As ons toelaat dat God se gees ons lei, sal ons nie deur verkeerde vleeslike begeertes oormeester word nie.—Romeine 8:2-10.

2, 3. Watter uitwerking sal dit op ons hê as ons aanhou om deur gees te wandel?

2 Terwyl ons ‘aanhou om deur gees te wandel’, sal God se werkende krag ons beweeg om Jehovah te gehoorsaam. Ons sal godvrugtige eienskappe in ons bediening, in die gemeente, by die huis en elders aan die dag lê. Die vrug van die gees sal gesien kan word in ons handelinge met ons huweliksmaat, ons kinders, ons medegelowiges en ander.

3 As ons “vanuit die standpunt van God na die gees” lewe, stel dit ons in staat om op te hou sondig (1 Petrus 4:1-6). As ons onder die invloed van die gees is, sal ons beslis nie ’n onvergeeflike sonde pleeg nie. Maar op watter ander positiewe maniere sal dit ons raak as ons aanhou om deur gees te wandel?

Bly na aan God en Christus

4, 5. Hoe word ons beskouing van Jesus beïnvloed as ons deur gees wandel?

4 Omdat ons deur heilige gees wandel, kan ons ’n hegte verhouding met God en sy Seun handhaaf. Paulus het aangaande geestelike gawes geskryf en vir medegelowiges in Korinte gesê: “Ek [wil] hê julle [voormalige afgodedienaars] moet weet dat niemand wat deur God se gees spreek, sê: ‘Jesus is vervloek!’ nie, en niemand kan sê: ‘Jesus is die Here!’ nie, behalwe deur heilige gees” (1 Korintiërs 12:1-3). Enige gees wat mense beweeg om ’n vloek oor Jesus uit te spreek, moet sy oorsprong by Satan die Duiwel hê. Maar as Christene wat deur heilige gees wandel, is ons oortuig dat Jehovah Jesus uit die dode opgewek het en hom bo alle ander skepsele verhef het (Filippense 2:5-11). Ons het geloof in Christus se losprysoffer en aanvaar Jesus as die Here wat deur God oor ons aangestel is.

5 Sekere verklaarde Christene van die eerste eeu G.J. het ontken dat Jesus in die vlees gekom het (2 Johannes 7-11). Omdat party daardie valse beskouing aangeneem het, het hulle die ware leringe oor Jesus, die Messias, verwerp (Markus 1:9-11; Johannes 1:1, 14). As ons deur heilige gees wandel, voorkom dit dat ons voor sulke afvalligheid swig. Maar ons moet geestelik waaksaam bly, want alleenlik dan kan ons aanhou om Jehovah se onverdiende goedhartigheid te ontvang en “voortgaan om in die waarheid te wandel” (3 Johannes 3, 4). Laat ons dus vasbeslote wees om alle afvalligheid te verwerp sodat ons ’n sterk verhouding met ons hemelse Vader kan handhaaf.

6. Watter eienskappe bring God se gees voort in diegene wat deur gees wandel?

6 Paulus het afvallige afgodediens en sektes saam met “werke van die vlees” soos hoerery en losbandige gedrag genoem. Maar hy het verduidelik: “Dié wat aan Christus Jesus behoort, het die vlees saam met sy hartstogte en begeertes aan die paal gehang. As ons deur gees lewe, laat ons dan voortgaan om ook deur gees ordelik te wandel” (Galasiërs 5:19-21, 24, 25). Watter eienskappe bring God se werkende krag voort in diegene wat deur die gees lewe en wandel? “Die vrugte van die gees,” het Paulus geskryf, “is liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Galasiërs 5:22, 23). Kom ons ondersoek hierdie aspekte van die vrug van die gees.

‘Ons moet mekaar liefhê’

7. Wat is liefde, en wat is party van die kenmerke daarvan?

7 Liefde—een aspek van die vrug van die gees—sluit dikwels sterk geneentheid en onselfsugtige besorgdheid oor ander in, tesame met ’n hartlike gehegtheid aan hulle. Die Skrif sê “God is liefde”, aangesien hy die verpersoonliking van hierdie eienskap is. Die groot liefde wat God en sy Seun vir die mensdom het, kan gesien word in die losprysoffer van Jesus Christus (1 Johannes 4:8; Johannes 3:16; 15:13; Romeine 5:8). As Jesus se volgelinge word ons geïdentifiseer deur die liefde wat ons vir mekaar het (Johannes 13:34, 35). Trouens, ons word beveel om ‘mekaar lief te hê’ (1 Johannes 3:23). En Paulus sê dat die liefde lankmoedig en goedhartig is. Dit is nie jaloers nie, en dit praat nie groot nie, gedra hom nie onwelvoeglik nie en soek nie sy eie belang nie. Die liefde raak nie ergerlik nie en hou ook nie boek van die kwaad nie. Dit is bly saam met die waarheid, nie oor onregverdigheid nie. Die liefde verdra alles, glo alles, hoop alles en verduur alles. Dit faal ook nooit nie.—1 Korintiërs 13:4-8.

8. Waarom moet ons toon dat ons medeaanbidders van Jehovah liefhet?

8 As ons God se gees toelaat om liefde in ons voort te bring, sal hierdie eienskap in ons verhouding met God en ons naaste bestaan (Matteus 22:37-39). “Hy wat nie liefhet nie, bly in die dood”, het die apostel Johannes geskryf. “Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar, en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie” (1 Johannes 3:14, 15). ’n Moordenaar kon slegs in ’n Israelitiese vrystad toevlug neem as hy die een wat doodgemaak is, nie gehaat het nie (Deuteronomium 19:4, 11-13). As ons deur heilige gees gelei word, sal ons toon dat ons God, medeaanbidders en ander liefhet.

“Die vreugde van Jehovah is julle vesting”

9, 10. Wat is vreugde, en wat is ’n paar redes om vreugdevol te wees?

9 Vreugde is ’n toestand van groot geluk. Jehovah is “die gelukkige God” (1 Timoteus 1:11; Psalm 104:31). Die Seun skep behae daarin om sy Vader se wil te doen (Psalm 40:8; Hebreërs 10:7-9). En “die vreugde van Jehovah is [ons] vesting”.—Nehemia 8:10.

10 Godgegewe vreugde verskaf ons diepe tevredenheid wanneer ons God se wil doen, selfs in tye van teëspoed, smart of vervolging. Hoe gelukkig maak “die kennis van God” ons tog! (Spreuke 2:1-5). Ons vreugdevolle verhouding met God is gegrond op juiste kennis en op geloof in hom en in Jesus se losprysoffer (1 Johannes 2:1, 2). Om deel te wees van die enigste ware internasionale broederskap, is nog ’n bron van vreugde (Sefanja 3:9; Haggai 2:7). Ons Koninkrykshoop en die wonderlike voorreg om die goeie nuus te verkondig, maak ons vreugdevol (Matteus 6:9, 10; 24:14). Die vooruitsig op die ewige lewe doen dit ook (Johannes 17:3). Aangesien ons so ’n wonderlike hoop het, moet ons “net vreugdevol” wees.—Deuteronomium 16:15.

Wees vreedsaam en lankmoedig

11, 12. (a) Hoe sal jy vrede definieer? (b) Watter uitwerking het goddelike vrede op ons?

11 Vrede—nog ’n aspek van die vrug van die gees—is ’n toestand van kalmte en vryheid van steurnis. Ons hemelse Vader is die God van vrede, en aan ons word die versekering gegee: “Jehovah sal sy volk seën met vrede” (Psalm 29:11; 1 Korintiërs 14:33). Jesus het vir sy dissipels gesê: “Ek laat vir julle vrede na, ek gee julle my vrede” (Johannes 14:27). Hoe sou dit sy volgelinge help?

12 Die vrede wat Jesus sy dissipels gegee het, het hulle harte en verstande gekalmeer en hulle vrese uit die weg geruim. Hulle het vrede gehad veral toe hulle die beloofde heilige gees ontvang het (Johannes 14:26). Onder die invloed van die gees en in antwoord op ons gebede kan ons vandag die onvergelyklike “vrede van God” geniet wat ons hart en verstand kalmeer (Filippense 4:6, 7). Daarbenewens help Jehovah se gees ons om kalm sowel as vreedsaam teenoor medeaanbidders en ander te wees.—Romeine 12:18; 1 Tessalonisense 5:13.

13, 14. Wat is lankmoedigheid, en waarom moet ons dit aan die dag lê?

13 Lankmoedigheid is verwant aan vreedsaamheid, want dit is ons geduldige verduring van uittarting of onreg in die hoop dat die situasie sal verbeter. God is lankmoedig (Romeine 9:22-24). Jesus openbaar ook hierdie eienskap. Dit kan ook aan ons betoon word, want Paulus het geskryf: “Die rede waarom barmhartigheid aan my bewys is, [was] dat Christus Jesus deur middel van my, as die vernaamste geval, al sy lankmoedigheid kon toon as ’n voorbeeld vir dié wat hulle geloof op hom sal grond tot die ewige lewe.”—1 Timoteus 1:16.

14 Lankmoedigheid help ons om te volhard wanneer ander dinge sê of doen wat onvriendelik of onbedagsaam is. Paulus het mede-Christene aangespoor: “Wees lankmoedig teenoor almal” (1 Tessalonisense 5:14). Aangesien almal van ons onvolmaak is en foute maak, wil ons tog sekerlik hê dat mense geduldig en lankmoedig met ons moet wees wanneer ons fouteer in ons handelinge met hulle. Laat ons dus ’n punt daarvan maak om “lankmoedig te wees met vreugde”.—Kolossense 1:9-12.

Betoon goedhartigheid en goedheid

15. Definieer goedhartigheid, en noem voorbeelde daarvan.

15 Ons betoon goedhartigheid wanneer ons belangstelling in ander toon deur middel van woorde en dade wat van vriendelikheid en behulpsaamheid getuig. Jehovah is goedhartig, en so ook sy Seun (Romeine 2:4; 2 Korintiërs 10:1). Daar word van knegte van God en Christus verwag om goedhartig te wees (Miga 6:8; Kolossense 3:12). Selfs mense wat nie ’n persoonlike verhouding met God het nie, het al “buitengewone mensliewendheid”, oftewel goedhartigheid, betoon (Handelinge 27:3; 28:2). Ons sal dan tog sekerlik goedhartigheid kan betoon as ons ‘aanhou om deur gees te wandel’.

16. Wat is ’n paar omstandighede wat ons moet beweeg om goedhartigheid te betoon?

16 Goedhartigheid kan betoon word selfs as ons met rede kwaad geword het weens iemand se kwetsende woorde of onbedagsame optrede. “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie”, het Paulus gesê. “Laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie, en moet ook nie plek toelaat vir die Duiwel nie. . . . Word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het” (Efesiërs 4:26, 27, 32). Dit is veral gepas om goedhartigheid teenoor diegene te betoon wat beproewinge deurmaak. Dit sal natuurlik nie ’n bewys van goedhartigheid wees as ’n Christen- ouer man versuim om skriftuurlike raad te gee net omdat hy die gevoelens van iemand wat duidelik gevaar loop om die weg van “goedheid en regverdigheid en waarheid” te verlaat, nie wil seermaak nie.—Efesiërs 5:9.

17, 18. Hoe word goedheid gedefinieer, en watter rol moet hierdie eienskap in ons lewe speel?

17 Goedheid is deug, sedelike voortreflikheid, of die eienskap of toestand van goed te wees. God is goed in die absolute sin (Psalm 25:8; Sagaria 9:17). Jesus is deugsaam, en sedelike voortreflikheid is deel van sy karakter. Nogtans het hy geweier om “Goed” as ’n titel te aanvaar toe hy “Goeie Leermeester” genoem is (Markus 10:17, 18). Dit was klaarblyklik omdat hy God as die toppunt van goedheid erken het.

18 Ons vermoë om goed te doen, word belemmer deur oorgeërfde sonde (Romeine 5:12). Ons kan nietemin hierdie eienskap aan die dag lê as ons bid dat God ‘ons goedheid leer’ (Psalm 119:66). Paulus het vir medegelowiges in Rome gesê: “Ek is dan nou oortuig aangaande julle, my broers, dat julle self ook vol goedheid is, aangesien julle met alle kennis vervul is” (Romeine 15:14). ’n Christenopsiener moet ‘die goeie liefhê’ (Titus 1:7, 8). As ons deur God se gees gelei word, sal ons bekend word vir goedheid, en Jehovah sal ‘aan ons dink’ vir die goeie dinge wat ons doen.—Nehemia 5:19; 13:31.

“Geloof sonder huigelary”

19. Definieer geloof, in harmonie met Hebreërs 11:1.

19 Geloof—wat ook deel is van die vrug van die gees—“is die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1). As ons geloof het, is ons seker dat alles wat Jehovah belowe, so goed as vervul is. Die oortuigende bewys van ongesiene werklikhede is so sterk dat daar gesê word dat geloof gelyk is aan daardie bewyse. Byvoorbeeld, die bestaan van geskape dinge oortuig ons daarvan dat daar ’n Skepper is. Dít is die soort geloof wat ons aan die dag sal lê as ons aanhou om deur gees te wandel.

20. Wat is “die sonde wat ons maklik verstrik”, en hoe kan ons dít sowel as die werke van die vlees vermy?

20 Gebrek aan geloof is “die sonde wat ons maklik verstrik” (Hebreërs 12:1). Ons moet op God se gees staatmaak om werke van die vlees, materialisme en valse leringe wat ons geloof kan vernietig, te vermy (Kolossense 2:8; 1 Timoteus 6:9, 10; 2 Timoteus 4:3-5). God se gees bring in Jehovah se hedendaagse knegte geloof voort soos dié van voor-Christelike getuies en ander wat in die Bybelverslag genoem word (Hebreërs 11:2-40). En ons eie “geloof sonder huigelary” sal heel moontlik ander se geloof versterk.—1 Timoteus 1:5; Hebreërs 13:7.

Lê sagmoedigheid en selfbeheersing aan die dag

21, 22. Hoe word sagmoedigheid gedefinieer, en waarom moet ons dit aan die dag lê?

21 Sagmoedigheid dui op ’n sagte geaardheid en liefdevolle optrede. Een van God se eienskappe is saggeaardheid. Ons weet dit omdat Jesus, wat ’n saggeaarde man was, Jehovah se persoonlikheid volmaak weerspieël het (Matteus 11:28-30; Johannes 1:18; 5:19). Wat word dus van ons as God se knegte vereis?

22 Daar word van ons as Christene verwag om “sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê” (Titus 3:2). Ons betoon sagmoedigheid in ons bediening. Diegene wat geestelik bekwaam is, word gemaan om ’n Christen wat ’n fout begaan, “in ’n gees van sagmoedigheid” reg te help (Galasiërs 6:1). Ons kan almal bydra tot Christelike eenheid en vrede deur “ootmoed en sagmoedigheid” aan die dag te lê (Efesiërs 4:1-3). Ons kan sagmoedigheid aan die dag lê as ons altyd deur gees wandel en selfbeheersing beoefen.

23, 24. Wat is selfbeheersing, en hoe help dit ons?

23 Selfbeheersing stel ons in staat om ons gedagtes, woorde en dade onder beheer te hou. Jehovah “het selfbeheersing bly beoefen” in sy handelinge met die Babiloniese vernietigers van Jerusalem (Jesaja 42:14). Sy Seun het vir ons “’n voorbeeld gelaat” deur selfbeheersing te beoefen terwyl hy gely het. En die apostel Petrus het mede-Christene gemaan om ‘by hulle kennis selfbeheersing te voeg’.—1 Petrus 2:21-23; 2 Petrus 1:5-8.

24 Daar word van Christen- ouer manne verwag om selfbeheersing aan die dag te lê (Titus 1:7, 8). In werklikheid kan almal wat deur heilige gees gelei word, selfbeheersing beoefen en sodoende onsedelikheid, vulgêre spraak of enigiets anders vermy wat ons Jehovah se misnoeë op die hals kan haal. As ons toelaat dat God se gees selfbeheersing in ons voortbring, sal ander dit kan sien weens ons godvrugtige spraak en gedrag.

Hou aan om deur gees te wandel

25, 26. Hoe sal dit ons huidige verhoudings en ons toekomsvooruitsigte raak as ons deur gees wandel?

25 As ons deur gees wandel, sal ons ywerige Koninkryksverkondigers wees (Handelinge 18:24-26). Ons sal aangename metgeselle wees, en veral mense van godvrugtige toegewydheid sal ons geselskap geniet. As mense wat deur heilige gees gelei word, sal ons ook bronne van geestelike aanmoediging vir medeaanbidders van Jehovah wees (Filippense 2:1-4). Is dit nie wat alle Christene wil wees nie?

26 In hierdie wêreld onder Satan se beheer is dit nie maklik om deur gees te wandel nie (1 Johannes 5:19). Nogtans doen miljoene dit vandag. As ons op Jehovah vertrou met ons hele hart, sal ons die lewe nou geniet en sal ons in staat wees om vir ewig in die regverdige weë van die liefdevolle Voorsiener van heilige gees te wandel.—Psalm 128:1; Spreuke 3:5, 6.

Wat is jou antwoord?

• Hoe raak dit ons verhouding met God en sy Seun as ons ‘deur gees wandel’?

• Uit watter eienskappe bestaan die vrug van die heilige gees?

• Wat is ’n paar maniere om die vrug van God se gees te openbaar?

• Hoe raak dit ons huidige lewe en ons toekomsvooruitsigte as ons deur gees wandel?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 23]

Jehovah se heilige gees bevorder liefde vir ons medegelowiges

[Prent op bladsy 24]

Betoon goedhartigheid in woord en daad