Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wag met volharding op Jehovah se dag

Wag met volharding op Jehovah se dag

Wag met volharding op Jehovah se dag

“Julle [moet] by julle geloof [volharding] voeg.”—2 PETRUS 1:5, 6.

1, 2. Wat is volharding, en waarom het Christene dit nodig?

 JEHOVAH se groot dag is baie naby (Joël 1:15; Sefanja 1:14). As Christene wat vasbeslote is om ons onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf, wag ons gretig op hierdie tyd wanneer Jehovah se soewereiniteit geregverdig sal word. Intussen het ons weens ons geloof te kampe met haat, smaad, vervolging en die dood (Matteus 5:10-12; 10:22; Openbaring 2:10). Dit verg volharding—die vermoë om teëspoed te verduur. Die apostel Petrus spoor ons aan: “Julle [moet] by julle geloof [volharding] voeg” (2 Petrus 1:5, 6). Ons het volharding nodig, want Jesus het gesê: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word.”—Matteus 24:13.

2 Ons kom ook voor siekte, die dood van geliefdes en ander beproewinge te staan. Hoe bly sal Satan tog wees as ons geloof ons begewe! (Lukas 22:31, 32). Met Jehovah se ondersteuning kan ons allerhande beproewinge verduur (1 Petrus 5:6-11). Kyk na ’n paar werklike ondervindinge wat bewys dat ons met volharding en sterk geloof op Jehovah se dag kan wag.

Siekte het hulle nie gekeer nie

3, 4. Gee ’n voorbeeld om te toon dat ons Jehovah ondanks siekte getrou kan dien.

3 God genees ons nie nou wonderdadig nie, maar hy gee ons wel die krag om siekte te verduur (Psalm 41:1-3). “Vir so lank as wat ek kan onthou”, het Sharon gesê, “is die rystoel my voortdurende metgesel. Van geboorte af het serebrale gestremdheid my van kindervreugdes ontneem.” Toe Sharon van Jehovah en sy beloftes van volmaakte gesondheid geleer het, het dit haar hoop gegee. Hoewel dit vir haar moeilik is om te praat en te loop, put sy vreugde uit die Christelike bediening. Ongeveer 15 jaar gelede het sy gesê: “My gesondheid gaan dalk agteruit, maar my vertroue op God en my verhouding met hom is my behoud. Hoe bly is ek tog om onder Jehovah se volk te wees en sy onfeilbare ondersteuning te hê!”

4 Die apostel Paulus het Christene in Tessalonika aangespoor om “vertroostend met die terneergedrukte siele [te praat]” (1 Tessalonisense 5:14). Faktore soos bittere teleurstelling kan depressie veroorsaak. Sharon het in 1993 geskryf: “Ek het soos ’n volslae mislukking gevoel en het . . . drie jaar lank aan ernstige depressie gely. . . . Die ouer manne het my bemoediging en raad gegee. . . . Jehovah het deur Die Wagtoring op tere wyse insig in ernstige depressie verskaf. Ja, hy sorg vir sy volk en verstaan ons gevoelens” (1 Petrus 5:6, 7). Sharon dien God nog steeds getrou terwyl sy op Jehovah se groot dag wag.

5. Watter bewys is daar dat Christene baie spanning kan verduur?

5 Party Christene verduur baie spanning weens ondervindinge wat hulle vroeër in hulle lewe gehad het. Harley het gedurende die Tweede Wêreldoorlog hewige gevegte deurgemaak en het nagmerries oor oorlogvoering gehad. Hy het soms in sy slaap geskreeu: “Pas op! Wees versigtig!” Wanneer hy wakker geword het, was hy sopnat van die sweet. Maar hy kon ’n godvrugtige lewe lei, en mettertyd was hierdie drome minder intens en het dit nie meer so gereeld voorgekom nie.

6. Hoe het een Christen emosionele probleme die hoof gebied?

6 Een Christen wat met bipolêre versteuring gediagnoseer is, het dit baie moeilik gevind om van deur tot deur te getuig. Maar hy het volhard omdat hy besef het dat die bediening die lewe beteken vir hom en vir dié wat gunstig reageer (1 Timoteus 4:16). Soms kon hy homself nie sover kry om die klokkie te lui nie, maar hy het gesê: “Ná ’n ruk kon ek my gevoelens onder beheer kry, na die volgende deur gaan en weer probeer. Deur met die bediening vol te hou, het ek geestelik redelik gesond gebly.” Vergaderingbywoning was ook ’n uitdaging, maar hierdie broer was oortuig van die waarde van geestelike omgang. Gevolglik het hy hom ingespan om teenwoordig te wees.—Hebreërs 10:24, 25.

7. Hoe lê party volharding aan die dag, al is hulle bang om in die openbaar te praat of om ’n vergadering by te woon?

7 Party Christene ly aan ’n fobie—’n sieklike vrees vir sekere situasies of voorwerpe. Hulle is dalk bang om in die openbaar te praat of selfs om ’n vergadering by te woon. Dink net hoe moeilik dit vir hulle is om by Christelike vergaderinge kommentaar te lewer of om tydens die Teokratiese Bedieningskool ’n toespraak te hou! Tog volhard hulle, en ons waardeer dit baie dat hulle teenwoordig is en deelneem.

8. Wat is besonder doeltreffend wanneer ’n mens emosionele probleme ondervind?

8 Meer rus en slaap kan ’n mens help om emosionele probleme te verduur. Dit is dalk raadsaam om mediese hulp te kry. Maar biddende vertroue op God is besonder doeltreffend. “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag”, sê Psalm 55:22. “Nooit sal hy die regverdige laat wankel nie.” Jy het dus alle rede om ‘met jou hele hart op Jehovah te vertrou’.—Spreuke 3:5, 6.

Hoe om die dood van ’n geliefde te verduur

9-11. (a) Wat kan ons help om droefheid te verduur wanneer ’n geliefde sterf? (b) Hoe kan Anna se voorbeeld ons help om die dood van ’n geliefde te verduur?

9 Wanneer die dood gesinslede skei, kan hierdie groot verlies diepe droefheid veroorsaak. Abraham het gehuil oor die dood van sy geliefde vrou, Sara (Genesis 23:2). Selfs die volmaakte mens Jesus “het trane gestort” toe sy vriend Lasarus gesterf het (Johannes 11:35). Dit is dus natuurlik om bedroef te wees wanneer ’n geliefde sterf. Maar Christene weet dat daar ’n opstanding sal wees (Handelinge 24:15). Gevolglik ‘treur hulle nie soos die res wat geen hoop het nie’.—1 Tessalonisense 4:13.

10 Hoe kan ons die dood van ’n geliefde verwerk? Miskien sal ’n illustrasie nuttig wees. Ons ondervind nie gewoonlik langdurige droefheid wanneer ’n vriend op reis gaan nie, omdat ons verwag om hom weer te sien wanneer hy terugkom. As ons ’n soortgelyke beskouing van die dood van ’n getroue Christen het, kan dit ons droefheid verminder omdat ons weet dat hy die hoop op ’n opstanding het.—Prediker 7:1.

11 Volkome vertroue op “die God van alle vertroosting” sal ons help om die dood van ’n geliefde te verduur (2 Korintiërs 1:3, 4). Dit sal ook nuttig wees om na te dink oor wat die eerste-eeuse weduwee Anna gedoen het. Sy het ’n weduwee geword nadat sy net sewe jaar getroud was. Maar op 84-jarige ouderdom het sy nog steeds by die tempel heilige diens aan Jehovah verrig (Lukas 2:36-38). Haar lewe van toegewydheid het haar ongetwyfeld gehelp om droefheid en eensaamheid die hoof te bied. Gereelde deelname aan Christelike bedrywighede, wat die Koninkrykspredikingswerk insluit, kan ons help om die gevolge van die dood van ’n geliefde te verduur.

Hoe om allerhande beproewinge te verduur

12. Watter beproewing in verband met die gesinslewe het party Christene al verduur?

12 Party Christene moet beproewinge in verband met die gesinslewe verduur. As ’n huweliksmaat byvoorbeeld egbreuk pleeg, kan dit verwoestende gevolge hê! Die skok en hartseer veroorsaak miskien dat die huweliksmaat wie se vertroue geskend is, nie kan slaap nie en dalk onbedaarlik huil. Dit kan so spanningsvol wees om eenvoudige take te verrig dat foute gemaak word of ongelukke gebeur. Die onskuldige maat kan miskien nie eet nie, verloor moontlik gewig en word dalk emosioneel ontsteld. Dit is miskien moeilik om aan Christelike bedrywighede deel te neem. En dink net watter uitwerking dit op die kinders kan hê!

13, 14. (a) Watter aanmoediging kry jy uit Salomo se gebed by die inwyding van die tempel? (b) Waarom bid ons vir heilige gees?

13 Wanneer ons sulke beproewinge deurmaak, voorsien Jehovah die hulp wat ons nodig het (Psalm 94:19). God hoor die gebede van sy volk, soos koning Salomo se gebed by die inwyding van Jehovah se tempel toon. Salomo het tot God gebid: “Watter gebed, watter versoek om guns daar ook al mag wees van enige mens of van u hele volk Israel, omdat elkeen van hulle die plaag van sy eie hart ken, en hulle hulle palms na hierdie huis toe uitstrek, mag u dan hoor vanuit die hemel, u vaste woonplek, en u moet vergewe en optree en aan elkeen gee volgens al sy weë, omdat u sy hart ken (want u alleen ken die hart van al die mensekinders goed); sodat hulle u kan vrees al die dae dat hulle lewe op die oppervlak van die land wat u aan ons voorvaders gegee het.”—1 Konings 8:38-40.

14 Dit kan veral nuttig wees om aan te hou bid vir heilige gees (Matteus 7:7-11). Die vrug van die gees sluit eienskappe soos vreugde en vrede in (Galasiërs 5:22, 23). Watter verligting bring dit tog wanneer ons hemelse Vader ons gebede verhoor—vreugde vervang droefheid, en vrede neem die plek in van angs!

15. Watter tekste kan help om ons sorge te verlig?

15 Ons kan ’n sekere mate van angstigheid te wagte wees wanneer ons groot druk moet verduur. Maar hierdie kommer kan ten minste gedeeltelik verlig word as ons hierdie woorde van Jesus in gedagte hou: “Hou op om julle te kwel oor julle siel, oor wat julle sal eet of wat julle sal drink, of oor julle liggaam, oor wat julle sal dra. . . . Hou dan aan om eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:25, 33, 34). Die apostel Petrus spoor ons aan om ‘al ons sorge op God te werp, want hy sorg vir ons’ (1 Petrus 5:6, 7). Dit is gepas dat ons pogings aanwend om ’n probleem op te los. Maar nadat ons gedoen het wat ons kan, kan bekommernis nie die plek van gebed inneem nie. “Laat jou weg aan Jehovah oor en verlaat jou op hom, en hy sal optree”, het die psalmis gesing.—Psalm 37:5.

16, 17. (a) Waarom is ons nie heeltemal sonder sorge nie? (b) Wat sal ons ondervind as ons Filippense 4:6, 7 toepas?

16 Paulus het geskryf: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). Onvolmaakte afstammelinge van Adam kan natuurlik nie heeltemal sonder sorge wees nie (Romeine 5:12). Esau se Hetitiese vrouens was vir Esau se godvrugtige ouers, Isak en Rebekka, “’n bron van bitterheid van gees” (Genesis 26:34, 35). Siekte het ongetwyfeld vir Christene soos Timoteus en Trofimus bekommernis veroorsaak (1 Timoteus 5:23; 2 Timoteus 4:20). Paulus was besorg oor medegelowiges (2 Korintiërs 11:28). Maar die “Hoorder van die gebed” is altyd daar vir diegene wat hom liefhet.—Psalm 65:2.

17 Terwyl ons op Jehovah se dag wag, ondersteun en vertroos “die God van vrede” ons (Filippense 4:9). Jehovah is ‘barmhartig en genadig’, hy is “goed en vergewensgesind” en hy is “gedagtig dat ons stof is” (Eksodus 34:6; Psalm 86:5; 103:13, 14). Ons moet dus ons ‘versoeke by hom bekend laat word’, want dit sal daartoe lei dat ons “die vrede van God” het—kalmte wat die mens se verstand te bowe gaan.

18. Hoe is dit moontlik om God te “sien”, soos Job 42:5 sê?

18 Wanneer ons gebede verhoor word, weet ons dat God met ons is. Nadat Job sy beproewinge verduur het, het hy gesê: “Van hoorsê het ek van u [Jehovah] gehoor, maar nou sien my eie oog u” (Job 42:5). Met die oog van begrip, geloof en dankbaarheid kan ons nadink oor God se handelinge met ons en kan ons hom “sien” soos nooit tevore nie. Watter gemoedsrus gee hierdie intimiteit ons tog!

19. Wat sal gebeur as ons ‘al ons sorge op Jehovah werp’?

19 As ons ‘al ons sorge op Jehovah werp’, kan ons beproewinge verduur met ’n innerlike kalmte wat ons hart en verstandelike vermoëns bewaak. Diep in ons figuurlike hart sal ons vry wees van onrustigheid, vrees en ontsteltenis. Ons verstand sal nie verontrus wees omdat ons verward of angstig is nie.

20, 21. (a) Watter bewys van kalmte tydens vervolging voorsien die geval van Stefanus? (b) Meld ’n hedendaagse voorbeeld van kalmte tydens beproewinge.

20 Die dissipel Stefanus was kalm toe sy geloof kwaai beproef is. Voordat hy ’n laaste getuienis gegee het, het almal in die Sanhedrin “gesien dat sy gesig soos die gesig van ’n engel is” (Handelinge 6:15). Sy gesig was kalm—soos dié van ’n engel, ’n boodskapper van God. Nadat Stefanus getoon het dat die regters skuldig was aan Jesus se dood, het hulle “in hulle harte gegrief gevoel en teen hom op hulle tande begin kners”. Stefanus het, “vol heilige gees, in die hemel ingetuur en God se heerlikheid gesien en Jesus wat aan God se regterhand staan”. Hierdie visioen het Stefanus versterk, sodat hy tot in die dood getrou gebly het (Handelinge 7:52-60). Hoewel ons nie visioene sien nie, kan ons godgegewe kalmte hê wanneer ons vervolg word.

21 Let op die gevoelens van sekere Christene wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur die Nazi’s doodgemaak is. Een het van sy ondervinding in die hof vertel en gesê: “Die doodsvonnis is gevel. Ek het geluister, en toe, nadat ek die woorde ‘Wees getrou tot in die dood’ en ’n paar ander woorde van onse Here gesê het, was dit alles verby. . . . Maar dit is nie nou ter sake nie. Want ek het sulke vrede, sulke kalmte, dat julle julle dit nooit kan voorstel nie!” ’n Jong Christen wat onthoof sou word, het vir sy ouers geskryf: “Dit is reeds ná middernag. Ek kan nog van besluit verander. Maar sal ek ooit weer in hierdie wêreld gelukkig kan wees nadat ek ons Here verloën het? Beslis nie! Maar nou het julle die versekering dat ek hierdie wêreld in geluk en vrede verlaat.” Jehovah ondersteun ongetwyfeld sy lojale knegte.

Jy kan volhard!

22, 23. Waarvan kan jy seker wees terwyl jy met volharding op Jehovah se dag wag?

22 Jy kom dalk nie te staan voor party van die uitdagings wat ons bespreek het nie. Maar die godvresende Job was reg toe hy gesê het: “Die mens, uit ’n vrou gebore, lewe ’n kort rukkie en is sat van ontsteltenis” (Job 14:1). Miskien is jy ’n ouer wat hard werk om jou kinders geestelike leiding te gee. Hulle moet beproewinge by die skool verduur, maar hoe bly is jy tog wanneer hulle hulle standpunt inneem vir Jehovah en sy regverdige beginsels! Jy het moontlik by die werk met ontberinge en versoekings te kampe. Maar jy kan hierdie en ander situasies verduur, omdat ‘Jehovah elke dag die vrag vir jou dra’.—Psalm 68:19.

23 Jy beskou jouself dalk as net ’n doodgewone mens, maar hou in gedagte dat Jehovah nooit jou werk en die liefde wat jy vir sy heilige naam toon, sal vergeet nie (Hebreërs 6:10). Met sy hulp kan jy volhard wanneer jou geloof beproef word. Sluit dus die uitvoering van God se wil in jou gebede en planne in. Dan kan jy seker wees van God se seën en ondersteuning terwyl jy met volharding op Jehovah se dag wag.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom het Christene volharding nodig?

• Wat kan ons help om siekte en die dood van ’n geliefde te verduur?

• Hoe help gebed ons om beproewinge te verduur?

• Waarom is dit moontlik om met volharding op Jehovah se dag te wag?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 29]

Vertroue op Jehovah stel ons in staat om die dood van ’n geliefde te verduur

[Prent op bladsy 31]

Hartgrondige gebed help ons om te volhard wanneer ons geloof beproef word