Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die soeke na geestelikheid

Die soeke na geestelikheid

Die soeke na geestelikheid

IN SY beroemde Bergpredikasie het Jesus gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Jy stem waarskynlik saam met hierdie stelling. Mense in alle wêrelddele besef dat hulle geestelikheid in hulle lewe nodig het en neem aan dat dit hulle geluk sal verskaf wanneer hulle dit vind. Maar wat beteken die woord “geestelikheid”?

Een woordeboek omskryf geestelikheid as ’n “bewustheid van of gehegtheid aan godsdienswaardes” en “die hoedanigheid of toestand van geestelik te wees”. Terme soos “geestelikheid”, “om geestelik te wees” of “om geestelikgesind te wees” word dus as sinoniem beskou. Om die term nog duideliker te maak, kan ’n mens aan hierdie vergelyking dink: Iemand wat geneig is om ander te vergewe, word as vergewensgesind beskryf. Net so word iemand wat geneig is om groot waarde aan geestelike of godsdienstige sake te heg, as geestelikgesind beskryf.

Hoe word ware geestelikheid dan verkry? Hoewel feitlik elke godsdiens beweer dat dit die weg na geestelikheid ken, is die aanwysings wat gegee word omtrent net so talryk as die godsdienste self. ’n Protestant beweer dat hy by ’n opwekkingsdiens gered is. ’n Katoliek soek gemeenskap met God by die mis. ’n Boeddhis streef na verligting deur bepeinsing. ’n Hindoe probeer om deur selfverloëning uit die siklus van hergeboortes bevry te word. Is al hierdie mense op die weg na ware geestelikheid? Is enigiemand?

Baie meen dat die antwoord op hierdie vrae nee is. Hulle beweer dat geestelikheid beteken om te “glo sonder om te behoort”, dit wil sê om in ’n god te glo sonder om aan ’n kerk te behoort. Ander voel dat geestelikheid nie na ’n godsdienstige ervaring verwys nie, maar na ’n begeerte om gemoedsrus en ’n doel in die lewe te vind. Hulle beweer dat dié wat na geestelikheid soek, hulle glad nie tot godsdiens hoef te wend nie. Hulle hoef maar net na binne te kyk, na hulle diepste gevoelens. Een skrywer sê: “Ware geestelikheid is iets wat jy diep binne jou vind. Dit is jóú liefde vir, aanvaarding van en interaksie met die wêreld en die mense om jou. Dit kan nie gevind word in ’n kerk nie, en ook nie deur sekere opvattings te glo nie.”

Dit is duidelik dat mense se idees oor geestelikheid grootliks verskil. Duisende boeke beweer dat dit mense die weg tot geestelikheid wys, maar lesers voel alte dikwels nog steeds leeg en verward. Daar is egter een boek wat wel betroubare leiding oor geestelike sake voorsien. Dit is die boek wat bewyse bevat dat dit deur God geïnspireer is (2 Timoteus 3:16). Kom ons kyk wat hierdie boek, die Bybel, sê oor die betekenis van geestelikheid en die waarde daarvan.

[Foto-erkenning op bladsy 2]

VOORBLAD: Agtergrond: © Mark Hamblin/​age fotostock