Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dit is ’n onvergelyklike eer en voorreg om Jehovah te dien

Dit is ’n onvergelyklike eer en voorreg om Jehovah te dien

Lewensverhaal

Dit is ’n onvergelyklike eer en voorreg om Jehovah te dien

Soos vertel deur Zerah Stigers

My man, wat my getroue metgesel in die voltydse bediening was, is in 1938 oorlede. Ek het agtergebly met ’n baba en ’n tienjarige seuntjie vir wie ek moes sorg. Ek wou baie graag weer as ’n voltydse bedienaar dien, maar hoe sou ek dit kon doen? Kom ek vertel julle eers ’n bietjie omtrent my agtergrond voordat ek verduidelik hoe ek dit reggekry het.

KORT nadat ek op 27 Julie 1907 in Alabama, VSA, gebore is, het my ouers met my, my twee broers en my suster na Georgia verhuis. Nie lank daarna nie het ons na Tennessee getrek en toe na die buitewyke van Tampa, Florida. Terwyl ons daar was, het ek in 1916 die “Fotodrama van die Skepping” gesien, ’n rolprent-en-skyfie-vertoning met klank. Die rolprentbedryf was nog in sy beginstadium, en almal het die “Fotodrama” baie geniet!

My ouers was ywerige lesers van Die Wagtoring en ander Bybelpublikasies. Hoewel my pa die lektuur geniet het, het hy destyds nie met die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies toe genoem is, geassosieer nie. Maar my ma het ons kinders na die vergaderinge geneem. Trouens, kort nadat ons na Niles, Michigan, getrek het, het ons gereeld meer as 16 kilometer per trein gereis na South Bend, Indiana, om die vergaderinge by te woon.

Ek is uiteindelik op 22 Julie 1924 gedoop as ’n simbool van my toewyding aan Jehovah. Kort daarna het my ma haar sake so gereël dat sy ’n kolporteur kon word, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies destyds genoem is. Haar goeie voorbeeld en dié van ander kolporteurs het by my ’n begeerte gewek om hierdie werk te doen.

’n Lewensmaat

Terwyl ek in 1925 ’n groot streekbyeenkoms in Indianapolis, Indiana, bygewoon het, het ek James Stigers ontmoet, wat van Chicago was. James het my dadelik beïndruk as ’n ywerige kneg van Jehovah. Aangesien ek omtrent 160 kilometer van Chicago af gewoon het, was dit nie vir ons maklik om by mekaar te kuier nie. Daar was destyds net een gemeente in daardie groot stad, en die vergaderinge is in ’n gehuurde vertrek op die eerste verdieping van ’n gebou gehou. James het dikwels vir my geskryf om my geestelik aan te moedig. Ons is in Desember 1926 getroud, en omtrent ’n jaar later het ek aan ons eerste seun, Eddie, geboorte gegee.

Kort daarna het ek en James saam begin pionier. Ons het in agt state gedien—Michigan, Louisiana, Mississippi, Suid-Dakota, Iowa, Nebraska, Kalifornië en Illinois—en dit was die genotvolste jare van ons lewe. Eers toe James siek geword het, is daardie gelukkige dae wat ons as ’n gesin geniet het, onderbreek.

Die onkoste van James se siekte het ons in 1936 na Chicago laat terugkeer om by my skoonma te woon, wat ook ’n Getuie was. Na aan die einde van James se siekte, terwyl ek swanger was met ons tweede kind, het ek vir $1 per dag in ’n kafeteria gewerk. My dierbare skoonma het seker gemaak dat ons oorgenoeg gehad het om te eet, en sy wou nie ’n sent daarvoor aanvaar nie. Sy het werklik uit haar pad gegaan vir ons.

James was omtrent twee jaar lank siek voordat hy aan breinontsteking oorlede is. Dit was in Julie 1938. Terwyl hy siek was, kon hy nie ’n motor bestuur of aan die deur-tot-deur-bediening deelneem nie, maar hy het nooit ’n geleentheid laat verbygaan om vir ander te getuig nie. Ek het die voltydse bediening verlaat sodat ek kon help om die pot aan die kook te hou. Ek het daarin geslaag om by verskeie plekke tydelike werk te kry.

Ons seun Bobby is op 30 Julie 1938 gebore, net agt dae ná sy pa se dood. My skoonma wou glad nie hê dat ek na die distrikshospitaal moet gaan nie. Sy het gereël dat ek eerder na ’n beter hospitaal gaan en onder die sorg van haar dokter kom. Sy het ook al die rekeninge betaal, ’n blyk van Christelike liefde wat ek baie waardeer het.

Weer in die voltydse bediening

Ons het by my skoonma gebly totdat Bobby net oor die 2 jaar oud was; Eddie was toe 12. Hoewel ek my by my nuwe omstandighede moes aanpas, het ek nog steeds ’n vurige begeerte gehad om Jehovah voltyds te dien. In 1940 het ek by die streekbyeenkoms in Detroit, Michigan, ’n pionieregpaar ontmoet wat my aangespoor het om in Suid-Carolina te kom pionier. Ek het dus ’n 1935-Pontiac vir $150 gekoop en reëlings getref om soontoe te trek. In 1941, die jaar toe die Verenigde State tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree het, het ek en my twee seuns koers gekies na die suide, en ek het weer die voltydse bediening betree.

Toe ons na Suid-Carolina getrek het, het ons eers na Camden gegaan, toe na Little River en toe na Conway. In Conway het ek ’n klein karavaan aangeskaf. Ek het toestemming van ’n goedhartige vulstasie-eienaar verkry om dit naby sy vulstasie te parkeer en om sy gas en elektrisiteit en selfs die vulstasie se kleedkamer te gebruik. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is petrol gerantsoeneer, en ek kon geen brandstof kry nie. Ek het dus ’n tweedehandse fiets gekoop. In 1943, toe dit gelyk het of ek nie meer sou kon pionier nie omdat al ons geld op was, is ek genooi om ’n spesiale pionier te wees, wat beteken het dat ek ’n maandelikse terugbetaling ontvang het om uitgawes te help dek. Jehovah het my deur die jare heen geweldig baie gehelp!

Daar was destyds geen ander Getuies in Conway nie, en dit was vir my en die kinders moeilik om alleen in die bediening uit te gaan. Ek het dus geskryf en vir ’n spesialepionier-maat gevra, en in 1944 is ek geseën met ’n wonderlike maat—Edith Walker! Ons het 16 jaar lank saam in etlike toewysings gedien. Toe moes sy ongelukkig weens ’n gesondheidsprobleem na Ohio terugkeer.

Onvergeetlike seëninge

Ek het talle vreugdevolle herinneringe aan daardie jare, maar iemand wat ek nooit sal vergeet nie, is die 13-jarige Albertha, wat in Conway gewoon en na haar fisies gestremde ouma en twee jonger broers omgesien het. Die Bybelwaarhede wat ek haar geleer het, was vir haar kosbaar, en sy wou ander daarvan vertel. Sy het ook ’n diepe waardering vir die pionierdiens ontwikkel en begin pionier nadat sy haar hoërskoolloopbaan in 1950 voltooi het. Ná meer as 57 jaar is sy nog steeds in die voltydse bediening!

In 1951 is ek en Edith vir ’n kort rukkie na Rock Hill, Suid-Carolina, gestuur, waar daar baie min Getuies was. Daarna het ons drie jaar in Elberton, Georgia, gedien. Toe is ons terug na Suid-Carolina, waar ek van 1954 tot 1962 gebly het. In Walhalla het ek ’n bejaarde, gehoorgestremde vrou met die naam Nettie ontmoet, wat alleen in ’n plattelandse gebied gewoon het. Tydens ons Bybelstudie het sy ’n paragraaf in die publikasie gelees, dan het ek na die vraag vir daardie paragraaf onderaan die bladsy gewys, waarop sy na die antwoord in die paragraaf gewys het.

Wanneer sy iets nie verstaan het nie, het sy haar vraag op ’n stuk papier geskryf, en ek het die antwoord daaronder geskryf. Ná ’n ruk het Nettie se waardering vir Bybelwaarheid in so ’n mate toegeneem dat sy begin het om gemeentelike vergaderinge by te woon en aan die deur-tot-deur-bediening deel te neem. Sy het op haar eie gepreek, maar ek was nooit ver weg nie, gewoonlik net aan die oorkant van die straat, gereed ingeval sy hulp nodig gehad het.

Terwyl ek in Walhalla was, het my ou motor die gees gegee. Ek kon ’n motor vir $100 kry, maar ek het nie geld gehad nie. Ek het in aanraking gekom met ’n Getuie wat ’n besigheid gehad het, en hy het my die $100 geleen. Kort daarna het ek ’n onverwagte brief van my suster ontvang waarin sy gesê het dat sy en my broers pas ontdek het dat ons pa geld in ’n bank gehad het toe hy gesterf het. Hulle het bespreek wat om daarmee te doen, en hulle het almal ingestem om dit vir my te stuur. Dit was $100!

Saam met my seuns in die pionierdiens

Toe Eddie en Bobby jonk was, was hulle altyd saam met my in die predikingswerk van huis tot huis. In daardie dae het mense oor die algemeen nie probleme met dwelms gehad nie, en onsedelike invloede was nie so sterk nie. Die feit dat ons ons lewe eenvoudig gehou het en op die predikingswerk gekonsentreer het, het my gehelp om baie van die probleme vry te spring wat ouers vandag ondervind terwyl hulle hulle kinders grootmaak om Jehovah te dien.

Eddie het in Camden skoolgegaan totdat hy klaar was met graad agt, waarna hy saam met my wou pionier. Ons het dit geniet om ’n hele paar jaar lank saam pionierdiens te doen. Toe het hy die begeerte ontwikkel om by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, te gaan werk, waar hy van 1947 tot 1957 gedien het. In 1958 is hy getroud met Albertha, my voormalige Bybelstudent, en hulle het pioniermaats geword. Wat ’n vreugde was dit tog toe ons drie in 2004 die Pionierdiensskool saam bygewoon het!

Ek onthou nog hoe klein Bobby Jehovah eendag baie jare gelede in gebed gevra het om my te help om genoeg petrol te kry sodat ek die motor kon gebruik om by my Bybelstudies te kom. Bobby het dwarsdeur sy lewe ’n liefde vir die bediening geopenbaar, en hy het etlike jare lank gepionier. Ongelukkig het Bobby ook ’n gesinstragedie ondervind. In 1970 het hy sy vrou ná net 22 maande van getroude lewe verloor toe sy en hulle tweelingbabas tydens die bevalling gesterf het. Ek en Bobby het nog altyd naby mekaar gewoon, en ons het ’n baie hegte verhouding.

Ek pionier nog steeds!

In 1962 is ek na my huidige gemeente in Lumberton, Noord-Carolina, gestuur, en ek is ná 45 jaar nog steeds hier. Ek het my motor nog bestuur totdat ek diep in my tagtigerjare was. Een van die Getuiegesinne wat naby my woon, neem my nou na die gemeentelike vergaderinge en uit in die predikingswerk.

Ek het ’n loopraam en ’n rolstoel, maar ek hoef nie een van die twee te gebruik nie, aangesien ek sonder enige hulp kan loop. Ek is dankbaar teenoor Jehovah dat ek goeie gesondheid geniet het; ek het maar onlangs probleme met my oë begin ondervind. Ek bly nooit van ’n gemeentelike vergadering af weg tensy ek baie siek is nie, en ek pionier nog steeds, hoewel ek op die lys van verswakte pioniers is.

Ná meer as 70 vreugdevolle jare in die pionierbediening kan ek eerlikwaar sê dat Jehovah my nog altyd gehelp het. a Ek besef dat ek nooit ’n baie intelligente persoon of ’n baie vinnige werker was nie, maar Jehovah weet wat ek kan en nie kan doen nie. Ek is baie dankbaar dat hy weet dat ek probeer en dat hy my gebruik het.

Dit is myns insiens belangrik om Jehovah na die beste van ons vermoë te dien omdat ons alles aan hom verskuldig is. Solank ek kan, wil ek niks anders as ’n pionier wees nie. Wat ’n wonderlike voorreg is dit tog! Ek bid dat ek tot in alle ewigheid deur Jehovah gebruik kan word.

[Voetnoot]

a Suster Stigers het haar aardse loopbaan op 20 April 2007 voltooi, net drie maande voordat sy 100 jaar oud geword het. Haar baie jare van getroue diens is vir ons ’n aanmoediging, en ons verheug ons in die feit dat sy haar hemelse beloning ontvang het.

[Prent op bladsy 13]

Ek en my man het hierdie voertuig in die kolporteurwerk gebruik

[Prent op bladsy 14]

Saam met my seuns in 1941

[Prent op bladsy 15]

Onlangse foto saam met Eddie en Bobby