Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Twee “wonderwerke” by een streekbyeenkoms in Georgië

Twee “wonderwerke” by een streekbyeenkoms in Georgië

Twee “wonderwerke” by een streekbyeenkoms in Georgië

IN 2006 het twee “wonderwerke” by ’n onvergeetlike geleentheid in die land Georgië plaasgevind. Die “Verlossing is op hande!”-streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies is drie dae lank, van 7 tot 9 Julie, op ses plekke in die land gehou. Dit was ’n geestelike fees wat deur meer as 17 000 byeenkomsgangers geniet is.

In Januarie 2006 het die soeke begin na ’n geskikte plek waar duisende in die vernaamste byeenkomsstad, Tbilisi, die hoofstad van Georgië, kon bymekaarkom. Ander streekbyeenkomste sou deur telekommunikasie met hierdie byeenkoms verbind word.

Oor die afgelope paar jaar is godsdiensvryheid in toenemende mate in Georgië toegestaan. Daarom het die Getuies, ondanks wydverspreide teenstand in die verlede, voortgegaan in die vertroue dat ’n byeenkomsplek in die hoofstad gevind sou word. Die Georgiërs is van nature baie hartlik en gasvry. Maar godsdiensvooroordeel is diep ingewortel by party amptenare. Sou hulle hulle gevoelens te bowe kom en die Getuies toelaat om ’n byeenkomsplek te huur?

Die broers op die Byeenkomskomitee het verskillende stadions en groot sportsale besoek. Die bestuurders het belowe dat hulle fasiliteite gebruik kon word, maar wou hulle nie verbind toe die broers ’n spesifieke huurdatum wou hê nie. Die komitee was dus verbaas toe die bestuur van die Filharmoniese Vereniging van Tbilisi instem om hulle gebou aan Jehovah se Getuies te verhuur. Die konsertsaal is in die hartjie van die stad geleë, waar baie van die luisterrykste geleenthede gehou word.

Die uiteindelike sukses van hulle pogings het die komitee aangespoor om die Tbilisi-streekbyeenkoms te begin organiseer, asook streekbyeenkomste in dorpe en stede regoor die land, insluitende Tsnori, Koetaisi, Zoegdidi, Kaspi en Gori. Baie werk is gedoen om hierdie byeenkomste per telefoon te verbind sodat almal die program tegelykertyd kon hoor. Alles was gereed. Toe, net ’n week voor die begin van die byeenkoms, het die bestuur van die Filharmoniese Vereniging van Tbilisi die huurkontrak vir die konsertsaal skielik gekanselleer. Geen rede is gegee nie.

Die eerste “wonderwerk”

Wat kon die broers op hierdie laat stadium doen? Hulle enigste opsie was om hulle tot Marneuli, ’n boeregemeenskap 40 kilometer buite Tbilisi, te wend. Baie streekbyeenkomste is al daar gehou op die grond van ’n gesin wat Jehovah se Getuies is. Die terrein was voorheen ’n groot tuin. Dit was die afgelope tien jaar die enigste plek wat die gemeentes in Tbilisi vir streekbyeenkomste kon gebruik. Dit was egter ook in Marneuli waar Jehovah se Getuies wreed deur oproerige skares aangeval is.

Een van hierdie voorvalle het op 16 September 2000 plaasgevind. Polisiemanne van die stad Marneuli het padversperrings opgerig om te verhinder dat die Getuies die byeenkomsterrein bereik. Toe het daar busse vol boosdoeners gekom wat gelei is deur die Ortodokse priester Wasili Mkalawisjwili, wat vroeër van sy amp onthef is. Hulle het motors en busse voorgekeer wat op pad was na die streekbyeenkoms in Marneuli, ’n hele paar byeenkomsgangers uit die voertuie gesleep en hulle genadeloos geslaan, terwyl ander passasiers beroof is van hulle besittings, insluitende hulle Bybels en Bybellektuur.

Die byeenkomsterrein in Marneuli is ook deur ’n skare van ongeveer 60 oproeriges aangeval. Sowat 40 Getuies is beseer. Een broer is met ’n mes in die bors gesteek. Party van die aanvallers het afgesaagde gewere rondgeswaai, waarmee hulle verwoed in die lug geskiet het. Een van hulle het ’n geweer op die eienares van die terrein gerig en haar geld en juweliersware geëis. Die oproeriges het haar huis, wat aan die een kant van die terrein gestaan het, geplunder en haar kosbaarhede gesteel. Nadat hulle al die vensters in die huis gebreek het, het hulle die Bybellektuur en die banke wat spesiaal vir die byeenkoms gemaak is, verbrand. Een en ’n half ton lektuur is vernietig. Die polisie op die toneel het nie die misdaad stopgesit nie, maar het eerder deelgeneem aan die geweld teen die Getuies. a

Die Byeenkomskomitee moes nie net die gevaar van geweld in ag neem nie, maar moes ook die uitdaging die hoof bied van hoe om 5 000 mense in te pas waar daar gewoonlik net plek vir omtrent 2 500 is. Hoe kon hierdie probleem in so ’n kort tydjie opgelos word? Dit het soos ’n wonderwerk gelyk toe die eienaars van twee aangrensende eiendomme aanbied om hulle groenteakkers aan die broers te verhuur.

Dit was ’n groot taak om die akkers in ’n geskikte byeenkomsterrein te verander. Die weer het sake baie bemoeilik—dit het die hele week voor die byeenkoms gereën. Die bure se akkers was met aartappels beplant, en dit moes geoes word. Eers het vrywilligers in die gietende reën bymekaargekom om die aartappels uit te haal. Toe is heinings verskuif en ’n raamwerk opgerig wat bedek is om die gehoor teen die son en reën te beskerm. Nog houtbanke moes gemaak word, en bykomende klanktoerusting is geïnstalleer. Die vrywilligers het dag en nag gesaag, spykers ingeslaan en geboor, party sonder enige slaap.

“Sê nou dit reën gedurende die byeenkoms?” het almal gewonder. “Sal die byeenkomsgangers wegsak in die modder?” Strooi is gekoop om die nat grond mee te bedek. Uiteindelik het die son weer geskyn! Al drie dae van die byeenkoms was pragtige, warm sonskyndae.

Toe die byeenkomsgangers daar opdaag, het ’n pragtige gesig hulle begroet. Die rustige landelike toneel het gelyk soos ’n voorskou van die nuwe wêreld. Die byeenkomsgangers het gemaklik gesit, omring deur vyebome en ander vrugtebome sowel as mielie- en tamatielande. Die agterkant van die verhoog is met wingerdranke versier. Gedurende die program kon die gehoor elke nou en dan ’n haan hoor kraai of henne hoor kekkel wanneer hulle eiers uitgehaal word. Daar was ander tipies plattelandse geluide, maar vir die gehoor was dit net ’n vermaaklike serenade. Dit het nie hulle aandag afgelei nie; hulle het dit skaars opgemerk, want hulle het aandagtig na die uitstekende Bybelse program geluister. Dit was egter nie die enigste onvergeetlike oomblikke van hierdie byeenkoms nie.

Die tweede “wonderwerk”

Aan die einde van die Vrydagoggendsessie was die byeenkomsgangers baie verras toe ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, Geoffrey Jackson, die vrystelling van die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Georgies aangekondig het. b Baie was eenvoudig verstom en het trane in hulle oë gekry. Een gesin het opgewonde gesê: “Ons kan nie ophou om dankie te sê vir hierdie wonderwerk nie—Jehovah se wonderwerk. So ’n ontsaglike hoeveelheid werk in so ’n kort tydjie!”

’n Suster van die dorp Tsalendjicha wat per telefoonverbinding na die program geluister het, het later gesê: “Woorde kan nie beskryf hoe verheug ek was toe ons die volledige Bybel ontvang het nie. Ek wil julle bedank vir hierdie uitsonderlike driedaagse streekbyeenkoms. Dit was werklik ’n geskiedkundige gebeurtenis.” ’n Gesin in ’n gemeente in Wes-Georgië, wat aan die Swart See grens, het gesê: “Tot nou toe het ons net een Bybel in ons gesin gehad, maar nou het ons al vier ons eie eksemplaar van die Nuwe Wêreld-vertaling. Nou kan elkeen van ons die Bybel persoonlik bestudeer.”

Agter die skerms het alles egter nie so vlot verloop nie. Hoewel die volledige Nuwe Wêreld-vertaling betyds vir die streekbyeenkoms gedruk en na Georgië verskeep is, het beamptes van die Doeanedepartement byvoorbeeld geweier om die besending oor die grens te laat gaan. Die broers het ’n beroep op die Kantoor van die Ombudsman gedoen. Die ombudsman het dit reggekry om die lossing van die Bybels net betyds vir die streekbyeenkoms te bewerkstellig. Hy het selfs sy assistent na die byeenkoms in Marneuli gestuur om eksemplare van die nuwe Bybel vir hulle kantoor te kry.

’n Hartlike verwelkoming, op die Georgiese manier

Daar is nog ’n rede waarom die streekbyeenkoms in Marneuli ’n mylpaal vir Jehovah se Getuies in Georgië was. ’n Lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het van die programdele behartig. Almal in die gehoor was so verheug dat hulle hom persoonlik op hulle tradisionele hartlike manier wou verwelkom. Broer Jackson moes die broers en susters ure lank voor, gedurende en ná die byeenkoms staan en groet, maar hy was bly om dit te doen.

In 1903 het ’n broer ná afloop van ’n ander streekbyeenkoms gesê: “Ek sal die nut wat ek uit hierdie byeenkoms geput het, nie vir duisend dollar verruil nie, en ek is maar ’n arm man.” Meer as ’n eeu later is dit presies hoe die Getuies gevoel het wat die gedenkwaardige streekbyeenkomste in die somer van 2006 in die land Georgië bygewoon het.

[Voetnote]

a Vir verdere besonderhede oor die vervolging van Jehovah se Getuies in Georgië, sien die Ontwaak! van 22 Januarie 2002, bladsye 18-24.

b Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Georgies is in 2004 vrygestel.

[Venster op bladsy 19]

“Die kleine” het vermeerder

Die woorde van Jesaja 60:22 is in Georgië bewaarheid: “Die kleine sal ’n duisend word, en die geringe ’n magtige nasie. Ek, Jehovah, sal dit op die regte tyd bespoedig.” In minder as 20 jaar het die aantal Koninkryksverkondigers in Georgië van minder as 100 tot ongeveer 16 000 toegeneem. Hierdie ywerige bedienaars van God se Woord hou elke week byna 8 000 tuisbybelstudies—’n wonderlike potensiaal vir verdere vermeerdering in Georgië.

[Diagram/Kaarte op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

RUSSIESE FEDERASIE

GEORGIË

⇨ Zoegdidi

⇨ Koetaisi

Marneuli ⇨ Gori

⇨ Kaspi

⇨ Tsnori

TBILISI

TURKYE

ARMENIË

AZERBAIDJAN

[Erkenning]

Aardbol: Based on NASA/Visible Earth imagery

[Prent op bladsy 16]

Standbeeld in Tbilisi

[Prente op bladsy 17]

Die streekbyeenkoms in Marneuli was per selfoon verbind met vyf ander byeenkomste

[Prente op bladsy 18]

Byeenkomsgangers was aangenaam verras deur die vrystelling van die volledige “Nuwe Wêreld-vertaling” in Georgies