Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Waak teen elke soort hebsug”

“Waak teen elke soort hebsug”

“Waak teen elke soort hebsug”

“Selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie.”—LUKAS 12:15.

1, 2. (a) Wat het jy opgelet in verband met die dinge waarin mense vandag belangstel en wat hulle nastreef? (b) Hoe kan ons deur hierdie gesindhede beïnvloed word?

 GELD, besittings, aansien, goed besoldigde betrekkings, familie—dit is van die dinge wat die meeste mense as ’n maatstaf vir sukses of as versekering van ’n veilige toekoms beskou. Dit is duidelik dat baie mense, in ryk sowel as arm lande, hoofsaaklik in materiële gewin en vooruitgang belangstel en dit nastreef. Aan die ander kant is hulle belangstelling in geestelike dinge—indien hulle enigsins so ’n belangstelling het—vinnig aan die afneem.

2 Dit is net soos die Bybel voorspel het. Dit sê: “In die laaste dae [sal daar] kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, . . . liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God, wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën” (2 Timoteus 3:1-5). Omdat ware Christene dag na dag tussen sulke mense lewe, is hulle voortdurend onder druk om hierdie soort denkwyse en lewenstyl aan te neem. Wat kan ons help om die wêreld se pogings te weerstaan om ‘ons in sy vorm te druk’?—Romeine 12:2, The New Testament in Modern English, deur J. B. Phillips.

3. Watter raad van Jesus gaan ons nou bespreek?

3 As “die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof” het Jesus Christus ons van kragtige lesse in hierdie verband voorsien (Hebreërs 12:2). Toe Jesus by een geleentheid met die skare oor geestelik verligtende sake gepraat het, het ’n man die bespreking onderbreek met ’n versoek: “Leermeester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.” In antwoord hierop het Jesus die man—en almal wat geluister het—ernstige raad gegee. Hy het ’n kragtige waarskuwing teen hebsug gerig en daardie waarskuwing versterk met ’n gedagteprikkelende illustrasie. Dit sal goed wees as ons ag slaan op wat Jesus by daardie geleentheid gesê het en kyk hoe ons daarby kan baat vind as ons dit in ons eie lewe toepas.—Lukas 12:13-21.

’n Onvanpaste versoek

4. Waarom was dit onvanpas dat die man Jesus in die rede geval het?

4 Voordat die man Jesus in die rede geval het, het Jesus met sy dissipels en ander gepraat oor die feit dat hulle teen huigelary moet waak, dat hulle die moed moet hê om eenheid met die Seun van die mens te bely en dat hulle hulp van die heilige gees sou ontvang (Lukas 12:1-12). Dit was beslis lewensbelangrike onderwerpe wat die dissipels ter harte moes neem. In die middel van so ’n gedagteprikkelende bespreking het die man Jesus skielik in die rede geval en hom gevra om wat blykbaar ’n familietwis oor materiële besittings was, te besleg. Daar is egter ’n belangrike les wat ons uit hierdie voorval kan leer.

5. Wat het die man se versoek omtrent hom aan die lig gebring?

5 Daar is al gesê dat “die dinge waaroor iemand dink terwyl hy na ’n godsdienspreek luister, ’n aanduiding van sy karakter is”. Terwyl Jesus oor ernstige geestelike sake gepraat het, het die man waarskynlik gedink oor wat hy kon doen om sekere finansiële voordele te verkry. Daar word nie gesê of hy ’n gegronde rede vir ’n klag in verband met die erfenis gehad het nie. Dalk het hy Jesus se gesag en reputasie as ’n wyse regter in menseaangeleenthede tot sy eie voordeel probeer gebruik (Jesaja 11:3, 4; Matteus 22:16). Hoe dit ook al sy, sy vraag het te kenne gegee dat hy ’n diepgewortelde probleem gehad het—’n ernstige gebrek aan waardering vir geestelike sake. Is dit nie ’n goeie rede om onsself te ondersoek nie? By Christelike vergaderinge is dit byvoorbeeld maklik om toe te laat dat ons gedagtes dwaal of om te dink aan wat ons dalk later gaan doen. Ons moet eerder aandag skenk aan wat gesê word en aan maniere dink om die inligting persoonlik toe te pas sodat ons ons verhouding met ons hemelse Vader, Jehovah God, en met mede-Christene kan verbeter.—Psalm 22:22; Markus 4:24.

6. Waarom het Jesus nie die man se versoek toegestaan nie?

6 Wat die man ook al beweeg het om die versoek te rig, Jesus het dit nie toegestaan nie. Jesus het eerder vir hom gesê: “Mens, wie het my as regter of deler oor julle aangestel?” (Lukas 12:14). Met hierdie woorde het Jesus na iets verwys waarmee die mense goed vertroud was, want volgens die Mosaïese Wet is regters in die stede aangestel om juis oor sulke sake te beslis (Deuteronomium 16:18-20; 21:15-17; Rut 4:1, 2). Jesus daarenteen was besorg oor belangriker dinge—om van Koninkrykswaarheid te getuig en om mense God se wil te leer (Johannes 18:37). In navolging van Jesus se voorbeeld laat ons nie ons aandag deur onbenullige sake aflei nie, maar ons gebruik eerder ons tyd en energie om die goeie nuus te verkondig en om “dissipels van mense van al die nasies” te maak.—Matteus 24:14; 28:19.

Waak teen hebsug

7. Watter insigryke opmerking het Jesus gemaak?

7 Omdat hy die diepste bedoelings van die hart kon onderskei, het Jesus geweet dat daar iets ernstigers betrokke was by die man se versoek dat Jesus in ’n persoonlike saak moet ingryp. Daarom het Jesus die versoek nie sommer net geweier nie, maar eerder tot die kern van die saak deurgedring en gesê: “Hou julle oë oop en waak teen elke soort hebsug, want selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie.”—Lukas 12:15.

8. Wat is hebsug, en waartoe kan dit lei?

8 Hebsug is meer as net die begeerte na geld of sekere dinge, wat ’n gepaste gebruik en doel kan hê. Volgens een woordeboek is dit die “oordrewe begeerte na rykdom of besittings of na iemand anders se besittings”. Dit kan die onversadigbare, gierige drang insluit om dinge te besit—moontlik dinge wat aan iemand anders behoort—bloot om dit te besit, sonder inagneming van persoonlike behoeftes of die uitwerking wat dit op ander het. ’n Hebsugtige persoon laat toe dat die voorwerp van sy begeerte sy denke en dade in so ’n mate oorheers dat dit in werklikheid sy god word. Onthou dat die apostel Paulus ’n gierigaard gelykstel met ’n afgodedienaar, wat geen deel aan God se Koninkryk het nie.—Efesiërs 5:5; Kolossense 3:5.

9. Op watter maniere kan hebsug geopenbaar word? Gee ’n paar voorbeelde.

9 Interessant genoeg, Jesus het gewaarsku teen “elke soort hebsug”. Hebsug neem baie vorme aan. Die laaste van die Tien Gebooie noem ’n paar hiervan en sê: “Jy mag nie jou medemens se huis begeer nie. Jy mag nie jou medemens se vrou begeer nie, en ook nie sy slaaf of sy slavin of sy bul of sy esel of enigiets wat aan jou medemens behoort nie” (Eksodus 20:17). Die Bybel is vol voorbeelde van persone wat in ernstige sonde verval het weens die een of ander vorm van hebsug. Satan was die eerste een wat ’n hebsugtige begeerte na iets gehad het wat aan iemand anders behoort het—die heerlikheid, eer en gesag wat slegs Jehovah toekom (Openbaring 4:11). Eva het hebsugtig die reg begeer om haar eie besluite te neem, en omdat sy in hierdie opsig bedrieg is, is die hele mensdom op die weg geplaas wat na sonde en die dood lei (Genesis 3:4-7). Die demone was engele wat nie vergenoeg gebly het met “hulle oorspronklike posisie . . . nie, maar hulle eie gepaste woonplek verlaat het” vir iets waarop hulle nie geregtig was nie (Judas 6; Genesis 6:2). Dink ook aan Bileam, Agan, Gehasi en Judas. Pleks van vergenoeg te wees met hulle lot in die lewe, het hulle toegelaat dat ’n oordrewe begeerte na materiële besittings veroorsaak dat hulle hulle vertrouensposisie misbruik, wat hulle in verderf en vernietiging gestort het.

10. Hoe moet ons ‘ons oë oophou’, soos Jesus gemaan het?

10 Hoe gepas tog dat Jesus die waarskuwing teen hebsug ingelei het met die woorde “hou julle oë oop”! Waarom? Omdat dit vir mense so maklik is om te sien dat iemand anders gierig of hebsugtig is, maar hulle sal selde erken dat hulle self daaraan skuldig is. Tog wys die apostel Paulus daarop dat “die liefde vir geld . . . ’n wortel van allerhande skadelike dinge” is (1 Timoteus 6:9, 10). Die dissipel Jakobus verduidelik dat verkeerde begeertes, ‘wanneer dit vrugbaar geword het, sonde baar’ (Jakobus 1:15). In ooreenstemming met Jesus se vermaning moet ons ‘ons oë oophou’, nie om te kyk of die beskrywing ander pas nie, maar om deur selfondersoek te kyk waarop ons ons hart gerig het, sodat ons ‘teen elke soort hebsug kan waak’.

’n Lewe van oorvloed

11, 12. (a) Watter waarskuwing het Jesus teen hebsug gerig? (b) Waarom moet ons ag slaan op Jesus se waarskuwing?

11 Daar is nog ’n rede waarom ons teen hebsug moet waak. Let op wat Jesus vervolgens gesê het: “Selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie” (Lukas 12:15). Dit is beslis stof tot nadenke in ons materialistiese eeu, ’n tyd waarin mense rykdom en welvaart met geluk en sukses gelykstel. Met hierdie woorde het Jesus daarop gewys dat ’n waarlik sinvolle en bevredigende lewe nie uit materiële besittings voortspruit of daarvan afhang nie, ongeag hoe oorvloedig dit is.

12 Maar sommige mense stem moontlik nie hiermee saam nie. Hulle redeneer dalk dat materiële besittings die lewe gemakliker en aangenamer maak, en dus sinvoller. Daarom spits hulle hulle toe op strewes wat hulle in staat sal stel om al die besittings en toestelle te bekom wat hulle begeer. Hulle dink dat dít ’n goeie lewe tot gevolg sal hê. Maar as hulle so dink, snap hulle nie die punt wat Jesus gemaak het nie.

13. Wat is ’n gebalanseerde beskouing van die lewe en besittings?

13 Jesus het nie bespreek of dit reg of verkeerd is om ’n oorvloed te hê nie, maar hy het eerder daarop gewys dat ’n mens se lewe nie voortspruit uit “die dinge wat hy besit” nie, dit wil sê die dinge wat hy reeds het nie. In hierdie verband weet ons almal dat ons eintlik nie veel nodig het om te lewe, of om die lewe wat ons het, te onderhou nie. Al wat ons nodig het, is ’n bietjie kos, iets om aan te trek en ’n plek om te slaap. Die rykes het hierdie dinge in oorvloed, en die armes moet dalk sukkel om te kry wat hulle nodig het. Maar enige verskil word uitgewis wanneer die lewe tot ’n einde kom—alles gaan tot niet (Prediker 9:5, 6). Vir die lewe om sinvol en die moeite werd te wees, kan en moet dit dus nie bloot uit dinge bestaan wat ’n mens kan verkry of besit nie. Hierdie gedagte word duidelik wanneer ons kyk na die soort lewe waarvan Jesus gepraat het.

14. Wat kan ons leer uit die woord vir “lewe” wat in die Bybelverslag gevind word?

14 Die woord vir “lewe” (Grieks, zo·eʹ) wat hier in Lukas se Evangelie gebruik word waar Jesus gesê het dat ‘die lewe nie voortspruit uit die dinge wat hy besit nie’, verwys nie na ’n lewenswyse of lewenstyl nie, maar na die lewe self, lewe in die absolute sin. a Jesus het gesê dat ons, hetsy ons ryk of arm is, in weelde lewe of met moeite ’n bestaan maak, nie volle beheer het oor hoe lank ons sal lewe en of ons selfs nog môre sal lewe nie. Jesus het in sy Bergpredikasie gesê: “Wie van julle kan deur hom te kwel een el by sy lewensduur voeg?” (Matteus 6:27). Die Bybel toon duidelik dat Jehovah alleen “die bron van die lewe” is, en slegs hy kan “die werklike lewe”, of “ewige lewe”, lewe sonder einde, in die hemel of op aarde, aan getroues skenk.—Psalm 36:9; 1 Timoteus 6:12, 19.

15. Waarom stel baie hulle vertroue in materiële besittings?

15 Jesus se woorde toon hoe maklik dit vir mense is om ’n verwronge of verdraaide beskouing van die lewe te hê. Of hulle nou ryk of arm is, alle mense is onvolmaak en het dieselfde uiteinde. Moses van ouds het gesê: “Die dae van ons jare is op sigself sewentig jaar; en as dit weens besondere krag tagtig jaar is, is dit nietemin vol moeite en skadelike dinge; want gou sal dit verbygaan, en ons vlieg daarheen” (Psalm 90:10; Job 14:1, 2; 1 Petrus 1:24). Daarom het mense wat nie ’n goeie verhouding met God opgebou het nie, dikwels die lewensbeskouing van “laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf”, waarna die apostel Paulus verwys het (1 Korintiërs 15:32). Ander, wat besef dat die lewe kort en onseker is, probeer sekuriteit en bestendigheid deur middel van materiële besittings verkry. Dalk meen hulle dat baie fisiese, tasbare materiële dinge op die een of ander manier groter sekuriteit in die lewe sal gee. Daarom span hulle hulle voortdurend in om rykdom en besittings te versamel, omdat hulle hierdie dinge verkeerdelik gelykstel met sekuriteit en geluk.—Psalm 49:6, 11, 12.

’n Toekoms wat sekuriteit bied

16. Waarop is ware sin in die lewe nie gegrond nie?

16 ’n Hoër lewenstandaard—om ’n oorvloed kos, klere, huisvesting en ander geriewe te hê—kan weliswaar tot ’n geriefliker lewe bydra of selfs beter mediese sorg moontlik maak en sodoende ’n persoon se lewensduur met ’n paar jaar verleng. Maar is so ’n lewe werklik sinvoller en bied dit groter sekuriteit? Ware sin in die lewe word nie gemeet aan die aantal jare wat iemand lewe of aan die hoeveelheid materiële dinge wat hy besit of geniet nie. Die apostel Paulus het gewys op die gevaar om te veel vertroue in hierdie dinge te stel. Aan Timoteus het hy geskryf: “Beveel dié wat ryk is in die teenswoordige stelsel van dinge, om nie hooghartig te wees nie en om hulle hoop nie op onsekere rykdom te vestig nie, maar op God, wat aan ons alles ryklik vir ons genot verskaf.”—1 Timoteus 6:17.

17, 18. (a) Watter uitstekende voorbeelde met betrekking tot materiële besittings is navolgenswaardig? (b) Watter gelykenis van Jesus sal in die volgende artikel bespreek word?

17 Dit is onverstandig om ’n mens se hoop op rykdom te vestig, omdat dit ‘onseker’ is. Die aartsvader Job was baie ryk, maar toe rampspoed hom skielik tref, kon sy rykdom hom nie help nie; dit het oornag verdwyn. Dit was sy hegte verhouding met God wat hom deur al die beproewinge en verdrukkinge heen staande laat bly het (Job 1:1, 3, 20-22). Abraham het nie toegelaat dat sy oorvloed materiële besittings hom verhinder om ’n moeilike toewysing van Jehovah te aanvaar nie, en hy is geseën deurdat hy die “vader van ’n menigte nasies” geword het (Genesis 12:1, 4; 17:4-6). Hierdie en ander voorbeelde is navolgenswaardig. Hetsy ons jonk of oud is, ons moet onsself ondersoek om te sien wat waarlik belangrik is in ons lewe en waarop ons ons hoop vestig.—Efesiërs 5:10; Filippense 1:10.

18 Die paar woorde wat Jesus oor hebsug en die gepaste beskouing van die lewe gespreek het, is beslis betekenisvol en insiggewend. Maar Jesus het meer in gedagte gehad, en hy het vervolgens ’n gedagteprikkelende gelykenis, of illustrasie, oor ’n onredelike ryk man vertel. Hoe is daardie illustrasie vandag van toepassing op ons lewe, en wat kan ons daaruit leer? Die volgende artikel sal die antwoorde verstrek.

[Voetnoot]

a Nog ’n Griekse woord wat met “lewe” vertaal word, is biʹos, waarvan Afrikaanse woorde soos “biografie” en “biologie” afkomstig is. Volgens Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words verwys biʹos na “leeftyd of lewensduur”, “lewenswyse” en “lewensmiddele”.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat kan ons leer uit Jesus se weiering om die versoek van ’n man in die skare toe te staan?

• Waarom moet ons teen hebsug waak, en hoe kan ons dit doen?

• Waarom spruit die lewe nie voort uit materiële besittings nie?

• Wat kan die lewe werklik sinvol maak en ware sekuriteit bied?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 23]

Waarom het Jesus een man se versoek geweier?

[Prent op bladsy 23]

Hebsug kan rampspoedige gevolge hê

[Prente op bladsy 25]

Hoe het Abraham ’n gepaste beskouing van materiële besittings geopenbaar?