Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ware geestelikheid—Hoe kan jy dit vind?

Ware geestelikheid—Hoe kan jy dit vind?

Ware geestelikheid—Hoe kan jy dit vind?

“OM VLEESLIKGESIND te wees, is die dood; maar om geestelikgesind te wees, is lewe en vrede”, het die apostel Paulus geskryf (Romeine 8:6, King James Version). Om ’n geestelike persoon te wees, is volgens hierdie woorde van die apostel nie net ’n saak van persoonlike voorkeur of gevoel nie. Dit is in werklikheid ’n saak van lewe en dood. Maar in watter sin ontvang ’n geestelike persoon “lewe en vrede”? Volgens die Bybel geniet so iemand nou vrede—in homself en met God—en sal hy in die toekoms met die ewige lewe geseën word (Romeine 6:23; Filippense 4:7). Dit is geen wonder dat Jesus gesê het nie: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte”!—Matteus 5:3.

Die feit dat jy hierdie tydskrif lees, toon dat jy belangstel in geestelikheid—en dit is verstandig. Maar beskouings oor hierdie onderwerp verskil grootliks, en daarom wonder jy dalk: ‘Wat is ware geestelikheid? En hoe verkry ’n mens dit?’

“Die denke van Christus”

Die apostel Paulus het nie net gewys op die belangrikheid en voordele daarvan om geestelikgesind te wees nie, maar het ook baie gesê oor wat ware geestelikheid is. Paulus het aan die Christene in die eertydse stad Korinte verduidelik wat die verskil is tussen ’n fisiese mens, oftewel iemand wat die begeertes van die vlees volg, en ’n geestelike mens, iemand wat geestelike dinge op prys stel. Paulus het geskryf: “’n Fisiese mens aanvaar nie die dinge van die gees van God nie, want hulle is dwaasheid vir hom.” Daarteenoor het Paulus verduidelik dat die geestelike mens daardeur gekenmerk word dat hy “die denke van Christus” het.—1 Korintiërs 2:14-16.

Om “die denke van Christus” te hê, beteken basies dat ’n mens “dieselfde geestesgesindheid [het] as wat Christus Jesus gehad het” (Romeine 15:5; Filippense 2:5). Met ander woorde, ’n geestelike mens is iemand wat soos Jesus dink en in Sy voetstappe wandel (1 Petrus 2:21; 4:1). Hoe meer ’n persoon se denke met dié van Christus ooreenstem, hoe sterker is sy geestelikheid en hoe nader kom hy daaraan om “lewe en vrede” te verkry.—Romeine 13:14.

Hoe om “die denke van Christus” te leer ken

Om die denke van Christus te hê, moet ’n mens egter eers daardie denke ken. Die eerste stap om geestelikheid te ontwikkel, is dus om Jesus se denkwyse te leer ken. Maar hoe leer ken ’n mens die denke van iemand wat 2 000 jaar gelede op aarde gelewe het? Wel, hoe het jy byvoorbeeld van die geskiedkundige figure van jou land geleer? Waarskynlik deur van hulle te lees. Om ’n geskrewe geskiedenisverslag oor Jesus te lees, is eweneens ’n belangrike manier waarop ’n mens die denke van Christus kan leer ken.—Johannes 17:3.

In Jesus se geval is daar vier aanskoulike geskiedenisverslae—die Evangelies, wat deur Matteus, Markus, Lukas en Johannes geskryf is. As jy hierdie verslae noukeurig lees, sal dit jou help om Jesus se denkwyse, sy diepste gevoelens en die beweegredes agter sy dade te begryp. Wanneer jy tyd neem om na te dink oor wat jy omtrent Jesus lees, vorm jy ’n prentjie in jou gedagtes van die soort persoon wat hy was. As jy só lees en peins, sal dit jou, selfs as jy jou reeds as ’n volgeling van Christus beskou, help om ‘aan te hou groei in die onverdiende goedhartigheid en kennis van ons Here en Redder Jesus Christus’.—2 Petrus 3:18.

Met dit in gedagte kan ons ’n paar gedeeltes in die Evangelies ondersoek om te sien wat Jesus so ’n geestelike persoon gemaak het. Dan kan jy jou afvra hoe jy die voorbeeld wat hy gestel het, kan navolg.—Johannes 13:15.

Geestelikheid en “die vrugte van die gees”

Die Evangelieskrywer Lukas het gesê dat God se heilige gees op Jesus uitgestort is toe hy gedoop is en dat Jesus “vol heilige gees” was (Lukas 3:21, 22; 4:1). Op sy beurt het Jesus by sy volgelinge ingeskerp hoe belangrik dit is om deur God se heilige gees, of “werkende krag”, gelei te word (Genesis 1:2; Lukas 11:9-13). Waarom is dit so belangrik? Omdat God se gees die krag het om ’n mens se verstand te verander sodat dit met die denke van Christus begin ooreenstem (Romeine 12:1, 2). Die heilige gees bring eienskappe soos “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing” in ’n mens voort. Hierdie eienskappe—wat die Bybel “die vrugte van die gees” noem—kenmerk ’n waarlik geestelike persoon (Galasiërs 5:22, 23). Kortom, ’n geestelikgesinde persoon is iemand wat deur God se gees gelei word.

Jesus het die vrugte van die gees dwarsdeur sy bediening geopenbaar. Eienskappe soos liefde, goedhartigheid en goedheid was veral opvallend in die manier waarop hy dié behandel het wat as die geringes in die gemeenskap beskou is (Matteus 9:36). Let byvoorbeeld op ’n voorval wat deur die apostel Johannes beskryf is. Ons lees: “Terwyl [Jesus] verbygegaan het, het hy ’n man gesien wat van sy geboorte af blind was.” Jesus se dissipels het ook die man gesien, maar het hom as ’n sondaar beskou. “Wie het gesondig”, het hulle gevra, “hierdie man of sy ouers?” Die man se bure het hom ook opgemerk, maar al wat hulle gesien het, was ’n bedelaar. “Dit is die man wat gesit en bedel het, nie waar nie?” het hulle gesê. Jesus het die blinde man egter as ’n individu gesien wat hulp nodig het. Hy het met die blinde man gepraat en hom genees.—Johannes 9:1-8.

Wat sê hierdie voorval vir jou van die denke van Christus? Eerstens het Jesus die geringes nie oor die hoof gesien nie, maar hulle met tere medelye behandel. Tweedens het hy die inisiatief geneem om ander te help. Volg jy hierdie voorbeeld wat Jesus gestel het? Beskou jy mense soos Jesus hulle beskou het, en gee jy hulle die nodige hulp om hulle lewe te verbeter en ’n rooskleuriger toekoms te hê? Of is jy geneig om die vernames te begunstig en die geringes oor die hoof te sien? As jy in ooreenstemming met die voorlaaste vraag optree, volg jy beslis Jesus se voorbeeld.—Psalm 72:12-14.

Geestelikheid en gebed

Die Evangelieverslae toon dat Jesus dikwels tot God gebid het (Markus 1:35; Lukas 5:16; 22:41). Gedurende Jesus se bediening op aarde het hy doelbewus tyd opsy gesit om te bid. Die dissipel Matteus het geskryf: “Nadat hy die skare weggestuur het, [het Jesus] alleen teen die berg opgegaan om te bid” (Matteus 14:23). Hierdie oomblikke van stille kommunikasie met sy hemelse Vader het Jesus versterk (Matteus 26:36-44). Vandag soek geestelikgesinde mense eweneens geleenthede om met God te kommunikeer, in die wete dat dit hulle verhouding met die Skepper sal versterk en hulle sal help om in hulle denke meer soos Christus te word.

Jesus het dikwels lang tye in gebed deurgebring (Johannes 17:1-26). Voordat hy byvoorbeeld die 12 manne gekies het wat sy apostels sou word, het Jesus “uitgegaan na die berg om te bid, en hy het die hele nag in gebed tot God deurgebring” (Lukas 6:12). Hoewel geestelikgesinde persone nie noodwendig die hele nag lank bid nie, volg hulle Jesus se voorbeeld. Voordat hulle groot besluite in die lewe neem, sit hulle genoeg tyd opsy om tot God te bid en die leiding van die heilige gees te vra sodat hulle besluite sal neem wat hulle geestelikheid sal versterk.

Jesus se gebede het ook ’n innigheid weerspieël wat ons eweneens in ons gebede moet openbaar. Let op wat Lukas geskryf het oor die manier waarop Jesus die aand voor sy dood gebid het. “Hy het in sielsangs geraak en voortgegaan om nog ernstiger te bid; en sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val” (Lukas 22:44). Jesus het voorheen ernstig gebid, maar by hierdie geleentheid, toe hy voor die swaarste toets in sy aardse lewe te staan gekom het, het hy “nog ernstiger” gebid—en sy gebed is verhoor (Hebreërs 5:7). Geestelikgesinde mense volg Jesus se voorbeeld. Wanneer hulle voor besonder moeilike beproewinge te staan kom, bid hulle “nog ernstiger” tot God vir heilige gees, leiding en onderskraging.

Aangesien Jesus beslis ’n man van gebed was, is dit nie verbasend dat sy dissipels hom in dié verband wou navolg nie. Daarom het hulle hom gevra: “Here, leer ons hoe om te bid” (Lukas 11:1). Diegene wat vandag waardering vir geestelike sake het en deur God se heilige gees gelei wil word, volg eweneens Jesus se voorbeeld in hoe hulle tot God bid. Ware geestelikheid en gebed gaan hand aan hand.

Geestelikheid en die verkondiging van die goeie nuus

In die Evangelie van Markus vind ons ’n verslag waarin Jesus tot laat in die nag talle siekes genees het. Vroeg die volgende oggend, toe hy alleen was en gebid het, het sy apostels gekom en vir hom gesê dat baie mense hom soek, dalk omdat hulle genees wou word. Jesus het egter vir hulle gesê: “Laat ons êrens anders heen gaan, in die nabygeleë dorpe in, sodat ek ook daar kan preek.” Toe het Jesus verduidelik waarom: “Want daarvoor het ek uitgegaan” (Markus 1:32-38; Lukas 4:43). Hoewel dit vir Jesus belangrik was om mense te genees, was die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk Jesus se vernaamste werk.—Markus 1:14, 15.

Vandag is die verkondiging van God se Koninkryk nog steeds ’n kenmerk van diegene wat die denke van Christus het. Jesus het aan almal wat sy volgelinge wil wees, die opdrag gegee: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Daarbenewens het Jesus voorspel: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Aangesien God se Woord toon dat die predikingswerk met die krag van die heilige gees gedoen word, is dit ’n teken van ware geestelikheid as iemand ’n betekenisvolle aandeel aan hierdie werk het.—Handelinge 1:8.

Die verkondiging van die Koninkryksboodskap aan mense regoor die wêreld vereis die verenigde pogings van miljoene mense (Johannes 17:20, 21). Diegene wat aan hierdie werk deelneem, moet nie net geestelikgesind wees nie, maar moet ook wêreldwyd goed georganiseerd wees. Kan jy die mense identifiseer wat in Christus se voetstappe volg en die goeie nuus van die Koninkryk regoor die wêreld verkondig?

Hoe vaar jy?

Daar is natuurlik ander eienskappe wat ’n waarlik geestelike persoon identifiseer, maar hoe vaar jy ten opsigte van dié wat reeds bespreek is? Om uit te vind, kan jy jou afvra: ‘Lees ek God se Woord, die Bybel, gereeld en dink ek na oor wat ek lees? Openbaar ek die vrugte van die gees in my lewe? Is ek ’n man of vrou van gebed? Wil ek met die mense assosieer wat die goeie nuus van God se Koninkryk wêreldwyd verkondig?’

’n Eerlike selfondersoek kan jou help om vas te stel hoe geestelik jy is. Ons spoor jou aan om nou die nodige stappe te neem sodat “lewe en vrede” jou beskore kan wees.—Romeine 8:6; Matteus 7:13, 14; 2 Petrus 1:5-11.

[Venster/Prent op bladsy 7]

KENMERKE VAN GEESTELIKHEID

◆ ’n Liefde vir God se Woord

◆ Die betoning van die vrugte van die gees

◆ Gereelde en opregte gebed tot God

◆ Verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk aan ander

[Prent op bladsy 5]

Die Bybel help jou om “die denke van Christus” te leer ken